Europa het oor baie eeue heen herhaaldelik onder vernietigende oorloë gely. Koninkryke en bondgenootskappe van nasies het teen mekaar geveg om oorheersing. Vir meer as ’n duisend jaar het die Europese “Christendom” teen Moslem invallers geveg in plekke so uiteenlopend soos Spanje, Frankryk, Italië en Oostenryk.
Deur dit alles heen was die Duitse volke ongerieflik “vasgedruk” tussen twee groot moondhede: Rusland aan die Ooste en Frankryk aan die Weste. Moderne militêre historici skryf dikwels Duitsland se oorlogvoering en algemene ongemak met sy bure, ten minste gedeeltelik, toe aan sy gebrek aan geografiese sekerheid. By drie geleenthede, in moderne tye – in 1871, 1914 en 1939 – het ’n ambisieuse en aggressiewe Duitsland verkies om Frankryk eerste aan te val en sodoende ’n oorlog aan twee fronte af te weer.
Party strategiese denkers in Duitsland droom al lankal drome om Europa te domineer in ’n omstrede plan wat Mitteleuropa genoem word, maar het nog altyd in die militêre implementering daarvan gefaal. Die woord Mitteleuropa word gebruik as beide ’n plek en ’n idee. Geografies gesproke is dit die Duitsers se algemene gebied in sentraal Europa en gevolglik was dit ’n plan wat om en by 1915 vir die eerste keer voorgestel was vir Duitse oorheersing van die streek.
Is die Duitsers nou in ’n posisie om deur ekonomiese middele die oorheersing te verkry wat hulle nooit militêr kon behaal nie? ’n Groeiende getal analiste sê dat die aanneming van die euro as die algemene betaalmiddel vir Europa, hierdie resultaat onvermydelik maak. Dieselfde ekonomiese faktore wat Duitsland se ekonomie egter sterk gemaak het met betrekking tot sommige ander Europese lande, destabiliseer ook die Europese Unie finansieel. Wat lê voor vir die euro en die Europese Unie? Verder, watter perspektief gee die Bybel oor hierdie vinnig-ontwikkelende gebeure?
Die euro: Die band wat bind
Die euro was uitgedink as ’n middel om die veskillende nasies van Europa saam te bind in ’n ekonomiese unie wat die kontinent se voortdurende oorloë uitgediend sou maak. Die ekonomiese interafhanklikheid wat die euro voorsien, tesame met ’n gedeelde Europese mark, sou militêre botsings tussen die nasies voorkom. Vir die Franse was die euro ’n ideale manier om hul ou teenstander, Duitsland in toom te hou, omdat dit sou lei tot groter politieke eenheid.
Die lande wat die euro amptelik gebruik – 16 van die 27 lede van die Europese Unie – word die eurosone genoem. Hulle is: Oostenryk, België, Ciprus, Finland, Frankryk, Duitsland, Griekeland, Ierland, Italië, Luxemburg, Malta, die Nederlande, Portugal, Slowakye, Slowenië en Spanje. Belangrik, die Verenigde Koninkryk, Swede en Denemarke het nog nie besluit om oor te skakel na die euro nie en verkies om hul eie geldeenhede te behou. Daar is egter lede buite die eurosone wat die euro gebruik, insluitende Andorra, Kosovo, Montenegro, Monaco, San Marino en die Vatikaanstad. ’n Beraamde 327 miljoen Europeërs gebruik daagliks die euro. Terwyl die euro die wêreld se tweede grootste reserwegeldeenheid is (naas die dollar) het die euro in werklikheid sedert 2009 meer waarde in banknote en muntstukke in sirkulasie as die Amerikaanse dollar. Nadat dit in 1999 bekendgestel is, het die euro vinnig ’n mag geword om mee rekening te hou.
Binne die Europese Unie is party nasies ekonomies sterker as ander. Duitsland se geïndustrialiseerde produktiwiteit blink uit bo die meer landelike ekonomië van Spanje, Portugal en Griekeland. As gevolg van Duitsland se groter geïndustrialiseerdheid is Duitse werkers geneig om meer waarde per werksuur by te voeg. Onder die euro-geldeenheid regeringstelsel het Duitsland onvermydelik ’n uitvoer-gedrewe ekonomie geword en het groot surplusse opgehoop, relatief tot die ander EU lande.
