Ten spyte van so baie uitdagings en spanning rondom ons kan ons gerusgestel word deur die gebruik van die nodige gereedskap wat God aan ons gegee het om vertroosting en vreugde te vind, selfs in tye van benoudheid.

Miljoene mense, indien nie miljarde nie, verkeer onder soveel spanning dat hulle angs, fobies en depressie ervaar. Hulle voel ellendig en ongelukkig. Hulle ondervind geen gemoedsrus nie. Wat van u?

Die hoë lewenskoste bied uitdagings aan ons gesinne. Kan ons ons onbetaalde rekeninge betaal? Miljoene mense pendel daagliks in druk verkeer en geweldige frustrasie en spanning word ondervind. Die geraas van masjiene in ons woonbuurte en werksplekke kan senutergend wees. Ons mag dan konflikte en argumente met gesinslede of kollegas hê. Fisiese kwale en hoofpyn kan ons frustreer en nog meer spanning meebring.

Miljoene mense regoor die wêreld betaal vir duur medisyne om hulle geestelike angs te kalmeer. Soos ons egter sal sien, gee God absoluut gratis, aan ons ’n verskeidenheid strategieë om die frustrasies van die lewe te bowe te kom!

Sal u opgewasse wees?

Hoeveel mense vind dit moeilik om alledaagse spanning te hanteer? Vind u dit moeilik om gemoedsrus en vrede te vind? Die Amerikaanse Psigologiese Assosiasie [APA] het hierdie verslag in Februarie 2015 vrygestel: “Twee-en-veertig-persent van volwassenes sê dat hulle nie genoeg doen of nie seker is of hulle genoeg doen om hulle spanning te hanteer nie. Een uit elke vyf Amerikaners (20%) sê dat hulle nooit betrokke raak in ’n aktiwiteit om te help om hulle spanning te verlig of te beheer nie” (“Stress in America: Paying with Our Health”, bl. 9).

Hoe ernstig is die probleem? Die APA se verslag gaan voort: “Baie Amerikaners sê hulle spanningsvlakke het in die afgelope jaar óf dieselfde gebly (53%) of verhoog (29%). Slegs 18% van Amerikaners sê hulle spanning het in die afgelope jaar afgeneem. Die mees algemene oorsaake van spanning wat aangegee is, sluit geld in (64% berig dat dit ’n baie belangrike of ietwat betekenisvolle oorsaak van spanning is), werk (60%), die ekonomie (49%), gesinsverantwoordelikhede (47%) en persoonlike gesondheid (46%)” (ibid.).

Hoe hanteer mense dit? Die verslag gaan voort: “Die algemeenste tegnieke wat aangegee word vir hantering van spanning, sluit in: Om na musiek te luister (44%), oefening/stap (43%), televisie kyk vir meer as twee uur per dag (40%) en die Internet besoek/om aanlyn te gaan (38%)” (ibid.).

Die regte soort musiek kan inderdaad ons spanning vir ’n tyd lank verlig en u Bybel prys die waarde van fisiese oefening. Is daar egter geheelbeeld strategieë wat oorweeg kan word om vandag se Christene te help om langtermyn gemoedsrus te vind te midde van soveel voortdurende korttermyn spanning? In hierdie artikel sal ons na sewe noodsaaklike sleutels kyk vir die verkryging en handhawing van gemoedsrus.

Sleutel 1: Neem deel aan die Groot Opdrag!

U Bybel gee ’n opdrag aan elke mens op aarde. Dit behoort die nommer een doel in u lewe te wees. Die Messias, Jesus Christus, gee aan ons ’n belangrike sleutel tot rustigheid en gemoedsrus: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:33).

Die Koninkryk van God kom binnekort na hierdie aarde! Bid u daagliks, soos Jesus ons geleer het, “laat U koninkryk kom”? Wanneer ons al die euwels sien wat toenemend in die wêreld rondom ons voorkom, smag ons daarna dat die Koninkryk kom. Is dit u missie? Let op wat Jesus in die volgende vers sê. Wanneer u ’n doelwit groter as uself soek, kan u gemoedsrus vind. “Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad” (vers 34).

In Matthéüs 6 beklemtoon Jesus die noodsaaklikheid van geloof! Ons behoort elke dag deur die geloof in Jesus Christus te leef!

