Bybelse profesieë het lankal bekend gemaak dat net voor die Wederkoms van Jesus Christus, ’n reeks verskriklike gebeure, uitgebeeld deur die vier ruiters van die Apokalips, oor die aarde sal trek. Hierdie komende rampe sluit in: Toenemende berigte van oorloë, hongersnood, natuurrampe en siekte-epidemies. Die “vierde ruiter” word die dood genoem en hy ry op ’n vaal perd. Die vier ruiters sal ’n kwart van die aarde se bevolking verwoes deur geweld, hongersnood en “wilde diere van die aarde”, met inbegrip van virusse en bakterieë wat siektes versprei (Openbaring 6:8). Die Skrif dui aan dat hierdie eindtydse pessiektes verwoestende epidemies sal aanneem wat miljoene lewens sal opeis. Terwyl openbare gesondheidsrampe van hierdie omvang vergesog mag lyk in die lig van die moderne mediese tegnologie, is waarskuwingsvan dodelike epidemies op ’n wêreldwye skaal besig om meer algemeen te raak, wat aandui dat antieke Bybelprofesieë nou besig is om gestalte aan te neem!

Toenemende bekommernisse

Gedurende die afgelope dekades het mediese owerhede herhaaldelik kommer uitgespreek oor die ontstaan van nuwe siektes en die herlewing en verspreiding van siektes wat hulle gedink het onder beheer is. Malaria, ’n potensieel dodelike oordraagbare siekte wat jaarliks miljoene mense teister, het teruggekeer na gebiede waar dit eens byna uitgewis was. Dit word nou egter deur plaagdoder-weerstandige muskiete en antibiotika-weerstandige parasiete versprei, wat dit moeiliker maak om te behandel en te beheer.

Medikasie-weerstandige tuberkulose, nog ’n groot moordenaar met ’n lang geskiedenis, is besig om te versprei in die ekonomies verwoeste gebiede van Oos-Europa, Rusland, Asië en Afrika. Warmer temperature het die vergroting van die verspreidingsgebied van muskiete wat draers van die Wes-Nyl virus is – wat die sentrale senuweestelsel aantas – veroorsaak en stel dit in staat om van Afrika na ander dele van die wêreld te versprei. Seksueel oordraagbare siektes floreer en versprei in ons hedendaagse toenemend goddelose samelewings. Die MIV-VIGS-epidemie wat in die 1980’s te voorskyn gekom het, het die lewens van meer as 30 miljoen mense wêreldwyd geëis. Die siekte is aktief besig om te versprei met meer as 2 miljoen nuwe gevalle elke jaar, terwyl nuut geïdentifiseerde siektes hulle verskyning maak en die gesondheid van bevolkings regoor die wêreld bedreig.

Ons kwesbare wêreld

Die herlewing van ou plae en die ontstaan van nuwe aansteeklike siektes regoor die wêreld het die openbare gesondheidsamptenare duidelik bekommerd. Epidemioloë besef dat dit die sameloop van ’n aantal faktore in die afgelope jare was, wat die risiko van pandemies dramaties verhoog het en dat “ons wêreldwye bevolking nog nooit sokwesbaar was vir vinnige oordraging van siektes nie” (nationalpost.com, 22 Mei 2014).

Een faktor is die skielike uitbreek van nuwe virusse waarvoor geen entstowwe beskikbaar is nie. ’n Ander faktor is die ontstaan van die medikasie-weerstandige vorms van siektes, wat gewone behandelings oneffektief maak. Ander faktore wat die verspreiding van aansteeklike siektes moontlik maak, sluit in: Dit toenemend al hoe makliker word om tussen stedelike sentrums, waar groot getalle mense woon en in noue kontak met mekaar leef en beweeg te reis, massa verplasings van mense wat deur oorloë en politieke onrus ontwrig is en die vervoer van diere en diereprodukte regoor die wêreld.

