Die mensdom is voortdurend besig om wapens van massa vernietiging uit te vind en te vervaardig. Die wapens van die Eerste Wêreldoorlog dood 10 miljoen mense. Die wapens van die Tweede Wêreldoorlog dood 55 miljoen. Sal die mensdom die Derde Wêreldoorlog kan oorleef, of sal hulle na Steentydperk toestande verval? Bybelprofesië onthul ’n hoopvolle antwoord!


Ons in die Westerse wêreld betuig dat ons waarde heg aan die lewe van elke indiwidu. Wanneer ons egter die geskiedenis van die mensdom in oorsig neem, tel ons die miljoene gesneuwelde soldate en burgerlikes in die nimmereindigende siklus van toenemende oorlog. Besef ons die aantal ongevalle wat nasies op mekaar en aan hulself toegedien het? Die Amerikaanse Vryheidsoorlog het meer as 630,000 sterftes tot gevolg gehad. Die Eerste Wêreldoorlog het 10 miljoen en die Tweede Wêreldoorlog 55 miljoen mense gedood. Die Iran-Irak oorlog het bykans 1 miljoen ongevalle veroorsaak. Die mens se onmenslikheid teenoor sy medemens bevlek ons geskiedenis met volksmoord. Miljoene mense het gesterf tydens die Groot Slagting van die Tweede Wêreldoorlog, onder die Khmer Rouge in Kambodja en as slagoffers van gruweldade in Rwanda, Bosnië en Kosovo, om maar ’n paar te noem.

Bybelprofesie onthul duidelik dat alle nasies uiteindelik in die Derde Wêreldoorlog sal veg. Daardie oorlog sou tot totale uitwissing van alles kon lei – die dood van almal en alles op aarde – tensy God tussenbeide tree. Die aarde en lewe daarop sal skaars die Derde Wêreldoorlog oorleef, maar God sal tussenbeide tree.

Hoe sal die aarde daarna daar uitsien? Ons moet weet van die goeie nuus anderkant die slegte. ’n Nuwe wêreld is aan die kom: die wêreld van môre. Hoe sal dit daaruit sien? Hoe sal die toekoms na die Derde Wêreldoorlog lyk? Die Bybel openbaar dat u hoop kan hê anderkant die traumatiese gebeure wat nog voorlê. U kan deel hê in die wonderlike wêreld van môre, vol vrede, oorvloed en God se liefde.

In die tussentyd moet ons egter die werklikheid van lewensgevaarlike tye wat voorlê trotseer. Sal u voorbereid wees op die toekoms? U kan wees, indien u die God van die Bybel soek en Sy weë leer ken. Soos u dit doen, is u besig met voorbereiding vir die komende tydperk van vrede, deur nou ’n voorsmaak van daardie vrede in U eie lewe te bring, selfs terwyl die wêreld om u na die rand van rampspoed beweeg.

’n Tydperk van totale uitwissing

Die kerntydperk het gedurende die Tweede Wêreldoorlog begin. Op 6 en 9 Augustus 1945 het die Verenigde State die heel eerste atoombomme op Hiroshima en Nagasaki in Japan laat val. Die tydperk van potensiële oombliklike, wêreldwye massa vernietiging het begin.

Het die gevaar van kernoorlog afgeneem? Ons hoef slegs ons koerante te lees om te besef dat terroriste en skobbejak nasies steeds ons wêreld bedreig. Voeg dan die bedreiging van die kernkrag nasies self daarby. U mag kennis dra van die “Oordeelsdag horlosie” wat deur die “Bulletin of the Atomic Scientists” gehou word. Dit weerspieël die gevare van die lewe tydens die kerneeu. Na jare sonder verandering, het die Bulletin in Junie 1998 die “minuutwyser” van sy horlosie vyf minute vorentoe geskuif tot slegs nege minute voor middernag. Dit was ’n sprong van ’n volle vyf minute! Nog twee nasies het aangesluit by die “kernklub”: Indië en Pakistan, wat deur die Bulletin bestempel word as ’n “mislukking van wêrelddiplomasie in kernkringe”.

Toe, in Februarie 2002, het die Bulletin die horlosie se minuutwyser van nege tot sewe minute voor middernag aangeskuif. Hulle berig: “Sedert die einde van die Koue Oorlog in 1991, is dit die derde keer dat die wyser vorentoe geskuif word”.

Die Bulletin waarsku van “steurende neigings: Meer as 31,000 kernwapens word steeds deur die agt bekende kernmoonthede onderhou, ’n afname van slegs 3,000 sedert 1998. Vyf en negentig persent van hierdie wapens is in die Verenigde State en Rusland en meer as 16,000 is operasioneel ontplooi. Selfs al voltooi die Verenigde State en Rusland hul onlangs aangekondigde wapenvermindering oor die volgende tien jaar, sal hulle steeds duisende kernwapens op mekaar gerig hou” (Bulletin of the Atomic Scientists, 27 Februarie 2002).