Voor Jesus se hemelvaart het Hy aan Sy dissipels, wat genoem word, “Die Groot Opdrag” gegee en verklaar: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen” (Matthéüs 28:18-20).

Jesus het die Groot Opdrag ook op hierdie manier verkondig: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel [geoordeel] word” (Markus 16:14-15).

Ja, Jesus het gekom om die Evangelie van die Koninkryk van God te verkondig. U kan in Markus 1:15-16 daaroor lees. Doen u deel om daardie groot missie te ondersteun. Probeer om ’n doelwit groter as uself te hê!

Sleutel 2: Bid oor u bekommernisse

Een van die algemeenste uitdagings wat die meeste mense ondervind, is die spanning wat gepaard gaan met die bestuur van ons finansies. Die Amerikaanse Psigologiese Assosiasie se verslag waarna vroeër in hierdie artikel verwys is, meld: “Dit lyk of spanning oor geld en finansies ’n beduidende impak op die lewens van Amerikaners het. Byna driekwart (72%) van die volwassenes berig dat hulle by tye gespanne oor geld gevoel het en byna ’n kwart sê hulle ervaar uitermatige spanning oor geld ... In sommige gevalle het mense selfs hulle behoeftes aan gesondheidsorg opgeskort as gevolg van hulle finansiële verpligtinge”.

Ons voel soms gespanne omdat ons nie ons laste met iemand anders wil deel nie. Alleen met ons probleme, vererger ons die bekommernis. Daar is egter iemand met wie u u bekommernisse oor finansies, verhoudings, werk of enigiets anders waarmee u probleme het, kan deel! God wil hê dat u u vrese met Hom sal deel! Let op na hierdie wonderlike belofte: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:6-7).

Al die geld in die wêreld kan nie vir u geluk koop nie. God wil egter vryelik aan u daardie baie spesiale en kosbare geskenk gee, naamlik gemoedsrus. Wat ’n ongelooflike belofte gee God aan u. Wees duidelik en openhartig en opreg wanneer u u probleme in gebed deel. Koning Dawid van ouds was baie openhartig en selfs voortvarend in sy ernstige klagtes en gebede. Hy het uitgeroep: “Hoor, Here, en wees my genadig! Here, wees my ’n helper!” (Psalm 30:11). Dit is maar net een van die baie versoeke om God se genade regdeur die Bybel te vind. Let daarop dat God “die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting” in 2 Korinthiërs 1:3 genoem word.

Deel u vrese met God in gebed. Stel oplossings voor vir u probleme. Dank God vir die voorreg om voor Sy troon van genade te kan kom. Sien uit na Sy belofte dat Hy aan u “die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan,” sal gee.

Sleutel 3: Soek wyse raad

Die boek Spreuke bevat van die wonderlikste en verstandigste raad wat tot ons as Christene se beskikking is – raad van God Self. God die Almagtige sê: “Raad en beleid is myne, ek is die insig, sterkte is myne. Deur my regeer die konings en stel die maghebbers vas wat reg is” (Spreuke 8:14-15).

U Bybel gee wyse raad. Ek hou van die gewoonte om elke dag van die maand een van die 31 hoofstukke van Spreuke te lees. Spreuke is met verfrissende wyshede gevul wat nuwe betekenis en toepaslikheid sal aanneem namate u omstandighede verander, van dag tot dag, maand na maand en jaar na jaar.

Hoe waardevol is die boek Spreuke? God het die boek Spreuke geïnspireer met hierdie bemoedigende inleiding: “Die spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel, om wysheid en tug te ken, om woorde van insig te verstaan, om aan te neem tug wat verstandig maak, geregtigheid en reg en regverdigheid; om aan die eenvoudiges skranderheid te gee, aan die jongeling kennis en oorleg; laat die wyse luister, dan sal hy insig vermeerder, en die verstandige sal verstandige gedagtes verkry, om ’n spreuk en beeldspraak te verstaan, die woorde van die wyse manne en hulle raaisels. Die vrees van die Here is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug” (Spreuke 1:1-7).

Is u gewillig om raad te vra om u te help om u spanning en uitdagings in die gesig te staar? Hier is ’n vers uit Spreuke wat aan ons wysheid gee: “Planne misluk sonder beraadslaging, maar deur die veelheid van raadgewers kom dit tot stand” (Spreuke 15:22). Oorweeg nog een vermaning: “Luister na raad en neem tug aan, sodat jy in die vervolg wys kan wees. Baie planne is in ’n man se hart, maar die raad van die Here, dié sal bestaan” (Spreuke 19:20-21).

