Britse ingryping in die geskiedenis van die Joodse mense, gaan ’n eeu later steeds voort om ’n merkbare invloed op die wêreld te hê.
Die Balfour Deklarasie van 2 November 1917 het die belangrikste oorsaak vir een van die groot keerpunte in die wêreldgeskiedenis geword – die terugkeer van die Jode na ’n nasionale tuisland ná byna 2,000 jaar van ballingskap.
Kom ons neem tyd op hierdie 100-jarige herdenking om te dink hoe en waarom hierdie baanbrekende Deklarasie tot stand gekom het en veral belangrik, uitvind hoe dit verband hou met die vervulling van Bybelse profesie.
Lord Arthur Balfour was minister van buitelandse sake in David Lloyd George se Britse oorlogskabinet. Albei was toegewyde Sioniste, wat die oortuigings van Chaim Weizmann, die Sioniste se belangrikste stemwerwer, weerspieël het. Balfour was daarvan oortuig dat ’n tuisland vir die Jode in die omgewing wat oor die algemeen “Palestina” genoem word, om verskeie redes wenslik is en in die beste belang sou wees van die Jode sowel as Brittanje.
Wat dryf Sionisme?
Theodor Herzl was ’n Hongaars-Joodse joernalis wat daarvan oortuig was dat anti-Semitisme nie oorwin of genees kan word nie. Dit kan net vermy word en daarom was die enigste oplossing dat die Jode hulle eie staat het. Theodor Herzl het in 1896 sy invloedryke boek, The State of the Jews, gepubliseer en hy het die Wêreld Sionistiese Organisasie saam met Chaim Weizmann gestig wat met verloop van tyd nog meer invloedryk geraak het. Die impak van die Eerste Wêreldoorlog het grootliks die bespreking oor ’n Joodse tuisland bespoedig en meer dringendheid daaraan verleen.
In Junie 1917 vra Balfour vir Lord Walter Rothschild, wat slegs in naam die hoof van die Britse Joodse gemeenskap was, asook vir Chaim Weizmann, saam met sy Sionistiese kollegas, om die eerste konsep van so ’n Deklarasie vir die kabinet voor te berei. Dit het ’n paar maande geneem om verskeie menings in te win en ’n hele paar versigtig bewoorde konsepte saam te stel voordat ’n finale Deklarasie uitgereik en daarvolgens ooreengekom kon word. Hier is die presiese bewoording, vervat in ’n brief van Balfour aan Lord Rothschild:
Sy Majesteit se regering is ten gunste van die vestiging van ’n nasionale tuiste vir die Joodse volk in Palestina en sal hulle bes doen om dit moontlik te maak om hierdie doelwit te bereik, terwyl dit duidelik verstaan word dat niks gedoen sal word wat die burgerlike en godsdienstige regte van bestaande nie-Joodse gemeenskappe in Palestina mag benadeel nie, ook nie die regte en politieke status wat deur Jode geniet word in enige ander land nie.
Ongelukkig het die Deklarasie nie die politieke regte van bestaande (Arabiese) gemeenskappe in die gebied aangespreek nie – ’n noodlottige versuim wat sou bydra tot dekades van intense konflik in die Midde-Ooste, wat tot vandag toe nog voortduur. Die soeke na blywende vrede gaan voort. Die plaaslike bevolking van die Heilige Landstreek is nooit oor enige van die konsepte geraadpleeg nie; destyds was “Palestina” skaars as ’n afsonderlike entiteit onderskeibaar en het hoofsaaklik uit ’n ylbevolkte en verwaarloosde gebied van laer Sirië bestaan.
Reaksie op die Deklarasie was onvermydelik met gemengde gevoelens, maar dit het sterk Britse, Amerikaanse en Franse steun geniet. Die reaksie uit die Midde-Ooste was aanvanklik gedemp. Op ’n stadium het dit gelyk asof Brittanje, vasgevang tussen botsende politieke noodsaaklikhede, die Arabiere se kant kies wie gestreef het na hulle eie tuisland in dieselfde gebied, in ruil daarvoor om die Ottomaanse Turke teen te staan. Die verhoog was voorberei vir ’n groot botsing van belange. Woedende opposisie het onverbiddelik opgebou namate Arabiese nasionalisme vinnig ontwikkel het naas ’n ontluikende Joodse nasionalisme.
