Waarom is dit belangrik om te weet?


Jesus sê: “Ek [sal] my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Mattheus 16:18). Maar waarom het Jesus ’n kerk gestig? Wat is daardie kerk se sending en doel? Wat moet die Kerk van God vandag doen? Weet u vir ’n feit?

Dit is ongelooflik hoeveel verwarring deesdae tussen die verskeie vertakkings en splintergroepe van die Kerk van God heers rakende die opdrag van die kerk. U het waarskynlik verskeie sienings gehoor oor wat die kerk moet doen namate ons die einde van hierdie tydvak bereik. Is dit die kerk se sending om van Jesus te preek, die gemeentelede geestelik te “voed”, gemeentes te stabiliseer, gemeensaam te verkeer, die gemeenskap te dien of om minder eksklusief te wees? Moet die kerk basiese oortuigings heroorweeg, Joodse tradisies bestudeer, weer aansluit by die algemene Christendom, op profesie konsentreer, menings oor die Bybel deel of “die bruid gereed maak”?

Vandag voel talle mense dat al hierdie idees God plesier en aanvaarbare sendings vir die kerk is. Verteenwoordig hierdie idees egter God se opdragte, of menslike menings? Lê die keuse van ’n sending vir die kerk waarlik by ons, of onthul God die sending vir Sy Kerk duidelik in die Bybel? Kan u uit die Bybel bewys wat hierdie sending is? Het u diepe toewyding tot hierdie sending soos wat God dit aan Sy Kerk geskets het? Wanneer losstaande verse of menslike menings die Bybelse sending vervang, het dit verdeeldheid tot gevolg. Die sending wat Jesus oor en oor vir Sy Kerk beklemtoon het, is in direkte teenstelling met talle idees wat vandag die rondte doen. Hierdie idees is gevaarlik en misleidend omdat dit God se mense weglei van die aangewese sending waarvoor ons aanspreeklik gehou word!

Vir ’n doel geroep

Jesus het die Kerk van die Nuwe Testament begin deur ’n groep dissipels te roep en op te lei. Die Griekse woord vir kerk (ekklesia) beteken ’n uitverkore groep mense. ’n Dissipel is ’n volgeling wie getrou die instruksies van Jesus Christus oordra. Toe Jesus die dissipels geroep het, het Hy hul sending van die begin af baie duidelik gemaak. Hy sê: “Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak” (Mattheus 4:19). Hy sê nie, “volg julle eie aanvoeling of menings nie.” Hy sê: “Kom agter My aan” - Sy voorbeeld, Sy instruksies. Vissermanne het ’n werk om te doen - om vis te vang! Hulle lê nie leeg deur hul opinies omtrent visvang in kuiertjies uit te deel nie. As “vissers van mense” was die dissipels opdrag gegee om die harte en gedagtes van mense met ’n belangrike boodskap te bereik. Die dissipels was geroep en opgelei vir ’n spesifieke en volgehoue doel.

Die dissipels moes nie weer by die heersende godsdienstige gesagsorde aansluit nie, en is aangesê: “Gaan onder hulle uit en sonder julle af” (2 Korintiërs 6:17). Jesus sê van Sy dissipels: “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. Heilig hulle [plaas hulle eenkant of onderskei hulle] in u waarheid” (Johannes 17: 16-17). Jesus het gesê dat die wêreld - en die godsdiensleiers daarvan - Sy dissipels sou haat net soos Hy gehaat is deur die mense wat bely het dat hulle in God glo (Johannes 17:14).

Die Bybel onthul dat die kerk wat Jesus gestig het klein sou wees (Lukas 12:32), verspreid sou wees (Johannes 16:32) en vervolg sou word (Mattheus 10:17). ’n Godsdiens met byna twee biljoen aanhangers (nagenoeg ’n derde van die mensdom), wat in vrede Sondag as hul dag van lof aan Jesus gedenk, is nie die Kerk van God wat in die Bybel beskryf word nie!

Jesus het aan Sy dissipels gesê dat hul sending ’n uitdaging sou wees (Mattheus 11:29-30), maar nie onmoontlik sou wees nie (Mattheus 19:26). Hy beloof om met hulle te wees “tot aan die voleinding van die wêreld” (Mattheus 28:20) en om hulle te beloon omdat hulle Sy instruksies volg. God inspireer Johannes om te skryf: “Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, [op die sending gekonsentreer het] sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing” (Openbaring 3:10-11). Dié dissipels wat getrou bly aan hul sending sal teen die verdrukking beskerm word en ’n kroon ontvang om saam met Jesus in die koninkryk van God te regeer (Openbaring 5:10).

