Het u al ondersoek ingestel na die tradisies met betrekking tot dié feesviering?

Aha, dis nuwe jaar! Vir miljoene mense is dit die tradisionele tyd om te besin oor die toekoms en die afgelope jaar in oënskou te neem. Waarom? Waar het hierdie konsep vandaan gekom en waarom word sulke losbandige vierings gesien met die een jaar wat eindig en die volgende jaar wat begin? Waarom neem mense besluite om beter te doen as wat hulle die afgelope jaar gedoen het?

Lesers van die Wêreld van Môre kan tereg verwag dat die antwoord baie dieselfde is as vir soveel ander feeste, soos Valentynsdag, Paasfees, Halloween en Kersfees: So heidens as wat kan kom, in murg en been. Weereens, tydens die viering van Nuwejaar, het die mensdom hulle na die skepping eerder as die Skepper gewend, hulle eie tradisies gevestig en God se Gebooie geïgnoreer (Matthéüs 15:3-9).

 

’n Lang geskiedenis

Die viering van Nuwejaar strek ver terug na die Babiloniese lente-vrugbaarheidsrituele, wat verband hou met die vernuwing van die land na die winter. Bewyse dui selfs daarop dat die Babiloniërs die eerste volk was wat Nuwejaarsvoornemens gemaak het as deel van waarsêery vir wat die nuwe jaar sou bring.

Die Romeine het Janus, hulle god van deure en poorte, aanbid. Hy het twee gesigte gehad – ’n gesig wat vorentoe kyk en een wat terugkyk. Nadat die Romeinse keiser, Julius Caesar, in 46 v.C. die 1ste Januarie as die Romeinse Nuwejaarsdag ingestel het, het hy die eerste maand, “Januarie”, na die god Janus vernoem, wat die maand as die “deur” na die jaar gestel het.

Is die middel van die winter egter die toepaslike deur van tyd om die jaar te begin? Nadat God vir Israel die Heilige Dae gegee het, het God gesê dat Sy volk die jaar in die lente behoort te begin (Exodus 12:2; Vergelyk Deuteronómium 16:1).

Nog ’n algemeen aanvaarde tradisie, was om ’n baba te gebruik om die nuwe jaar aan te dui en het omstreeks 600 v.C. in Griekeland begin. Hulle het Dionysus, hulle god van wyn, vereer deur met ’n baba in ’n mandjie te paradeer, wat die jaarlikse wedergeboorte van daardie god as die gees van vrugbaarheid voorstel (Sir James George Frazer, “Dionysus,” The Golden Bough, 1922). Die Egiptenare het ook ’n baba as ’n simbool van wedergeboorte gebruik.

Die antieke Romeine het geglo dat luidrugtigheid, wellustigheid en dronkenskap aan die begin van die nuwe jaar, die god, Pan, asook ander kwaadwillige gode sou verwar, wat hulle dan sou verhoed om in die alledaagse lewens van sterflinge in te meng vir die jaar wat kom.

Die Skotse volk vier die koms van die nuwe jaar deur ’n vakansiedag wat hulle Hogmanay noem. Hierdie viering spruit voort uit hulle geskiedenis van Viking-invalle, bygelowe en antieke heidense rituele en is bekend vir oormatige drankmisbruik en ’n gefuif tot in die vroeë oggendure.

 

Wat om te doen?

Is losbandige vierings, algemene gedrag van openbare dronkenskap en perverse gedrag, aanvaarbaar vir redelike, regdenkende mense en veral vir diegene wat hulleself Christene noem? Wat sê die Bybel? “En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloesie, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie” (Galásiërs 5:19-21).

Nee, ons hoef nie voor te gee dat die kalender wat algemeen gebruik word – dikwels met reg die “Romeinse kalender” genoem – nie bestaan nie. Christene kan afsprake op daardie kalender maak en nakom. Daar is egter niks nuuts óf van God af, in die wêreld se Nuwejaarsvierings nie. Dit is so oud soos die werke van die vlees en God het sulke werke van die begin af veroordeel.

Hoe behoort ons onsself dus as Christene te gedra? Die Bybel maak dit duidelik: “Sorg dan dat julle doen soos die Here julle God julle beveel het; julle mag nie regs of links afwyk nie. In al die weë wat die Here julle God julle beveel het moet julle wandel, sodat julle kan lewe en dit met julle goed kan gaan en julle die dae kan verleng in die land wat julle in besit sal neem” (Deuteronómium 5:32-33).

U kan meer te wete kom oor die kalender wat God Sélf vir Sy mense ingestel het. Lees gerus die boekie, Die Heilige Dae – God se meesterplan, aanlyn by wvm.co.za of bestel u eie gratis eksemplaar by u naaste streekkantoor wat in die lys op bladsy 2 van hierdie tydskrif gevind kan word. U sal bly wees indien u dit gedoen het!