Waarom is daar so baie godsdienste in die wêreld? Waarom is daar so baie botsende ideologieë wat mekaar opponeer vir die mense se getrouheid? Waarom het menslike pogings om vrede en geluk te verkry, oor en oor misluk? Die Bybel openbaar antwoorde op hierdie kommerwekkende vrae in profesieë wat vandag gestalte aanneem!

Alhoewel baie mense die Skrif beskou as bloot ’n versameling van mites en legendes, openbaar dit waarom die wêreld is soos wat dit vandag is, en dit verduidelik wat aan die kom is. U Bybel beskryf ’n magtige geestelike wese wat bekend staan as “duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei” (Openbaring 12:9-10). Die Skrif verwys na hierdie wese onder verskillende name – Lucifer, Satan, die Duiwel, die bose een, die groot draak en die slang van ouds (sien Jesaja 14, Mattheus 6:13).

Satan word ook beskryf as “die god van hierdie wêreld” wat mense se sinne verblind het vir die werklike bron van waarheid (2 Korinthiërs 4:3-4). As die “owerste van hierdie wêreld” (Johannes 14:30) en die “owerste van die mag van die lug” (Efesiërs 2:2), beïnvloed Satan die mens se gedagtegang deur sy verwronge idees uit te saai – wat mense sonder agterdog in hulle verstand opneem en aanneem asof dit hulle eie idees is. Dit is die grondliggende bron van die verdraaiing wat so baie godsdienste, ideologieë en kulture in ons wêreld beïnvloed het. Aangesien Satan beskryf word as ’n moordenaar en ’n leuenaar, en as die “vader” van leuens (Johannes 8:44), is dit geen wonder dat die wêreld so baie moeilikhede, tragedies en bloedvergieting deur die eeue ondervind het nie!

Godsdienstige misleiding

Die Bybel wys dat daar uiteindelik net twee lewenswyses is: God se weg van waarheid en geregtigheid, en Satan se pad van dwaling en onreg. Die boek Genesis openbaar dat Satan die eerste mense mislei het om sy leuens te kies en God se weg te verwerp – ’n keuse wat aanloklik gelyk maar tot groot probleme gelei het (Genesis 3; Spreuke 14:12).

Deur Moses het God homself aan die Egiptenare openbaar en toe het die Egiptiese godsdienstige leiers spoedig besef dat hulle gode magteloos was voor die ware God (Eksodus 8:19). In die boek Jesaja spot die God van die Bybel met die magtelose, mensgemaakte afgode wat deur die heidense nasies aanbid word (sien Jesaja 44:9-11; 46:5-11). Die Skrif boekstaaf egter dat die Babiloniese koning Nebukadnesar tog sover gekom het om die ware God te eien en Hom as sodanig erken het (sien Daniël 4:34-37).

In die eerste eeu n.C. het die apostel Paulus opgemerk dat die afgod-aanbiddende Grieke van Athene selfs ’n standbeeld vir die “Onbekende God” gehad het – dus het Paulus hulle vertel wie daardie God werklik is (Handelinge 17:16-34). In sy brief aan die Romeine skryf Paulus teen die misleide heidense leraars “wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk”, en hy maak die aantyging dat “omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid” (Romeine 1:28-32). Die boek Openbaring beskryf ’n vrou (simbool van ’n kerk), in skarlaken geklee, wat die wêreld mislei met haar vals leerstellings. Hierdie groot vals kerk sal ’n toekomstige diermag in Europa ondersteun, en word simbolies verbind met die sewe heuwels van Rome, asook met antieke Babilon as die bron van ons wêreld se bose politieke en godsdienstige sisteme (Openbaring 17:1-9). Die Skrif meld dat Satan beide die dier en ’n kerk wat vals godsdienstige idees versprei (sien Openbaring 13; 2 Thessalonicense 2:9-10), sal bemagtig. Die Bybel openbaar inderdaad dat Satan – die “god van hierdie wêreld” – die outeur is van die gevegte, die getwis en die misleide vals godsdienste rondom ons.

Vervalste Christendom

Beide die Bybel en die geskiedenis openbaar dat die “Christendom” nie aan Satan se misleidende pogings ontkom het nie. Die Nuwe Testament waarsku herhaaldelik teen vals leraars wat daarop aanspraak maak dat hulle dienaars van Jesus Christus is, maar baie mense egter mislei om vervalste weergawes van Christelikheid te volg (Mattheüs 7:15-20; 24:3-5; 2 Thessalonicense 2; 2 Timotheüs 3; 2 Timotheüs 4; 2 Petrus 2). Die apostel Paulus beskryf misleide dienaars wat daarop aanspraak maak dat hulle Christene is, maar wat in werklikheid Satan dien wanneer hulle preek oor ’n ander Jesus en ’n ander evangelie – in teenstelling met wat in die Skrif staan (2 Korinthiërs 11:3-4, 13-15).