Wêreldoorlog is aan die kom

Die finale oorlog lê steeds voor ons. Ons het twee wêreldoorloë in die 20ste eeu deurgemaak en die Derde Wêreldoorlog doem op in die 21ste eeu. Die volgende oorlog sal rampspoedig wees. Die groot wetenskaplike Albert Einstein het eenkeer gesê: “Ek weet nie met watter soort wapens die Derde Wêreldoorlog gevoer sal word nie, maar die Vierde Wêreldoorlog sal met stokke en klippe gevoer word”.

Die geskiedenis dokumenteer die bose natuur van mense en hul kranksinnige vernielsug in oorlog na oorlog. Waartoe sal dit alles lei? Jesus van Nasaret, wat sal terugkeer om die wêreld van homself te red, verklaar hierdie ontsagwekkende werklikheid: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheus 24:21-22).

Hier is die Verlosser se waarborg dat lewe op Aarde nie tydens die Derde Wêreldoorlog sal eindig nie. Baie jare gelede, gedurende die Koue Oorlog, was ek persoonlik bekommerd oor die einde van die wêreld. Al wat ek op die horison kon sien was ’n totale oorlogsbrand wat die aarde as ’n verbrande oorblyfsel sou laat. Die goeie nuus is dat Jesus Christus sal terugkeer om te keer dat die Derde Wêreldoorlog totale uitwissing tot gevolg sal hê. Soos Hy sê: “ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word”. Daardie nuus behoort gerusstellend te wees, maar ons behoort te weet wat voorlê, sodat ons die toekoms met geloof en dapperheid kan trotseer.

Watter gebeure lei tot die Wederkoms van Jesus Christus? Die boek Openbaring beskryf die beproewings wat deur die bekende Vier Ruiters en hulle tog veroorsaak word. Oorlog en hongersnood sal direk ’n kwart van die aarde vernietig, soos dit ons in Openbaring 6:7-8 vertel. Die apostel Johannes gebruik eerste eeuse taal om een-en-twintigste eeuse oorlogvoering te beskryf. Byvoorbeeld, in die laaste fase van die Derde Wêreldoorlog, gedurende die plaag van die sesde basuin, beskryf Johannes ’n enorme leër wat vanuit die weste binneval oor die Eufraatrivier, wat vanaf Turkye deur Sirië en Irak na die Persiese Golf vloei. Johannes skryf: “En die sesde engel het geblaas, en ek het ’n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is, en dié het aan die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat. Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en dag en maand en jaar, om ’n derde van die mense dood te maak. En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tienduisend maal tienduisend; en ek het hulle getal gehoor” (Openbaring 9:13-16).

Johannes sien ’n gesig van ’n enorme inval weswaarts oor die Eufraatrivier. Wat sal hierdie leër aan die bevolkings van die aarde doen? Dit sal ’n derde van die mensdom uitwis. Ten minste tweebiljoen mense sal tydens hierdie fase van die Derde Wêreldoorlog sterf. Indien ons hierdie onheil wil vryspring, moet ons nou wakker word! Ons moet God soek vir lewe, beskerming en saligheid.

Indien die Westerse nasies nie wegdraai van hul wettelose en teen-Goddelike lewenswyse nie, sal God ons in ’n groot verdrukking straf. Gereelde lesers van hierdie tydskrif weet dat die Amerikaans en Britse nasate deel uitmaak van die afstammelinge van die Huis van Israel. Ons is die afstammelinge van die stamvader Jakob, wie se naam verander was na Israel. Jeremia se profesie verwys regstreeks na die Westerse nasies: “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! [Hierdie is ’n ongeëwenaarde tydperk in mensegeskiedenis]. En dit is ’n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jeremia 30:7). God sal die Westerse nasies straf tydens die Derde Wêreldoorlog indien hulle hulself nie bekeer nie! Bybelprofesie dui aan dat slegs ’n klein persentasie mense sal oorleef, maar God sal die oorblyfsel van die Westerse nasies red.

Ons kan God dank dat Jesus Christus sal terugkeer om die aarde te red en Sy Koninkryk te vestig. Die aarde na die Derde Wêreldoorlog sal natuurkundig en geestelik vernuwe word. Daar is hoop vir die toekoms. Daar is ’n nuwe wêreld aan die kom!

