Een van die primêre gevare vir ons almal in God se Kerk is om te raak soos die Laodicense, met ander woorde om ’n louwarm gesindheid te hê. Ons is definitief in dít wat in die Bybel aangedui is as die “laaste tydperk” - die laaste kerk-era van God se Kerk, net voor die Verdrukking.

Die apostel Johannes was geïnspireer om hierdie era in baie duidelike terme in Openbaring 3:14-22 te beskryf. Let daarop dat hierdie era nie vir enige spesifieke leerstellingfoute veroordeel word nie, maar vir ’n selfvoldane, louwarm gesindheid. Diegene wat dus Laodicense is, mag ’n “afgewaterde” benadering tot leerstelling in die algemeen hê, maar dit blyk dat hulle die meeste van die Waarheid behou het. Dit is net dat hulle selfvoldaan is en in wese mag sê: “Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie” (vers 17). Tog is hulle in God se oë: “ellendig, betreurenswaardig, arm, blind en naak”.

Waar staan ek? Waar staan u?

Elkeen van ons moet geduring probeer om onsself objektief te evalueer - en nie ander mense nie. Ek waarsku u verseker dat nie alle Laodicense in die “ander groepe” is nie! Hier in die Lewende Kerk van God het ons ’n sekere hoeveelheid Laodicense en almal van ons staan die gevaar om so te word as ons toegee aan die oorheersende “gees” van hierdie kerk-era - en die samelewing rondom ons.

Ons moet almal die voorbeelde van die groot manne en vroue van God volg, wat tot God “uitgeroep” het as hulle in gevaar was. Die gevaar dat sommige van ons Laodicense raak, is veel groter as wat enige van ons dink! Toe die profeet Daniël ontmoedig gevoel het oor die voortgesette gevangenskap van sy volk en moontlik die algemene gevoel van onbehaaglikheid onder hulle, het hy ywerig begin om God te soek. “En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy. En ek het tot die HERE my God gebid en belydenis gedoen en gesê: Ag, Here, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou, ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van u gebooie en verordeninge afgewyk. En ons het nie geluister na u knegte, die profete, wat in u Naam gespreek het tot ons konings, ons owerstes en ons vaders en tot die hele volk van die land nie” (Daniël 9:3-6).

Indien ons elkeen die “louwarm trekke” voel en God begin opsoek, soos Daniël gedoen het, kan ons - deur ons gebede en deur te vas - help voorkom dat nie net onsself nie, maar ook baie van ons mede Kerklidmate, Laodicense word. In vandag se kultuur van toegewing en korrupsie is dit alte maklik vir ons om in ’n louwarm gesindheid weg te sink, sonder om eens te besef wat aan die gebeur is! Die apostel Paulus se waarskuwing is verseker vandag op spesiale wyse van toepassing: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ’n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Hebreërs 3:12-13).

Let asseblief daarop dat Paulus sê om mekaar daagliks te vermaan. Die woord “vermaan” beteken “om te waarsku, aan te spoor en ernstig te bepleit”. Ons moet mekaar dus gereeld vermaan en aanmoedig om Bybelstudie te doen, te bid, geestelik te groei - en alles te doen wat ons moontlik kan, om ons voor te berei vir God se Koninkryk. Paulus het sekerlik nie bedoel dat ons volgens eie reg vir mekaar moet preek of op ons mede-Christene moet “pik” nie, maar ons moet in innige opregte liefde en besorgdheid as medelidmate ons “broer se wagter” wees in die sin dat ons moet uitreik en help en ’n swakker geestelike broer of suster vermaan, wat moontlik besig is om van die Waarheid en die Kerk weg te dryf.

Weer eens moet ons ywerig wees om seker te maak dat ons nie die volle verbintenis tot Christus in ons gedagtes of optrede “afwater” nie. Soos die apostel Paulus sê: “Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus”. (Filippense 3:13-14).

Beur u en ek werklik vorentoe en reik ons na die doelwit van Christus se Koninkryk wat binnekort kom?

