Lei God werklik die verloop van die geskiedenis? Min mense besef vandag dat Moses, die uittog uit Egipte en die Israelitiese konings (Dawid en Salomo) deel van een van die belangrikste keerpunte in die geskiedenis van die wêreld was. Daardie keerpunt het ander magtige nasies oor ’n tydperk van 500 jaar beïnvloed (1400 v.C. tot 900 v.C.). Die “sneller” vir hierdie geskiedkundige verandering was ’n skouspelagtige reeks gebeure wat rondom 1200 v.C. plaasgevind het. Daardie dramatiese gebeure bied ’n merkwaardige bevestiging dat God die loop van menslike geskiedenis lei, net soos die Bybel sê: “Hy maak nasies groot en laat hulle omkom” (Job 12:23) en “Hy sit konings af en stel konings aan” (Daniël 2:21).

Die einde van ’n tydperk

Die ineenstorting van die Bronstydperk kulture rondom 1200 v.C. is al as “die ergste ramp in die antieke geskiedenis beskryf, nog meer rampspoedig as die ineenstorting van die Wes-Romeinse Ryk” (Robert Drews, The End of the Bronze Age, bl. 1). Dit was ook “deurslaggewend in die geskiedenis” en “’n keerpunt vir die antieke wêreld” genoem (Eric H. Cline, 1177 B.C.; The Year Civilization Collapsed, bl. xv). Die Bronstydperk (3000 v.C. tot 1200 v.C.) was ’n periode tussen die Steentydperk en die Ystertydperk wat deur die wydverspreide gebruik van bronsgereedskap, wapens en instrumente gekenmerk was. Dit was ’n tydperk wat deur die begin van skrif (spykerskrif in Mesopotamië en beeldskrif in Egipte) gekenmerk is, die ontwikkeling van regskodes, verstedeliking, gesentraliseerde regerings, ryke, die bevordering van geleerdheid in wiskunde, sterrekunde en navigasie, asook verreikende handelsnetwerke op soek na bronne van tin en koper (om brons te maak) sowel as die verspreiding van vervaardigde produkte.

Die relatief bestendige wêreld wat die jare na die vloed van die Bronstydperk gekenmerk het, het na ’n paar dekades rondom 1200 v.C. ineengestort, nadat ’n reeks rampe in ’n “volmaakte storm” saamgeval het, wat die tekens van beskawing in die oostelike Mediterreense gebied uitgewis het. Argeologiese studies dui daarop dat “elke stad in die oostelike Mediterreense See-gebied tydens hierdie gewelddadige tydperk verwoes was, terwyl baie van hulle nooit weer bewoon is nie” (Drews, bl. 4). Soortgelyke vernietiging het in die suide van Griekeland en Klein-Asië plaasgevind. Oorsake van die ineenstorting sluit in: Klimaatsveranderings, droogtes, hongersnood, siektes, aardbewings, vulkaniese uitbarsting, interne opstande, die toenemende gebruik van yster en invalle deur die Seevolke wat die handelsroetes, ’n belangrike deel van hierdie onderling verbonde wêreld, ontwrig het.

Die skielike en gewelddadige einde van kulture in die Bronstydperk het die versplintering van ryke gekenmerk, asook ’n ernstige afname in geleerdheid en die ondergang van die eens dominante magte: Die Egiptenare, Hetiete en Trojane in Klein-Asië, asook die Minoërs en Miceens in Kreta en suidelike Griekeland, wat die Bronstydperk handelsroetes beheer het (sien Cline). Die ineenstorting van die Bronstydperk het egter ook die weg gebaan vir die ontstaan van “’n nuwe stel moondhede en ’n nuwe begin van nuwe beskawings, soos ... die Fenisiërs, Filistyne en Israeliete” (ibid., bll. 174-175). Die einde van die Bronstydperk was nogtans slegs een fase van hierdie belangrike keerpunt in die geskiedenis – daar was ’n ander fase wat ’n belangrike deel van God se oorhoofse plan vir die mensdom was.

