Gedurende ons onlangse Ouderlingsraadvergaderings het ons, onder andere, ons benadering tot goddelike genesing bespreek waar ek die menings van die Raadslede oor hierdie onderwerp wou bekom. Ons het almal saamgestem dat twee uiterste benaderings dikwels die afgelope jare die denkwyse van leraars sowel as lidmate oorheers het. In vorige dekades het baie mense gevoel dat jy “swak in geloof” was – moontlik selfs sondig – indien jy enige fisiese optrede geneem het bo en behalwe om “God ten volle te vertrou”.

Aan die ander kant het ’n toenemende aantal leraars en lidmate oor die jare opgelet dat God dikwels nie onmiddellik bonatuurlik “genees” het nie – dat sommige mense selfs ontydig te sterwe kom wanneer behoorlike mediese sorg hul lewens kon verleng. Daarom het baie van hierdie mense die Bybelse opdrag in Jakobus 5:14-15 begin versaak: “Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word”.

Soos ons by die Ouderlingsraadvergaderings bevestig het, onderrig die Lewende Kerk van God dat beide die uiterstes verkeerd is! Om tot God te bid, om geloof in God te hê en om terselfdertyd “ons deel” te doen en fisiese sorg te ontvang, is nie onderling uitgesluit nie. Selfs mnr. Herbert W. Armstrong het gedurende die laaste paar jaar van sy lewe volle mediese sorg ontvang – wat behoorlik aangeteken is. Hy is egter ook gesalf en hy het gebid dat God – na die volle omvang van Sy wil – hom sou genees en sy lewe verleng.

Wanneer ons na mnr. Armstrong se voorbeeld kyk en die hele Bybel aandagtig bestudeer oor die onderwerp van genesing, sien ons dat ’n “gebalanseerde” benadering tot hierdie onderwerp beide korrek en in werklikheid meer “Christelik” is as sommige van die uiterstes van die verlede. Nee, ons wil nie ons begrip dat God die enigste Een is wat werklik kan “genees”, verwater nie. Slegs God kan die straf vir die oortreding van fisiese wette, wat bygedra het tot ons siektes en beserings, bonatuurlik verwyder. Ons moet dit nooit vergeet nie! Dokters, medisyne en operasiemesse mag sommige van die “simptome” of enige siektes wat ons mag ervaar, verwyder of verminder, maar hierdie metodes veroorsaak bykans altyd “newe-effekte” wat soms meer skadelik is as die oorspronklike probleem.

Daarbenewens sal reuse siekte-epidemies binne ’n paar jaar deur die Westerse wêreld trek en dikwels verskriklike “nuwe” siektes meebring wat nie op die hedendaagse medikasie sal reageer nie (Mattheus 24:7)! Waar sal u dan vir genesing soek?

Wanneer dit alles plaasvind, sal dit noodsaaklik wees vir God se ware Kerk om absoluut op Hom staat te maak vir goddelike genesing en verlossing! Selfs wanneer mediese sorg wel beskikbaar is, toon God se Woord egter dat ons altyd die grote God, ons Vader en Geneser, moet betrek. In alle dinge moet ons die apostel Paulus se opdrag in Kolossense 3:17 van harte volg: “En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom”.

God vertel ons om die ouderlinge te roep en na Hom te kyk wanneer ons siek is. Tog beskryf God se geïnspireerde Woord Lukas as die “geliefde geneesheer” (Kolossense 4:14). Die Seun van God sê ook duidelik: “Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering” (Markus 2:17). Daarby beskryf Jesus dat die Barmhartige Samaritaan “sy wonde verbind en olie en wyn daarop gegooi het” om met die genesing van die wond wat deur ’n reisiger opgedoen is, te help (Lukas 10:34). Die wyn bevat alkohol en ander elemente om kieme te dood en besmetting van ’n oop wond te help voorkom. Die olie was ’n natuurlike smeermiddel om genesing aan te help. Was Jesus verkeerd om die positiewe maniere te beskryf waarop hierdie medisinale eienskappe gebruik kon word?

Wat van Timotheus? Paulus skryf dat die “ongeveinsde geloof” van sy moeder en ouma in Timotheus was (2 Timotheus 1:5). Paulus beskryf Timotheus ook as iemand met ’n “bewese karakter” in diens van Jesus Christus (Filippense 2:22). Tog laat God toe dat Timotheus ’n maagaandoening en “herhaalde ongesteldhede” ondervind (1 Timotheus 5:23). Hoewel die apostel Paulus tog sekerlik hierdie uitstaande jong evangelis, wat hy as “’n seun in die geloof” beskou het, sou salf en vir hom gebid het, skryf hy ook vir Timotheus voor om “’n bietjie wyn” vir sy siekte te gebruik. Rooi tafelwyn bevat ’n natuurlike antibiotika soortgelyk aan penisillien. Dit sou help om die bakterieë teë te werk wat Timotheus dikwels ingekry het deur die plaaslike water in daardie warm, Mediterreense klimaat te drink.

