Baie mense het al erken dat Kersfees nie ’n Christelike oorsprong het nie. Bitter min van hulle is egter bereid om na te dink daaroor wat die implikasies daarvan is om ’n onchristelike vakansiedag in die Naam van Christus te vier nie.

Baie mense het al die vraag gevra, maar min van hulle stel werklik belang in die antwoord ...

Honderde miljoene mense regoor die wêreld beskou Kersfees as een van die heiligste dae – ’n tyd wanneer hulle die geboorte van Jesus Christus, die beloofde Verlosser van die wêreld, gedenk. Baie mense woon in Desember godsdienstige geleenthede by waar hulle na gewilde vertellings luister en herinner word aan die geboorte van Jesus wat hulle op Kersdag vier.

Inderdaad, baie van ons het aangename herinnerings wat verband hou met die Kersseisoen. Ons stede en selfs individuele huise word dikwels versier om aan die vakansieseisoen te herinner te word – soos Kersbome wat met silwer en goud versier is, asook takkies of kranse van steekpalm – alles terwyl daar in hulle huise Joelblokke gebrand word en almal warm hou teen die koue weer daar buite, ten minste in die Noordelike Halfrond.

Baie mense het geskenke gekoop of gemaak om vir hulle vriende en familielede te gee, wat soms lang afstande sal reis om net vir ’n paar aande te herenig, Kersete saam te geniet, geskenke uit te ruil en vrolik te wees. Baie mense sal ’n soentjie van iemand steel wat onder ’n takkie mistel staan. Die vorige aand sal daar aan die kinders vertel word dat Kersvader of “St. Nick” hulle geskenke van die Noordpool af vir hulle bring, terwyl die grootmense vir mekaar knipoog. In die oggend sal kinders dit geniet om hulle geskenke oop te maak om te sien wat “Kersvader” vir hulle gebring het. Sommige gesinne sal godsdienstige byeenkomste bywoon om ’n boodskap te hoor wat verband hou met Jesus se geboorte.

Dit is ook vir baie mense ’n spanningsvolle tyd van die jaar. Gesinsbyeenkomste kan ’n bron van spanning word – nie vreugde nie. Om geskenke te koop kan na ’n lastige taak of verpligting lyk – veral wanneer die kredietkaartrekening die skade van ons pogings tot vrolikheid openbaar. Baie mense betreur die geldverkwisting wat so baie van die Kersseisoen oorheers en voel dit verdring wat hulle glo die “regte” betekenis van Kersfees is – dat God Sy Seun gestuur het om die Verlosser van die mensdom te wees. Ten spyte hiervan, troos die meeste mense wat hulleself “Christene” noem, hulleself dikwels met positiewe gevoelens en herinnerings wat hulle met Kersfees assosieer.

Op die ou einde is te veel mense nie bereid om die waarheid in die oë te kyk en te ondersoek of Kersfees wel onchristelik is nie. Is dit eintlik ’n heidense vakansiedag? Ons weet dat baie godsdienste hulle vreugdevolle geleenthede met familie, musiek, sang en tradisie het. Sal ons dus die moed hê om eerlik na ons eie gekoesterde seisoen te kyk? Jesus het ons geleer om “eers die Koninkryk van God en sy geregtigheid te soek” (Matthéüs 6:33). Dit is waar, selfs wanneer ons soektog ons by moeilike gevolgtrekkings bring – Christenskap is immers nie vir lafaards nie.

Waarheid maak saak

Wanneer ons na die waarheid soek met ’n oop gemoed, moet ons erken dat selfs ons aangenaamste herinnerings nie ónwaarheid in wáárheid kan verander nie en die waarheid is belangrik.

Johannes 4 vertel ’n bekende weergawe van Jesus se gesprek met ’n Samaritaanse vrou by Jakob se put. Sy het met Hom gepraat oor die Samaritane se tradisies oor die aanbidding van die God van die Bybel – tradisies wat verskil het van die opdragte wat God in die Bybel gee oor hoe Hy aanbid wil word. Hulle dade van opregte toewyding was gebaseer op valshede en halwe waarhede. Wat het Jesus hiervan gesê? Het Hy gesê: “Wel, dit is reg so – solank jy opreg is, is jou aanbidding ewe aanvaarbaar voor God”?

Nee, Hy het nie. Jesus het eerder die noodsaaklikheid beklemtoon dat aanbidding op die waarheid gegrond moet wees, nie net in ons bedoeling nie en vir haar gesê: “Maar daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:23-24).