Wanneer u die boek Handelinge lees, sal u vind dat die vroeë Nuwe-Testamentiese Kerk as ’n geestelike gesin verenig was. Ons het mekaar nodig en ons het mekaar se hulp nodig. Soek raad by diegene wat getroue en ware Christene is en oor wysheid en ’n sterk Bybelgebaseerde karakter beskik. “Die weg van ’n dwaas is reg in sy eie oë, maar die wyse luister na raad” (Spreuke 12:15).

Soek God se raad deur elke dag u Bybel te lees en wees op die uitkyk vir raadgewers wat stabiliteit en ’n Bybelgebaseerde karakter openbaar.

Sleutel 4: Moenie fisiese oefening nalaat nie

Honderde, indien nie duisende gesondheidsverslae en studies beklemtoon die voordeel van fisieke oefening as ’n middel om spanning te verminder. Jare gelede het ek in my persoonlike boekie van lewenslesse geskryf: “Wanneer depressief, gaan uit en draf of hardloop”.

Die Mayo Kliniek gee hierdie raad: “Oefening in byna enige vorm kan dien om spanning te verlig. Om aktief te wees kan u goedvoel endorfiene opkikker en u aandag van daaglikse bekommernisse aflei. ... Indien u nie ’n atleet is nie of selfs al is u nie fiks nie, kan u nog steeds vind dat ’n bietjie oefening baie help om spanning te bestuur. Ontdek die verband tussen oefening en verligting van spanning en waarom oefening deel van u spanningsbestuursplan behoort te wees” (“Exercise and stress: Get moving to manage stress”, MayoClinic.org, 2016).

Een van die beste oefeninge vir diegene van ons wat in ons senior jare is, is stap. Nee, ons is moontlik nie in staat om teen dieselfde tempo te stap as toe ons 50 jaar jonger was nie, maar ons behoort binne perke te doen wat ons kan. Ek was verlede jaar persoonlik geïnspireer nadat ek van ’n 92-jarige dame gehoor het wat naby ons kantoor in Charlotte woon, wat ’n wêreldrekord opgestel het as die oudste dame wat nog ooit ’n marathon voltooi het. Haar eindtyd van 7:24:36 lyk dalk nie so indrukwekkend vir die hardlopers wat 70 jaar haar junior is nie, maar haar voorbeeld behoort ons daaraan te herinner om onsself aan te spoor om te doen wat ons kan.

Dit is selfs ’n Bybelse beginsel. Terwyl die apostel Paulus ’n groter geestelike punt benadruk het, het hy nietemin die waarde van fisiese oefening geprys toe hy geskryf het: “Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het” (1 Timótheüs 4:8). Geestelike oefening sal tot ewigdurende voordeel lei, maar ons behoort nie die tydelike voordeel van fisiese oefening te verwaarloos nie.

Sleutel 5: Handhaaf ’n positiewe gesindheid

In ons moderne, snelbewegende, inligting-oorlaaide wêreld ervaar ons almal spanning. Hoe kan ons dit die hoof bied? Ons moet duidelik verstaan dat, tot ’n groot mate, ons geestelike gesondheid ’n kwessie van keuse is. U kan kies om ’n positiewe en rustige gesindheid te hê.

U het heel moontlik al ’n paar van die vele “aanhalings geskik om aangehaal te word” [“quotable quotes”] gelees oor die beoefening van ’n positiewe gesindheid. My vrou het ’n geraamde foto van weerligstrale aan my gegee, met die titel “Die mag van gesindheid”. Luister na hierdie nuttige beginsel soos dit deur ’n anonieme skrywer gegee is: “Ons lewens word nie bepaal deur wat met ons gebeur nie, maar hoe ons reageer op wat gebeur; nie deur wat die lewe aan ons bring nie, maar deur die gesindheid wat ons in die lewe openbaar. ’n Positiewe gesindheid veroorsaak ’n kettingreaksie van positiewe gedagtes, gebeure en resultate. Dit is ’n katalisator ... ’n vonk wat buitengewone resultate voortbring”.