Die 1920 San Remo Konferensie in Italië en die 1922 ooreenkoms van die Volkerebond het die konsep bevestig van ’n Britse mandaat om “Palestina” vanaf September 1923 te regeer in ooreenstemming met die Balfour Deklerasie. Hierdie mandaat het tot 14 Mei 1948 geduur toe die skepping van die staat Israel geproklameer is waarin die belangrikheid van die Balfour Deklarasie op daardie tydstip erken is en Chaim Weizmann as die eerste president van Israel aangestel is.
Dit is redelik onbekend dat Amerika sy eie weergawe van die Balfour Deklarasie in September 1922 saamgestel het, genaamd die Palestine Lodge-Fish Resolution. Dit het baie soortgelyke bewoording as Balfour gebruik, maar het die sinsnede ingesluit “... en dat die heilige plekke en godsdienstige geboue en plekke in Palestina voldoende beskerm sal word” (sien byvoorbeeld The American Balfour Declaration deur Paul Azous).
Israel en Bybelprofesie
Een belangrike element ter ondersteuning van die Balfour Deklarasie het gekom van wat genoem word Christelike Sionisme – diegene wat glo dat daar voorspel is dat die Jode voor die Wederkoms van Jesus Christus na die Heilige Land sal terugkeer en dat ’n Joodse terugkeer na die land van Israel ondersteun behoort te word as ’n manier om sulke profesieë te vervul. Hierdie denkwyse kom oorspronklik van die Protestantse Hervorming. Die Bybelse waarheid is egter dat die Jode wat na die Heilige Land sal terugkeer, op ’n baie grootskaalse wyse sal plaasvind.
God het dit baie duidelik gemaak aan die twaalf stamme van Israel dat indien hulle aan die bepalings van Sy verbond in Sinai ongehoorsaam sou wees, hulle almal van die beloofde land verwyder sou word (sien Deuteronómium 28:58-64; 29:24-28). Oor die eeue heen is dit wel wat gebeur het.
God is altyd getrou! Sy getrouheid sal uitbrei na al twaalf stamme van Israel, nie net na die twee, Juda en Benjamin (en hulle deel van die Leviete) wat deur die Jode verteenwoordig word nie. Hy het beloof dat al twaalf stamme wat oor die wêreld verstrooi is, na hulle lande sal terugkeer en weer saamgestel sal word as een enkele volk onder God en dat aan hulle ’n gehoorsame hart gegee sal word om selfs groter seëninge as voorheen te ontvang (sien byvoorbeeld Deuteronómium 30:1-5; Jeremia 31:31-34). Die vervulling van hierdie profesieë is nog in die toekoms en hou verband met Christus se Wederkoms (sien ook Eségiël 37:15-28).
Ondersteun die Bybel dus die idee van ’n Joodse terugkeer na die Heilige Land voor die Wederkoms van Jesus Christus? In die beroemde Olyfbergprofesie van Matthéüs 24, wat tydsgewys net voor Christus se Wederkoms sal plaasvind (vers 3), is daar ’n raaiselagtige verwysing na “die ‘gruwel van die verwoesting’ waarvan gespreek is deur die profeet Daniël” (vers 15). Daniël skryf op twee plekke van ’n gruwel van die verwoesting (Daniël 11:29-32; 12:7-13) wat verband hou met die beëindiging van die daaglikse offerande.
Vir dít om vandag te gebeur, moet eers met die daaglikse offers begin word! Wie gaan met sulke offers begin? Heel waarskynlik is dit dieselfde mense wie se historiese werk dit was om dit uit te voer – die Levitiese priesters wat in die Huis van Juda gevind kan word en waarvan sommige nou teruggekeer het na hulle eie nasie.
Dit is maar een van die invloedrykste gebeure wat eendag die vinnige vervulling van eindtydse profesieë sal aandui, wat die einde van hierdie wêreld en die begin van ’n beter wêreld onder die verheerlikte Jesus Christus sal inlui. Indien u meer hieroor wil weet, bestel gerus ’n eksemplaar van ons fassinerende en gedetailleerde gratis boekie Die Midde-Ooste in Profesie, wat ook op ons webwerf beskikbaar is.