Individue en organisasies wat hierdie sending ligtelik opneem en versuim om dit uit te voer, sal deur die verdrukking gaan (sien Openbaring 3:14-19; 12:17). Dit is waarom dit só belangrik is om gefokus te bly op dít wat Jesus aan die kerk gesê het om te doen! Presies wat was die sending wat Jesus Christus aan Sy Kerk gegee het?

Die sending in Mattheus

Jesus se bediening het behels dat Hy “geleer” het in hulle sinagoges, die evangelie van die koninkryk “verkondig” het en allerlei siektes “gesond gemaak” het (Mattheus 4:23). Dít is die voorbeeld wat Sy dissipels moes volg. Jesus het onderrig oor die Sabbatdag, die Heilige Dae, tiendeheffing, dieetvoorskrifte, bekering, vergifnis en liefde vir jou vyande. Hy preek voortdurend oor die koninkryk van God (sien Mattheus 13 en 14) en die doel van die lewe (bv. Mattheus 19:28). Ook waarsku Hy dat kritieke gebeure Sy wederkoms sal voorafgaan (Mattheus 24). Vergelyk die kere waar Jesus na Sy dood en opstanding verwys het (in Mattheus), met Sy verwysings na die koninkryk van God en u sal moontlik verbaas wees met die resultate. Jesus het op Sy sending gekonsentreer.

Jesus het aan sy dissipels die opdrag gegee om die evangelie van die koninkryk aan “die verlore skape van die huis van Israel” te verkondig (Mattheus 10:6-7). Die dissipels moes geweet het wat die Israeliete se identiteit, sowel as hul ligging was, ten einde dit te kon doen. Die geskiedenis dui daarop dat die dissipels na Skithië (suidelike Rusland), Parthië (Iran) en Indië, sowel as deur Europa tot in Brittanje en Ierland gereis het, waar talle Israeliete heen gegaan het. Namate die kerk gegroei het, moes hulle hierdie selfde evangelie aan die nie-Jode verkondig.

Hierdie sending om die nasies van Israel te bereik, is steeds vandag van toepassing op die kerk. Jesus het gesê dat Sy dissipels die werk nié sou voltooi voor Sy wederkoms nie (Mattheus 10:23). Tog, ten spyte van wat die Bybel duidelik stel, word talle mense vandag aangesê dat die werk voltooi is en dat daar niks te doen is behalwe om die “bruid” (die kerk) gereed te maak vir Christus se koms nie. Die Skrif steun egter nie die idee dat die werk om die evangelie aan die wêreld te verkondig, volbring is nie. Dis ’n veronderstelling! Noag het nie sy werk as “prediker van geregtigheid” (2 Petrus 2:5) 25 tot 50 jaar voor die vloed afgehandel nie! Sy werk is voltooi toe God die deure van die ark agter hom gesluit het, toe dit begin reën het (Genesis 7:6; 16).

’n Hoofaspek van Jesus se bediening was om te waarsku teen spesifieke wêreldgebeure wat sou plaasvind kort voor Sy wederkoms (sien Mattheus 24; Markus 13; Lukas 21). Jesus sê dat Sy getroue dienaars ’n waarskuwing sal bied soos hulle dié dae sien nader kom (Mattheus 24:45). Hy waarsku ook dat “baie onder my Naam [sal] kom [aanspraak maak daarop dat hulle Christene en leraars van Christus is]…en hulle sal baie mense mislei” (Mattheus 24: 4-5). Hy sê: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheus 24:14). ’n Getuie se doel is om te waarsku en in te lig, nie noodwendig om mense tot bekering te bring nie. Wanneer Christus terugkeer wil Hy Sy dissipels aantref waar hulle besig is om die werk te doen wat Hy gesê het hulle moet doen (Mattheus 24:46), in die proses om dissipels te maak van alle nasies en dít te onderrig wat Hy beveel het (Mattheus 28:19-20). Dít kan nie gedoen word deur bloot te sit en ons menings rondom die Bybel te bespreek nie!

Die sending van die kerk, soos in Mattheus uiteengesit, behels die onderrig in God se lewenswyse, om siekes gesond te maak, die koninkryk van God te verkondig en te waarsku teen gebeure wat dui op die einde van dié tyd en van Jesus Christus se wederkoms. Was hierdie egter slegs Mattheus se idees? Of tref ons herhaaldelik soortgelyke instruksies in die Bybel aan?