Wyn was dus gebruik as ’n soort “medisyne”. Was Paulus verkeerd om hierdie raad aan Timotheus te gee? Beslis nie! God se diensknegte is dikwels aangeraai om sekere genesende elemente te gebruik wanneer hulle met siekte of beserings te doen gehad het (Eksodus 21:19; Jesaja 38:21). God het hierdie opdrag ook vir ons onderwysing in die Bybel bewaar: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Timotheus 3:16-17).

Wanneer ons terugkyk, sien ons dat idees wat in afgelope dekades deur die Kerk en die bediening omgegaan het, nie altyd heeltemal konsekwent met die Skrif was nie. Daar is ’n behoefte aan beter balans en wysheid oor die onderwerp van genesing, medisyne en gesondheid. Absolute geloof en vertroue in God – in elke aspek van die lewe – is ’n besonder groot behoefte (Mattheus 9:29). Waar ons ons vertroue plaas is ook belangrik (2 Kronieke 16:12). Om raad te vra van ’n dokter wat kennis van die liggaam en siekte het, is nie dieselfde as om blinde vertroue in ’n mediese praktisyn te plaas nie. Die Bybel sê tog self dat daar “redding [in] veelheid” van raadgewers is (Spreuke 11:14; 15:22).

Die Bybel self bied ook verskeie perspektiewe oor genesing. Genesing is God se prerogatief. Dit word beskryf as een van die voordele wat God aan die mens beskikbaar stel (Psalm 103:1-5). Dit word ook beskryf as ’n gawe van God (1 Korintiërs 12:7-11). Genesing is die vergifnis van sonde (Markus 2:1-12). Die mens se medisyne en operasies genees nie. Op hul beste kan dit bloot simptome behandel – soms met sukses, soms nie. Onthou, goddelike genesing is nie dieselfde as om met fisiese middele die liggaam te herstel nie. Dit is egter beslis nie verkeerd om ons deel te doen en op elke moontlike manier te probeer om God in ons liggame te “verheerlik” nie (1 Korintiërs 6:20).

In die breër sin is God nie net besorg oor die genesing van ons fisiese liggame nie; Hy wil ook hê dat ons elke les moet leer wat ons in hierdie fisiese lewe moet leer, om ons voor te berei op ewige lewe in Sy Koninkryk. Indien ons fisiese probleme verwyder of “genees” word elke keer wat ons ’n fout maak, kan dit wees dat ons nie sommige van die noodsaaklike lewenslesse leer wat ons nodig het oor hoe om ons liggame met wysheid te hanteer en in harmonie met die fisiese wette te leef nie. Wanneer ons siek is, word ons nie net beveel om gesalf te word en na God te kyk nie, maar ook om ons lewens en gedrag te ondersoek om te sien wat ons verkeerd gedoen het – en ook om ons te bekeer van daardie verkeerde gedrag (Jakobus 5:16). Genesing is nie bloot ’n meganisme om ons outomaties uit die moeilikheid te kry wat ons moontlik oor onsself gebring het nie. Dit is belangrik dat ons lewenslesse probeer leer – insluitend die lesse vir die onderhouding van goeie gesondheid – sodat ons ander mense in die wêreld van môre kan onderrig.

Hoewel gebed en geloof in God ’n absolute noodsaaklike plek in die herstel van gesondheid het, word ons ook vertel: “en wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom” (1 Johannes 3:22). Daardie dinge wat “welgevallig is voor Hom” behels veel meer as om oor die algemeen goeie lewens te lei en om onrein kosse te vermy. “Daardie” dinge behels dat ons ons Godgegewe verstande gebruik om opreg te probeer om God in ons fisiese lewens te verstaan en Hom te verheerlik soos Hy ons aansê.

