Kanada is besig om ’n vernietigende demografiese krisis in die gesig te staar wat homself herhaal in die moderne nasies regdeur die Westerse wêreld. Wat gaan dit beteken vir die toekoms van die Weste?

Namate ’n groot deel van die wêreld ingeperk was ten gunste van om in “14 dae die kurwe af te plat”, het baie mense voorspel dat ons hospitale nege maande later hulle kapasiteit op die mees positiewe maniere sou bereik as gevolg van ’n baba-geboortegolf wat deur die inperking veroorsaak is. Die logika het daaroor gegaan dat meer tyd wat binnenshuis saam met spesifieke mense deurgebring word tot ’n broodnodige styging in geboortesyfers sou lei. Nou is die getalle bekend en ongelukkig was die voorspelde baba-geboortegolf ’n totale skrikwekkende afname in geboortes.

Baie van die ontwikkelde lande wankel al dekades lank op die afgrond van demografiese rampe, aangesien geboortesyfers tot skokkende lae vlakke gedaal het. Die vervangingsvlak vir bevolkingsgroei word dikwels aangehaal as 2,1 kinders per vrou – dit is die gemiddelde aantal kinders wat vir elke vrou gebore behoort te word om ’n land se bevolking in stand te kan hou. Enigiets minder as daardie getal, sal die bevolking laat afneem tensy dit deur verhoogde immigrasie geneutraliseer word. ’n Nasie kan nie wegkruip vir demografie nie; die gevolge kan vir ’n tyd lank beperk word, maar uiteindelik sal die getalle gevolge hê wat aangespreek behoort te word.

Vanaf 2019 was Kanada meer as ’n halwe kind tekort met 1,47 kinders per vrou. ’n Baba-geboortegolf is presies wat die demograaf aanbeveel het. Heel moontlik sal ’n baba-geboortegolf ’n silwer randjie bied aan die ontelbare uitdagings van die pandemie en sal dit die gety van ons demografiese ondergang stuit. Die probleem kan nie opgelos word deur ’n ommeswaai van een jaar en ’n kort styging in geboortes nie, maar ’n pandemie-verwante baba-geboortegolf kon ’n hupstoot in die regte rigting gegee het. Ongelukkig het die teenoorgestelde van wat baie mense voorspel het, die werklikheid geword en daar was ’n verbysterende afname in babageboortes.

’n Krisis wat stilweg toeneem

In 2006 het Mark Steyn alarm gemaak in ’n artikel wat in die Maclean’s-tydskrif verskyn het:

Die uitstaande kenmerk van Europa, Kanada, Japan en Rusland is dat hulle ’n tekort aan babas het. Wat in die ontwikkelde wêreld gebeur, is een van die vinnigste demografiese evolusies in die geskiedenis … Demografiese agteruitgang en die onvolhoubaarheid van die sosiaal-demokratiese staat is nou verwant (“The future belongs to Islam,Maclean’s, 20 Oktober 2006).

Die probleem het nie oornag ontstaan nie, maar is eerder al vir dekades lank aan die toeneem.

Ten spyte van ’n paar skommelings, is die totale vrugbaarheidsyfer in Kanada reeds vir meer as 40 jaar onder die vervangingsvlak. Trouens, 1971 was die laaste jaar waartydens die vervangingsvlak van vrugbaarheid van 2,1 kinders per vrou bereik is – wat beteken dat paartjies gemiddeld genoeg kinders opgelewer het om hulleself te vervang (“Fertility: Fewer children, older moms,” Statistics Canada, 17 Mei 2018).

Hierdie probleem word aansienlik vererger deur die geweldige skuld wat nasies besig is om op te hoop om die gevolge van die huidige pandemie te bekamp. ’n Nasie se skuld word dikwels beskryf as ’n las wat na toekomstige geslagte oorgedra word. Hierdie gevolge van verhoogde skuld word net vergroot wanneer ’n toenemende persentasie van die bevolking aftree en nie vervang word met ’n voldoende aantal jongmense wat die arbeidsmag betree nie – die skuldbedrag vir elke werker neem dramaties toe.

Bly wiegies leeg?

Kanada se bevolkingsgroei het glad nie toegeneem tydens die pandemie nie – om die waarheid te sê, dit het aansienlik afgeneem en tot sy laagste vlak gedaal sedert 1946. Volgens die CBC het baie Kanadese verkies om ’n hondjie aan te neem, eerder as om hierdie geleentheid te gebruik om met ’n gesin te begin of uit te brei. Hoe lojaal en oulik hondjies ook al mag wees, sal hulle nie Kanada se arbeidstekort wat voor die deur lê kan verander nie.