Die sending in Markus

Die evangelie volgens Markus is ’n spieëlbeeld van dié in Mattheus waar dit die sending van die kerk saamvat. Markus skryf, “Jesus [het] in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig” en klem gelê op die nodigheid van bekering [verandering] en om die evangelie te glo (Markus 1:14-15). Om oor die komende koninkryk te preek, was die hoofdoel van God se werk op aarde. Hierdie selfde doel moet vandag steeds die sending van God se kerk wees. Jesus het Sy dissipels geroep om “vissers van mense” te word, nie lede van ’n sosiale klub, ’n leraarsgulde of private studiegroep nie (Markus 1:17). Hy het mense onderrig oor hoe om die Sabbat te onderhou (Markus 2:23-28; 3:1-6). Hy het ook onthul dat Sy dissipels die begrip oor die koninkryk van God gegee sou word wat die wêreld nie het nie, om sodoende die kerk behulpsaam te wees om sy sending te volbring (Markus 4:10-12). Jesus het gesê dat die meeste mense wie die ware evangelie hoor, dit óf nie sou verstaan nie, óf uiteindelik belangstelling sou verloor in die kerk se ware sending (Markus 4:13-20). Slegs ’n paar sou hoor en Jesus se instruksies volg. Hoe is dit op u van toepassing?

In Markus 6:7-13 vind ons dat Jesus Sy dissipels op ’n opleidingsending gestuur het met die opdrag om te preek en gesond te maak. Dit word verstaan dat hul prediking op die koninkryk van God gefokus het (sien Markus 1:14-15). Markus neem ook Jesus se uiteengesette opdragte, om op die uitkyk te wees en om te waarsku teen gebeure wat Sy nabye koms sou aandui, in dié boek op (Markus 13). Markus sê die Kerk se Groot Opdrag is dít: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie [van God se koninkryk]” en om diegene wie glo, te doop (Markus 16:15-16). Dít is die primêre sending - die werk - van die kerk. Dit is die rede vir die publikasie van tydskrifte en boekies, om radio- en televisie-uitsendings te doen en op die Internet te wees. Hierdie sending vereis ’n toegewyde groep volgelinge wat as ’n span saamwerk. Enkele individue kan dit nie tot uitvoer bring nie. Dit kan nie tuis óf deur besprekingsgroepe óf deur sosiaal te verkeer, gedoen word nie. Leraars wat hul eie agendas promoveer of hul energie daaraan wy om ’n kerklike organisasie te stig, kan dit nie bereik nie. Ongeag die duidelikheid van hierdie instruksies, is dit ongelooflik dat sommiges vandag sê: “Ons sal ’n werk doen wanneer God ons wys wat om te doen” of “Ons kan nie ’n werk doen nie, want ons het nie die fondse nie.” Ander sê: “Ons publiseer nie tydskrifte en boekies nie omdat dit te eenvoudig is - ons moet indiepte navorsing doen” of “Ons aanvaar nie salarisse nie, daarom kan ons nie die werk doen nie.” Hierdie is verskonings waarvoor Christus nie sal val nie! Jesus het Sy kerk die sending gegee, nie om daaroor te debateer of dit te misken nie, maar om dit uit te voer! Dit is ons werk, en ons sal aanspreeklik gehou word!

Die sending in Lukas

In teenstelling met wat ons vandag in die algemene Christendom aantref, naamlik om mense te nooi om Sondag kerk toe te kom, sien ons dat Jesus die Sabbat onderhou het en opdrag gegee het oor hoé om dit te doen (Lukas 4:16, 31; 13:10-17; 14:1-6). ’n Kerk wat Christus se voorbeeld volg, sal hiermee voortgaan. Lukas beskryf twee opleidingsendings wat Jesus vir Sy dissipels gereël het. Jesus het die twaalf op ’n sending gestuur om “die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak” (sien Lukas 9:1-6). Later het Hy 70 uitgestuur om gesond te maak en oor “die koninkryk van God” te preek (sien Lukas 10:1-12). Jesus waarsku Sy dissipels om te pasop vir die heersende godsdienstige gesagsorde en om nie daarby aan te sluit nie (Lukas 20:45-47). Lukas noem ook in sy skrywe Jesus se klem om op die uitkyk te wees en te waarsku oor spesifieke gebeure wat sal aandui dat Sy koms naby is (Lukas 21). Ons sien dus dat die sending wat voorkom in elk van die evangelies wat ons sover bestudeer het. Jesus se raamwerk vir die kerk is in beginsel dieselfde.