Vir jare het mnr. Armstrong ons geleer om te probeer om ’n volkome leefwyse te lei. Hierdie leefwyse was gefokus op die feit dat God en Sy skepping in wese “goed” is – dat ons moet leer om binne die natuurlike wette van Sy skepping te werk. So het ons geleer dat borsvoeding oor die algemeen baie beter vir kinders is as die kunsmatige metode van bottelvoeding. Talle artikels is in onlangse jare deur dokters en hospitale gepubliseer wat hierdie feit dokumenteer. Ons het geleer dat “natuurlike kindergeboorte” in die meeste gevalle veel beter vir beide die moeder en kind is. Weereens erken baie mediese dokters en ander gesondheidsowerhede nou hierdie feit. Ons is geleer dat om vars vrugte en groente en “natuurlike” kosse te eet, veel beter is as om ons voeding uit kunsmatig vervaardigde “kosse” wat in blikkies en boksies verpak is, te kry. Mnr. Armstrong het ons vertel dat ons natuurlike kosse moet eet wat kan sleg word, voordat dit sleg word.

Jare gelede het ek ’n boekie geskryf (wat sommige van ons ouer lidmate sal onthou) met die titel Die sewe wette van sprankelende gesondheid. Daarin het ek die basiese gesondheidswette, wat steeds van toepassing is, uiteengesit – iets waaroor gesondheidsowerhede nou veel meer oor skryf as toe. Hierdie wette is:

  1. Volg ’n behoorlike dieet.

  2. Leer om gereeld en wanneer moontlik, flink, te oefen.

  3. Kry genoeg slaap en rus.

  4. Sien toe dat u genoeg sonskyn en vars lug kry.

  5. Beoefen persoonlike higiëne en dra behoorlike klere.

  6. Vermy liggaamlike besering.

  7. Handhaaf ’n positiewe gesindheid.

In daardie ou boekie bespreek ek elkeen van hierdie punte breedvoerig. Dit is duidelik baie belangrik in die handhawing van behoorlike gesondheid. Byvoorbeeld, soos ek in daardie boekie aangedui het, kan jy al die ander wette onderhou en tog roekeloos voor ’n bus inloop en te sterwe kom! Dus – veral u ouer lidmate – wees baie versigtig wanneer u stap, reis of trappe klim. Om versigtig te wees wanneer u betrokke raak in ’n potensieel gevaarlike aktiwiteit, is noodsaaklik vir die handhawing van goeie gesondheid.

Verder, soos die ou gesegde lui: “die probleem is nie wat jy eet nie, dit wat jou eet!” Met ander woorde, u kan dalk genoeg oefening kry en ’n goeie dieet volg, maar indien u toelaat dat negatiewe gedagtes van jaloesie, veragting, bitterheid of haat u verstand oorheers, kan u sit met maagsere, hoë bloeddruk en selfs ontydige dood. Daarom, beste vriende, oordink dus asseblief hierdie wette. Indien ons waarlik die “lesse wil leer” wat God wil hê ons moet leer, sal Hy dit eer en Hy sal ons baie meer eer wanneer ons na Hom kom vir genesing, mits ons opreg ons deel probeer doen het!

Onthou ook die negatiewe uitwerking van “na die dokter hardloop” met elke verkoue of griep of enige ander probleem wat opduik. God wil hê dat ons die “feite moet kry” en wysheid aan die dag lê om behoorlike mediese sorg te bekom. ’n Onlangse uitgawe van die nuusbrief Public Citizen het ’n artikel gepubliseer deur ’n mediese dokter, Sidney Wolfe. ’n Paar punte wat hy uitgelig het, kan help om ons die regte perspektief te gee:

  • “70% van dokters wat Medicare pasiënte behandel, het ’n eksamen gedruip wat hul kennis van voorskrifte aan ouer volwassenes getoets het.

  • Die meerderheid van geneeshere wat gevra is om dié eksamen af te lê, het geweier en baie het aangevoer dat dit is omdat hulle ‘’n gebrek aan belangstelling’ in die onderwerp het.

  • Tussen 40 en 50% van middels wat buite die hospitaal aan ouer volwassenes voorgeskryf word, word oormatig gebruik.

  • 48% van pasiënte wat drie of meer middels neem, is middels gegee wat een of meer skadelike wisselwerking met ander middels toon.

  • Die feit is dat daar elke dag gans te veel slagoffers is van siektes wat deur die gebruik van medikasie meegebring word.

  • Elke minuut word twee mense gehospitaliseer vir negatiewe reaksies op medikasie (1,500,000 per jaar) en elke vyf minute en 15 sekondes is daar ’n sterfte (100,000 per jaar). Elke drie en ’n kwart minuut ly iemand aan geheueverlies wat deur medikasie veroorsaak of vererger word (163,000 per jaar). Dit is gelukkig omkeerbaar indien jy weet watter middel die oorsaak was”.