Ons moet nie net begeer om God opreg te aanbid nie – nie net met goeie bedoelings nie – maar ook om Hom in waarheid te aanbid, want die waarheid maak saak.

Heidense verlede

Kom ons vra dus opnuut en eerlik: Is Kersfees ’n heidense vakansiedag?

Indien ons hierdie vraag beantwoord op grond van die oorsprong van die dag, is die antwoord beslis “Ja”, want die oorsprong van Kersfees as ’n vakansiedag – die tydsberekening, die tradisies en die antieke gebruike – is onmiskenbaar heidens.

Kom ons dink ’n oomblik hieroor na: Wat beteken dit om heidens te wees? Mense gebruik immers vandag daardie woord taamlik onverskillig. Trouens, daar is ’n toenemende beweging van “neo-heidendom”, wat dr. Douglas S. Winnail breedvoerig bespreek het in die Wêreld van Môre-tydskrifartikel, “Die totstandkoming van moderne heidendom” (November-Desember 2020); wat u aanlyn kan lees by wvm.co.za.

Soos Merriam-Webster.com dit definieer, beteken “heidens” in ons konteks, “van, verband hou met, of die eienskappe het van heidene” en wat aan ons vertel word, “aanhangers is van ’n politeïstiese godsdiens (soos in antieke Rome)”. In wese verteenwoordig heidendom daardie godsdienste en kultiese praktyke waarvan die oorsprong buite die drie godsdienste is wat tradisioneel met die patriarg Abraham geassosieer word, wat Judaïsme, Islam en Christendom is.

Aan die hand van daardie definisie van “heidens”, kan daar geen twyfel bestaan dat Kersfees en die meeste van sy tradisies deur en deur ’n heidense oorsprong het nie. Om ’n Kersboom te versier, steekpalms op te hang, Kersliedere te sing, ’n takkie mistel strategies te plaas – selfs om byeen te kom met die doel om geskenke uit te ruil – al hierdie gebruike se oorsprong is geleë in heidense gebruike en aanbiddingstradisies, waarvan baie daarvan lank voor die Christendom reeds in gebruik was.

Mistel word byvoorbeeld geassosieer met die Romeinse vrugbaarheidsrituele en Frigga, die Noorse godin van liefde en wellus. Die tydsberekening van Kersfees stem nie ooreen met die werklike tydsberekening van Jesus se geboorte nie – wat waarskynlik in die herfs was, nie in die winter nie, soos ons gratis studiegids Is Kersfees Christelik? in detail verduidelik – maar stem ooreen met die nakoming van die heidense Romeinse Saturnalia en sonaanbidding. Britannica merk die volgende op:

“In die 3de eeu het die Romeinse Ryk, wat destyds nie die Christendom aangeneem het nie, die hergeboorte van die Onoorwonne Son (Sol Invictus) op 25 Desember gevier. Hierdie vakansie het nie net die terugkeer van langer dae na die wintersonstilstand aangedui nie, maar het ook gevolg op die gewilde Romeinse fees met die naam Saturnalia (waartydens mense feesgevier het en geskenke uitgeruil het). Dit was ook die verjaardag van die Indo-Europese god Mithra, ’n god van lig en lojaliteit wie se kultus destyds gewild begin raak het onder Romeinse soldate” (“Why Is Christmas in December?Britannica.com).

Wat die gewilde Kersboom betref, is dit ook ’n tradisie van buite-Bybelse oorsprong én een met ’n antieke heidense oorsprong. Trouens, ons kan daardie oorsprong sien wat in die Skrif veroordeel word – kyk na hierdie gedeelte uit Jeremía en hou hierdie gunsteling Kersfeestradisie in gedagte:

“So sê die HERE: Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie, en skrik nie vir die tekens van die hemel, omdat die heidene daarvoor skrik nie. Want die insettinge van die volke is nietigheid; want ’n boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van ’n ambagsman met die byl. Hulle versier dit met silwer en goud, hulle maak dit vas met spykers en hamers, dat dit nie waggel nie. Soos ’n voëlverskrikker in ’n komkommertuin is hulle: hulle kan nie praat nie; ja, hulle moet gedra word, want hulle kan nie loop nie. Wees nie bevrees vir hulle nie, want hulle kan geen kwaad doen nie, maar daar is ook geen goeddoen by hulle nie” (Jeremia 10:2-5).