Die kerk as “brandwag”

’n Kerk wat Christus se instruksies volg om uit te kyk vir spesifieke gebeure en te waarsku oor hul verskyning, sal as brandwag optree. ’n Brandwag se werk is om op die uitkyk te wees en te waarsku. Die evangelieskrywers dokumenteer Christus se duidelike opdragte in dié verband. Die Ou-Testamentiese profeet Esegiël het dieselfde sending gehad. Hy moes “as wag vir die huis van Israel” optree en hulle waarsku oor die straf wat God oor hulle sou bring weens hul ongehoorsaamheid (Esegiël 2:3; 3:4-7, 17). Esegiël is meegedeel dat indien hy moeilikheid sien kom en ’n waarskuwing gerig het, hy homself en enigeen wat sou luister, sou red (Esegiël 33:1-5). Indien hy egter dinge sou sien ontwikkel en geen waarskuwing rig nie, hy verantwoordelik gehou sou word vir diegene wat omkom (Esegiël 33:6-7). Esegiël is opdrag gegee om as God se brandwag vir antieke Israel op te tree. Volgens Jesus se instruksies in Mattheus 24, Markus 13 en Lukas 21, deel die hedendaagse Kerk van God daardie selfde plegtige sending! Dit vorm deel van óns sending!

Vóór die vernietiging en gevangenskap van Israel en Juda, het God profete gestuur om hul sondes en die gevolge van die verbreking van God se wette aan hulle uit te wys. Jesaja is aangesê: “Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ’n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes” (Jesaja 58:1). Jeremia het ’n soortgelyke boodskap aan die nasie van Juda uitgedra (sien Jeremia 2).

Dieselfde waarskuwing - die nodigheid om te bekeer van die verbreking van God se wette - is ook gelewer deur Johannes die Doper (Mattheus 3:1-12), Jesus Christus (Markus 1:14-15) en die dissipels wat Hy opgelei het (Handelinge 2:38). Hierdie was nog nooit ’n gewilde boodskap nie. Om aan mense wat moontlik reeds mag dink dat hulle in God glo te sê dat hulle moet verander, maak nie vriende of kweek welwillendheid nie. Dít het Jesus se lewe en dié van en die meeste vroeë dissipels gekos, maar dit is deel van die kerk se sending. Die kerk moet meer as net ’n sagsinnige boodskap van liefde en die Christenleefwyse preek indien sy haar sending, soos deur Jesus Christus geskets, wil volbring.

Johannes en die sending

Hoewel die evangelie volgens Johannes vanuit ’n ander oogpunt geskryf is [Johannes beklemtoon dat Jesus die goddelike Seun van God was], lê dit dieselfde sending vas. Jesus sê aan Sy dissipels: “Volg My” - Sy voorbeeld en opdragte (Johannes 1:44). Jesus maak die siekes en kreupeles gesond en gee instruksies oor hoe om die Sabbatdag te onderhou (Johannes 5:1-15). Hyself onderhou die Heilige Dae en gee opdrag om dit te onderhou (Johannes 7:8, 14, 37). Die evangelie volgens Johannes onthul dat Jesus herhaaldelik met die heersende godsdiens gesagsorde gebots het rakende leerstellings. Godsdiensleiers van Christus se tyd het Hom nie erken vir wie Hy was nie en het ook nie Sy sending en Sy boodskap verstaan nie. Dit sal vir ’n hedendaagse kerk wat dít wat Jesus geleer het onderrig, geensins anders wees nie. Toe Jesus aangespoor is om te ontspan, sê Hy: “My voedsel [My sending] is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring” (Johannes 4:33-34). Jesus was sending-georiënteerd!

Die evangelie volgens Johannes beklemtoon dat Jesus vir die sondes van die mensdom gesterf het (1:29; 3:16) en dat Christene “mekaar moet liefhê” (13:34; 15:17), maar dit vervang egter nie die opdrag om die evangelie van die koninkryk te verkondig en om die wêreld te waarsku nie. Ons lees in Johannes 21:15-17 dat Jesus aan Petrus die opdrag gee “Laat my skape wei”. Hoewel dit duidelik deel van die kerk se sending vorm, kan slegs diegene wat deur die boodskap aangetrokke is, “gevoed word”. Soos ons sal sien, moet die voedingsproses die kerk help om haar sending te volbring.

Die apostels en die sending

Baie mense glo vandag dat Paulus die Christendom herformuleer het om dit meer in die wêreld se smaak te laat val - deur die kerk se boodskap en sending, sowel as Jesus se opdragte, aan te pas. Dit stryk eenvoudig nie met die Skrif nie. Die Nuwe Testament onthul dat die apostels getrou was in hul sending. Jesus gaan ná Sy opstanding voort om Sy dissipels se aandag op die “koninkryk van God” te vestig (Handelinge 1:3-6). Petrus se preek op Pinksterdag beklemtoon die nodigheid vir ’n Christen om bekeer te word (Handelinge 2:38). Die apostels gaan voort met genesing deur wonderwerke (Handelinge 3:1-10; 9:32-43; 19:1-12).