“Duitse lone is sekerlik hoog, maar ’n hoër produktiwiteit beteken egter dat dit relatief goedkoper is om werkers te huur en produkte van hoë gehalte te vervaardig, selfs vergeleke met die tradisioneel laer-tarief Griekeland, Portugal of Spanje ... Dit beteken nie dat Duitse arbeid goedkoop is nie. Hulle lone en byvoordele vir vervaardiging is van die hoogste in Europa, omtrent €34 [$42 of R315] per uur ... Griekeland is maar die helfte daarvan en Portugal nog laer” (“Europe’s Stragglers Find Villian”, Wall Street Journal, 22 Maart 2010).
Die Duitse werkers en nyweraars het hul plek verdien.
Die Duitse werker word meer betaal maar lewer noemenswaardig meer waarde per uur as eweknieë in ander lande en verleen aan die algehele Duitse ekonomie ’n voordeel. Die Duitsers is bewus hiervan en streef daarna om dit te behou.
“Deur ’n deksel op die styging van arbeidskoste te hou, is Duitsland se uitvoere in staat om prysgewys te kompeteer, ten spyte van ’n hoë euro. Dit gebeur egter ten koste van markaandeel vir andere in die eurosone, is die mening van kritici. Terwyl Duitsland ’n handelsoorskot van €136 [± $167 of ± R1,586] miljard opgehoop het verlede jaar, het Spanje, Griekeland en Portugal taamlike groot handelsverliese ervaar ... Daar is drie maniere waarop lande hul produkte wêreldwyd aantreklik kan maak: Hou stygende arbeidskoste in toom; verhoog produktiwiteit; en devalueer die geldeenheid. Die laaste opsie is nie beskikbaar vir die eurosone nie, want daar is ’n enkele geldeenheid” (ibid.)
Die Duitse voordeel duur dus voort – in geen klein mate te wyte aan die euro.
Wees versigtig vir Grieke met verbandsverpligtinge
Griekeland stem lank reeds linksgesinde regerings in. Dit het uitgeloop op baie hoë belastingtekorte en massiewe staatslenings as gevolg van die land se swak ekonomie en die mildelike staatsbyvoordele. Die Griekse volk en Griekse politici het afhanklik geraak van hierdie stelsel en dit is uiters moeilik om dit te verander. Griekeland se skuldlas is egter nie volhoubaar nie. Die algehele staatskuld is meer as die land se jaarlikse opbrengs en dit groei nie net nie, maar die groei daarvan versnel. Die regering het nou die perk bereik waartoe krediteure bereid is om nuwe skuld te finansier en die herfinansiering van die land se ou skuld het moeilik en baie duur geword. Wanneer ander lande met hierdie probleem gekonfronteer was, het hulle hul geldeenheid gedevalueer en dit het hulle in staat gestel om hul skuld te bestuur. Die Grieke is egter binne die eurosone en hulle geldeenheid is die euro. Hulle kan dit nie na willekeur devalueer nie. Die moontlikheid van buitelandse wanbetaling deur Griekeland het skokgolwe deur die Europese Unie gestuur.
Dit is egter slegs die slegte nuus. Die slegste nuus is dat Griekeland se probleme net maar die eerste klein golf is van ’n tsunami van skuldprobleme wat gereed maak om oor die strande van die Europese Unie te breek. Vier ander Europese lande, elk met baie groter ekonomië, stuur ook af op dieselfde rotsagtige strande. Portugal, Italië, Ierland en Spanje – wat saam met Griekeland kollektief die PIIGS genoem word – het almal groot handelstekorte wat die limiete nader van wat gefinansier kan word. Hierdie nasies sal drasties moet besnoei in regeringslone en staatsbyvoordele indien hulle hul staatsuitgawes en tekorte wil beheer. Soos die Duitse Minister van Ekonomiese Sake, Ranier Bruederle, gesê het, party van die EU nasies het “bo hul middele geleef en hul mededingendheid verwaarloos” (ibid.).
