Die Waarheid wat verontagsaam is

Elke jaar vier belydende Christene ’n vakansiedag wat bekend staan as Paasfees, maar min mense verstaan die ware oorsprong daarvan. Hoe het dit gebeur dat ’n dag wat veronderstel is om Jesus Christus se opstanding uit te beeld, geassosieer geraak het met die naam van die heidense godin, Eostre? Wat is die oorsprong daarvan om die dag met hasies en gekleurde eiers te vier en wat het dit met mekaar te doen? Wat het hierdie dinge te doen met die opstanding van Christus?

Besef u dat die tradisies van die Goeie Vrydag-kruisiging en Paassondag [Easter Sunday] opstanding die enigste teken ontken wat Jesus gesê het Hy sou gee om te bewys dat Hy die geprofeteerde Messías is? Dit is skokkend maar letterlik miljoene mense bely dat Jesus Christus hulle Redder is, maar hulle tradisies misken die enigste teken wat Jesus gesê het Hy sou gee om te wys dat Hy ís wie Hy verklaar om te wees – die Seun van God. Dink weer wat dit beteken! Jesus is óf nie die Messías waarop Hy aanspraak gemaak het om te wees nie óf die belydende Christelike tradisie is verkeerd. Dit kan net één van die twee wees!

Dit is tyd om u Bybel af te stof en te kyk na die enigste ware bron wat openbaar wat werklik gebeur het ten tye van Jesus se kruisiging! Die waarheid oor wat gebeur het en wat in u Bybel aangeteken is – is nie wat die meeste mense dink nie! Indien u gewillig is om die Bybel se verhaal te bestudeer en ook die feite soos dit aangeteken is deur hoog aangeskrewe geskiedkundiges, sal u besef wat die waarheid is oor Paasfees en sy heidense verlede en u sal ook die waarheid leer aangaande die kruisiging en opstanding van Christus.

 

HOOFSTUK 1

Wat beteken ’n naam?

Vir baie belydende Christene is Paasfees die heiligste vakansiedag van die jaar. Vir ander mense is dit weer ’n tyd om te spog met ’n nuwe stel klere en dalk ’n kopbedekking. Vir kinders is dit ’n opwindende tyd wanneer hulle na helderkleurige eiers soek wat in die tuin of iewers in die huis weggesteek is. Sommige kinders kry selfs lewendige hoenders of hasies van welmenende ouers.

Dink egter daaraan, wat het dit alles met die opstanding van Jesus Christus te doen? Die eenvoudige antwoord is, absoluut niks nie! Die meeste mense beskou nogtans hierdie soort gebruike as onskuldige pret vir kinders. Is dit regtig so of verbloem hulle die waarheid oor die belangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom: Christus se lewe, boodskap, kruisiging en opstanding?

Ek vertel dikwels vir mense ’n ware verhaal oor my oom George. Hy was ’n kleurvolle karakter om die minste te sê. Hy was ’n selfvoldane man wat sy ouerhuis op die ouderdom van 16 verlaat het en voortgegaan het om verskeie soorte elektroniese instrumente uit te vind wat in die olieboor-bedryf gebruik word. Ek het vir baie jare geweet dat hy ’n passievolle ateïs is, maar ek het nooit geweet waarom nie, tot hy dit ’n paar jaar voor sy dood aan my verduidelik het. Op vyfjarige ouderdom, het sy ma, my ouma, aan hom gesê om uit te gaan en na die eiers te soek wat deur die hase gelê is. Dit was Paassondag. Selfs op hierdie vroeë ouderdom het hy geweet dat hase nie eiers lê nie, omdat my ouma met hase geboer het om te verkoop. Hy het dadelik beswaar gemaak: “Hase lê nie eiers nie”. Sy het gesê: “Georgie, as jy werklik hard soek sal jy dit kry”.

Hy het aan my verduidelik dat hy regtig gesoek het, maar hy het nie een gevind nie. Hy het teruggegaan in die huis en ewe verontwaardig vir haar gesê: “Moeder, jy het vir my gelieg. Hase lê nie eiers nie”. Hy het toe ook verder verduidelik: “Dis toe dat ek begin het om die hele idee van God en die Christendom te bevraagteken”.

Waarom vertel Christene vir hulle kinders leuens oor sulke dinge? Die negende gebod sê: “Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.” Is hulle nie bewus van Openbaring 21:8 wat vir ons sê: “... al die leuenaars – hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood” nie? Dalk is hierdie “klein wit leuentjies” baie ernstiger as wat ons besef! Moontlik behoort ons na te dink oor wat ons ons kinders leer!

 

Wat die geskiedenis openbaar

Wat is die oorsprong van hierdie oënskynlik onskuldige leuens en sonderlinge gewoontes? Geskiedkundiges openbaar baie oor die oorsprong van die tradisies van Paasfees en dit begin met die naam self. Easter [Paasfees] is niks anders as ’n ander spelling vir die Anglo-Saksiese godin Eostre nie, maar wat is die oorsprong van hierdie godin? Die New World Encyclopedia maak ’n stelling dat daar ’n verband is tussen Eostre en Easter en die baie gewilde en antieke godin Istar: “Geleerdes spekuleer ook dat Eostre, die Anglo-Saksiese godin van die lente, wie se naam later verander is na die moderne Engelse ‘Easter’, etimologies gekoppel mag wees aan Istar” (artikel “Ishtar”).

Dit is interessant dat die Melkitiese Griekse Katolieke kerk die oorsprong van die naam Easter erken, maar spel Istar effens anders. Die moderne woord “Easter” is afkomstig van Oud-Engels en was oorspronklik bekend as die Noorse godin van vrugbaarheid, Istra – wat deur ’n haas gesimboliseer word.

Dit is dus die verband tussen Paasfees en hase, maar waarom word Istra deur ’n haas gesimboliseer? Geskiedkundiges bevestig dat hierdie godin, wat ook soms as Istar gespel word en Istra as die godin van vrugbaarheid bekend staan asook die haas ’n welbekende simbool van vrugbaarheid is. Daar is selfs vandag mense wat die uitdrukking gebruik: “Aanteel soos hase”. ’n Voorbeeld hiervan is te sien in ’n Scientific American artikel van November 2011, met die titel: “Why Pioneers Breed Like Rabbits”.

Die haas is nie die enigste simbool van vrugbaarheid wat oorgedra is vanaf die antieke tye nie. The Oxford Companion to World Mythology verduidelik dít aangaande Paasfees: “Die vakansiedag val in die vroeë lente en hou duidelik verband met antieke vrugbaarheidsmites van wedergebore helde ... Vir baie mense is Paasfees sinoniem met simbole van vrugbaarheid soos die Paashaas, Paaseier en die Paaslelie” (artikel “Easter”, bl. 111).

 

Paasfees en die eier

Terwyl die eier duidelik ’n simbool van vrugbaarheid is, spoor baie geskiedkundiges die oorsprong van die Paaseier terug na die Babiloniese mite van ’n groot eier wat uit die lug in die Eufraatrivier geval het, waaruit die godin Astárte toe gebroei het. Astárte was deur die antieke Fenisiërs vereer as godin van die maan en die tyd is volgens haar bepaal. Wie was Astárte egter? Is daar enige verband tussen hierdie godin en tradisies van Paasfees? Geskiedkundiges vertel aan ons dat Astárte bloot ’n ander naam vir Istar is. “Die naam Istar is waarskynlik Semities van oorsprong en was in antieke tye geïdentifiseer met die Kanaänitiese godin Astoret of Astárte”. (New World Encyclopedia, artikel: “Ishtar”).

Soos ons nou begin sien, het hierdie godin – van wie ons die naam afgelei het van wat veronderstel is om die heel plegtigste Christelike onderhouding te wees – nogal ’n slegte verlede. Sy was geen onbekende figuur nie, maar was bekend onder verskillende name in verskillende tale en kulture. Die hoogs-gerespekteerde Encyclopaedia Britannica bevestig die verband tussen Astárte en Istar: “Astarte is in Egipte en Ugarit en deur die Hetiete aanbid, sowel as in die land Kanaän. Haar Akkadiese eweknie was Istar. Later is sy met die Egiptiese gode Isis en Hathor (’n godin van die lug en van vroue) vereenselwig en in die Grieks-Romeinse wêreld met Aphrodite, Artemis en Juno” (artikel “Astarte”).

Almal verwys na dieselfde godin óf met verskillende spellings óf met verskillende name in verskillende kulture. Hier is ’n aanhaling wat Istar verbind met ’n ander belangrike naam: “Istar, ’n godin van vrugbaarheid asook van oorlog, is die Akkadiese naam van die Sumeriese godin Inanna en die Semitiese godin Astarte. Die drie name verwys na dieselfde godheid in verskillende kulturele kontekste. Sy het groot toewyding in die antieke Babiloniese ryk geïnspireer, soos blyk uit die baie groot tempels, altare, inskripsies en kunsvoorwerpe wat aan haar gewy is” (New World Encyclopedia, artikel “Ishtar”).

Interessant genoeg, net soos daar in antieke kulture ’n verband ontstaan het tussen die maan en die verskillende godinne van vrugbaarheid, het die haas ook deurweef geraak in baie van hierdie mites. Waarom die haas? Met ’n dratyd van omtrent een maand, het die haas se siklus in ’n hele aantal kulture geassosieer geword met die maan se siklus.

Met ons moderne begrip van biologie mag ons dalk vandag daaroor lag, maar baie mense in die antieke wêreld het geglo dat die haas tweeslagtig is – ’n dier wat kan voortplant sonder verlies van sy maagdelikheid. Dit het gelei tot ’n assosiasie tussen die sogenaamde maagdelike haas en die maagd Maria soos dit voorgestel word deur die skilder Titian se werk “Madonna van die haas”. Sedert voormalige godin-aanbidders Christelikheid ontdek het, was dit baie maklik vir hulle om hulle eertydse eerbied vir ’n godin te neem en dit op Maria oor te dra, wat strydig is met die Skrif en werklike Christelikheid. So het die verskillende mites uitgebrei en die oorhand gekry.