Filippus verkondig “die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus” (Handelinge 8:12). Paulus se “gewoonte” was om die Sabbatdag te onderhou (Handelinge 17:2) en hy het, soos Christus ook gedoen het, op en aangaande die Sabbatdag en die Heilige Dae onderrig gegee (Handelinge 13:13-15, 42-44; 18:21; 1 Korintiërs 5: 7-8). Paulus was aan die einde van sy bediening steeds besig om te preek aangaande “die koninkryk van God …en [het] onderrig gegee aangaande die Here Jesus Christus” (Handelinge 28:31). Die Nuwe Testament onthul dat die sending van die kerk onder leiding van die apostels nié verander het nie. Dit is waarom Paulus die kerk adviseer: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is” (1 Korintiërs 11:1).

Die apostels gaan voort om van gebeure wat die einde van die tyd en van Christus se wederkoms sal aandui, te waarsku soos Jesus self ook gedoen het. Paulus, Petrus en Johannes vermeld bykomende besonderhede (2 Thessalonicense 2; 1 Petrus 3; Openbaring 11:15-19; 19:5-21). Die sending om die wêreld te waarsku is ’n bevel en moenie ligtelik opgeneem word nie! Die sendbriewe is ook besaai met waarskuwings dat godsdiensmisleiding sal toeneem namate ons die einde van die tyd nader (1 Timotheus 4:1-5; 2 Timotheus 4:1-5; 2 Petrus 2). Dit sluit misleiding aangaande die kerk se sending in!

Die sending in die eindtyd

Hedendaags maak talle mense die aanname dat die werk om die evangelie te verkondig, verby is, en dat al wat vir die kerk oorbly, die “gereedmaking” van die bruid vir Christus se wederkoms is. Dit is gegrond op ’n enkele teksvers in Openbaring 19:7. Een enkele vers weerspreek egter nie die sending wat so duidelik regdeur die Nuwe Testament verduidelik word nie. Die Bybel verduidelik wat “gereedmaking” behels. God sal voor Christus se wederkoms ’n soort Elia-werk op die been bring om “alles te herstel” (Maleagi 4:4-6; Mattheus 17:10-11). Net soos Johannes die Doper die weg vir die Messias se eerste koms gebaan het, sal ’n eindtydse werk “die weg van die Here [berei]” en “sy paaie reguit [maak]” (Jesaja 40:3; Mattheus 3:3).

Dit behels die uitstryking van eeue se verwarring oor die evangelie, die sending van die kerk en die goddelike lewenswyse deur die kennis van die Waarheid te herstel. Dit was die hoofdoel van die moderne era van God se Kerk. Die werk wat deur Jesus Christus en die apostels begin is, gaan vandag voort en sal tot in die Millennium voortgaan (Handelinge 3:19-21; Jesaja 2:2-4; 11:9).

Nog ’n aspek van die eindtydse sending van die kerk is “om vir die Here ’n toegeruste volk te berei” (Lukas 1:17). Hierdie uitverkore groep individue (die kerk) moet voorberei word om ’n werk te doen - om die evangelie van die koninkryk te verkondig, om God se lewenswyse te onderrig en siekes gesond te maak [soos God dit moontlik maak]. Hierdie kerk moet ook wêreldgebeure dophou ten einde in staat te wees om die mensdom te waarsku soos die einde van die tyd en Christus se wederkoms nader kom. Om die mense voor te berei om daardie werk te doen is deel van ons sending. Indien ons bloot op onsself konsentreer deur te bid, te vas en Bybelstudie slegs vir eie gewin te doen, sal ons nie die Groot Opdrag wat Jesus vir Sy kerk geskets het, volbring nie.

Die Skrif skets duidelik die ware sending van die kerk. Al die hedendaagse verwarring is ongelukkig en jammerlik van koers af. Ons kan nie bekostig om deur verskeie en teenstrydige idees oor wat die kerk moet doen, mislei te word nie. Om die kerk se sending te erken en dit te doen is belangrik, aangesien dit aandui of ons gewillig is om Christus se opdragte te “volg” aldan nie. Begrip en ’n diepgaande toegewydheid om daardie sending te volbring, is ’n basiese vereiste om in God se koninkryk te wees. Dit is waaroor die Christenskap van die apostels gaan; om die opdragte van Jesus Christus voort te dra. Ons moet saamwerk om daardie sending te voltooi, aangesien ons aanspreeklik gehou sal word!