Ons kommentaar elders in die tydskrif verduidelik in baie meer besonderhede hierdie gewilde tradisie. Ongeag of dit nou ’n beeld van Baäl vir heidense aanbidding vorm of ’n “Kersboom” versier onder die voorwendsel daarvan om God te eer, die beginsel is dieselfde. Die lys van hoe hierdie antieke, heidense gebruike verband hou met verskeie Kersfeestradisies is lank en duidelik. Trouens, die heidense oorsprong van byna al die mees algemene en mees geëerde Kersfeestradisies word as feite van die geskiedenis erken. Selfs die meeste hoofstroom Christene betwis nie die heidense oorsprong van Kersfeespraktyke en tydsberekening nie. U hoef nie ons woord daarvoor te neem nie – enige ensiklopedie of betroubare geskiedkundige bron sal dit as ’n feit bevestig.

In sy beroemde 1788-werk, A Classical Dictionary, het die geleerde John Lemprière byvoorbeeld sommige van die antieke, voor-Christelike gebruike van die heidense vakansie wat Saturnalia genoem is, opgesom: “Die viering was merkwaardig vir die vryheid wat universeel geheers het. Die slawe was toegelaat om hulle meesters belaglik te maak ... Dit was ’n gewoonte vir vriende om geskenke aan mekaar te gee, alle vyandighede is gestaak, geen misdadigers is tereggestel nie, skole is gesluit, oorlog is nooit verklaar nie, maar alles was vrolikheid, oproerigheid en losbandigheid” (“Saturnalia”).

Klink enigiets daarvan bekend? Indien ons eerlik met onsself is, sal ons sekerlik saamstem dat dit wel so is – heel moontlik effens ongemaklik.

Heidendom aanwesig

Dit is duidelik dat Kersfees en die tradisies en gebruike daarvan nie bloot verband hou met heidense gebruike nie – dit is diep gevestig in heidense oorsprong. In daardie sin is Kersfees inderdaad ’n heidense vakansiedag.

Tog wonder sommige mense dalk of dit regtig so is? Baie mense neem aan dat hoewel verskeie aktiwiteite, vierings, tradisies en simbole in die heidendom ontstaan het, hulle in ’n sekere sin deur die Christendom “gedoop” is. Terwyl die steekpalm en sy rooi bessies voorheen heidense betekenis gehad het – ’n betekenis wat te vulgêr is om in ’n gesinstydskrif te beskryf – kan ons dit nou gebruik om Christus se doringkroon en die rooi bloed wat Hy vir ons sondes vergiet het, te simboliseer? Kan ons dan aflei dat Kersfees ’n heidense vakansiedag was, maar nie meer is nie?

Mense kan sekerlik gedoop word en hulle lewens kan verander. Kan heidense aanbiddingspraktyke dieselfde bekering ondergaan? Diegene wat Kersfees vier glo immers nie hulle aanbid die songod, Saturnus, Mithras, Baal of Frigga nie. Die meeste belydende Christene probeer opreg om die God van die Bybel te aanbid – spesifiek die Jesus Christus van die Bybel. Hulle mag dalk vra: Is Christene nie vry om God en Jesus te aanbid soos ons wil nie? Maak die heidense oorsprong van Kersfees regtig saak?

Afgesien van sentiment, is die antwoord eenvoudig: Indien ons begeer om te aanbid op ’n manier wat vir God die Vader en Jesus Christus welgevallig is – nie net wat vir ons aanvaarbaar is nie – dan ja, die heidense oorsprong van Kersfees maak baie saak.

Weereens, dit is nie ’n kwessie van opinie, gelukkige herinnerings of persoonlike gevoelens nie, maar ’n kwessie van waarheid. Indien ons die waarheid wil weet oor hoe God die Vader en Jesus Christus hierdie dinge beskou, moet ons na die Bybel verwys, waar Hulle presies vir ons geopenbaar het wat Hulle dink. Om die waarheid te sê, Hulle gee vir ons daardie Bybel om ons te help om te leer om soos Hulle te dink.

Wanneer ons wel die Skrifte lees, word die waarheid van hierdie saak op ’n absoluut duidelike wyse openbaar.

Wanneer daar byvoorbeeld van heidense volke en heidense tradisies en gebruike gepraat is, het God die Israeliete baie duidelik beveel “dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die HERE jou God nie” (Deuteronómium 12:30-31).

Dit is belangrik dat ons insien dat die Bybel nie net die aanbidding van afgode of vreemde gode verbied nie. God maak dit duidelik dat Hy nie wil hê dat Sy volgelinge Hom op heidense maniere aanbid nie. Dit maak geen verskil indien ons sê ons aanbid nie Mithras, Saturnus of die son nie. God sê duidelik dat ons Hom nie “op daardie manier” aanbid – deur heidense tradisies te gebruik nie.