Waarom het meer alleentyd saam nie ’n baba-geboortegolf meegebring nie? Finansies is ’n groot faktor vir baie huishoudings, gepaardgaande met die onsekerheid van ons tyd. Die National Post het ’n interessante verandering in gedrag aangemeld wat tydens die pandemie waargeneem is:

Die maatskappy wat ovulasie- en swangerskaptoetse doen, Stix, het tydens ’n beperkte opname bevind dat 56 persent van kliënte wat gedurende die maande van Maart en April 2020 toetse gekoop het, probeer het om nie swanger te raak nie, in vergelyking met die tyd vóór COVID, toe die meerderheid mense probeer het om met ’n gesin te begin of uit te brei (“The baby bust is here: Birth rates are falling despite our close quarters,National Post, 8 Maart 2021).

Die Verenigde State was een van die min Westerse nasies wat die afgelope dekades ’n positiewe groeikoers gehandhaaf het, maar die pandemie onderdruk ook die geboortesyfer daar. Die Brookings Institution berig dat daar in die V.S.A 300,000 tot 500,000 minder geboortes in 2021 as in 2020 plaasgevind het.

Hierdie demografiese tydbom is nie eksklusief aan die Weste nie. China, met die digste bevolking op aarde, het die gevare van dalende geboortesyfers ook agtergekom:

Ontleders skat dat dié land se arbeidsmag 35 miljoen werkers oor die volgende vyf jaar sal verloor en dat die aantal burgers wat vir aftrede in aanmerking kom, gedurende dieselfde tydperk tot meer as 300 miljoen burgers sal styg. Dit is byna soveel soos die hele bevolking van die Verenigde State (“China to Raise Retirement Age to Offset Funding Shortfall,VOA News, 17 Maart 2021).

In 2016 het China sy dekades lange een-kind-beleid beëindig ten gunste van ’n twee-kind-beperking. Hierdie verandering het nogtans nie tot ’n groot genoeg toename in geboortes gelei nie, dus is die perk in 2021 tot drie kinders verhoog.

Nasies wat ’n demografiese krisis in die gesig staar, sal die kwessie moet aanspreek deur beleidsveranderings in een of ander vorm. Wettige immigrasie het geskiedkundig gehelp om bevolkingsgroei in Westerse lande te ondersteun, maar het aansienlik afgeneem tydens die pandemie as gevolg van reisbeperkings – selfs terwyl onwettige immigrasie bestendig gebly of toegeneem het. Immigrasiebeleid kan ’n uiters politieke onderwerp wees en dalende geboortesyfers sal net groter fokus op ’n reeds komplekse en verdelende onderwerp vestig. Daar bestaan geen twyfel dat demografiese verandering ’n dryfkrag agter beleidsbesluite oor immigrasie, besteding en belasting in die komende jare sal wees nie.

Besig om te vervaag – is daar hoop?

Die profeet Hosea was geïnspireer om ’n gepaste beskrywing te gee aan wat ons in baie Westerse nasies sien afspeel. Die Bybelse aartsvader Jakob, het twaalf seuns gehad en aan een van daardie seuns, Josef, is ’n groter seën gegee, wat weer aan sy eie seuns, Efraim en Manasse, oorgedra sou word. Die Wêreld van Môre het lank reeds die moderne Manasse geïdentifiseer as die Verenigde State en Efraim as die Britse volke, met inbegrip van Engeland, Kanada, Australië en Nieu-Seeland. Hoséa het direk aan hierdie eindtydse afstammelinge van Efraim geskryf: “Vreemdes verteer sy krag, en hy bemerk dit nie; ook is grysheid oor hom uitgesprei, en hy weet dit nie” (Hoséa 7:9).

Kanada en ander nasies staar geweldige demografiese uitdagings in die gesig, maar tree tog op asof daar gladnie sulke probleme op die horison is nie. Hierdie probleme kan nie geïgnoreer word nie en sal regerings se beleid en optrede vorm namate die uitwerking daarvan duideliker word. Vir verdere ontleding van die probleem van bevolkingsafname, kyk na Stuart Wachowicz se Tomorrow’s World-uitsending “Fewer Babies: Population in Decline,” wat vrylik beskikbaar is by TWCanada.org.