Ons leef in ’n gevaarlike wêreld. Die mens se natuur en oorlogvoerende nasies sal hierdie gevare laat toeneem tot en met die Derde Wêreldoorlog. Bybelprofesie onthul dat ’n leër van 200 miljoen van oos van die Eufraat ’n derde van alle mense sal dood tydens hierdie oorlog. Tensy die mensdom homself bekeer van die rebellie teen God en Sy weë, sal ons die grootste verdrukking wat die wêreld ooit gesien het beleef!

U kan ook lees van die ekologiese verwoesting wat plaasvind gedurende die Dag van die Here. Die eerste vier basuinplae beïnvloed die omgewing: “En die sewe engele met die sewe basuine het hulle gereedgemaak om te blaas. En die eerste engel het geblaas, en daar het hael en vuur gekom met bloed gemeng, en dit is op die aarde gegooi. En ’n derde van die bome het verbrand, en al die groen gras het verbrand. En die tweede engel het geblaas, en iets soos ’n groot berg wat brand met vuur, is in die see gegooi. En ’n derde van die see het bloed geword, en ’n derde van die lewende skepsele in die see het gesterwe, en ’n derde van die skepe het vergaan. En die derde engel het geblaas, en ’n groot ster wat soos ’n fakkel brand, het uit die hemel geval, en dit het geval op ’n derde van die riviere en op die waterfonteine. En die naam van die ster word genoem Alsem; en ’n derde van die waters het als geword, en baie mense het gesterwe van die water, omdat dit bitter geword het. En die vierde engel het geblaas, en ’n derde van die son is getref en ’n derde van die maan en ’n derde van die sterre, sodat ’n derde van hulle donker sou word en die dag vir sy derde deel nie lig sou gee nie, en die nag net so” (Openbaring 8:6-12). Die omgewing sal verwoes wees. Die vyfde en sesde basuine onthul militêre optrede en gebeure wat lei tot die Wederkoms van Christus.

Christus se Wederkoms bring vrede

Ten einde laaste, kondig die sewende basuin, die nuus aan wat alle nasies benodig. Die Koninkryk van God sal blywende vrede op aarde meebring. “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Hierdie is die goeie nuus waarvoor ons almal bid! Wêreldse, oproerige nasies sal dit egter nie as goeie nuus ag nie. Ongelooflik soos dit blyk te wees, sal hulle teen Christus veg met Sy Wederkoms. Soos die Skrif sê: “Die nasies was vertoornd” met Sy Wederkoms (vers 18). Openbaring 19 gaan voort om die oorlog en die uiteinde daarvan te beskryf. Die nasies sal agterkom dat hulle nie teen die Aanvoerder van die Hemelse leërs, Jesus Christus, kan wen nie.

Wat gebeur volgende? Almal op die aarde sal die Wederkoms van Christus sien: “Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen” (Openbaring 1:7). Die meeste mense wat die Derde Wêreldoorlog oorleef sal besef dat die weë van die mens tot die dood lei (Spreuke 14:12; 16:25 verwys). Hulle sal tot inkeer kom en God se liefde vir hulle begin verstaan. Hulle sal besef dat die kruisiging en die gestorte bloed van Jesus Christus vir hul sondes sal betaal. Hulle sal ontvanklik wees en ’n nuwe leefwyse aanleer.

Daar sal ’n tweede Eksodus wees. Gevange oorlewendes van die Westerse nasies sal ’n nuwe lewe in ’n nuwe land begin. “Daarom kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat hulle nie meer sal sê: So waar as die HERE leef wat die kinders van Israel uit Egipteland laat optrek het nie, maar: So waar as die HERE leef wat die geslag van die huis van Israel laat optrek en laat kom het uit die Noordland en uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het. En hulle sal woon in hulle land” (Jeremia 23:7-8).

Oorlewendes sal, verneder deur die Derde Wêreldoorlog, hulle tot God keer en Sy seëninge en weë aanvaar: “En Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My ’n volk en Ek sal vir julle ’n God wees” (Eségiël 36:24-28).

Hierdie is die tyd wanneer al die verrese en onsterflike heiliges saam met Christus sal regeer. Koning Dawid, ’n man na God se eie hart, sal regeerder en herder wees oor hierdie terugkerende vlugtelinge. Onthou dat die groot verdrukking die tyd van Jakob se benoudheid, of Israel se swaarkry, is. Wat gaan dan gebeur? “En op dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal Ek sy juk verbreek van jou nek af en jou stroppe stukkend ruk; en vreemdes sal hom nie meer diensbaar maak nie. Maar hulle sal die HERE hulle God dien en hulle koning Dawid wat Ek vir hulle sal verwek” (Jeremia 30:8-9).

Ja, die Koninkryk van God sal op hierdie aarde regeer. “Toe sing hulle ’n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:9-10).