Natuurlik, net soos daar variasies van die mites was oor die verskillende kulture oor die wêreld, was daar ook variasies van aanbidding van een kultuur na ’n ander. Dieselfde verskynsel vind ons in variasies van spelling en gewoontes in ons moderne samelewing in die aanbidding van gode wat strek oor nasionale en kultuurgrense heen.

Maak enigiets hiervan werklik saak? Solank as wat ons Christus se opstanding onderhou, watter verskil maak dit? Indien daar geen God was nie, sou dit waarskynlik nie saak gemaak het nie, maar as die God van die Bybel wel bestaan, maak dit baie saak!

God het Moses beveel om antieke Israel te waarsku: “En die naam van ander gode mag julle nie vermeld nie; dit mag uit jou mond nie gehoor word nie” (Exodus 23:13). Nogtans het die meeste belydende Christene presies net dit gedoen! Ons kan nie staatmaak op die ou argument dat hierdie vermaning onder die Ou Verbond gegee is en slegs van toepassing op die Jode is nie. Maleági 3:6 dui aan dat God nie verander nie en Hebreërs 13:8 sê aan ons: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid”! Hierdie selfde Jesus Christus was voor Sy menslike geboorte, die werklike lid van die Godgesin wat Exodus 23:13 geïnspireer het. “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ’n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus” (1 Korinthiërs 10:1-4). Is dit dan ’n wonder dat Jesus protesteer: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46).

Indien Jesus Christus ons beveel het om Paasfees te onderhou, sou ons natuurlik verplig gewees het om te doen wat Hy ons beveel het. Selfs al was dit Sy Apostels wat die viering ooreenkomstig Sy instruksies begin het, sou dit goed wees om hulle voorbeeld te volg. Nie Christus of die Apostels het vir ons enige voorbeeld van die onderhouding van so ’n fees nagelaat nie.

Inteendeel, soos ons regdeur hierdie boekie sal sien, vier die meerderheid van deesdae se nominale Christene ’n fees wat die Skrif nie net as nie-Christelik openbaar nie; dit is in werklikheid afstootlik vir God. Nog erger, die meeste mense verwaarloos die werklike Fees wat Jesus Christus onderhou het en Sy dissipels geleer het om te onderhou ter nagedagtenis aan Sy offerdood. Lees verder en leer die ongelooflike waarheid wat u lewe vir altyd kan verander!

 

HOOFSTUK 2

Die hemelkoningin

Soos ons gesien het was Istra die antieke godin van vrugbaarheid en liefde ook bekend onder die name Istra, Eostre, Easter, Astárte, Aphrodite, Artemis en Inanna. In die Hebreeuse taal is Astarot die meervoudsvorm van Astárte en ons vind baie verwysings na die aanbidding van Astarot in die Ou Testament, maar nooit in ’n positiewe konteks nie! Dit lyk of sy bekend was as die “hemelkoningin” soos ons leer uit The New World Encyclopedia: “Astárte mag dalk ook die ‘hemelkoningin’ wees van wie die profeet Jeremia ’n paar eeue later gepraat het tydens die sewende of vroeë sesde eeu v.C. Hier was die mense van Juda bang dat indien hulle sou luister na die woorde van die profete en aanbidding van die godin sou versaak, hulle daardeur ondergang oor hulleself sou bring” (artikel “Astárte”.)

 

’n Duur prys om te betaal

Die ensiklopedie gaan voort om te verwys na Jeremia 44:18, ’n les in die Skrif waarby ons baat sal vind indien ons dit van naderby beskou. Die tydvak was kort nádat die Joodse volk deur koning Nebukadnésar en sy Chaldeeuse Ryk verower is. Die meeste mense was óf doodgemaak óf na Babel weggevoer, maar ’n paar armes onder hulle was agtergelaat. Jeremia was ook gespaar en toegelaat om in die land van Judea te bly.

Die leiers wat oorgebly het, het Jeremia genader met die versoek dat hy God se wil namens hulle soek. Moes hulle in Judea bly of na Egipte gaan? Hulle het Jeremia onomwonde verseker dat hulle sou doen wat God beveel: “Laat dit goed of sleg wees – ons sal luister na die stem van die Here onse God na wie ons u stuur, dat dit met ons goed kan gaan as ons luister na die stem van die Here onse God” (Jeremia 42:6).

Tien dae later het Jeremia teruggekeer met God se antwoord – dat hulle in Judea moes aanbly – maar teen dié tyd het hulle afgesien van hul vorige onderneming en hulle harte daarop gesit om na Egipte te gaan. Só getrou aan die menslike natuur! Ons wil God se wil doen ... solank dit met ons eie wil ooreenstem!

Met hulle aankoms in Egipte het God weer deur Sy profeet Jeremia ’n sterk beskuldiging ingebring teen hierdie opstandiges wat oorgebly het. “Waarom berokken julle julself ’n groot onheil om onder julle man en vrou, kind en suigling uit Juda uit te roei, om vir julle niemand te laat oorbly nie, deurdat julle My terg met die werke van julle hande, om vir ander gode rook te laat opgaan in Egipteland waar julle gekom het om as vreemdelinge te vertoef, sodat julle julself uitroei en ’n voorwerp van vervloeking en van smaad onder al die nasies van die aarde word? ... Hulle is tot vandag toe nie verbrysel van hart nie, en hulle was nie bevrees en het nie gewandel in my wet en in my insettinge wat Ek julle en jul vaders voorgehou het nie” (Jeremia 44:7-8, 10).

Afgodery was hoofsaaklik oorsaak daarvan dat die huis van Israel in ballingskap weggevoer en later die huis van Juda ook omvergewerp is as gevolg van dieselfde rede. Hulle het hulle opstand teen hulle Skepper verdedig eerder as om te erken wat voor die hand liggend was. Daar bestaan geen twyfel nie dat baie min mense wat hierdie boekie lees, letterlik wierook laat opgaan om ’n letterlike beeld of valse god te aanbid. Dit kan dus baie maklik vir ons wees om die optrede van die Israeliete te veroordeel. Doen ons op ons eie manier nie maar dieselfde nie? Verdedig ons nie ook heidense gebruike en tradisies nie, terwyl ons nalaat om ons Skepper te gehoorsaam? Let op na hulle reaksie en die verbintenis met die hemelkoningin: “Aangaande die woord wat u ons in die Naam van die Here verkondig het – ons sal na u nie luister nie. Maar ons sal stellig alles doen wat uit ons mond uitgegaan het – om vir die hemelkoningin rook te laat opgaan en vir haar drankoffers uit te giet soos ons gedoen het, ons en ons vaders, ons konings en ons vorste, in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem; toe is ons met brood versadig en was gelukkig, en ons het geen onheil gesien nie. Maar vandat ons opgehou het om vir die hemelkoningin rook te laat opgaan en vir haar drankoffers uit te giet, het ons aan alles gebrek gehad en het ons deur die swaard en die hongersnood omgekom” (Jeremia 44:16-18).

 

Koeke [Paasbolletjies] vir die koningin

Hoe maklik word mense nie mislei nie! Hierdie skorriemorrie Jode wat oorgebly het, het verkies om ’n nuttelose heidense godin te aanbid, eerder as om die Skepper van die heelal en die Een wat hulle vroeër uit Egiptiese slawerny bevry het om ’n volk te word, te aanbid. Die gesindheid wat ons vandag onder die meerderheid belydende Christene vind is nie juis anders as dié van die mense gedurende Jeremia se tyd nie – hulle verdedig hul tradisie ten koste van alles, selfs die Skrif! Indien een menslike rasionalisering nie werk nie, probeer ’n ander een. Hier is een rasionalisering wat ons vandag waarskynlik nie sal vind nie: Die vroue het ook gesê: “En as ons vir die hemelkoningin rook laat opgaan en vir haar drankoffers uitgiet – is dit dan sonder ons mans dat ons vir haar koeke maak om haar af te beeld en drankoffers vir haar uitgiet?” (Jeremia 44:19).

Jeremia het gereageer deur aan die mense die rede vir die val van hulle nasie en hulle huidige jammerlike toestand te verduidelik. “Aan die offerrook wat julle laat opgaan het in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem, julle en julle vaders, julle konings en julle vorste en die volk van die land – het die Here daaraan nie gedink nie en het dit nie in sy hart opgekom nie? – sodat die Here dit nie langer kon verdra weens die boosheid van julle handelinge, weens die gruwels wat julle bedryf het nie. So het julle land dan ’n puinhoop geword en ’n voorwerp van verbasing en van vervloeking, sonder inwoners, soos dit vandag is; omdat julle rook laat opgaan het en teen die Here gesondig en nie na die stem van die Here geluister het nie en in sy wet en in sy insettinge en in sy getuienisse nie gewandel het nie; daarom het hierdie onheil oor julle gekom soos dit vandag is” (Jeremia 44:21-23).

 

’n Familietradisie

Dit is nie asof die mense nie gewaarsku was nie. Jeremia het hulle jare tevore vermaan – nog voor hulle ballingskap en voor hulle aanbidding van hierdie hemelkoningin – wat die gevolge sou wees indien hulle hul nie bekeer nie. Tog kan tradisies, soos ons weet, wat met emosie en gesin-sentiment gelaai is, ’n sterk invloed uitoefen! Hierdie heidense feeste en gebruike het elkeen van die familie betrek. Elke lid het ’n rol gespeel in hierdie warm en gemoedelike gesinsaangeleentheid. “Die kinders maak hout bymekaar, en die vaders steek die vuur aan, en die vroue knie deeg om koeke te maak vir die hemelkoningin” (Jeremia 7:18). Ons behoort nie die invloed te onderskat wat so ’n viering op die menslike psige het nie.