Ek het onlangs al teenoor ons lidmate die diepgaande behoefte beklemtoon dat ons almal die Bybel waarlik moet bestudeer en op Christus moet “voed” - werklik sleutelskrifdele herhaaldelik moet lees en daaroor nadink; dit merk en selfs uit ons kop leer. Op hierdie stadium wil ek u ook vra om te onthou waarom die Bybel geskryf is: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Timotheus 3:16-17).

Laat ons almal onthou dat die Bybel deur God geïnspireer is, nie net om vir ons die ware leerstellings te leer nie, maar ook vir teregwysing en regstelling. Hoeveel duisende Katolieke monnike en Protestantse predikante het deur die eeue die Bybel herhaaldelik bestudeer deur die brille van hul eie voorafbepaalde idees - en het daarom nooit die volle Waarheid leer ken nie - was nooit ten volle deur God “oorwin” nie en het hulself nooit werklik oorgegee om te doen wat God duidelik sê nie?

Dink asseblief hieroor na!

Die benadering om net die Bybel te bestudeer op die manier waarop ons enige ander boek oor geskiedenis of filosofie sou bestudeer, is nie goed genoeg nie! Ons moet eerder in nederigheid en gebed ons Bybels oopmaak met die diepe begrip dat God ons konsepte en benaderings gaan leer, wat ons nog nie verstaan nie. Ons moet begerig wees dat Hy ons - deur Sy geïnspireerde Woord - sal teregwys en aanspreek wanneer ons fouteer, ons gedagtes en optrede oor tyd sal vorm en smee, ons werklik in lyn met Sy manier van dink sal bring.

God vertel ons: “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes” (Jesaja 55:8-9). ’n Noodsaaklike deel van ons Bybelstudie en kerkbywoning - insluitend ons gesindheid wanneer ons na preke luister - is om opreg uit te vind waar ons verkeerd is en waar ons moet verander! Ons moet na God en na Sy geïnspireerde Woord gaan en opreg “soek” na Sy gedagtes en Sy benadering - nie ons eie nie!

Doen u dit?

Is u persoonlik gewillig om ’n teregwysing van God te aanvaar deur Sy geïnspireerde Woord en deur die preke wat deur Sy ware leraars in Sy Kerk gepreek word? Indien nie, waarom nie?

Geagte lesers, ons moet almal tereggewys word, verander word en deur God gevorm en gesmee word, in die beeld van Jesus Christus ons Verlosser. Soos Paulus sê: “Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was” (Filippense 2:5).

Ek wil elkeen van u aanmoedig om alles op te offer in u strewe om meer soos Jesus Christus te wees en om voor te berei om ’n belangrike deel te hê aan die regering van God, wat binnekort hier op Aarde opgestel gaan word. Christus het nie die persoon wat, hoewel hy moontlik “gaaf” was, maar geestelik lui en sy talent in die grond begrawe het, geprys nie: “Maar sy heer antwoord en sê vir hom: Jou slegte en luie dienskneg, jy het geweet dat ek maai waar ek nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar ek nie uitgestrooi het nie. Daarom moes jy my geld by die wisselaars gestort het, en ek sou by my koms wat aan my behoort, met rente ontvang het” (Mattheus 25:26-27).

Ons moet leer om “alles op die prys te stel” vir die Koninkryk van God! Ons beter “alles opoffer” om te verhoed dat ons louwarm Laodicense word! Hier in God se ware Kerk, moet ons - wat nou opgelei word om konings en priesters onder Jesus Christus te wees in die Wêreld van Môre - die “sout” van hierdie aarde wees. Ons moet daardie spesiale “lewenslustige” smaak gee wat ons God en ons Heer Jesus Christus sal sien, wanneer hulle na die mensdom kyk. Jesus sê: “So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie. Die sout is goed, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit smaaklik gemaak word? Dit is nie bruikbaar vir die grond of vir die ashoop nie. Hulle gooi dit buitekant weg. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor” (Lukas 14:33-35).