Die opkoms van Israel

Volgens die Skrif het ’n aantal belangrike gebeurtenisse – Moses, die plae in Egipte, die uittog uit Egipte en die oorhandiging van die Wet op die berg Sinaï – ook teen die einde van die Bronstydperk plaasgevind, ongeveer 1400 v.C. Die ineenstorting van die Bronstydperk rondom 1200 v.C. het gedurende die tyd van die Rigters plaasgevind toe die twaalf stamme van Israel in die beloofde land van Palestina ingetrek het. Dit was ’n “tyd van anargie en omwenteling” (Rigters 21:25; Frank E. Gaebelein, red. The Expositor's Bible Commentary, Vol 3. Zondervan: 1992. bl. 506), net soos argeoloë dit gevind het. Egiptiese inskripsies openbaar dat die Shardana en Danuna (moontlik die Israelitiese stam van Dan), tussen die Seevolke was wat Palestina binnegeval het. Hulle was besny en het horinghelms gedra (Cline, bll. 1-8), baie soos die Deense Vikings wat in ’n latere tydperk uitgebeeld is. Cline gee te kenne dat “die Israeliete die verwoesting wat deur die Seevolke in Kanaän veroorsaak is, tot voordeel gebruik het deur in te beweeg en beheer van die streek oor te neem” want hulle sou “onder die groepe mense wees wat ’n nuwe wêreldorde sou uitmaak en uit die chaos te voorskyn kom wat die einde van die laat Bronstydperk was” (bll. 95-96).

Wanneer God die Israeliete uit slawerny in Egipte gered het en Sy Wet op die berg Sinaï aan hulle oorhandig het, het Hy hulle meegedeel: “As júlle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou sal julle my eiendom uit al die volke wees” (Exodus 19:5; Deuteronómium 7:6-7). God was van voorneme dat die Israeliete, met Sy Wette en Sy seën, bo heidense nasies rondom hulle sou uitstaan (Deuteronómium 4:1-8). Die goddelik geopenbaarde godsdiens van hierdie “uitverkore volk” het die monoteïstiese aanbidding van die Een Ware God ingesluit, Wette wat menslike offers verbied het asook kindermoord, hoerery, egbreuk, leuens, steel, moord en om vir vermaak dood te maak. Die Wette van God het die gesinseenheid beskerm en gelykheid voor die reg bevorder, individuele verantwoordelikheid, onderwys en opleiding, maatskaplike verantwoordelikheid en die belangrikheid van geduld, genade en nederigheid (sien World Perfect: The Jewish Impact on Civilization deur Ken Spiro).

Israel floreer

Na die ineenstorting van die Bronstydperk, met die verskyning van die profeet Samuel en konings Dawid en Salomo (ongeveer 1000 v.C.), het die nasie van Israel gegroei en floreer en die werklike vrugte van die onderhouding van God se Wette het vir ander nasies duidelik geword. Terwyl die koningin van Skeba (in die suide van Arabië) Salomo besoek het, was sy verbaas om sy wysheid, asook die vrede en voorspoed van sy koninkryk te sien (1 Konings 10:1-10). Deur die hand van God is hulle in die beloofde land gevestig en kon die uitverkore volk ’n voorbeeld wees van ’n beter lewenswyse aan hulle bure en die wêreld.

Die Israeliete het as ’n nasie in die daaropvolgende eeue nie getrou aan hulle verbond met God gebly nie. God is nou besig om baie ongelowiges as “geestelike Israel” te roep om Sy beloftes en seëninge te ontvang. Die invloed van Israel het egter bly bestaan. Nadat die Jode in 539 v.C. na Jerusalem teruggekeer het, het Esra en Nehemia hulle daarvoor beywer om die godsdiens van hulle Israelitiese voorouers in ere te herstel (Esra 7:1-10; Nehemia 8). Deur die pogings van geslagte Joodse skrifgeleerdes (Romeine 3:1-2), is die Wette van God bewaar om ’n groot invloed op die wette en waardes van die Westerse beskawing uit te oefen – wat daartoe gelei het dat John Adams, Amerika se tweede president, tot die slotsom gekom het: “Die Hebreërs het meer gedoen om die mensdom op te voed, as enige ander nasie” (Spiro, bl. 71).

Die ineenstorting van die Bronstydperk het geleentheid vir die Israeliete geskep om uit die chaos van verkrummelde ryke te tree om ’n belangrike rol as die “Uitverkore Volk” in een van die heel belangrikste keerpunte in die wêreldgeskiedenis te speel. Hierdie dramatiese gebeure illustreer ook hoe “die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil” (Daniël 4:25).