Om broodkoeke [paasbolletjies] te bak klink onskuldig genoeg. Natuurlik lê die probleem nie by die brood nie, maar by die doel waarvoor mense dit bak. Hoeveel belydende Christene lees hierdie woorde, kyk neer op die arme misleide stam van Juda, maar doen dan presies dieselfde? Wat Jeremia in hierdie verse beskryf is een Paasfeesgewoonte wat selfs tot vandag toe, in sommige lande regoor die wêreld, baie gewild is – dit is om klein koekies of bolletjies met ’n soet geglasuurde kruisie bo-op te bak. Dit is veral gewild op wat genoem word Goeie Vrydag, die sogenaamde dag van Jesus se kruisiging. Kyk byvoorbeeld na hierdie aanhaling van April 2012 uit die gewilde British Food History blog, wat hierdie bolletjies beskryf in die lig van Jeremia se aanklag: Die kruis, aanvaar mense, is om die kruis waarop Jesus gekruisig is te simboliseer. Dit is in werklikheid onsin; gekruide bolletjies met kruise daarop is regdeur groot dele van heidense Europa gebak. Gekruide bolletjies was nog altyd simbolies van aanbidding en daardie bolletjies wat met kruise versier was, is vir die godin Eostre gemaak (waar Paasfees sy naam vandaan kry).

God se reaksie volg op Jeremia se beskrywing van hierdie gebruik. “Terg hulle My? spreek die Here. Doen hulle dit nie aan hulleself tot beskaming van hul aangesig nie? Daarom, so sê die Here Here: Kyk, my toorn en my grimmigheid sal uitgestort word oor hierdie plek, oor die mense en oor die diere en oor die bome van die veld en oor die vrugte van die land; en dit sal brand en nie uitgeblus word nie” (Jeremia 7:19-20).

Die Encyclopaedia Britannica verbind die hemelkoningin met Astárte, ook bekend as Astoret, wie se aanbidding deur God veroordeel is. “Astarte is die hemelkoningin vir wie die Kanaäniete brandoffers gebring en drankoffers uitgegooi het” (Jeremia 44). Die Bybel verwys na Astárte as ’n afskuwelike heidense godin (1 Konings 11:5, 33; 2 Konings 23:13).

Eségiël 8 maak ’n ander element van hierdie donker prentjie bekend. Eségiël is in Babiloniese ballingskap en word in ’n visioen na die tempel in Jerusalem geneem waar aan hom die gruwels getoon word wat deur sy mense gepleeg is. Hy is eers geneem, “by die ingang van die binneste poort wat na die noorde toe kyk, waar die plek was van die afgodsbeeld van ywer wat ywer verwek” (Eségiël 8:3). Wat kan dit moontlik wees? Ons mag dalk nie in staat wees om verseker te weet nie, maar die hoog aangeskrewe New Bible Commentary Revised waag ’n wel deurdagte raaiskoot. “Die beeld van ywer ... kon moontlik ’n beeld gewees het van die Kanaänitiese godin, Asherah. Manasse het so ’n beeld opgestel ... in die Tempel en dit later verwyder” (2 Kronieke 33:7, 15).

Wie is die Kanaänitiese godin, Asherah? “Ander name van hierdie godheid was Astarte en Anat. Sy word gewoonlik uitgebeeld as ’n naakte vrou wat op ’n leeu sit, met ’n lelie in die een hand en ’n slang in die ander ... Kenmerkend simboliseer die Kanaänitiese lelie genade en seksuele aantrekkingskrag en die slang simboliseer vrugbaarheid [die vermoë om ’n nageslag in groot getalle voort te bring]” (Unger’s Bible Dictionary, artikel “Asherah”).

Ons kan nie met sekerheid sê dat Eségiël se “beeld van na-ywer” inderdaad hierdie godin met dieselfde naam was nie, maar hierdie godin wat ons vind met so baie name, gaan alles oor seksuele aantrekkingskrag, vrugbaarheid en verskeie gebruike wat ons nou met Paasfees assosieer! Ons weet dat daar niks in wese sondig aan hase, eiers, koek of lelies is nie, maar wanneer hulle met die naam Easter verbind word, behoort ons te wonder waarom enige iets daarvan met Christus verbind word.

Eségiël was aangesê om om te draai sodat hy ander groter gruwels kon sien. Nadat hy in ’n muur gegrawe het, het hy op ’n deur afgekom en toe hy ingaan sien hy “allerhande drekgode van die huis van Israel wat al rondom op die muur uitgesny was” (Eségiël 8:10). Daarna is aan hom gesê: “Jy sal nog ander groter gruwels sien wat hulle doen” (vers 13). Wat het hy toe gesien? Hy het tot sy ontsteltenis gevind “daar het die vroue gesit wat Tammus beween” (vers 14).

Wie was Tammus en hoe word hy aan Paasfees verbind? Die aanlyn-uitgawe van die New World Encyclopedia het ’n belangrike legendariese verhaal nagespoor met betrekking tot Istar [Easter] se neerdaling na die onderwêreld. Daar probeer sy haar suster wat die koningin van die onderwêreld is, onttroon, maar haar suster, Ereshkigal, hang Istar toe aan ’n hak op teen die muur. Haar oom tree egter in en bevry haar, maar sy moet eers ’n plaasvervanger vind. Haar man, Tammus, maak haar kwaad, sy gryp hom en sleep hom af na die onderwêreld.

Istar, wie ook Inanna genoem word in die verhaal, het gou berou gekry oor haar oorhaastige optrede teenoor Tammus. Ons sal nou die storie verder opneem soos dit in die New World Encyclopedia aangedui word: “Istar tref reëlings dat Tammus se suster hom vir ses maande van die jaar vervang – dit verduidelik dus die geheim van die son wat verflou in die winter en weer warmer word in die somer. Die verhaal van Istar en Tammus is ’n versinnebeelding van dié van Cybele en Attis, van Aphrodite en Adonis en van die Egiptiese Isis en Osiris – almal verhale van ’n jong god wat sterf en ’n godin wat hom betreur” (artikel “Ishtar”).

 

’n Diens tydens sonop en heidense gode van die Ooste

Dit is moeilik vir die gemiddelde persoon wat in ’n nominale Christelike kerk grootgeword het of dit Katoliek, Ortodoks, Protestants of een van die ander kerke is, om te besef hoe sterk hulle gekoesterde praktyke deur antieke heidense tradisies beïnvloed is, maar daar word nog een geleentheid in Eségiël 8 gevind, waar aan Eségiël gesê word: “Het jy dit gesien, mensekind? Jy sal nog ander gruwels, groter as hierdie, sien” (vers 15). Wat kan dit moontlik wees?

“Toe bring Hy my na die binneste voorhof van die huis van die Here; en kyk, by die ingang van die tempel van die Here, tussen die voorportaal en die altaar, was omtrent vyf-en-twintig man, met hulle rug na die tempel van die Here en hulle gesig na die ooste, en hulle het hul voor die son neergebuig na die ooste” (vers 16).

Hierdie aanhaling beskryf duidelik ’n diens tydens sonop waar die son in die ooste opkom. Sulke gebruike wat die son met antieke heidense gode koppel kan duisende jare terug nagespeur word. Soos die geskiedkundige Alexander Hislop opgemerk het: “Lank voor die vierde eeu en lank voor die Christelike era self, is ’n fees onder die heidene gevier, op daardie presiese tyd van die jaar, ter ere van die geboorte van die seun van die Babiloniese hemelkoningin. Dit kan geredelik aangeneem word dat dit dieselfde fees is wat deur die Roomse kerk aangeneem is, ten einde die heidene te versoen en om die aantal nominale volgelinge vanuit die Christendom te vermeerder. Hulle het hierdie fees net die naam van Christus gegee. Hierdie neiging aan die kant van die Christene om die heidendom halfpad tegemoet te kom, is baie vroeg ontwikkel” (The Two Babylons, bl. 93). Feeste wat gefokus het op sonstilstanddae was gevier in die naam van heidense gode, lank voordat daar enige “Christelike” idee ontstaan het om Kersfees en Paasfees te vier.

Aan die oostekant in sentraal Klein-Asië, het die Hetiete meer as ’n duisend jaar voor die Romeine ook ’n groot moedergodin aanbid. Reg langs ’n heuwel naby Sardis, is ’n reuse rotsbeeld van ’n moedergodin wat die antieke digters Homer, Ovidius en Sophokles beskryf as die “Moeder van die gode, die oudste godin van almal” (The Hittite Empire, Garstang, bll. 176-177). Op standbeelde en beeldhouwerk, neem hierdie Hetitiese godheid “die aspek aan van ’n godin van die lug of Koningin van die Hemel, ’n bekende beeld van Astarte” (ibid., bll. 114, 204-205). Astarte was die Fenisiese godin van oorlog, die aandster, seksuele liefde en vrugbaarheid. Tempelprostitusie was deel van haar aanbidding. Sy was dikwels naak uitgebeeld, “terwyl sy ’n kroon van beeshorings gedra het, wat ’n sonskyf insluit” en soortgelyk was aan die Egiptiese godin Isis (Encyclopedia of Gods, bl. 33). Die Romeinse leër het die aanbidding van hierdie antieke Hetitiese godin regoor Europa versprei, vanaf Duitsland tot by Brittanje, omdat haar kultus “groot byval onder die soldate gevind het” (Garstang, bl. 302).

Hierdie heidense koningin het ’n kind gehad. In Egipte was Isis as een van die grootste afgode aanbid. Sy is gewoonlik uitgebeeld waar sy op ’n troon sit en “die kind Horus vashou ... die amptelike godsdiens sowel as die gewilde oortuiging verkondig ... Isis en Horus die volmaakte moeder en seun” (Encyclopaedia Britannica, 15de uitgawe).

Wat ’n gruwel! Op hierdie manier is Jesus – die Woord wat vlees geword het – verbind aan ’n godin-moeder wat honderde jare voor Sy geboorte aanbid is!