Daarby berig die Los Angeles Times van 30 November 1999: “‘Basiese foute’ in die VSA se gesondheidstelsel veroorsaak mediese foute wat aanleiding gee tot soveel soos 98,000 sterftes per jaar, sê ’n regeringsgeborgde paneel Maandag. Lede vra ook vir daadwerklike veranderings om pasiënte te beskerm .... Tussen 44,000 en 98,000 pasiënte sterf jaarliks as gevolg van mediese foute – meer as wat van motorongelukke, borskanker of VIGS sterf, aldus die verslag. Die jaarlikse koste van voorkombare beserings word op tussen $17 biljoen en $29 biljoen geraam”.

Veel meer aanhalings en statistieke in hierdie verband kon hier ingesluit word, maar dit behoort u ’n aanduiding te gee. U moet versigtig wees – net soos baie dokters is wanneer dit kom by hul eie gesinne – en nie net toelaat dat sommer enige dokter ’n “nuwe” of dramatiese behandeling vir u liggaam voorskryf nie!

Soos ons al vir baie jare onderrig, rus die onus op u om die besluit te neem wanneer en hoeveel mediese hulp om te versoek wanneer u siek of beseer is. Trouens, baie mediese praktisyns besef dat die mees doeltreffende gebruik van hul vaardighede die herstel van liggaamlike besering behels. Wanneer u deur ’n trok getref word, gebreekte bene of gekneusde organe het, kan mediese dokters u dikwels op dramatiese wyse help! Dit moet waardeer word en ons moet die eer gee waar dit toekom. Oor die algemeen moet u egter baie versigtig wees watter tipe behandeling u ontvang. U moet ook wysheid aan die dag lê, selfs wanneer u “natuurlike” produkte soos kruie en vitamiene gebruik in ’n poging om siektes of kwale te “genees”. Sommige van hierdie produkte kan die liggaam help om homself te genees van liggaamlike swakhede. Tog is slegs God die uiteindelike ware Geneesheer.

Daarom, soos elke jaar verbygaan, bid ek dat ons almal as ’n Kerk al hoe nader aan God sal kom, met ons verstand al hoe meer in lyn met die gedagtes wat in die Bybel uitgespreek word en leer om “met God te wandel” in elke aspek van ons lewens – nie net wat genesing betref nie. Ons moet aan God toon dat ons in elke opsig probeer om “daardie dinge te doen” wat Hom behaag. Wanneer ons dan ons bes gedoen en behoorlike raad ingewin het – en ons deel gedoen het – kan ons na God kyk om bo en behalwe wat mense kan doen, in te gryp om ons te verlos of te genees. Hy is ons Vader. Hy vertel ons: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Hebreërs 13:5).

Namate ons die einde van hierdie tyd nader, moet ons ons balans vind betreffende gesondheid en genesing! Laat ons alles in ons vermoë doen om “God te verheerlik” in ons liggame en in die wyse waarop ons siekte en besering hanteer. Laat ons leer om al die feite te bekom en ware wysheid aan die dag te lê. Laat ons egter nooit die noodsaaklike benadering uit die oog verloor dat ons God van ganser harte moet vertrou en bowenal na Hom moet kyk vir Sy hulp en ingryping nie.

Verder is dit ook baie belangrik dat ons mekaar nie oordeel in hoe ons reageer wanneer ons deur siekte of beserings getref word nie. Ons ken nie die presiese besonderhede van die ander persoon se liggaam, se “hart”, se benadering tot God of hoe hy dink nie. Daarom kan ons niemand in hierdie saak na regte oordeel nie. Jesus Christus beveel: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word. En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?” (Mattheus 7:1-3).

Onthou asseblief, vriende, dat enigeen van ons wat “sy broeder (of suster) [hard] oordeel” oor die gebruik van medikasie, operasies of enige ander manier van behandeling, groot gevaar loop om ’n selfs groter fout te maak. Ons “oordeel” – en die gesindhede van ydelheid en hovaardigheid wat dit kan uitlok – kan veel erger wees as wanneer ’n opregte persoon in God se Kerk uitreik vir hulp wanneer hy ernstig siek of sy lewe in gevaar is! Jesus Self sê: “Maar as julle geweet het wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie, sou julle die onskuldiges nie veroordeel het nie” (Mattheus 12:7).

U kan meer oor hierdie onderwerp lees in my boekie getitled, Genees God VANDAG? Wanneer medelidmate siek is, is ons hooftaak om vurig te bid dat God hulle sal help om hul deel na behore te doen en dat Hy bo en behalwe wat mense kan doen, hulle in Sy tyd en op Sy manier, bonatuurlik sal genees. Hierdie benadering van wysheid en genade moet die grondslag vorm vir al ons gedagtes en optrede met betrekking tot gesondheid en goddelike genesing.