Jesus, die Apostels en die vroeëre Kerk het nooit deelgeneem aan weeklikse aanbidding op Sondae nie; hulle het die Bybelse sewendedag Sabbat onderhou soos hulle geleer is (sien Lukas 4:16; Handelinge 13:13-14, 42-44; 16:11-15; 17:1-2). Nogtans, aanbid die meeste mense wat hulleself “Christene” noem, vandag op Sondag – ’n dag van aanbidding wat amper 300 jaar na die apostoliese era deur die Romeinse Keiser Konstantyn tydens die Raad van Nicea ingestel is! Godsdienstige leiers gedurende Konstantyn se era, het ook begin om hulle leerstelling af te dwing dat Jesus se geboorte op die 25ste Desember onderhou moet word – ’n dag waarop heidene die hergeboorte van die Son gevier het – terwyl die Bybel nêrens opdrag gee vir die viering van Christus se geboorte nie, en inderdaad toon dat Jesus nie gebore is gedurende die koue winter nie. Jesus was in werklikheid in die meer gematigde temperature van die herfs gebore, wanneer herders nog in die nag buite hulle skape kon versorg (Lukas 2:8). Deur Bybelse waarhede te ignoreer, het vals leiers egter geredeneer dat deur heidense vakansiedae te verchristelik, hulle makliker heidense bekeerlinge sou kon werf – alhoewel die Skrif God se mense opdrag gee om nie die gebruike van ander gelowe aan te neem nie (Deuteronomium 12:30).

Geskiedskrywer Will Durant stel dit duidelik: “Die Christendom het nie die heidendom vernietig nie; dit het dit aangeneem ... die Christendom was die laaste groot skepping van die antieke heidense wêreld” (Caesar and Christ, bl. 595). Godsdienstige meningsopnemer George Barna het waargeneem dat “’n groot deel van wat ons as Christene doen vir Sondag se kerk nie van Jesus Christus, die Apostels of die Skrif kom nie ... Opvallend baie van wat ons doen vir ‘kerk’ is direk oorgeneem uit die heidense kultuur in die na-apostoliese periode” (Pagan Christianity, Viloa & Barna, bl. 6). Dit is geskiedkundige feite, maar baie “Christene” vandag besef egter nie hoeveel hulle praktyke eeue se godsdienstige korrupsie weerspieël nie.

Indien Satan se hand in die proses in aanmerking geneem word, is dit nie moeilik om te sien waarom daar so baie verskillende variëteite van “Christelikheid” is nie. Jesus het egter gesê: “Ek [sal] my gemeente bou” – nie gemeentes nie (Mattheüs 16:18) – en die apostel Paulus dring by Christene aan dat “daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening” (1 Korinthiërs 1:10).

Deur die eeue heen het ons wêreld ’n wye verskeidenheid regerings, filosofieë en ekonomiese teorieë gesien opkom en val. Monargieë, tirannieë en diktatorskappe het na vore getree en verdwyn. Ongeveer 350 v.C. het die Griekse filosoof Plato waargeneem dat daar ’n herhalende siklus in die strukture van nasies se regerings voorkom – monargie na outokrasie na demokrasie na anargie na diktatorskap – omdat die tekortkomings van die een lei tot die volgende, en nie een van hulle kon te lank onbetwis bestaan in die hande van mense nie (The Lessons of History, Durant, bl. 75). Demokrasieë en republieke het vinnig op die wêreld-verhoog verskyn en verdwyn. Filosofiese sisteme van stoïsisme, rasionalisme, humanisme en agnostisisme het hulle dag gehad en gefaal om blywende antwoorde te verskaf op die groot vrae van die lewe. Mensgemaakte teorieë van kommunisme, sosialisme en kapitalisme het gefaal om die goue tye te behaal wat hulle eens belowe het. Al hierdie sisteme het gefaal omdat mense nie verstaan het dat: “As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou” (Psalm 127:1). Tensy planne en idees gebou word op die soliede rots van God se woord, sal dit faal (Mattheüs 7:24-29).

Donkerte voor dagbreek

Bybelse profesie het lank gelede voorspel dat wêreldtoestande sal aanhou versleg tot en met die wederkoms van Jesus Christus (sien 2 Timotheus 3-4). Jesus openbaar dat menslike pogings en idees uiteindelik hierdie misleide wêreld sal bring tot op die rand van algehele uitwissing, en as “daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheüs 24:22). Die Skrif openbaar dat Jesus Christus sal terugkeer na die aarde as “Vredevors”, om ’n wêreldregering vanuit Jerusalem te vestig wat vreugde, harmonie en voorspoed aan die hele wêreld sal bring (Jesaja 2:2-4; 9:5-8). Hy sal een godsdiensop die aarde vestig wat alle mense na die een ware God en Sy manier van lewe sal lei (Jesaja 30:20-21; Sagaria 14:16-20). Gedurende daardie tyd sal die een “wat die hele wêreld verlei” – Satan die Duiwel – van die aarde af verban wees (Openbaring 20:1-2), en ons sal die aanbreek van ’n nuwe era sien: Die Koninkryk van God!