Regoor die hele wêreld staan opregte mense vroeg op Paassondag op om die son te sien opkom. Ek onthou so ’n geleentheid toe my gesin dit gedoen het om deel te wees van ’n diens tydens sonop by die berg Rushmore in Noord-Dakota. Nie net strek hierdie gebruik terug na antieke moedergodin-en-kind aanbidding nie; dit berus op die veronderstelling dat Jesus vroeg op Sondagoggend opgestaan het. Tog, soos ons in die volgende hoofstuk sal sien is selfs hierdie eenvoudige vraag van tydsbepaling ’n onbybelse misleiding!

 

HOOFSTUK 3

Aanbid Christus tevergeefs

Dit mag dalk maklik wees om met deernis terug te kyk – selfs neerhalend – op sulke onkundige mense wat in daardie verregaande stories en gebruike geglo het. Indien dit egter die geval is, waarom vind ons dieselfde simbole van hulle aanbidding so duidelik na vore kom in vandag se belydende Christenskap? Waarom het belydende Christene die naam van ’n skandalige godin gekies as die naam van wat beskou word as die mees gewyde van alle Christelike vakansiedae?

Maak dit regtig saak? Ten spyte van die oorweldigende getuienis van die heidense oorsprong van Paasfees, redeneer ’n paar mense dat die vermenging van ’n bietjie onskuldige heidendom in Christelike vieringe meer mense na Christus lok en maak dat Christelike vierings meer kleurvol en genotvol is. Hoe sien die God van die Bybel dit? Ons het reeds in Eségiël en Jeremia gelees dat hierdie heidense gebruike 2,600 jaar gelede nie vir God aanvaarbaar was nie. Waarom sou ons dink dat Hy vandag daarmee tevrede sal wees?

Baie mense aanvaar verkeerdelik dat al wat saak maak is dat ons in Jesus glo. Is geloof alleen egter genoeg? Jakobus sê: “Nee!” Ons lees: “Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder” (Jakobus 2:19)! Verder het ons daaraan gedink dat dit moontlik is om ’n skynvertoning daarvan te maak om Jesus te aanbid, maar om dit tevergeefs te doen? Let op wat Jesus Self gesê het: “En Hy antwoord en sê vir hulle: Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Markus 7:6-7).

Jesus se vraag gee ons stof tot nadenke: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). Een van die dinge waaroor Jesus die godsdiensleiers van Sy dag veroordeel het, was omdat hulle God se Gebooie verwerp en met hulle tradisies vervang het. Een van God se opdragte is dat Sy mense nie heidense idees behoort aan te neem en dit saam te voeg met aanbidding tot Hom nie. Ons is uitdruklik aangesê om nie te vra: “Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die Here jou God nie; want alles wat vir die Here ’n gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen; want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode. Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie” (Deuteronómium 12:30-32).

Tog is dit presies wat die tradisionele Christelike geloof doen! Hoogs-aangeskrewe ensiklopedieë en geskiedenisboeke erken dat baie waaraan ons dink as Christelik, dit eenvoudig nie was en nie is nie. Die hoogsgerespekteerde Eerdman’s Handbook to the History of Christianity bely: “Die Christelike kerk het baie heidense idees en beelde oorgeneem. Van sonaanbidding kom byvoorbeeld die viering van Christus se geboorte op die vyf-en-twintigste Desember, die geboortedag van die son. Saturnalia, die Romeinse winterfees van 17-21 Desember, het aanleiding gegee tot die vrolikheid, uitruil van geskenke en kerse, tipies van die latere Kersfees vakansiedae. Sonaanbidding het voortgeduur in Roomse Christelikheid en Pous Leo I het in die middel van die vyfde eeu aanbidders bestraf wat omgedraai het om voor die son te buig voordat hulle die St. Petrus Katedraal binnegegaan het. Sommige heidense gebruike wat later verchristelik is, byvoorbeeld die gebruik van kerse, wierook en kranse, was aanvanklik deur die kerk vermy omdat dit ’n simbool van die heidendom was” (bll. 131-32). Vir meer inligting is u welkom om ons insiggewende boekie: Is Kersfees Christelik? te bestel.

Soos ons alreeds aangedui het, kan hierdie heidense invloede ook duidelik in tradisies van Paasfees gesien word. Ons mag wel vra: “Hoe kan ‘heidense’ gebruike verchristelik word?” Dikwels het belydende Christene wat die Ou Testament lees, ’n misleidende begrip van die aard van antieke Israel se werklike probleem. Hoewel dit waar is dat hulle hulself op verskillende tye heeltemal oorgegee het aan heidense invloede, is dit nie die hele verhaal nie.

Gedurende die beroemde profeet Elía se lewe, was hulle groot probleem die samevoeging van heidendom met die aanbidding van die ware God. Nadat Elía gebid het dat dit vir drie-en-’n-half jaar lank nie moes reën nie – in ’n poging om die mense uit hulle sondes wakker te skud – het Elía en Koning Agab die mense bymekaar geroep om die kwessie vir eens en vir altyd op te los. Elía se vraag aan die mense is heel insiggewend: “Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na” (1 Konings 18:21). Sy vraag dui op ’n samevoeging van aanbidding van die ware God met die heidense Baäldiens. Hier is wat The New Bible Commentary Revised oor Elía se vraag te sê het:

“Dit lyk of dit letterlik bedoel was, ‘Tot wanneer wil julle dit uitstel om te besluit?’ Die sonde van die volk het nie gelê in die verwerping van aanbidding van God nie, maar in ’n poging om dit met die aanbidding van Baäl te kombineer. Sulke sinkretisme [vermenging van godsdienstige gebruike en aanbidding] word altyd beskou as verlig terwyl die ander bekrompe is. Vir die God van Israel is ander gode egter ontoelaatbaar. Elía maak dit duidelik: Indien die Here God is, volg Hom; en as Baäl dit is, volg hom dan”.

Die heidense oorsprong en viering van Paasfees is ’n groot probleem vir belydende Christene, maar dit is slegs ’n deel van die probleem. Benewens die samesmelting van heidense gebruike en tradisies in die aanbidding van die ware God – in teenstelling met Sy opdrag – vind ons dat selfs die deel van Paasfees wat veronderstel is om uit die Bybel te kom, vol tekortkominge is – soos ons sal sien in die volgende hoofstuk van hierdie boekie!

 

Drie dae en drie nagte

HOOFSTUK 4

Drie dae en drie nagte

Het u al ooit nagedink oor waarom u die dinge glo wat u glo? Indien ons werklik eerlik met onsself is, glo elkeen van ons hoofsaaklik dít wat ons geleer het toe ons grootgeword het. Selfs al het u u geloof in God opsy gestoot, sal u waarskynlik die dinge aanvaar wat u dink die Bybel sê. U mag dalk nog steeds die beeld in u geestesoog sien van ’n Jesus met lang hare en Sy twaalf dissipels wat almal aan dieselfde kant van ’n lang tafel sit en iets eet wat “die laaste avondmaal” genoem word. Ongelukkig is dit ’n swak voorstelling van wat werklik plaasgevind het. Selfs diegene wat nooit ’n kerkgebou binnegegaan het nie, behalwe miskien vir ’n troue of begrafnis, sal waarskynlik glo dat die Bybel ons leer dat Jesus op Vrydag gekruisig is en op Sondagoggend uit die dood opgewek is.

Elke jaar vier sogenaamde Christene en ateïste Mardi Gras in New Orleans en soortgelyke feeste regoor Sentraal- en Suid-Amerika. Dit is ’n tyd van partytjies en “oorboord gaan”. Hoeveel mense besef nie dat dit aan die viering van Paasfees gekoppel is nie. Mardi Gras beteken eenvoudig “Vet Dinsdag” en is die laaste dag om “te doen nét waarvoor jy lus het” (soms letterlik!) voor die volgende dag wanneer die 40 dae van “vas” begin. Dit word gevolg deur Goeie Vrydag en Paassondag. Daar is ook ’n aantal ander spesiale dae wat bygevoeg word, soos Palmsondag en Aswoensdag, waarvan nie een ten volle op die Bybel gebaseer is nie.

Hierdie gebruike en tradisies is so ingewortel in mense se denke en kultuur dat dit vir enigiemand na kettery lyk om dit te bevraagteken. Tog word ons in 1 Thessalonicense 5:21 aangesê: “Beproef alle dinge; behou die goeie.”

Feitlik almal wat glo dat hulle enigiets van die Bybel verstaan, glo dat Jesus op ’n Vrydag gekruisig is, die middag van dieselfde dag in die graf gelê is en toe vroeg die Sondagoggend uit die dood opgewek is.

Waar het hierdie idee tog vandaan gekom? Mense mag dalk aanvaar dat hulle dit in die Bybel gelees het, omdat hulle dit in die Sondagskool geleer het. Dit is wat hulle elke jaar sien – miljarde belydende Christene vier “Goeie Vrydag” en dink aan Christus se kruisiging. Twee dae (of is dit ’n dag-en-’n-half?) later vier hulle Paassondag. “Dienste met sonop” word wyd geadverteer en mense volg dit net na, want “almal doen dit”. Trouens, waarom sou enigiemand iets anders wil doen?

Wel, indien die Bybel iets anders sê, behoort ons dit sekerlik anders te doen. Dit maak egter nie saak met hoeveel menslike gewoontes ons na vore mag kom nie (hase wat eiers lê? Regtig?), die Bybel is in werklikheid die enigste ware betroubare bron waarna ons ons kan wend om ’n behoorlike antwoord op hierdie vraag te kry.

 

Die enigste teken wat Jesus gegee het

Ons kan met ’n eenvoudige vraag begin: Hoe lank het Jesus Self gesê, sal Hy in die graf wees? “Toe spreek sommige van die skrifgeleerdes en Fariseërs en sê: Meester, ons wil graag ’n teken van U sien. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Matthéüs 12:38-40).

Dink hieroor. Jesus het gesê dat geen ander teken aan daardie geslag gegee sal word nie, behalwe die teken van Jona. Wat was daardie teken? Dit was dat Jesus vir presies dieselfde tydsduur in die graf sou wees as wat Jona in die maag van ’n groot vis was. Hoe lank was daardie tyd? Volgens Jesus sowel as Jona, drie dae en drie nagte!

