COVID-19 is net een van baie betekenisvolle geprofeteerde eindtydse epidemies wat op ons planeet verwoesting sal saai.

Bybelse profesieë wat waarsku oor gevare aan die einde van hierdie huidige tydperk, gebruik die beelde van vier perderuiters om verskriklike gebeure te beskryf wat oral op die aarde sal afspeel net voor die Wederkoms van Jesus Christus. Die vierde perderuiter (Openbaring 6:7-8) beeld die uitbreek van pessiektes en probleme uit (Matthéüs 24:7; Markus 13:8; Lukas 21:11), met inbegrip van virusse en bakterieë. Dit sal ’n kwart van die aarde verwoes en dit sal gepaard gaan met geweld, honger en “die wilde diere van die aarde” (Openbaring 6:8).

Volgens die wêreld se huidige bevolkingsvlak beteken dit dat hierdie rampe byna twee miljard mense sal uitwis. Selfs nadat hulle sedert 2020 die COVID-19-pandemie beleef het, vind baie mense dit dalk ongelooflik om hulleself ’n ramp van só ’n geprofeteerde omvang voor te stel, veral met inagneming van vooruitgang in moderne mediese tegnologie. Tog verskyn tekens van toestande wat sulke verwoestende globale katastrofes moontlik sal maak al meer gereeld – wat aandui dat hierdie antieke Bybelse profesieë op die punt staan om verwesenlik te word soos nog nooit tevore nie.

Wydverspreide oordraagbare siektes

Terwyl ons wêreld die ontnugterende werklikheid van meer as 6 miljoen COVID-19-sterfgevalle in ’n bestek van ongeveer twee jaar moes hanteer, kan dit maklik wees om te vergeet dat ander siektes steeds voortgaan om groot skade te berokken. Die VIGS-epidemie het sedert die middel-1980’s die dood van meer as 35 miljoen individue veroorsaak en die Wêreldgesondheidsorganisasie berig selfs vandag nog dat meer as 37 miljoen mense met MIV/VIGS saamleef, met ongeveer 1,5 miljoen mense wat die siekte in 2020 alleen opgedoen het.

Intussen veroorsaak ander siektes, hoewel seldsaam in die Verenigde State en ontwikkelde lande, groot lyding regoor die hele wêreld. Alhoewel dokters in die V.S. skaars meer as 2,000 malaria-infeksies in ’n gewone jaar diagnoseer, was daar in 2020 meer as 240 miljoen gevalle wêreldwyd, wat tot meer as 600,000 sterfgevalle gelei het – meestal kinders in Afrika, suid van die Sahara. Statista.com berig dat in 2019 meer as 1,2 miljoen mense regoor die wêreld aan tuberkulose gesterf het – ’n getal wat volgens die WGO tot meer as 1,5 miljoen in 2021 toegeneem het as gevolg van beperkte beskikbaarheid van behandelings en die gevolg van die COVID-19-kwarantyn en inperkings. Selfs meer betekenisvol as die onbevestigde getal sterftes, is die feit dat sterftes as gevolg van tuberkulose vir die eerste keer in baie jare besig is om jaarliks toe te neem.

Die beperkings van medikasie

Gedurende die afgelope eeu het die ontwikkeling van antibiotika – die “wondermiddel” van moderne medisyne – ’n valse gevoel van sekuriteit bevorder waarin baie mense aanvaar dat ons nie meer deur aansteeklike siektes bedreig word nie. Die voorkoms van mikrobes wat weerstandig teen sterk middels is, toon egter dat daar perke is aan wat antibiotika kan doen.

Deesdae kan siektedraers as gevolg van internasionale vlugte binne ’n paar uur met duisende mense by lughawens en op vliegtuie in aanraking kom, wat die blootstellingskoers aansienlik verhoog. Die opkoms van groot stede, waar miljoene mense in noue kontak met mekaar woon, bevorder ook die verspreiding van siektes. In die ontwikkelende wêreld – waar miljoene mense in krotbuurte saamdrom met min toegang tot skoon water, mediese dienste of die higiëniese verwydering van menslike afval en vullis – floreer hierdie aansteeklike siektes. Sosiale ontwrigtings wat veroorsaak word deur oorlog en politieke onrus wat Afrika, die Midde-Ooste en ander dele van die wêreld teister, skep vrugbare toestande vir die verspreiding van aansteeklike siektes. Al hierdie faktore is teenwoordig en neem toe in ons wêreld van vandag.

Die bedreiging van biochemiese terrorisme – die doelbewuste vrystelling van giftige mikrobes of chemiese middels in groot stedelike sentrums – bied die skrikwekkende voorstelling van groot getalle mense wat binne ’n baie kort tydperk doodgemaak kan word. Gedurende die afgelope dekade het ons samelewing duidelik meer kwesbaar geraak vir die uitbreek van wêreldwye epidemies wat die potensiaal het om miljoene lewens te eis – wat presies is wat die vierde perderuiter uitbeeld.