Die onsterflike heiliges sal konings en priesters wees wat regeer oor nasies en stede. Hulle sal die nasies God se lewenswyse leer. Die komende wêreldheersende Koninkryk van God sal alle nasies op aarde regeer. Die profeet Jesaja verkondig daardie komende regering onder die Messias: “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen” (Jesaja 9:5-6).

Die verwoeste stede sal herbou word. Die vervalle plase sal herleef. “En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My ’n volk en Ek sal vir julle ’n God wees. En Ek sal julle verlos van al jul onreinhede; en Ek sal roep na die koring en dit vermenigvuldig, en Ek sal geen hongersnood op julle lê nie. En Ek sal die vrugte van die bome en die opbrings van die veld vermenigvuldig, sodat julle die smaad van hongersnood nie meer hoef te verdra onder die nasies nie” (Eségiël 36:28-30).

’n Pragtige nuwe wêreld

Die glorieryke Koninkryk van God op aarde sal ongekende prag en vrugbaarheid teweeg bring. Ons kan ’n blik op God se grootheid en ’n voorsmaak van die wêreld van môre kry in die skepping om ons. God het die aarde geseën met ontsaglike, majestueuse berge, vrugbare valleie, en vrugbare vlaktes. Ons verwonder ons aan die glorieryke mere en die kolkende oseane. Ons waardeer die verskeidenheid blomme, plantlewe, voëls, diere en seelewe. In die wêreld van môre, sal selfs die diere se natuur verander. Jesaja gee ons hierdie milleniale gesig: “Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ’n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ’n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ’n basilisk. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:6-9).

God het die mens geskape vir ’n wonderlike doel: om vir ewig deel te wees van Sy goddelike familie. Hy het ons in Sy ewebeeld geskape en Hy het aan die mens die vermoë en vryheid gegee om te kies tussen goed en kwaad. Relatief min mense in die geskiedenis het die weg na die lewe gevind, wat so vrylik deur God aangebied word deur Sy seun, Jesus Christus. Die mensdom het oor die algemeen sy eie weg gevolg, met alle regeringsvorme, geloof, filosofie, onderwys, vermaak, wetenskap, besigheid en handel geëksperimenteer. Waarheen lei dit alles? Na die Derde Wêreldoorlog!

Die Skeppergod het egter ’n plan om die mensdom te red en daardie plan sluit ’n nuwe wêreld, die wêreld van môre, in. Jesus Christus, die Prins van Vrede, sal alle nasies op aarde regeer en volke die weg na blywende vrede leer. Die oorlogswapentuig sal in instrumente van vrede verander word. Alle nasies sal na die nuwe wêreldhoofstad, Jerusalem kom. Hulle sal die ware God aanbid en leer dat die wette van God – Die Tien Gebooie – almal in God se weg van geregtigheid onderrig. “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem” (Jesaja 2:2-3). Dit is die wêreld waarna ons uitsien. Na die verwoesting van die Derde Wêreldoorlog sal baie mense nederig en ontvanklik wees. Die Koning van konings sal liefdevolle gesag uitoefen om wêreldwyd vrede en voorspoed te verseker. Jesaja gaan voort: “En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (vers 4).

Terroriste sal nie meer doodmaak en verwoes nie. Stamme en nasies sal nie meer teen mekaar veg nie. Die mens se natuur – die basiese oorsaak van oorlog – sal verander word. Mense sal die weg van die lewe, soos in die Bybel uiteengesit, leer. Jesus sê: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Mattheus 4:4; Lukas 4:4). Ons moet daardie lewensweg leer! Diegene wat hulself bekeer en gedoop word en Jesus Christus sodoende toelaat om in hulle te leef deur die gawe van die Heilige Gees, sal help om die verwoeste wêreld te heronderrig. Vandag se ware Christene sal leraars wees in die wêreld van môre: “Die Here gee julle wel brood van benoudheid en water van bedruktheid, maar jou leraars sal hulle nie langer verberg nie – maar jou oë sal jou leraars sien; en jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (Jesaja 30:20-21).

Ware Christene leer nou daardie lewensweg. Ons is geroep om vredemakers te wees, om die lig van die wêreld en die sout van die aarde te wees, soos Jesus in Mattheus 5 geleer het. Dit is die weg van liefde, mededeelsaamheid, vrygewigheid, behulpsaamheid en diensbaarheid. Hoewel die wêreld steeds haat ervaar, is God liefde (1 Johannes 4:8, 16). Die wêreld na die Derde Wêreldoorlog sal God se goddelike liefde ervaar van ’n duisend jaar onder Jesus Christus se heerskappy.

Christus leer ons: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheus 6:33). Mag ons almal uitsien na Sy komende Koninkryk op aarde en met hoop en geloof uitsien na die wêreld van môre!