Probeer soos u wil, ’n mens kan nie drie dae en drie nagte inpas tussen Vrydagmiddag en Sondagoggend nie. Selfs al sou u gedeeltes van dae tel, sal daar nog steeds tyd kortkom. Probeer dit self. Die Skrif dui aan dat Jesus in die graf neergelê was presies teen sononder, maar sommige mense tel ’n paar minute voor sononder as dag een. Vrydagnag sou nag een wees, die daglig gedeelte van Saterdag sal die tweede dag wees en Saterdagnag sou die tweede nag wees. Sou Jesus Sondagoggend net na sonop opgestaan het, kan ons dit dalk reken as dag drie, maar waar is die derde nag? Dit is net nie daar nie! Dit is vergesog om te reken dat ’n paar minute van daglig aan die begin en einde as twee van die drie dae getel kan word.

Baie nominale Christene het nog nooit eers Matthéüs 12:38-40 gelees nie en diegene wat dit wel gelees het, het nie regtig die betekenis daarvan bestudeer nie. Gevolglik aanvaar belydende Christene dikwels net eenvoudig dat die tydperk vanaf Goeie Vrydag tot by Paassondag as drie dae tel. Tog is dit nouliks wat Jesus gesê en bedoel het! Indien ons die tradisie van Goeie Vrydag tot Paassondag aanvaar, laat dit ons met drie moontlikhede: 1) Ons het nie die teken wat Jesus gegee het, behoorlik verstaan nie, 2) Jesus was verkeerd en Hy is nie ons Verlosser nie, of 3) Die tradisie van Goeie Vrydag tot Paassondag is verkeerd.

Het die wêreld egter die teken wat Jesus gegee het behoorlik verstaan? Indien wel, wat is die gevolge? Was Hy verkeerd oor hoe lank Hy in die graf sou wees? Het Hy letterlik drie dae en drie nagte bedoel, want soos ons gesien het, kan mens nie drie dae en drie nagte vanaf laat Vrydagmiddag tot vroeg Sondagoggend tel nie. Indien Hy bedoel het wat Hy gesê het, het ons ’n gewigtige vraagstuk. In erkenning van hierdie vraagstuk, dui The Abingdon Bible Commentary direk aan dat Jesus verkeerd was: “Die verklaring wat gemaak is is verkeerd, want Jesus was in die graf net van Vrydagaand af tot Sondag dagbreek” (kommentaar op Matthéüs 12:40).

Die meeste gewilde kommentare is nie so sinies nie en verkies eerder om te verduidelik dat hierdie verklaring nie letterlik opgeneem behoort te word nie. Is dit omdat die ware onbevooroordeelde Skrifgedeeltes dit demonstreer of is dit moontlik dat tradisie die waarheid uitdaag?

Tradisievaste mense beweer dat die Griekse uitdrukking wat in hierdie vers gebruik is, eenvoudig ’n “dag/nag” of ’n enkele 24-uur dag beteken. Verder, dat die eerste en derde dae net ’n gedeelte van ’n “dag/nag” kan wees. Jesus se teken is egter nie net van Matthéüs 12:40 alleen afhanklik nie. Jesus se woorde was in die Griekse taal aangeteken en dit is waar dat die Griekse uitdrukking wat in hierdie vers gebruik word, gedeeltes van drie dae mag beteken. Daardie redenasie is egter op sy beste omstrede onder kundiges van Grieks – soos ons so pas uit The Abingdon Bible Commentary gelees het, wat só nougeset oor die Grieks is dat dit die skokkende aanname maak dat Jesus verkeerd was!

Wat is die waarheid? Ons moet onthou wat Jesus gesê: “Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Matthéüs 12:40). Behoort ons dan nie te ondersoek wat die Bybel sê oor hoe lank Jona in die maag van die vis was nie? Wat sê die oorspronklike weergawe vir ons? “En Jona was drie dae en drie nagte in die ingewande van die vis” (Jona 1:17).

Die boek Jona is in die Hebreeuse taal geskryf en ons moet na daardie taal en sy algemene gebruik kyk om hierdie uitdrukking te verstaan. The Companion Bible ondersoek die betekenis van drie dae en drie nagte soos wat dit in die Hebreeuse taal gebruik word. Nadat ’n tegniese verduideliking gegee word dat drie dae volgens Hebreeuse gebruike die hele of gedeeltes van drie dae kan beteken, verduidelik dit dat die Hebreeuse gebruike praat van dae en nagte, dit beteken drie dae en drie nagte. Die bespreking word dan opgesom: “Derhalwe, wanneer dit sê ‘Jona was drie dae en drie nagte in die ingewande van die vis’ (Jona 1:17), beteken dit presies wat dit sê en dat dit die enigste betekenis kan wees van die uitdrukking in Matthéüs 12:40” (Bylae 144).

Dit is die eerste rede waarom ons weet dat Jesus se aanspraak ’n volle drie dae en drie nagte beteken – die betekenis van Matthéüs 12:40, wanneer dit in die konteks van die verhaal van Jona geneem word, kan dit slegs drie dae en drie nagte beteken.

 

Binne, daarná en dié

Die tweede rede waarom ons weet dat die tradisie van Goeie Vrydag/Paassondag foutief is, kan afgelei word deur dit te vergelyk met ander verklarings wat Jesus gemaak het oor hoe lank Hy in die graf sou wees. Jesus het by ’n aantal geleenthede figuurlik van Sy liggaam gepraat as “hierdie tempel” en het selfs verklaar: “Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig” (Johannes 2:19).

“In drie dae” beteken dat dit binne drie dae behoort te wees, maar ander kere lees ons dat Hy tot lewe opgewek sou word drie dae. “Toe het Hy hulle begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly en verwerp word deur die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes en gedood word en ná drie dae opstaan” (Markus 8:31).

Ná sy opstanding het Jesus aan sy dissipels verduidelik wat gebeur het en waarom. “En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder” (Lukas 24:46-47).

Hier het ons dus drie verskillende uitdrukkings wat dit duidelik maak van hoe lank Hy in die graf sou wees: “Binne drie dae” en “na drie dae” en “die derde dag”. Wanneer ons hierdie drie verklarings asook Matthéüs 1:40 en Jona 1:17 in ag neem, kan daar net een tydperk wees wat pas – presies 72 uur; nie ’n minuut vroeër of ’n minuut later nie. Die tyd is presies!


Pasga of Paasfees?

Let wel in die 1933 Afrikaanse Vertaling is die naam Easter foutief vertaal as “Paasfees”. Die naam Easter is nêrens in die Engelse Bybel te vinde nie, met een uitsondering. Die persone wat die King James Version van die Bybel vertaal het, het Easter ingevoeg vir Passover (Pasga) in Handelinge 12:4. Geen moderne Engelse vertaling gebruik die woord Easter nie, aangesien hulle almal die Griekse Pascha korrek vertaal met Passover (Pasga). Dit word so goed verstaan dat sommige van die moderner kommentare, soos die The New Bible Commentary Revised nie eers die onderwerp aanspreek nie, maar ouer vertalings (wat staatgemaak het op die King James Version) doen dit wel. Adam Clarke’s Commentary het byvoorbeeld die volgende te sê oor Handelinge 12:4 en die korrekte vertaling:

“Moontlik was daar nog nooit ’n ongelukkiger – om nie te praat van absurde – vertaling as die teks in die King James nie ... Die term Easter, wat hier deur ons vertalers ingevoeg is, is ontleen aan die antieke Anglo-Saksiese diensboeke ... Die Saksies [verskeie Griekse spellings] is verskillende vorms van spelling van die naam van die godin Easter, wie se fees deur ons heidense voorvaders gevier is in die maand April; vandaar die maand in die Saksiese kalender ... Wanneer ons na hierdie onderwerp kyk, selfs uit verskillende hoeke, word die volslae onvanpastheid vir die behoud van ’n naam, wat in elke opsig aanstootlik en merkbaar absurd is, duidelik” (Adam Clarke’s Commentary, Handelinge 12:4).

The Jamieson, Faussett, and Brown Commentary, is korter en sê eenvoudig: “Met die bedoeling ‘na die Paasfees’ – eerder as na ‘Pasga’, dit wil sê, nadat die hele fees verby was” (Die woord in ons King James Version is ’n kerklike term van ’n latere datum en moes nie hier gebruik gewees het nie).

 

HOOFSTUK 5

Die betekenis van Pasga?

Daar is ’n derde oortuigende bewys dat Jesus in die graf sou wees vir presies 72 uur. Daardie bewys word gevind in die Bybelse chronologie van gebeure. Ongelukkig is dit iets wat min mense verstaan, want die meeste mense wat hulleself vandag Christene noem, het heidense vakansiedae en tradisies aangeneem en verkies om die Feeste en Heilige Dae wat God aan Sy volk gegee het te verwerp – dae wat deur Jesus Christus Self onderhou is, asook deur Sy Apostels en die oorspronklike eerste-eeuse Christelike Kerk.

Waarom aanvaar die meeste mense dan dat Jesus op ’n Vrydag gekruisig is? Die waarheid is dat baie mense nie ’n idee het nie, behalwe dít wat aan hulle geleer is. Nogtans verstaan diegene wat meer Bybel geletterd is uit die Skrif dat Hy gekruisig was op ’n Dag van Voorbereiding wat ’n Sabbat voorafgaan. Daar is byvoorbeeld Lukas se stelling in verband met Jesus se begrafnis deur Josef van Arimathéa: “Hy het na Pilatus gegaan en die liggaam van Jesus gevra en dit afgehaal en in linne toegedraai en dit neergelê in ’n graf wat uit ’n rots gekap was, waar nog nooit iemand in gelê het nie. En dit was die dag van voorbereiding, en die sabbat wou aanbreek” (Lukas 23:52-54).

