"Iemand wat teen sy sin oortuig word, huldig nog steeds dieselfde opinie [A man convinced against his will is of the same opinion still]”. 
Hierdie alombekende gesegde – wat toegedig word aan hoë persoonlikhede wat strek vanaf Benjamin Franklin tot Sir Walter Raleigh tot die digter Samuel Butler – is nou bevestig deur moderne navorsers.

Die Universiteit van Michigan se gesondheidsbeleid-navorser, Brendan Nyhan, en die politieke wetenskaplike van die Universiteit van Georgia, Jason Reifler, het ’n verhandeling gepubliseer wat dokumenteer dat wanneer mense gekonfronteer word met bewysbare feite wat hul vaste oortuigings weerspreek, hulle dikwels nie deur die feite oortuig word nie (“When Corrections Fail”, Political Behaviour 32(2), bll. 303-330). Selfs nog meer verrassend: Die navorsers het bevind dat wanneer aan mense gegewens verskaf word wat hul sienswyse behoort te verander, kleef hulle in werklikheid nog meer aan hul verkeerde sienswyses vas.

Die meeste mense is nie op soek na inligting wat hul oortuigings sal bevraagteken nie. Soos Nyhan verduidelik: “Navorsing toon dat mense geneig is om inligting uit te soek wat strook met hul eie sienswyses; dink aan die liberale dwepers van MSNBC en konserwatiewe aanhangers van Fox News. Liberales en Konserwatiewes is ook geneig om inligting wat hulle ontvang te verwerk teen die agtergrond van hul vooropgestelde idees, hul aanvaar opinies wat strook met hul eie standpunte en verwerp dit wat nie is nie. Die gevolg is dat inligting wat teenstrydig is met hul vroeëre gesindhede of oortuigings dikwels verontagsaam word, veral as hulle sterk aan hul oortuigings vasklou” (“Myths About Health Care Reform Remain”, New York Times, 25 Maart 2010).

Mense is nie net geneig om inligting, wat in stryd is met hul eerste opvattings, te verontagsaam nie, hulle is daarna dikwels meer oortuig van die vervalsing nadat hulle die waarheid aangehoor het. Soos Nyhan dit tydens ’n Nasionale Openbare Radio-onderhoud verduidelik het: “Die mense was so suksesvol om redes op te diep dat die korreksie verkeerd is, dat hul uiteindelik meer oortuig was van die wanvoorstelling as die mense wat nie die korreksie ontvang het nie. Met ander woorde: Die korreksie het sake net vererger” (On the Media, 3 Julie 2009).

Nyhan het tot sy gevolgtrekking gekom deur gebruik te maak van die moderne sosiale wetenskappe. Deur dit te doen het hy bevestig wat bestudeerders van die Skrif reeds vir duisende jare verstaan. Jesus Christus het hierdie verskynsel eerstehands ervaar toe Hy die Fariseërs tereggewys het. “Wie van julle oortuig My van sonde? En as Ek die waarheid spreek, waarom glo julle My nie?” (Johannes 8:46). Geen bron van feite kan tog meer geloofwaardig wees as die Logos – die Woord – wat vlees geword het nie. Die Fariseërs het nogtans nie die waarheid van Jesus Christus aanvaar nie. Hulle fisiese menslike aard het hulle in ’n toestand van selfbedrog gehou. Soos die profeet Jeremia gewaarsku het: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9).

In die uiteindelike ontleding, soos beide die moderne wetenskap en die antieke Skrif bevestig, glo die meeste mense net wat hulle graag wil glo. Selfs wanneer mense God se Waarheid hoor, ontvang hulle dit volgens hulle eie gesindheid, net soos Christus verduidelik het in die Gelykenis van die Saaier (Mattheüs 13:3-9). Die apostel Paulus het verduidelik dat geestelike waarhede geestelik beoordeel word (1 Korinthiërs 2:14) – dus kan ons verstaan dat, tensy God mense se verstande open, hulle deur Satan verblind sal bly. Die Skrif noem Satan “die god van hierdie wêreld” (2 Korinthiërs 4:4).

Wat beteken dit vir u? Indien u die waarhede wat deur die Tomorrow’s World en Wêreld van Môre se tydskrif, televisie programme en Webtuiste aangebied word, begin verstaan, is dit nie sommer ’n ligtelike saak nie – dit beteken dat God met u werk om u te help om u wanopvattings reg te stel. Hy mag u selfs tot bekering roep – tot berou oor sonde en doop! God roep nie baie mense gedurende hierdie tydperk om deel van Sy “klein kudde” (Lukas 12:32) te wees, wat onder Jesus Christus in die naderende Millennium sal regeer nie. Indien Hy u dus roep, moet dit nie ligtelik opneem nie!