Die moderne wêreld ignoreer antieke wysheid

Baie mense is deesdae vinnig om ander te veroordeel wanneer hulle ’n beskuldiging hoor of sien – selfs al is daar geen bewyse nie. Op sosiale media versprei nuus soos ’n veldbrand vol haatlike, venynige opmerkings en gruwelike dreigemente – soms sluit dit ook liggaamlike skade en dood in – teenoor die beskuldigde.

Selfs party professionele joernaliste fel ’n oordeel voordat hulle al die feite gekry het. Dit blyk minder belangrik te wees om inligting te kontroleer as wat dit is om eerste te wees met publikasie en voordeel te trek uit sensasie.

Vandag se samelewing is verward en in ’n hoë mate verdeeld – polities, godsdienstig, rasioneel en op ander maniere. Emosies vlam op soos dinamiet en word aan die gang gesit deur die geringste provokasie. ’n Sosiale media-storm bars los voordat enige bronne nagegaan of bevestig is. Dikwels, wanneer feite aan die lig kom en die aanklagte as vals bewys word, mag ’n halfhartige terugtrekking gemaak word. Al te dikwels verdwyn die kwaadstokers soos mis voor die son tot die volgende skandaal.

Waarom het “gou om te oordeel” die norm geword? Waarom is almal so vinnig om te veroordeel, wat slegs gebaseer is op beskuldigings sonder enige bewyse? Die oproer in Amerika oor die verslag deur spesiale raadgewer Robert Mueller – ’n verslag wat baie mense in die media lankal sommer net aangeneem het, ’n sameswering tussen die Amerikaanse president Donald Trump en Rusland sou toon, alhoewel dit nie so was nie – is net ’n onlangse voorbeeld.

Wyse vermanings teen haastige oordeel word uitgespreek in die Bybel, waar ons vermaan word dat “elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word” (Jakobus 1:19). Kan u u voorstel hoe stil sosiale media sou word as almal daardie wysheid sou uitoefen?

Spreuke bied stof tot nadenke vir diegene wat haastig is om woorde van veroordeling uit te spreek. Byvoorbeeld, “’n Dwaas laat al sy toorn uitvaar, maar ’n wyse bring dit eindelik tot bedaring” en “Het jy ’n man gesien wat haastig is in sy woorde? Vir ’n dwaas is daar meer hoop as vir hom” (Spreuke 29:11, 20). Nog ’n wyse gedagte word in Spreuke 17:27 vermeld: “Wie sy woorde inhou, besit kennis; en hy wat kalm is van gees, is ’n man van verstand.”

Te veel mense is gereed om diegene wat nie saamstem met hulle gunsteling argument nie, te veroordeel of hulle vooroordeel nou polities, godsdienstig, rassisties, of wat ookal van aard is. Daar word in Levítikus 19:15 gesê: “Julle mag geen onreg doen in die gereg nie” of dit nou partydigheid is teenoor die armes of die magtiges.

Diegene wat vinnig is om hulle opinies te lug op sosiale media, mag dit dalk oorweeg om God se opdragte in gedagte te hou. Ons word vertel God haat “’n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop ... en tussen broers tweedrag saai” (Spreuke 6:18-19). Deelnemers aan sosiale media is vinnig om deel te neem voordat feite bekend is asook om hulle verdediging of veroordeling uit te spreek, afhangende van hulle partydigheid en voorkeur wat bydra tot die onenigheid.

God wil hê dat diegene wat aangestel word om uitspraak te lewer dit sal doen met insig, nie met verdraaide geregtigheid nie. Hulle moet dus nie partydigheid (voortrekkery) betoon nie maar aanhang wat heeltemal regverdig is (Deuteronómium 16:18-20). Te veel mense op sosiale en die nuusmedia stel hulleself as regters aan en betoon oordrewe vooroordeel.

Spreuke waarsku ons ook, “Gaan nie haastig uit om te twis nie; anders, wat sal jy ten slotte doen as jou naaste jou in die skande steek? Verdedig jou saak teen jou naaste, maar openbaar ’n ander se geheim nie, sodat een wat dit hoor, jou nie beskimp en jou slegte gerug nie ophou nie” (Spreuke 25:8-10). Persone wat dit doen, verloor hulle geloofwaardigheid en professionele reputasies is inderdaad al verwoes deur soortgelyke regsgedinge en beskuldigings.

Ons kan nie beheer wat ander mense sê of doen nie, maar ons kan onsself beheer. Vir meer inligting, kyk na “The Dangers of Social Media” en lees “Tame the Social Media Monster” op TomorrowsWorld.org.