Soos alle skrifgeleerdes van die Bybel behoort te weet, die weeklikse Sabbat begin teen sononder op Vrydag en eindig teen sononder op Saterdag. Op die oog af mag dit dus lyk asof Jesus Vrydagoggend gekruisig is en baie laat die Vrydagmiddag in die graf neergelê is, maar soos ons sal sien, is dit nie wat gebeur het nie.

Baie foute wat gemaak word is die gevolg van roekelose vals aannames en dit is ook in hierdie saak die geval. Daar is geen twyfel dat Jesus op die Dag van Voorbereiding vir ’n Sabbat gekruisig is nie, maar watter Sabbat was dit? Was dit die weeklikse Sabbat wat Vrydagaand teen sononder begin het en Saterdagaand teen sononder geëindig het of was dit moontlik dat dit ’n Heilige Dag was, ’n jaarlikse Sabbat?

Wat algemeen bekend staan as die Nagmaal of die Laaste Avondmaal, was in werklikheid die Pasga. Daar kan geen twyfel hieroor bestaan nie, hoewel sommige geleerdes die duidelike Skriftuur verwerp en anders beweer. Matthéüs, Markus en Lukas noem almal hierdie finale aandete van Jesus saam met Sy dissipels die Pasga. Hier is Lukas se weergawe: “En die dag van die ongesuurde brode het gekom waarop die pasga geslag moes word. Toe stuur Hy Petrus en Johannes en sê: Gaan berei die pasga vir ons, dat ons dit kan eet. En hulle sê vir Hom: Waar wil U hê moet ons dit berei? En Hy antwoord hulle: Kyk, as julle in die stad ingaan, sal ’n man julle ontmoet wat ’n kruik water dra; volg hom na die huis waar hy ingaan. En julle moet vir die eienaar van die huis sê: Die Meester vra u – waar is die kamer waar Ek die pasga met my dissipels kan eet? En hy sal julle ’n groot bovertrek wys wat reggemaak is; daar moet julle dit berei. En hulle het gegaan en dit gevind soos Hy vir hulle gesê het, en die pasga berei. En toe die uur kom, het Hy aan tafel gegaan en die twaalf apostels saam met Hom. En Hy sê vir hulle: Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly” (Lukas 22:7-15).

Vir verdere bewyse, sien Matthéüs 26:17-20, waar die Pasga drie keer genoem word in verband met Sy laaste maaltyd. Sien ook Markus 14:12-17, waar die Pasga vier keer genoem word. Die drie sinoptiese Evangelies gekombineerd (Matthéüs, Markus en Lukas), noem die Pasga ten minste twaalf keer met betrekking tot wat algemeen bekend staan as die Laaste Avondmaal! Kan daar enige twyfel wees dat hierdie laaste maaltyd inderdaad die Pasga was?

God tel elke dag van sononder tot sononder (Génesis 1:3-5). Ons kan dus sien hoe Jesus, op die dag van Sy kruisiging, die Pasga in die aand saam met Sy dissipels onderhou het. Hy is in die nag in hegtenis geneem en is gedurende die dagliggedeelte van die Pasgadag gekruisig. Die Pasga is ’n baie spesiale dag, maar dit is nie ’n Sabbatdag nie. Soos ons egter sal sien, was die dag wat begin het met die sonsondergang na Sy dood, ’n jaarlikse Sabbat: Die eerste dag van die Fees van Ongesuurde Brode!

Baie belydende Christene is hopeloos onkundig oor wat die Bybel werklik sê en baie mense het geen idee van die geskiedkundige gebeure van die Skrif nie. Was dit nie vir die film, The Ten Commandments nie, sou selfs nog minder mense geweet het van Israel se uittog uit Egipte, maar dit is belangrik om bewus te wees van daardie gebeure indien ons die ware kruisiging- en opstandingsverhaal wil verstaan.

Die familie en volk van Israel was slawe in Egipte en het onder wrede slawerny gedien. Met verloop van tyd het God vir Moses gestuur om hulle te bevry en hulle na die land te neem wat aan hulle voorvader Abraham beloof is. Daar het nege bonatuurlike plae oor Egipte gekom, maar Farao het geweier om die Israeliete te laat gaan. Tydens die tiende plaag het al die eersgeborenes in Egipte gesterf, behalwe dié wat deur ’n spesiale seremonie beskerm was.

Die Israeliete is beveel om ’n jaaroud skaap- of boklam opsy te sit op die tiende dag van die maand en die volgende instruksies te volg: “En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand. En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel, aan die huise waarin hulle dit eet. En hulle moet die vleis in dieselfde nag eet, oor die vuur gebraai; saam met ongesuurde brode moet hulle dit met bitter kruie eet. Julle moet daarvan nie eet as dit rou is en as dit in water gaar gekook is nie, maar oor die vuur gebraai, die kop en pootjies saam met die binnegoed. Julle mag daar ook niks van laat oorbly tot die môre toe nie; maar wat daarvan tot die môre oorbly, moet julle met vuur verbrand. En só moet julle dit eet: Julle heupe moet omgord wees, julle skoene aan jul voete en julle staf in jul hand; baie haastig moet julle dit eet. ’n Pasga van die Here is dit” (Exodus 12:6-11).

Weereens, aangesien die Bybel se tyd bereken is van sononder tot sononder, was dit die begin van die 14de dag, wat daardie jaar op ’n Dinsdagaand ná sononder begin het. Die dood het by die eersgeborenes van elke huishouding verbygegaan indien hulle in ’n huis was wat met die bloed van die geofferde skaap- of boklam gemerk was – hierdie aand het in Engels bekend geraak as die Passover.

Gedurende die daglig-ure van 14 Nisan het die kinders van Israel die Egiptenare “beroof” en na die stad Raämses gereis, vanwaar die uittog ná sononder aan die begin van 15 Nisan begin het. Dit het die kinders van Israel sewe dae geneem om van Raämses tot by die ander kant van die Rooi See te kom en hierdie tydperk word as die dae van die ongesuurde brode onthou, omdat die Israeliete aan die trek was en nie genoeg tyd gehad het om hulle brood te laat rys nie.

Die Pasga en die Dae van Ongesuurde Brode was ten nouste aan mekaar gekoppel, sodat ons soms sien dat “Pasga” gebruik word om albei Feeste saam aan te dui. Die verskil tussen die Pasga en die Fees van die Ongesuurde Brode word duidelik in Levítikus 23:5-7 aangedui. “In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van die Here; en op die vyftiende dag van hierdie maand is die fees van die ongesuurde brode van die Here; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet. Op die eerste dag moet daar vir julle ’n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.” Sien ook Númeri 28:16-18. In albei weergawes leer ons dat 15 Nisan, die dag ná die Pasga, ’n dag van samekoms en rus van ons gewone dagtake is. Dit is ’n jaarlikse Sabbat – ’n Heilige Dag – ’n feit wat weinig mense verstaan en wat ingrypende gevolge het, soos wat ons in die volgende hoofstuk sal sien.

God se meesterplan

Betekenis van die Feeste

Ou Testament

Nuwe Testament

Pasga

Bloed van ’n geofferde lam is rondom die deure van die Israeliete se huise gesmeer. God het by hulle “verbygetrek” toe Hy die Egiptiese eersgeborenes laat sterf het (Levítikus 23:5).

Pasga

Beeld Jesus Christus uit wat Sy bloed stort vir die sondes van die mensdom.

Dae van die Ongesuurde Brode

’n Fees van sewe dae lank waartydens suurdeeg uit wonings verwyder word en dit word vir sewe dae lank glad nie geëet nie (Levítikus 23:6-14).

Dae van die Ongesuurde Brode

Deur suurdeeg uit ons huise te verwyder, word ’n Christen se plig versinnebeeld om “uit sonde uit” te kom en ’n lewe te leef wat aan Jesus Christus onderworpe is.

Pinkster

’n Dag waarop die insameling van die eerste en kleinste van die twee jaarlikse oeste onderhou is; dit is 50 dae vanaf ’n vasgestelde tydstip in die vorige Fees onderhou (Levítikus 23:15-22).

Pinkster

Beeld die Christen se ontvangs van God se Heilige Gees uit.

Fees van Basuine

Die Jode noem dit Rosh Hashana; ’n dag van blydskap wat deur die blaas van basuine gekenmerk word (Levítikus 23:23-25).

Fees van Basuine

Beeld ’n tyd van oorlog en plae uit en eindig met die “eerste opstanding” en Jesus Christus se Wederkoms as Koning van die konings.

Versoendag

’n Dag van vas en bekering, onder die Jode bekend as Yom Kippur (Levítikus 23:26-32).

Versoendag

Beeld die binding van Satan uit aan die begin van die Millennium en die wêreld wat begin om met God versoen te raak.

Loofhuttefees

Die onderhouding van die groot herfs-oes, wat sewe dae duur, word onderhou terwyl daar in tydelike huisvesting gewoon word vir die duur van die fees (Levítikus 23:33-43).

Loofhuttefees

Beeld die Duisendjarige Vrederyk uit, wanneer die aarde deur Jesus Christus en Sy heiliges regeer sal word.

Laaste Groot Dag

Hoewel dit deel van die Huttefees is, word hierdie agtste dag as ’n aparte fees beskou (Levítikus 23:36, 39).

Laaste Groot Dag

Beeld die “Wit Troon Oordeel” uit wanneer almal wat nie voorheen geroep was nie, ’n kans sal hê om die ware Evangelie te hoor en redding te aanvaar.

 

HOOFSTUK 6

Die betekenis van Pasga?

