In die geskiedenis sal daar opgeteken word dat die wêreld in 2020 dramaties teen ’n asemrowende tempo verander het. Die asemhalingspatogeen wat nou bekend is as COVID-19, het sedert dit die eerste keer in Wuhan, China waargeneem is, met ’n kommerwekkende spoed na gemeenskappe regoor die wêreld versprei. Dit word ’n “nuwe” vorm van koronavirus genoem omdat geen mens dit al voorheen opgedoen het nie en gevolglik het niemand immuniteit daarteen ontwikkel nie. Die katastrofiese uitwerking wat dit op die wêreld-ekonomie het, sal waarskynlik ’n koers inslaan wat ongekend in die moderne geskiedenis is.

Hotelle het baie van hulle besigheid verloor, sportbyeenkomste is gekanselleer, lugdienste het al hulle vlugte drasties verminder en byeenkomste van meer as net ’n paar mense is ontmoedig of selfs verbied. Stede is in hulle geheel ingeperk en aansienlike boetes is opgelê aan diegene wat nie met die owerhede saamgewerk het nie. Ondernemings word gedwing om werkers af te lê ten einde kop bo water te hou en dus is verbruikersbesteding besig om te daal.

Wat gebeur wanneer hele segmente van die ekonomie hulle besighede sluit of hulle aktiwiteite aansienlik verminder? Die ekonomieë van China, Europa en Noord-Amerika kan dalk in die komende maande met 10% of meer afneem en regerings sukkel om te vergoed vir die daling vir beskikbare likiede bates. Sonder enorme besteding van die owerheid mag burgers moontlik nie in staat wees om die verspreidende ekonomiese pes vry te spring nie, maar invorderings van belasting om vir sodanige uitgawes te betaal, is egter laer as gevolg van laer ekonomiese aktiwiteite. Nasionale tekorte is besig om vinnig toe te neem en veroorsaak gevolglik nasionale skuld.

Om die kurwe af te plat ...

Een van die gevaarlikste gevolge van die COVID-19-virus is akute respiratoriese noodsindroom (“ARNS”), waartydens vloeistof in die lugsakkies van die longe opbou. Dit is dikwels nodig om diegene wat aan ARNS ly, aan ’n ventilator te koppel deur middel van ’n buis wat in hulle lugweg geplaas word – ’n prosedure wat gewoonlik in ’n intensiewe sorgeenheid plaasvind. ARNS lei dikwels tot die dood.

Waar hulpbronne vir behandeling beperk is, moet dokters baie moeilike besluite neem. Reeds vroeg in die krisis het dokters in Italië gevind dat hulle nie genoeg ventilators het om die tempo van die verspreiding van die infeksie te hanteer nie. Hulle was dus verplig om te besluit wie sou lewe en wie sou sterf. Vervaardigers het hulle gehaas om meer ventilators te vervaardig om aan die wêreldwye aanvraag te voldoen, maar Italië sal waarskynlik nie die enigste land wees om voor hierdie verskriklike dilemma te staan te kom nie.

Namate infeksies toeneem, kan die aantal mense wat hospitalisasie en intensiewe sorg nodig mag hê, maklik die beskikbare mediese fasiliteite oorweldig. Dit is uiters noodsaaklik om die infeksiekoers van ’n skerp opwaartse styging na ’n hanteerbare tempo te verlaag of om “die kurwe af te plat” om te verseker dat wanneer mense die infeksie opdoen, daar gesondheidsorg beskikbaar sal wees om hulle te behandel.

Teen hierdie tyd is baie mense vertroud met sommige van die tegnieke wat gebruik word om die kurwe af te plat. Een daarvan is die praktyk van sosiale distansiëring – om kontak met ander mense te vermy, sodat die oordrag van die siekte van een persoon na ’n ander moeiliker word. Dit help ook om getrou goeie higiëne te beoefen – soos om hande gereeld en deeglik te was en om nie ons gesig met ons hande aan te raak nie.

Sulke maatreëls beëindig nie ’n pandemie nie, maar kan dit vertraag, wat die druk op beperkte bronne van hospitale verminder en mediese fasiliteite tyd gee om gereed te maak vir ’n groter aantal pasiënte. Dit gee navorsers ook tyd om na behandelings of selfs genesing daarvoor te soek. Groot en klein regerings het gereageer deur maatreëls vir inwoners in te stel om eerder “by die huis te bly” in ’n poging om die krisis in gesondheidsorg te hanteer waaronder hulle gebuk gaan.