“Baie Europese amptenare het hul kommer uitgespreek dat, sou Europa nie optree om Griekeland van wanbetaling te red nie, die gevaar ontstaan dat die land se probleme na ander Europese nasies sal oorspoel en sodoende die euro in gevaar stel” (“Greece Debt Crisis Seen Getting Worse”, Wall Street Journal, 20 April 2010). Hulle het spesifiek Spanje en Portugal in gedagte. ’n Griekse wanbetaling sal ’n skok wees. ’n Wanbetaling deur Spanje of ander nasies van die eurosone sal ’n katastrofe vir die euro wees – vroeg in Junie het die waarde van die euro reeds tot die laagste vlak in vier jaar getuimel, met verdere onsekerhede wat nog voorlê.
Ekonome het alreeds gesê dat die borgstaan-pakkette wat deur die Europese Unie en die Internasionale Monetêre Fonds aangebied word, genoeg mag wees om vir ’n tydjiedie verspreiding van Griekeland se probleme te voorkom, maar dit sal nie genoeg wees om soortgelyke – of baie erger – wanbetalings te voorkom wat die ander PIIGS-lande tot die randjie van ’n ekonomiese ramp sal bring nie. Oor dit alles doem Duitsland ook op as die ekonomiese kragreus wat dit alles beheer en voorwaardes stel vir ander nasies om van ekonomiese hulp gebruik te maak.
Ander Europese lande wil hê dat Duitsland sy binnelandse verbruik moet verhoog en sy swaarverdiende ekonomiese voordeel moet verminder. Frankryk het Duitsland se afhanklikheid op uitvoere gekritiseer as sou dit deels te blameer wees vir die huidige krisis. Duitsers het vies hierop gereageer. Duitsland se Kanselier Angela Merkel het kortaf gesê: “Duitsland sal nie die krag van sy uitvoere verbeur nie” (“Merkel Floats Option of Euro-Zone Expulsion”, Wall Street Journal, 18 Maart 2010).
Dit moet nog gesien word of die Griekse volk – en die politici – Duitse mikrobestuur van hul ekonomiese sake sal verduur. Selfs in die beste-geval scenario, kan korttermyn maatreëls soos die borgstaan aksies slegs korttermyn probleme aanspreek. Die moontlikheid is daar dat die EU en Duitsland dieselfde probleme weer, kort voor lank, sal moet aanspreek, vererger deur die probleme in Spanje, Portugal en Italië. Duitsland sal graag sy huidige invloed wil gebruik om langtermyn strukturele veranderings in die EU af te dwing, soos groter fiskale beheer oor lidlande. Duitsland sal op die korttermyn moet betaal, maar sal dit verruil vir langtermyn voordele.
Dit alles veroorsaak ’n groot politieke probleem vir die Duitse Kanselier Angela Merkel, omdat die Duitse belastingbetaler dit haat om borg te staan vir die Griekse werkers net sodat die Grieke vroeër kan aftree as die Duitsers. Kanselier Merkel sal uiteindelik aandring op verrykende veranderings in ruil vir Berlyn se goedhartigheid. Deesdae onderhandel Duitsland vanuit ’n magsposisie.
“Oproepe aan Duitsland om te ‘herbalanseer’ het toegeneem – om meer van sukkelende Europese bure te koop sodat hulle meer geld tuis kan hou. Duitse amptenare, insluitende Minister van Finansies Wolfgang Schäuble, was onwrikbaar – dit is beter om Europa se ‘dryfkrag’ te wees as sy oop-beursie weldoener” (“Smaller euro nations trail Germany’s ‘locomotive,’” Washington Post, 2 Junie 2010). Wat beteken dit in praktiese terme? “Sonder ’n nasionale geldeenheid, ontbreek dit Griekeland, sowel as ander skuld-belaaide ekonomië soos Spanje, aan ’n belangrike middel – die vermoë om hul geldeenheid te devalueer en hul goedere dus goedkoper en meer mededingend te maak. Duitsland word gesien as die keersy van daardie vergelyking – die industriële kragreus wat voordeel trek deur geld te trek uit Europese lande wat vasgevang is in die wentelbaan van die algemene geldeenheid” (ibid.).