U het waarskynlik ’n baie soortgelyke opdrag in Jeremia 10 opgemerk, waarin God duidelik sê: “Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie” (vers 2). Met “heidene” verwys God bloot na volke wat nie van die nasie Israel is nie. Die Bybelse opdragte van God laat eenvoudig geen ruimte vir ons om tot die gevolgtrekking te kom dat Hy aanbidding aanvaar deur van ander mense se praktyke gebruik te maak nie – selfs al is dit tot Hom gerig.

Wat het Jesus gesê?

Dit is egter die Ou Testament en sommige mense mag dalk redeneer dat Jesus dit alles kom verander het. Tog weereens, as ons ons na Sy werklike leerstellings wend – wat vir alle tye in my Bybel en in u Bybel opgeteken is – vind ons dat dit glad nie is hoe Hy oor hierdie dinge dink nie.

Trouens, Jesus het juis hierdie punt voor Sy dissipels en die Joodse leiers van Sy tyd aangespreek. Die eerste-eeuse Fariseërs het geglo dat hulle tradisies op die Skrif gebaseer is en dat hierdie tradisies God dien. Tog het Jesus vir hulle gesê dat hulle sogenaamde vrome tradisies eintlik God se opdragte oortree en dit veroordeel moes word:

“En Hy antwoord en sê vir hulle: Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas: die wassery van kanne en bekers, en ander dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie. En Hy sê vir hulle: Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou” (Markus 7:6-9).

Om voort te gaan met die tradisie om Kersfees te vier – die boom, die geskenke, selfs die datum – moet mens die Gebod van God verwerp. Hy sê duidelik dat Hy nie deur middel van heidense gebruike aanbid wil word nie. Wanneer ons Kersfees vier word vereis dat ons God se begeertes en uitdruklike opdragte tersyde stel. Jesus Christus, die Seun van God en die grondlegger van die Christendom, veroordeel dit in geen onsekere terme nie.

Die Bybel sê dat God nie met heidense tradisies aanbid wil word nie en Jesus noem ons skynheilig indien ons God se opdragte tersyde stel om Hom op ons eie maniere te aanbid. Die idee om deur Jesus Christus, die Seun van God, as ’n huigelaar bestempel te word, behoort dit koue rillings teen die ruggraat af te stuur vir enigeen wat hulleself Christene noem. Byna 2,000 jaar gelede het Jesus diegene veroordeel wat dit sou waag om Hom “Here” te noem, terwyl hulle Sy opdragte geïgnoreer het en hulle uitgedaag deur te vra: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46).

Die bewyse is duidelik: Kersfees is ’n heidense vakansiedag, God wil nie aanbid word deur die gebruik van heidense tradisies nie en Jesus Christus veroordeel diegene as skynheilig wat God se opdragte ignoreer om tradisies van enige aard te onderhou.

’n Beter, meer betekenisvolle manier

Waar laat dit ons dus? Is u een van die min mense wie se harte bereid is om God te volg waar Hy en Sy Woord u ookal lei? Indien wel, weet u dat deur Sy leiding te volg en Sy bevele te gehoorsaam, nooit lei na ’n slegter plek nie – net na ’n beter plek.

Trouens, baie duisende individue regoor die wêreld het die viering van Kersfees prysgegee en eerder die Heilige Dae aangeneem wat duidelik deur die Bybel geopenbaar word soos deur God ontwerp en geïnspireer is om te onderhou vir al Sy mense. Dit is in Sy Woord opgeteken as dae wat deur Hom afgesonder is vir aanbidding, lofprysing en onderrig. Diegene wat Sabbat- en Heilige Dag-dienste bywoon saam met die Lewende Kerk van God, wat die Wêreld van Môre-tydskrif borg, sal nooit – nie vir al die geld of gerief in die wêreld – die onderhouding van daardie dae prysgee in ruil vir die vals tradisies van ’n heidense, mensgemaakte Kersfees nie.

Om Kersfees prys te gee, beteken nie om vreugde, betekenis, warmte en samesyn te laat vaar nie. Inteendeel – wanneer ons ons distansieer van bedrieglike aanloklike tradisies en gebruike wat die Bybel fundamenteel weerspreek om die ware Jesus Christus te volg, kan ons die groot vreugde, diepe betekenis en Christelike samesyn ervaar van diegene wat aanbid soos wat Hy amper 2,000 jaar gelede vir die vrou by die put gesê het – nie net in gees nie, maar in gees en in waarheid.