Dit mag dalk die ekonomie verbrysel

Namate regerings hulle grense gesluit het, is die handel en ander sakebedrywighede regoor die wêreld heen op ’n gevaarlike afdraande pad en ’n wêreldwye resessie het ’n groot moontlikheid geword. Die opkoms en ondergang van nasies vind plaas onder soortgelyke omstandighede. Dit is ook bekend dat wankelrige regerings militêre konflikte veroorsaak met die doel om hulle burgers se aandag van moeilike interne toestande af te lei. Moontlik sal die moeilikste en blywendste resultaat van hierdie maatreëls die toename in soewereine skuld wees, met ander woorde, die binnelandse en buitelandse skuld van die nasies. Nasionale skuld skiet die hoogte in, in die lande wat die ergste geraak word en in baie lande is die vermoë beperk om skuld en rente te delg. Ernstige ekonome bespreek maniere om groot hoeveelhede soewereine skuld te kanselleer of af te skryf. Beleggers is besig om hulle tot veilige Amerikaanse tesourie-effekte te wend en baie mense hou eenvoudig hulle kontantgeld.

Die Verenigde State en ander lande probeer om ’n likiditeitsprobleem af te weer wat wêreld-ekonomieë in duie kan laat stort, soos tydens die Groot Depressie. Die V.S. het ’n finansiële program van ’n multi-biljoen dollar ingestel en die V.S. Federale Reserweraad en ander nasies se bankstelsels is besig om finansiële stelsels te versterk. Dit is belangrik om daarop te let dat sulke stappe nie net Amerika se nasionale skuld en die waarde van sy geldeenheid beïnvloed nie, maar ook dat ’n groot deel van wêreldhandel in die V.S. dollar gedoen word. “Uncle Sam” doen niks wat nie wêreldwye gevolge het nie.

China het ernstige maatreëls ingestel om die aanvanklike verspreiding van die COVID-19-virus te vertraag. Die Chinese ekonomie dra egter ’n beduidende deel by tot die wêreld se verskaffingsnetwerk en die nasie se interne ontwrigting van produksie het uitgekring na wêreld-ekonomieë en het sekondêre ontwrigting veroorsaak. China werk onder ’n staatsgebaseerde ekonomie wat veronderstel is om kragtige ekonomiese groei teweeg te bring – ’n veronderstelling wat ’n uitdaging sal wees in ’n wêreld wat nou afhanklikheid van Chinese produksie in twyfel trek. COVID-19 veroorsaak ’n groot, onbeplande ekonomiese inkrimping. Ekonome was in die verlede gerusgestel deur China se stewige dollarreserwes, maar China se enorme binne- en buitelandse skuld is nou ’n groot bron van kommer. China se bankstelsel is veral kwesbaar.

Sommige nasies ondervind ook dat hulle landsburgers wil hê dat nasionale verskaffingsnetwerke na hulle lande teruggebring word, wat hulle minder afhanklik sal maak van die lae-koste Chinese arbeid en goedere. Terwyl sulke stappe beslis ’n groot impak op China self kon hê, maak die feit dat die land lank reeds ’n sentrale rol in ’n groot gedeelte van die wêreld se produksie gespeel het, dit moeilik om te voorspel wat die uiteindelike wêreldwye ekonomiese en politieke gevolge gaan wees van hierdie repatriasiepogings.

In ’n sekere sin het die wêreld-ekonomie sy eie virus en die vraag is nie meer of dit siek is nie. Die vraag is hoe siek gaan dit word en hoe lank gaan dit neem om te herstel. Voorlopig sal die nasionale ekonomieë in die finansiële ekwivalent van intensiewe sorg geleë wees. Die geskiedenis is duidelik: Tye soos hierdie is ryp vir charismatiese leiers om in te gryp en die beheer oor hele nasies oor te neem. ’n Invloedryke leier wat verligting beloof van die gevolge van hierdie gebeure, kan na vore kom en baie gou groot steun verwerf, veral as die ekonomie nie vinnig herstel nie, maar in plaas daarvan ’n lang en moeilike tyd van herstel betree, soos dit die geval was ná die ineenstorting van 2008.

’n Moeilike keuse

Nasionale leiers word gekonfronteer met moeilike keuses, aangesien die sterkste maatreëls teen die virus onvermydelik lande se ekonomieë sal onderdruk. Sodra die infeksiekurwe genoeg afgeplat is sodat mediese fasiliteite die aantal siek mense kan hanteer, sal politici ongetwyfeld hulle aandag op die herstel van hulle ekonomieë vestig. Dit sal die beëindiging of verslapping van baie aspekte van sosiale distansiëring beteken, aangesien baie mense of almal toegelaat sal word om terug te keer werk toe. Hou egter in gedagte dat die afgeplatte infeksiekurwe nie noodwendig beteken dat minder mense geïnfekteer is nie – dit beteken net dat die infeksies oor ’n langer tydperk versprei word. Dit sal beteken dat nuwe infeksies vir langer tydperke sal voorkom en dat miljoene bykomende infeksies kan volg. Die tye wat voorlê sal inderdaad ’n groot uitdaging wees.

Elke nasie is besig om hierdie pandemie te hanteer met die middele tot sy beskikking, maar daar is baie onsekerhede. Hoe die verskillende nasionale ekonomieë egter verdere skokke sal hanteer is onbekend, maar u kan daarop staatmaak dat hierdie tydskrif u op hoogte sal hou van wat dit alles beteken.