Die dae van goedkoop krediet en oormatige spandering is verby vir die PIIGS-lande. Duitsland manoeuvre vanuit ’n posisie van mag en, na gelang van tyd, sal hulle moontlik hul sin kry in watter herstrukturering die EU ookal implementeer om opgewasse te wees teen ’n moontlike herhaling van die Griekse skuldkwessie.
Moet nooit ’n krisis vermors nie
Die Hudson Instituut se Irwin Stelzer het opgemerk: “Dit lyk of die Europese politici geleer het van hul eweknieë in die Obama administrasie. Rahm Emanuel, Barack Obama se hardvogtige stafhoof, het die geërfde wrak van die Amerikaanse ekonomie betrag en aan die President gesê: ‘U wil tog nie hê dat ’n ernstige krisis verlore moet gaan nie’. Niemand kan die Europese politici en hul burokrate daarvan beskuldig dat hulle die ernstige krisis wat vir die EU geskep is deur Griekse spandabelrigheid, verlore laat gaan het nie” (“Greek Problem Will Drive Integration”, Wall Street Journal, 19 April 2010).
Stelzer gaan voort: “Vir die voorstanders van groter Europese integrasie is Griekeland se krisis hul geleentheid om hul agenda ’n verdere hupstoot te gee as wat hulle gedroom het moontlik sou wees, as die Grieke nie hul boeke vervals het en op ’n leen-fuif gegaan het om die uitspattige lewenstyl van die immer groterwordende getal Griekse staatsamptenare te ondersteun nie”.
Stelzer wys daarop dat die Griekse krisis aan die voorstanders van hegter Europese integrasie ’n nuwe geleentheid gegee het om hul agenda te bevorder. Verseker het baie waarnemers nog altyd geweet dat ’n gemene geldeenheid en ’n enkele rentekoers vir die hele EU sou uitloop op probleme, by gebreke aan ’n verenigde fiskale beleid. Soos Stelzer egter opmerk: “So lank as wat die wêreld se ekonomië gefloreer het, was hierdie kinkel in die kabel van Europese integrasie van minder belang. Die Duitse uitvoermasjien het bly rol. Griekse verbruikers het bly invoer, geleen teen aantreklike koerse om vir die invoere te betaal, dus het dit gelyk of alles goed gaan ... maar dit het nie. So het die krisis, wat nie vermors moet word nie, oor die eurosone gekom” ( ibid.).
Duitsers – van wie nou gevra word om elk €100 te hoes om die Grieke in staat te stel om op ’n vroeër ouderdom as enige Duitser af te tree – mag binnekort gevra word om soortgelyke steun aan Spanje, Portugal of ander Suid-Europese nasies te verleen. Is dit realisties om te verwag dat Duitsland moet aanhou betaal sonder om groter verteenwoordiging in die fiskale sake van die lande wat voordeel trek, op te eis? Stelzer merk op: “Ons sal binnekort leer presies hoeveel bykomende soewereiniteit elke nasie binne die eurosone bereid is om prys te gee wanneer Europa die volgende tree gee – ’n reuse tree – op die pad na meer volledige ekonomiese integrasie” (ibid.).
’n Sentraal beheerde, federale Europese Unie mag nou meer aanneemlik wees as ooit voorheen. In ’n onlangse lesing het Adrian Hilton, skrywer van The Principality and Power of Europe, dit kortaf gestel: “Daar sal ’n enkele finansiële beleid wees ... en ’n enkele belasting”. Die huidige EU van 27 nasies, as gevolg van sy huidige interne konflik, lê tans die grondwerk vir ’n supermag van ’n tien-nasie entiteit (of “koninkryk”) wat in die Skrif voorspel word.
Groot krisisse kan draers word vir groot veranderings. Dit mag egter ’n groter krisis as die huidige vereis om dit voort te bring wat, soos die Bybel aandui, die finale resultaat van hierdie gebeure sal wees.
Die Terugkeer van Mitteleuropa?
Sou Duitse leiers van die begin af verkies het om die eeue-oue droom van Mitteleuropa te verwesenlik of nie, hulle is in ’n posisie om te begin om ekonomiese leierskap oor die res van Europa uit te oefen. Watter veranderings kan ons verwag om te sien in die toekoms van Europa? Ons kan die antwoord in die Skrif vind.