Sonder om te weet dat die Sabbat net ná Christus se kruisiging ’n “jaarlikse Sabbat” was, is dit moeilik om die Nuwe Testament se verhaal te verstaan, maar met die begrip hiervan maak die hele verhaal vir ons sin. Die dag ná die Pasga was ’n Heilige Dag, ’n jaarlikse Sabbat waartydens geen werk gedoen moes word nie. Jesus het die Pasga saam met sy dissipels aan die begin van die dag (kort ná sononder) gehou en daarna is Hy laat in die middag in die graf neergelê teen die einde van die Pasgadag. Met sonsondergang daardie aand, het die eerste dag van Ongesuurde Brode, ’n jaarlikse Sabbat, aangebreek; dit is presies wat die apostel Johannes in Johannes 19:31 openbaar: “En dat die liggame nie op die sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit die voorbereiding was – want die dag van daardie sabbat was groot – het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word.” Die Skrif toon natuurlik dat Christus se bene inderdaad nie gebreek is nie (vers 33), ter vervulling van die Ou Testamentiese profesie (Psalm 34:21).

Johannes dui aan dat dit nie die Voorbereidingsdag vir ’n weeklikse Sabbat was nie, maar vir ’n groot Sabbat! Jesus het die Pasga saam met sy dissipels op 14 Nisan gehou. Daarna, soos Johannes bevestig, was die volgende dag (soos elke Bybelgeleerde behoort te weet) ’n jaarlikse Sabbat! Die dag waarop die Pasga gehou word is ook die Voorbereidingsdag vir die eerste dag van die Fees van Ongesuurde Brode.

Waarom word dit dan nie algemeen deur vandag se belydende Christene verstaan nie? Waarom verkondig priesters en predikante hierdie waarheid nie onomwonde nie? Johannes 19:31 is nie onbekend aan Bybelgeleerdes nie, dus hoe hanteer hulle dit? Verskillende kommentare het verskillende verduidelikings, maar die Jamieson, Fausset and Brown Commentary on the Whole Bible is tiperend van hoe om die ware betekenis van hierdie vers foutiewelik te verduidelik, deur dit te beskryf as “die eerste dag van die Ongesuurde Brode en aangesien dit met ’n gewone Sabbat saamval, is dit die plegtigste seisoen van die kerklike jaar”. Die New Bible Commentary Revised sê: “Dit was vir die Jode tweemaal so belangrik om hulle rituele vereistes waar te neem op ’n dag wat Sabbat sowel as fees was”. Is dit egter korrek? Geleerdes erken dat Jesus op die Voorbereidingsdag vir ’n jaarlikse Sabbat gesterf het maar laat die belangrikheid van hierdie stelling buite rekening. Deur aan hulle tradisies vas te klou, verwerp hulle die duidelike leerstelling van die Skrif!

 

Twee Sabbatte

Wat oor die algemeen misgekyk word, is dat die Bybel van twee Sabbatte praat gedurende die tyd wat Jesus in die graf was! Die Skrif dui aan dat die vroue op die Sabbat gerus het en daarna speserye gekoop het. “En toe die sabbat verby was, het Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Jakobus, en Salóme speserye gekoop om Hom te gaan salf” (Markus 16:1). Let daarop dat dit die Sabbat plaasgevind het!

Lukas 23 dui aan dat hulle egter die speserye voorberei het en toe op die Sabbat gerus het. “En dit was die dag van voorbereiding, en die sabbat wou aanbreek. En die vroue wat saam met Hom van Galiléa gekom het, het ook gevolg en die graf gesien en hoe sy liggaam neergelê was. Daarop het hulle teruggegaan en speserye en salf berei en op die sabbat gerus volgens die gebod” (Lukas 23:54-56).

Dit is vanselfsprekend dat mens nie die speserye kan voorberei voordat dit gekoop is nie! Lees die twee Skrifgedeeltes weer. Markus sê vir ons dat hulle nie die speserye gekoop het tot ná die Sabbat nie, maar Lukas dui aan dat hulle dit voorberei het en op die Sabbat gerus het. Hierdie twee gedeeltes lewer onfeilbare bewys dat die vroue op die Heilige Dag gerus het, toe die speserye die volgende dag gekoop en voorberei het en daarna weer op die weeklikse Sabbat gerus het. Dit is die enigste manier om hierdie verse in ooreenstemming met mekaar te bring! Daar was twee Sabbatte met ’n gewone dag tussenin óf die Bybel weerspreek homself!

Indien dit vir u te moeilik is om in te sien of te volg nadat u vir soveel jare die verkeerde volgorde van gebeure geleer is, kyk net na die tabel in die middel van hierdie boekie. Jesus het die Pasga saam met Sy dissipels op Dinsdagaand ná sononder onderhou. Na die Pasgamaal het Hy die bo-kamer verlaat en Sy dissipels saam met Hom na die tuin van Getsémané geneem. Dit is hier waarheen Judas die owerhede gelei het om Jesus te arresteer en waar Judas Hom met ’n soen verraai het. Jesus was onwettig verhoor en Hy is gedurende daardie nag en tot in die vroeë oggendure van Woensdag mishandel. Rondom 09:00 op Woensdagoggend, is Hy uitgelei en gekruisig. Hy het daarna omstreeks 15:00 op Woensdagmiddag gesterf. Wat het daarna gebeur?

“En toe dit aand geword het, omdat dit die voorbereiding was, dit is die voorsabbat, [die jaarlikse Heilige Dag Sabbat soos ook in Johannes 19:31] kom daar ’n vername raadslid, Josef van Arimathéa, wat self ook die koninkryk van God verwag het; en hy waag dit om na Pilatus in te gaan en die liggaam van Jesus te vra” (Markus 15:42-43). Toestemming was slegs verleen nadat Pilatus die hoofman oor honderd laat kom het, wie bevestig het dat Jesus inderdaad dood was (verse 44-45).

Die Evangelie van Johannes lig ons in dat Josef, met die hulp van Nikodémus die Fariseër, wat in die nag na Jesus gekom het (sien Johannes 3:1-21), die liggaam geneem en dit na ’n nabygeleë graf gedra het. Dit blyk uit die besonderhede dat hulle baie vinnig gewerk het, omdat daar slegs ’n kort tydjie was tussen Jesus se dood en die aanvang van die jaarlikse Sabbat wat teen sononder die Woensdag begin het. “En Nikodémus, wat die eerste maal in die nag na Jesus gegaan het, het ook gekom met ’n mengsel van mirre en alewee van omtrent honderd pond gewig. En hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit in doeke toegedraai saam met die speserye, soos die gewoonte van die Jode is om te begrawe. En daar was op die plek waar Hy gekruisig is, ’n tuin, en in die tuin ’n nuwe graf waar nog nooit iemand in neergelê was nie. Daar het hulle Jesus toe neergelê weens die voorbereiding van die Jode, omdat die graf naby was” (Johannes 19:39-42).

Lukas verduidelik hoe naby die Sabbat was toe Josef en Nikodémus klaar was met die voorbereiding en begrafnis van Christus. Josef het “... dit [die liggaam van Jesus] afgehaal en in linne toegedraai en dit neergelê in ’n graf wat uit ’n rots gekap was, waar nog nooit iemand in gelê het nie. En dit was die dag van voorbereiding, en die sabbat wou aanbreek. En die vroue wat saam met Hom van Galiléa gekom het, het ook gevolg en die graf gesien en hoe sy liggaam neergelê was” (Lukas 23:53-55).

Tel nou drie dae en drie nagte met hierdie agtergrond in gedagte. Woensdag teen sononder het die jaarlikse Sabbat wat groot was begin. Dus was Woensdagnag die eerste nag. Daglig Donderdag was nog steeds die jaarlikse Sabbat en was die eerste dag. Die jaarlikse Sabbat het met sonsondergang Donderdagaand geëindig. Sononder Donderdag tot sononder Vrydag was nog ’n Dag van Voorbereiding en dit was ’n gewone werksdag tussen twee Sabbatte. Dit was toe dat die vroue die speserye gekoop en voorberei het, wat ooreenstem met Markus 16:1 en Lukas 23:56.

Donderdagnag is ons tweede nag en Vrydag is ons tweede dag. Met sonsondergang op Vrydagmiddag het die weeklikse Sabbat begin. Vrydagnag is ons derde nag en Saterdag is ons derde dag. Jesus het laat Saterdagmiddag (net voor sononder) uit die graf opgestaan, drie dae en drie nagte nadat Hy in die graf neergelê was. Dit is duidelik dat Christus se woorde in Matthéüs 12:40 vervul is: “Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.” Let ook op dat die apostel Paulus geïnspireer was om ons daaraan te herinner dat Jesus opgestaan het presies soos Hy gesê het Hy sal (1 Korinthiërs 15:4).

Die teken van Jona

Jesus het aan Sy vyande gesê: “’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Matthéüs 12:39-40).

Drie dae en drie nagte – dit is die teken wat Jesus gegee het om Sy Messíasskap te bevestig. Ons Verlosser het onomwonde Sy ware identiteit bevestig wat deur sommige mense verwerp mag word as skynbaar onbenullige presiesheid. Tog het die Fariseërs dit nie as so onbenullig beskou nie. Let op hoe hulle op die dood van Christus gereageer het: “Die volgende dag – dit is die dag ná die voorbereiding – kom die owerpriesters en die Fariseërs by Pilatus saam en sê: My heer, ons herinner ons dat dié verleier, toe hy in die lewe was, gesê het: Oor drie dae staan ek op” (Matthéüs 27:62-63).

Die owerpriesters en die Fariseërs het gevrees dat Christus se dissipels hulle sou bedrieg betreffende Sy opstanding, na aanleiding van die presiese tydsduur wat Hy gegee het om sodoende Sy invloed selfs na Sy dood sou laat voortleef. In reaksie hierop het Pilatus bykomende sekuriteit gemagtig om seker te maak dat daar nie met die graf gepeuter word nie (verse 65-66).

Dit is betekenisvol dat toe Jona se beproewing in die ingewande van die vis beskryf word, die boek Jona presies dieselfde woorde vir dag en nag gebruik het as wat in Génesis 1:5 gebruik word. “En die Here het ’n groot vis beskik om Jona in te sluk; en Jona was drie dae [yowm] en drie nagte [layil] in die ingewande van die vis” (Jona 1:17).