Die ineenstorting van openbare gesondheidsdienste, die besoedeling van waterbronne en die ontwrigting van afvalverwerkingstelsels wat op natuurrampe volg, dra almal by tot die ontstaan en verspreiding van aansteeklike siektes. Die bedreiging van biochemiese terrorisme – die doelbewuste vrystelling van giftige mikrobes of chemiese middels in groot stedelike gebiede – bied ’n skrikwekkende scenario van hoe groot bevolkings in ’n kort tydjie uitgewis kan word. Gedurende die laaste paar dekades het ons wêreld duidelik meer kwesbaar geraak vir die uitbreek van wêreldwye epidemies, wat die potensiaal het om miljoene lewens te eis en dit is presies wat die Vierde Ruiter op die vaal perd uitbeeld!

Lesse uit die verlede

Die geskiedenis toon dat “epidemies ryke verkrummel het, leërs verslaan het en vir altyd die wyse waarop ons lewe, verander het” (Fourth Horseman, Nikiforuk, bl. xv). Epidemies het in die verlede onverwags toegeslaan en dood en verwoesting oor wye gebiede van die wêreld versprei. Gedurende die Middeleeue het melaatsheid, tuberkulose, cholera en tifuskoors in die vullis en oorbevolkte lewensomstandighede van Middeleeuse stede gefloreer. In 1348 het die builepes-virus vanuit Indië met die Middeleeuse handelsroetes langs in Europa aangekom en hierdie “Swart Dood”-epidemie het een derde van die bevolking van Europa gedood (ongeveer 30 miljoen mense). Columbus se matrose het sifilis vanuit die Amerikas saamgebring en die siekte het deur Europa versprei en is aangehelp deur promiskuïteit en openbare badhuise. Europeërs het pokke na die Amerikas geneem, waar dit binne een eeu ’n geskatte 100 miljoen Indiane laat sterf het, aangesien hulle ’n tekort aan natuurlike teenliggaampies teen die siekte gehad het. Epidemies het die verloop van die geskiedenis in die verlede verander en dit sal weer ’n groot impak op die wêreld hê.

Openbare gesondheidswerkers erken dat SARS en MERS verwant is aan die virus wat die oorsaak van die groot griep-pandemie van 1918 was en wat 50 miljoen mense regoor die wêreld binne ongeveer 18 maande laat sterf het. Die sogenaamde Spaanse griep “word gereken as een van die dodelikste epidemies in die geskiedenis” (news.nationalgeographic.com, 23 Januarie 2014). Die siekte het vermoedelik sy oorsprong in China gehad en is versprei toe sowat 90,000 Chinese arbeiders per boot na Noord-Amerika, per trein na die ooskus en per boot om op die slagvelde in Europa te werk, vervoer is waar soldate sowel as Chinese arbeiders besmet is en gesterf het. Hierdie wêreldwye pandemie was veroorsaak deur die skielike ontstaan van ’n uiters aansteeklike vorm van die virus en is deur die verskuiwing van groot getalle mense regoor die wêreld versprei.

Onlangse voorbeelde illustreer hoe epidemies skielik kan ontstaan en vinnig in ons moderne wêreld kan versprei. Na die 2011 aardbewing in Haiti, was reddingswerkers wat vanuit Nepal gekom het reeds met ’n cholera-virus besmet. Binne dae was daar ’n uitbreking van cholera op die eiland en uiteindelik het 6,000 mense gesterf en meer as 300,000 mense is besmet. Verlede jaar [2014] het die muskiet-oordraagbare virus wat chikungunya genoem word (’n Afrika woord wat “krul van die pyn” beteken), vanuit Asië of Afrika in die Karibiese Eilande uitgebreek en vinnig deur die eilande versprei om meer as 55,000 mense te affekteer. Die virus het glo saam met ’n besmette persoon op ’n vliegtuig daar aangeland. Wanneer ons ’n studie maak van hoe epidemies in die verlede hulle verskyning gemaak het en die verloop van die geskiedenis beïnvloed het en ons sien hoe faktore in ons moderne wêreld die verspreiding van aansteeklike siektes kan aanhelp, behoort ons nie verbaas te wees dat Jesus Christus lank gelede voorspel het dat een van die tekens wat Sy Wederkoms vooraf sal gaan, pessiektes op ’n wêreldwye skaal sal wees nie (Mattheüs 24:3-7; Lukas 21:11). Ons behoort bedag te wees op profesieë wat vandag besig is om gestalte aan te neem en wat uitgebeeld word deur ’n onheilspellende ruiter op’n vaal perd!