Die Bybel is ’n unieke boek, in die sin dat dit hoofsaaklik fokus op ’n 7,000-jaar tydperk – menslike geskiedenis – en dit wel uit God se oogpunt. Hierdie God is nie ’n soort abstrakte, onbekende mag nie; Hy is die God van Abraham, Isak en Jakob, wie verduidelik dat Hy die einde van die begin af kan verkondig (Jesaja 46:8-10). Die Skrif – Sy Woord – verlig beide vervloë en toekomstige gebeure in die konteks van Sy plan vir die mensdom, wat Hy vooraf bepaal het om uit te voer in ’n profetiese “week” van sewe duisend jaar.
Dit is belangrik om hierdie formaat in gedagte te hou wanneer profesieë gelees word. In Bybelse kronologie is ons ná aan die einde van die sesde duisend jaar van hierdie tydperk. Die volgende duisend jaar, die sewende, sal die duisendjarige Sabbatsrus wees, bekend as die Koninkryk van God (Hebreërs 4:1-11). Wanneer ons die Bybel betrag in hierdie konteks, is dit maklik om te sien waarom God se Woord vandag nog net so van toepassing is as lank gelede. ’n Persoon wat tydens enige tydstip leef, kan hierdeur ingelig word. God se plan is standhoudend, onveranderlik en belangrik vir enige persoon regdeur die geskiedenis.
’n Groot deel van Bybelse profesieë handel oor dinge wat sal plaasvind teen die einde van ons huidige 6,000-jarige tydperk van die geskiedenis en die begin van die laaste dag van die profetiese “week” – die duisendjarige Vrederyk van Jesus Christus as Koning van die konings, op planeet Aarde. Voordat Christus as oppermagtige, welwillende Heerser op Sy troon op hierdie aarde sal sit, sal Hy teengestaan word deur menslike regerings – insluitende daardie van ’n groot Europese supermoondheid wat teen die einde van ons huidige tydperk sal verrys. Hierdie supermoondheid sal bestaan uit tien konings of regerings onder die invloed van ’n magtige godsdienstige entiteit.
Die Wêreld van Môre verduidelik al lank reeds dat die Duitse volk in profesie geïdentifiseer word as Assirië. Alhoewel hierdie merkwaardige mense in die Tweede Wêreldoorlog deur die Geallieerde magte verpletter is, het hulle weer verrys tot mag en belangrikheid in Europa. Hou Duitsland dop om die voortou te neem in handelsoorheersing, finansies, ekonomiese mag, politieke spiere en herleefde militêre krag in ’n federale Europese Unie.
Deur die profeet Jesaja het God gesê: “Wee Assur! die roede van my toorn en ’n stok is hy – in hulle hand is my grimmigheid! Ek sal hom stuur teen ’n roekelose nasie, en Ek sal hom bevel gee teen die volk van my grimmigheid, om buit te maak en roof in te samel en om hulle tot ’n vertrapping te maak soos modder van die strate. Maar hý bedoel dit nie so nie, en sy hart dink nie so nie; maar om te verdelg, is in sy hart, en om nasies uit te roei, nie min nie. Want hy sê: Is my vorste nie almal saam konings nie?” (Jesaja 10:5-8).
Om te verhoed dat ons die rol van Assirië teen die “roekelose nasie” verkeerd verstaan, moet ons verstaan dat God daardie nasie sal gebruik om Sy wil teweeg te bring. Die tyd sal uiteindelik ook aanbreek wanneer God daardie merkwaardige volk op ’n vreedsame manier sal gebruik. “In dié dag sal daar ’n grootpad wees van Egipte na Assirië, en Assiriërs sal in Egipte kom en Egiptenaars in Assirië; en Egipte sal saam met Assirië die Here dien. In dié dag sal Israel die derde wees naas Egipte en Assirië, ’n seën in die midde van die aarde, omdat die Here van die leërskare hom geseën het, met die woorde: Geseënd is my volk Egipte en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel!” (Jesaja 19:23-25). Hou aan om gebeure in Europa dop te hou. Die Wêreld van Môre sal ook voortgaan om daardie gebeure duidelik te maak met die lig van Bybelse profesie.