Ons Skepper is ’n God van volmaakte tydsberekening. Hy het presiese instruksies gegee om die Pasga presies op die regte tyd te hou (Exodus 12:12, 22). Hy het aan die mens presiese opdragte gegee om ’n spesifieke dag van rus en aanbidding te onderhou (Exodus 20:8). Hy gee ons opdrag om spesifieke jaarlikse Heilige Dae deur die jaar te onderhou (Levítikus 23). Wanneer dit by profesie kom, is Sy tydsberekening volmaak. Sien: “... wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie” (Jesaja 46:10).

Inderdaad, die profeet Daniël het die tydsberekening van Christus se eerste koms honderde jare vooruit voorspel (Daniël 9:24-26). Ons kan dus verstaan dat die dood en opstanding van die Verlosser van die wêreld sou plaasvind met volmaakte tydsberekening, soos dit bevestig is deur die teken van Jona.

 

HOOFSTUK 7

Wat het die Sondag gebeur?

Die Skrif gebruik nêrens die name wat ons nou gebruik om die dae van die week aan te dui nie. Ons lees nooit die naam “Sondag” in die Bybel nie. Inteendeel, wanneer ons kyk na hoe die dae rondom Christus se kruisiging beskryf word, vind ons verwysings na die Voorbereidingsdag, die Sabbat, die eerste dag van die week en ’n Heilige Dag. In hierdie verband verstaan feitlik alle geleerdes dat die Voorbereidingsdag die dag voor óf ’n weeklikse óf ’n jaarlikse Sabbat is. Dit word verstaan dat die Sabbat op die dag begin wat ons ken as Vrydag sononder tot Saterdag sononder. Die eerste dag van die week is wat ons Sondag noem in ons Afrikaanse taal. ’n Heilige Dag, soos geleerdes verstaan, dui ’n jaarlikse Sabbat aan. Ongelukkig, om hulle tradisie in stand te hou (in teenstelling met die Skrif), probeer geleerdes en godsdiensleiers oor die algemeen om die jaarlikse Sabbatte met die weeklikse Sabbat saam te smelt.

Interessant genoeg, so ’n tersydestelling vir diegene wat daarop aanspraak maak dat dit nie moontlik is om te weet wanneer die Bybelse sewendedag Sabbat is nie, identifiseer die tradisie van Goeie Vrydag/Paassondag die weeklikse Sabbat (Saterdag) sowel as die eerste dag van die week (Sondag)! Soos ons ook gesien het, so het die ware chronologiese volgorde van gebeure plaasgevind. Diegene wat die bedrieglike argument gebruik dat tyd verlore geraak het en ons nie die dag kan bepaal nie, het geen verskoning nie! (Indien u nog nie ons boekies, Watter Dag is die Christelike Sabbat en Die Heilige Dae – God se meesterplan, gelees het nie, skakel ons of skryf gerus aan ons om u eie gratis eksemplaar te bestel of gaan aanlyn by wvm.co.za)!

Waar kom die idee vandaan dat Jesus Sondagoggend opgestaan het? Dit spruit meestal voort uit tradisie, maar die Skrif behoort voorkeur te geniet bo tradisie. ’n Noukeurige studie openbaar egter dat toe die vroue by die graf gekom het, dit so ongeveer dagbreek op die eerste dag van die week was. Dit is wanneer, soos die meeste mense verkeerdelik dink, die opstanding plaasgevind het. Let egter op wat dit sê (en nog belangriker, wat dit nie sê nie) in Lukas 24:1-6: “En baie vroeg in die môre, op die eerste dag van die week [Sondag], het hulle en ander saam met hulle by die graf gekom en die speserye gebring wat deur hulle toeberei was. En hulle het die steen van die graf afgerol gevind. En toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie. En terwyl hulle hieroor in verleentheid was, staan daar twee manne by hulle in blink klere. En toe hulle baie bevrees word en met hulle aangesigte na die aarde buig, sê die manne vir hulle: Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan.” Let daarop dat dit nié sê dat Hy daardie oggend opgestaan het nie! Dit sê net dat toe hulle daar aankom was Hy weg – Hy het toe alrééds opgestaan!

Sommige mense sou vra: “Sê die Bybel nie werklik dat Jesus Sondagmôre opgestaan het nie?” Die antwoord is ja, maar nee! Lees dit in Markus 16: “En nadat Hy opgestaan het, vroeg op die eerste dag van die week, het Hy eers verskyn aan Maria Magdaléna, uit wie Hy sewe duiwels uitgedryf het” (vers 9). Bolangs lyk dit beslis asof Jesus Sondagoggend opgestaan het. Wat doen ons dus met al die ander getuienis wat ons gesien het wat teenstrydig is hiermee? Watter een is korrek? Johannes dui aan dat “die Skrif nie gebreek kan word nie” (Johannes 10:35). Daarom moet ons hierdie vers van naderby beskou.

Die meeste mense aanvaar die hoofstukke, verse en sinstrukture wat ons in die Bybel vind as vanselfsprekend, maar dit was nie altyd so nie. Die vroegste Nuwe Testamentiese Griekse manuskripte het geen leestekens gehad soos ons dit vandag verstaan nie. Al die letters was unsiaal geskryf, wat ons tans hoofletters sou noem. Latere manuskripte is in minuskels geskryf, wat ons kursiewe kleinletters kan noem. Onder die unsiale, is al die woorde aanmekaar geskryf met geen spasies tussenin nie. Markus 16:9 sal so lyk, behalwe dat dit Griekse letters was in plaas van Afrikaanse letters.

ENNADATHYOPGESTAANHETVROEGOPDIEEERSTEDAGVANDIEWEEKHETHYEERSVERSKYNAANMARIAMAGDALÉNA

Ons kan dankbaar wees dat vertalers en uitgewers met verloop van tyd dit makliker gemaak het om die Bybel te lees deur die byvoeging van hoofletters en leestekens. Die meeste van die tyd kwyt hulle hulle baie goed van hulle taak, maar ons moet besef dat eie vooroordele in ons vertalings insluip en dit is die geval met hierdie vers.

Markus 16:9 kan opgebreek word op ten minste twee verskillende maniere. Die New King James Version en baie ander moderne vertalings het leestekens ingesit volgens hulle tradisionele oortuigings – vandaar die oortuiging dat Jesus vroeg op die eerste dag van die week opgestaan het. Hoe dit ookal sy, soos ons gesien het, indien dit die geval was, sou die besondere teken wat Jesus gegee het dat Hy die Messías en Seun van God is, weerspreek word. Ons sou ook grootliks verskille hê oor wanneer die vroue die speserye gekoop en voorberei het en die hele verloop van gebeure soos dit in die Bybel weergegee word, sou verkeerd wees.

Ons glo vas dat die Bybel deur God geïnspireer is en sonder foute in sy oorspronklike geskrifte is, maar geen moderne vertaling is sonder foute nie. Baie van hierdie afwykings lei nie werklik tot groot misverstande nie, maar die NKJV weergawe en die Afrikaanse vertalings van Markus 16:9 doen dit wel. Indien ons die leestekens en sinsbou verander om in ooreenstemming te wees met die res van die Skrif, sou dit soos volg lees: “En nadat Hy opgestaan het, het Hy vroeg op die eerste dag van die week eerste aan Maria Magdaléna verskyn”. Hier sien ons dat die klem nie val op wanneer Hy opgestaan het nie, maar op wanneer Hy die eerste keer aan Maria Magdaléna verskyn het. Trouens die enigste manier om te weet hoe die sinsbou gerangskik behoort te word, is om dit te lees in sy direkte konteks asook die konteks van die Skrif as geheel. Aangesien ons die korrekte volgorde van gebeure ken soos vroeër aangedui, weet ons dat die klem nie val op wanneer Jesus opgestaan het nie, maar wanneer Hy aan Maria verskyn het. Deur dit op hierdie manier te stel, is heeltemal normaal en dit is die enigste manier om hierdie vers met die res van die Skrif in ooreenstemming te bring.

 

Maak dit saak?

Om die teken wat Jesus gegee het te ontken, is om Jesus as ons Verlosser te ontken. Miljoene baie opregte mense het presies net dit gedoen, sonder om te besef dat hulle mislei is deur tradisies wat van geslag tot geslag oorgedra is in die hoofstroom Christelike kerke. In plaas daarvan om te doen wat Paulus ons in 1 Thessalonicense 5:21 beveel, “Beproef alle dinge; behou die goeie”, het hulle meegedoen aan vreemde sentimentele gewoontes wat hase, eiers, lelies en heidense gode en dae insluit.

Sommige mense mag dalk redeneer dat dit die gedagte is wat tel en so lank ons dit vir Jesus doen, dit in orde is. Is dit werklik wat Jesus aan Sy volgelinge gesê het? Glad nie! Let op: “Maar daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid” (Johannes 4:23). Om Hom opreg te aanbid is belangrik, maar ons moet Hom ook in waarheid aanbid!

Ons is spesifiek aangesê om nie te vra: “Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die Here jou God nie; want alles wat vir die Here ’n gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen; want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode. Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie” (Deuteronómium 12:30-32).

Indien u meer te wete wil kom oor die Heilige Dae wat God die mensdom beveel het om te onderhou en hoe dit die ongelooflike opwindende plan uitbeeld waarmee God hier op aarde besig is, skakel of skryf gerus aan ons of gaan na wvm.co.za om ons gratis boekie: Die Heilige Dae – God se meesterplan, te lees of te bestel. Indien u moeg is daarvoor om deur onbybelse saamgeflansde idees deur mense en heidense tradisies om die bos gelei te word en graag ander mense wil ontmoet wat die Bybelse geïnspireerde Sabbat en Heilige Dae onderhou, kontak gerus die streekkantoor naaste aan u en vra om met een van ons verteenwoordigers te praat. Ons het gemeentes in baie stede en lande regoor die wêreld waar mense getrou die dae onderhou wat deur God ingestel en onderhou is.