Die apostel Johannes het geskryf: “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie” (1 Johannes 4:18). Studente van die Bybel maak soms misbruik van hierdie vers om te probeer bewys dat “liefde” en “vrees” onversoenbare gesindhede is – en dat, vir ’n Christen, “liefde” vrees vervang. Is dit dan werklik wat u Bybel leer?

Oorweeg die voorbeeld van Jesus Christus. Niemand sal sê dat Jesus Christus nie volmaakte liefde gehad het nie. Let tog op: Jesus Christus Self het “goddelike vrees” geopenbaar (Hebreërs 5:7-8)!

Hoe kan dit dan wees? Om te verstaan, moet ons seker wees dat ons verstaan wat liefde is. Hoe definieer die Skrif liefde? “Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar. Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:2-3). Beskou u God se Gebooie as ’n las? Indien wel, toon u nie liefde teenoor God nie. Oorweeg wat Johannes geskryf het: “Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid” (1 Johannes 3:4).

Om God volmaak lief te hê beteken om Hom volmaak te gehoorsaam. Waar daar ongehoorsaamheid teenoor die Wet is, daar is sonde, en sonde bring straf mee (Lukas 12:47-48; Jakobus 1:13-15). Waar daar egter perfekte liefde is, en dus perfekte gehoorsaamheid, is daar geen vrees vir straf nie (Galasiërs 5:22-23).

Natuurlik, as mense, is die werklikheid van ons lewens dat ons nog nie volmaak is in die liefde nie. Ons kan egter staatmaak op ’n Redder wat volmaak was en is! In Christus het ons ’n Hoëpriester wat, net soos ons, beproef was in alle punte, maar wie – anders as ons – nooit gesondig het nie (Hebreërs 4:15). Kan ons onsself begin indink hoe geweldig Sy liefde vir ons moet wees, dat Hy vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was (Romeine 5:8)?

Was dit nie vir Christus se offer nie, het ons alle rede gehad om in vrees vir ons lot te leef. Genadiglik, as gevolg van daardie offer, kan ons berou hê en ons bekeer van ons sondes en vergifnis ontvang (Handelinge 5:31-32; Efesiërs 1:7-8). Gevolglik kan ons diepe ontsag, eerbied en dankbaarheid teenoor God ervaar, sonder vrees of kwelling.

Ja, die opregte liefde van God gaan hand aan hand met goddelike vrees. Vir ’n ware volgeling van Jesus Christus is “liefde” en “vrees” nie ’n geval van “óf die een óf die ander” nie – dit is ’n geval van “albei/asook”. Let op die woorde van Moses wat vandag nog steeds toepaslik is vir Christene as “geestelike Israel”: “En nou, Israel, wat eis die Here jou God van jou as net om die Here jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die Here jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel, om te hou die gebooie van die Here en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou goed kan gaan?” (Deuteronomium 10:12-13).