Jesus Christus sê in Matthéüs 6:25: “Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe – wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam – wat sal julle aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie?”

Wanneer die Verlosser van die mensdom dit sê, waarom is ek dan altyd so bekommerd oor hierdie dinge? Nog ’n huispaaiement lê voor die deur. Die oond raak ouer. Voedselpryse raak belaglik. My beste pak klere raak ’n bietjie verslete – het u gesien wat die nuwes kos? Het ek die motor genoem?

My huis. My oond. My voedselrekening. My pak klere. My motor. Ons het hierdie dinge in oorvloed in ’n wêreld waar die helfte van die bevolking nie eers die basiese dinge het om hulle aan die lewe te hou nie. Statistieke toon dat byna drie miljard mense op minder as twee dollar [±R27] per dag leef. Volgens Amerika se Departement van Gesondheid en Maatskaplike Dienste, word armoede vir ’n Amerikaanse enkel-persoon huishouding op $33 [±R443] per dag bereken. Die gemiddelde persoonlike jaarlikse inkomste vir die V.S. is ongeveer $44,500 [±R597] of $122 [±R1,636] per dag.

Dae afgesonder vir danksegging

In Oktober en November sal Kanadese en Amerikaanse gesinne aansit om 'n nasionale ete te geniet. In groot dele van die wêreld sou dit vergelykbaar wees met ’n banket vir ’n koning en in terme van kalorieë sou dit die gemiddelde behoeftige gesin vir ’n week lank kon voed.

Volgens die Brood vir die Wêreld instituut, ly 759 miljoen mense regoor die wêreld daagliks honger. Elke dag sterf ongeveer 21,000 mense as gevolg van honger-verwante oorsake – meestal kinders. Dit beteken een sterfte elke vier sekondes.

Jesus se vraag: “Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie?” sal nie vanjaar in die gedagtes van die gemiddelde Amerikaner of Kanadees wees nie. Baie mense sal op die afleidings van die lewe fokus – besigheid soos gewoonlik terwyl ’n langnaweek geniet word.

Hoeveel ware dankbaarheid sal daar wees wanneer gesinne aansit om te eet en daardie gememoriseerde gebedjie opsê: “Kom Here Jesus, wees ons gas en laat hierdie gawes aan ons geseënd wees – Amen”?

Abraham Lincoln het in 1863 geskryf, toe hy die voorafgaande as ’n nasionale dag van danksegging ingestel het: “Ek nooi derhalwe my medeburgers in elke deel van die Verenigde State uit asook diegene ter see en diegene wat in die vreemde vertoef, om die laaste Donderdag van volgende November af te sonder en te gedenk as ’n dag van Danksegging en Lofprysing aan ons barmhartige Vader wat in die Hemele woon. Ek beveel by hulle aan dat terwyl hulle die toerekening aan Hom bied wat Hom na regte vir sulke uitsonderlike verlossings en seëninge toekom, hulle terselfdertyd nederig berou sal hê oor ons nasionale afvalligheid en ongehoorsaamheid ... en vurig sal smeek vir die bemiddeling van die Almagtige Hand om die wonde van die nasie te heel en dit so spoedig soos nodig mag wees te herstel wanneer dit in ooreenstemming met die goddelike doel is tot volle genot van vrede, eensgesindheid, kalmte en Eenheid”.

In die Amerika van vandag, sou die American Civil Liberties Union hom hof toe sleep en sal hy deur ’n “polities korrekte” kongres veroordeel word. President Lincoln was egter reg toe hy vroeër daardie jaar verklaar het: “Ons was die ontvangers van die keurigste skatte van die hemel. Ons is al hierdie baie jare, in vrede en voorspoed bewaar. Ons het in getalle, rykdom en mag gegroei, soos geen ander nasie ooit gegroei het nie. Ons het God egter vergeet ... en ons het in die verleiding van ons harte, onsself tevergeefs verbeel dat al hierdie seëninge deur een of ander meerdere wysheid en deug van onsself verkry is. Bedwelmd deur ononderbroke sukses, het ons te selfonderhoudend geraak om die noodsaaklikheid van verlossende en behoudende genade te erken, te trots om tot die God te bid wat ons gemaak het!”

Waaraan behoort ons op hierdie Dankseggingsdag te dink en waarvoor behoort ons te bid wanneer ons vir ete gaan aansit? Indien ek die geleentheid het om by so ’n ete te bid, kom Jesaja 63:7 in my gedagtes op: “Ek sal die goedertierenhede van die Here prys, die roemryke dade van die Here, ooreenkomstig alles wat die Here aan ons bewys het ... na sy barmhartighede en na die grootheid van sy goedertierenhede.”

Waarom? Omdat ek eerlikwaar dankbaar is. Die huis, die oond, die kos, die klere – ja, selfs die motor – het nie deur my meerdere wysheid of voortreflikheid gekom nie. Dit is wonderlike seëninge wat ’n liefdevolle God aan my gegee het, ten spyte daarvan dat ek deel is van ’n nasie wat nie die Woord van Sy waarheid bewaar nie en Sy naam verloën het.