Epidemies van ons verlede

’n Vlugtige blik op die geskiedenis openbaar die vernietigende effek van bakterieë wat deur siektes oorgedra word. Die bekroonde Kanadese joernalis Andrew Nikiforuk, herinner ons daaraan dat sodra dit “begin om in toenemende getalle voort te plant, dit hele ekosisteme, voedselkettings en watersisteme kan verander en selfs die lot van menslike koninkryke” (Pandemonium, bl. xii).

Epidemies in die verlede het onverwags te voorskyn gekom en dood en verwoesting oor wye dele van die wêreld veroorsaak. In die Middeleeue het melaatsheid, tuberkulose, cholera en tifus floreer in die vuil en oorbevolkte lewensomstandighede van Middeleeuse stede. In 1348 het ’n epidemie van pes, die “Swart Dood”, ’n volle derde van die bevolking van Europa – sowat 30 miljoen mense – in net twee jaar laat sterf. Die pessiekte het met die Middeleeuse handelsroetes langs versprei. Columbus se matrose het sifilis van die Amerikas af saamgebring en die siekte het vinnig deur Europa versprei, wat deur promiskuïteit vererger is. Europeërs het pokke na die Amerikas gebring, waar dit 100 miljoen inheemse Amerikaners in een eeu doodgemaak het omdat hulle nie natuurlike teenliggaampies teen die siekte gehad het nie.

’n Eeu voor COVID-19 het die 1918 griep-epidemie, 50 miljoen mense se lewens in net 18 maande geëis. Daarenteen het die slagvelde van die Eerste Wêreldoorlog, vier jaar geneem om 15 miljoen lewens te eis. Wanneer siekte toeslaan, kan dit ’n bevolking verwoes teen ’n tempo en omvang wat die mensdom se vermoë oorskry om homself deur konvensionele oorlogvoering te vernietig. Die oplewing van aansteeklike siektes dui duidelik aan dat die vierde perderuiter nie minder van ’n bedreiging vir menslike gesondheid is as voor moderne mediese vooruitgang nie en dat hierdie vierde perderuiter weer sy rit sal voortsit wanneer toestande daarvoor ryp is.

Lesse uit die geskiedenis

Omstreeks 450 v.C. het die Griekse geneesheer Hippokrates, opgemerk dat “siektes nie uitgebreek het nie tensy daar groot veranderings in menslike gesondheid of groot veranderings aan die gesondheid van die land gemaak is” – met ander woorde, “mense maak epidemies”. Die Duitse patoloog Rudolf Virchow, wat as die vader van patologie beskou word, het meer as ’n eeu gelede tot die gevolgtrekking gekom dat “epidemies ooreenkom met ernstige waarskuwings waaruit ’n staatsman ... kan lees dat ’n versteuring in die ontwikkeling van sy mense plaasgevind het” (Andrew Nikiforuk, The Fourth Horseman, bll. 21-22).

Vandag verander menslike lewens en die omgewing op ongekende wyses. Kyk maar net na die resultate van die bevolkingsontploffing: Besoedelde lug en water in rommelgeteisterde en groterwordende stede, krotbuurte waar miljoene mense in ellende woon, woude wat deur ekonomiese ontwikkeling vernietig word en ontsettende temperature wat weerpatrone en ekonomieë regoor die wêreld beïnvloed. Voeg hierby die voorkoms van medikasie-weerstandige kieme, siektes wat deur vliegtuigreise versprei word en immuun-stelsels wat deur spanning, losbandige seks, binne-aarse dwelmmisbruik en wanvoeding verswak is – die resep vir ’n ernstige voorskrif vir wêreldwye epidemies. Baie van vandag se siektes is die biologiese gevolge van losbandigheid, swak higiëne en ’n magdom hoë-risiko gedrag van mense wat basiese beginsels van gesondheid ignoreer en nie bereid is om verantwoordelikheid te aanvaar vir die skade wat hulle optrede veroorsaak nie, selfs teenoor ander mense.

Lank gelede het ons Skepper ons gewaarsku dat “as jy nie luister na die stem van die HERE jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge ... Die HERE sal maak dat die pes jou aankleef ... waarvan jy nie kan gesond word nie” (Deuteronómium 28:15-28). Die Bybel openbaar dat as gevolg van die mensdom se gewilligheid om basiese fisiese en morele Wette te ignoreer, ons die gevolge van die oortreding van daardie Wette sal maai en dat “allerhande siektes en allerhande plae ... dié sal die HERE teen jou laat opkom totdat jy verdelg is” (Deuteronómium 28:61). Jesus Christus waarsku ook dat wêreldwye rampe voor Sy Wederkoms, die bestaan van die mensdom sal bedreig (Matthéüs 24:21-22). Wanneer die vierde perderuiter sy laaste rit begin, sal die mens skuldig staan. Hierdie ontnugterende profesieë is besig om gestalte aan te neem en nader die einde tot vervulling in die jare wat voorlê.