Is dit realisties om te hoop vir ’n wêreld van vrede, vryheid en welvaart?


Twee-en-vyftig jaar gelede – ’n bietjie meer as twee geslagte terug – op 20 Januarie 1961, het die Amerikaanse president, John F. Kennedy, in sy enigste intreerede, ’n beroep op sy gehoor gedoen om hom te ondersteun in die bevordering van die ideale van vryheid en gemeenskaplike welvaart. Terwyl die VSA nou voorberei vir President Barack Obama se tweede intreerede, hoe het Amerika en ander Westerse nasies gevaar in die bereiking van President Kennedy se doelwitte?

In sy bekende toespraak het President Kennedy gesê: “Aan daardie nuwe state wat ons verwelkom onder die geledere van die vryes, gee ons plegtig ons woord dat een vorm van koloniale beheer nie beëindig word slegs om plek te maak vir ’n baie meer ystere tirannie nie. Ons sal nie altyd verwag dat hulle ons siening moet ondersteun nie. Ons sal egter altyd hoop om te vind dat hulle hul eie vryheid sterk sal ondersteun en ook sal onthou dat, in die verlede, diegene wat dwaas was om mag te soek deur op die rug van die tier te ry, hulself binne-in hom bevind het. Aan daardie mense in hutte en dorpies oor die helfte van die aarde, wat sukkel om die bande van massa-ellende te verbreek, belowe ons om ons bes te doen om hulle te help om hulself te help, vir so lank dit ook al nodig mag wees – nie omdat die kommuniste dit dalk doen nie, nie omdat ons hulle stemme wil werf nie, maar omdat dit reg is”.

Waar staan ons vandag? Dink na oor hierdie ontleding deur politieke ontleders Samuel Chi, Kevin Sullivan en Gregory Scoblete, in hul essay The State of the World in2012: “Verskeie uiters belangrike vraagstukke hang oor die wêreld ... Sal die Eurosone ineenstort? Sal die Arabiese lente ’n nuwe en oor die algemeen meer stabiele en goedaardige Midde-Ooste oplewer, of iets ergers? Sal die VSA en NAVO ’n bevredigende punt bereik om Afghanistan te verlaat? Sal Iran se kernprogram ’n wapenwedloop aan die gang sit, of iets nog erger? Sal China ’n politieke of ekonomiese krisis afweer?”

Die verhewe ideale wat uiteengesit is in President Kennedy se toespraak is beslis die moeite werd. Hulle is egter nie nuut nie, omdat die mensdom van die heel begin af vervulling daarvan nagestreef het. Byna twee duisend jaar gelede het Jesus Christus na die aarde gekom om ’n boodskap te bring van vrede en voorspoed vir almal, wat verkry sou kon word deur die toekomstige Koninkryk van God. Christus het gekom na ’n wêreld wat toe, net soos nou, nie hierdie soort vrede en voorspoed vir die grootste deel van die mensdom geken het nie. Hy het ’n boodskap van die ware Outeur van vrede en voorspoed gebring. Hy het vir sy luisteraars gesê dat Hy gekom het “dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Johannes 10:10).

Jesus Christus het in Sy lewe die enigste onfeilbare weg na vryheid en voorspoed uitgebeeld, deur as ’n voorbeeld te dien om die pad van welwillende leierskap en persoonlike opoffering aan te dui. Hy sê: “Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was” (Johannes 13:13-14). Selfs nou is Hy besig om Christene op te lei om toekomstige poste onder Hom te beklee in die toekomstige Koninkryk van God, waar hulle ’n lewensbelangrike rol sal speel as “konings en priesters” in ’n toekomstige tyd wat meer wonderbaarlik sal wees as enigiets wat President Kennedy – of enige een wat vandag leef – kan dink: “Toe sing hulle ’n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:9-10).

President Kennedy het in sy intreerede ’n ander bekende versoek gerig – ’n beroep aan sy luisteraars om persoonlike opofferings te maak vir die beswil van andere: “En nou, my mede-Amerikaners, moet nie vra wat u land vir u kan doen nie, vra wat u vir u land kan doen. My medeburgers van die wêreld, vra nie wat Amerika vir u sal doen nie, maar wat ons saam kan doen vir die vryheid van die mensdom ...”

Om meer te leer oor die wonderlike toekoms wat God vir die mensdom beplan het, lees gerus ons boekies, U uiteindelike lotsbestemming en Die toekomstige wêreld: Hoe sal dit wees? Bestel u eie gratis kopieë vanaf die Streekskantoor die naaste aan u (gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif) of gaan aanlyn by www.wvm.co.za om dit te bestel of te lees.