Het u ’n bewuste keuse gemaak om ’n positiewe gesindheid te handhaaf? Die apostel Jakobus beklemtoon daardie beginsel. Hy gee aan ons positiewe advies om ons te help om spanning, beproewings en probleme te verwerk. Wat behoort ons te dink wanneer ons beproewings beleef? Ons lees: “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val” (Jakobus 1:2). Die beproewing mag sekerlik pynlik wees, maar u kan met blydskap na die proses terugkyk. Waarom? Omdat “julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie” (verse 3-4).

U kan ’n positiewe gesindheid hê, met die wete dat u karakter en geduld versterk word. Ek het hoeveel keer al vir myself in ’n spanningsvolle situasie gesê: “Handhaaf ’n positiewe en rustige gesindheid”. God help my dan deur die beproewing. Dit is ook nuttig om te leer om te glimlag en ’n sin vir humor te hê en onmiddellik gereed te wees om te bid. “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:6-7).

Sleutel 6: Tel u seëninge

Een manier om ’n positiewe ingesteldheid te help handhaaf is om uself te herinner aan die baie seëninge wat God aan u gegee het. Is u lewe volmaak? Het u al die sukses behaal waarop u gehoop het? Heel waarskynlik nie. Indien u eerder fokus op die menigte seëninge wat u het, mag u waarskynlik tot die besef kom dat die lewe wat u het, vir die oomblik volmaak is en dat u dankbaar kan wees vir die omstandighede wat God gebruik om u te help om Sy karakter in u eie lewe te ontwikkel.

Wanneer u bid (sien Sleutel 2), is dit ’n lewensbelangrike deel van u kontak met God om u seëninge te tel. Net soos u u bekommernisse te bowe kan kom deur u sorge met u Skepper te deel, kan u u positiewe gesindheid versterk deur Hom vir u vele seëninge te dank. Ons lees: “Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle” (1 Thessalonicense 5:16-18).

Sommige van u mag dalk vertroud wees met die ou negentiende-eeuse lofsang, “Tel jou seëninge”. Hier is ’n paar van die woorde: “As die lewensstorme woedend om jou slaan, en jy soms ontmoedig vrees om te vergaan, tel jou seëninge, tel hul een vir een, en jy sal verbaas wees oor wat God verleen”.

Tel u seëninge en spreek u opregte dankbaarheid teenoor God uit. Waarvoor is u dankbaar? Dank u God vir die wonderlike openbaring van Sy waarheid, die Bybel? Dank u God vir Jesus Christus se offer vir u sondes? Onthou hoe Johannes die Doper na die Messias verwys het: “Dáár is Die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Johannes 1:29). Dank God dat Hy u sondes kan wegneem indien u u bekeer en Jesus as u Verlosser aanneem.

Sleutel 7: Eis God se beloftes op

Die apostel Paulus skryf: “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus” (Filippense 4:19). U Bybel is ’n goudmyn van God se beloftes aan u. U hoef net in gebed na die genadetroon wat in die hemel is te gaan en daardie beloftes op te eis.

U behoort die geloof te hê om die beloftes wat God gegee het op te eis. “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (Romeine 10:17). Indien u in nederigheid en erns u Bybel, die Woord van God lees, sal Hy u meer geloof gee. Dit is slegs een van Sy vele beloftes aan u. “Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here! Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is” (2 Petrus 1:2-4).

U Bybel bevat honderde beloftes wat God wil hê u moet erken, aangryp en opeis! Ja, Hy het aan ons “die grootste en kosbaarste beloftes” gegee!

Jesus herinner ons daaraan dat ons die geestelike bo die stoflike welvaart behoort te kies. Hy het dit duidelik gestel presies hoe lief God ons het; Hy kan met gemak in al ons fisiese behoeftes voorsien. Om egter hierdie seën te ontvang, moet ons eers God se Koninkryk soek en dan sal aan al ons materiële behoeftes voldoen word. “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge [al ons fisiese en stoflike behoeftes] sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:33).

Wanneer u hierdie Bybelse sleutels in u lewe toepas, sal u in staat wees om die uitdagings te kan hanteer waarvoor ons almal te staan kom. God het beloof dat indien ons ware Christenskap beoefen in alles wat ons doen, ons gemoedsrus kan hê wat “alle verstand te bowe gaan” (Filippense 4:7). In hierdie wêreld van onrus, spanning en gevaar, het u God se gemoedsrus nodig. Maak seker dat u al sewe hierdie sleutels toepas vir u gemoedsrus!