Warner Brothers het besluit om sy gewilde Matrix-franchise te laat herleef deur The Matrix Resurrections in 2021 vry te stel. Baie mense was opgewonde daaroor. Die oorspronklike trilogie wat in 1999 met The Matrix begin het, het die verbeelding van miljoene mense aangewakker met die futuristiese uitbeelding van hoofsaaklik passiewe mensdom wat vasgevang is deur oorheersende robotte in ’n nagebootsde “vervalste” werklikheid, onbewus van hulle gevangenskap.
In 2003 het The Matrix Reloaded en The Matrix Revolutions die verhaal voortgesit van onderdrukte mense wat losbreek van hulle illusies en veg vir hulle vryheid in die regte wêreld. Die rolprent kritici was nie so beïndruk deur die opvolgreekse nie, alhoewel hulle baanbrekende visuele effekte wat ongelukkig ontsier was deur oormatige sinlose geweld – steeds is rolprentgangers se verbeelding aangegryp en hulle beursies is beroof.
Twee dekades later het The Matrix: Resurrections nie heeltemal so goed gevaar nie. Alhoewel die $427 miljoen wêreldwye loketverdienste geensins ’n “flater” was gedurende ’n tydperk van baie verminderde rolprentbywoning sedert COVID-19 nie, het die hoogsverwagte nuwe paaiement $40 miljoen minder as die oorspronklike rolprent verdien – sonder om inflasie in ag te neem. Die middelmatige 63 persent gradering op die gewilde RottenTomatoes.com “Tomatometer” het maar power vergelyk teenoor die eerste film se 88 persent. Dit het eenvoudig nie die publiek se verbeelding aangegryp soos sy voorgangers van 20 jaar tevore nie.
Wat het verander? Wat het nie verander nie?
In die 20 jaar sedert die oorspronklike Matrix-trilogie vrygestel is, het baie rolprentgangers dit moontlik begin oorweeg dat die eens revolusionêre uitgangspunt byna onbelangrik is. In ons hedendaagse wêreld van Kunsmatige Intelligensie-gegenereerde oudiovisuele materiaal is dit nie meer so skokkend om te dink dat baie of alles wat u weet, sien en ervaar, in werklikheid ’n bedrieglike vervalsing is nie – ’n leuen wat ontwerp is om u daarvan te weerhou om die waarheid te weet.
Dit is nietemin ’n kragtige idee. Volgens u Bybel is dit baie nader aan die waarheid as wat byna enigiemand vandag werklik besef.
Die meeste mense van vandag – ook baie van u wat hierdie tydskrif lees – leef inderdaad net soos die menslike slagoffers van die masjiene in die Matrix-rolprente in ’n wêreld van vervalste godsdiens, wat ontwerp is om u denke gevange te hou en om u te verhoed om die waarheid te herken wat u sou vrymaak indien u naby Jesus Christus se Woord sou bly. Ons lees: “En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het gesê: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:31-32).
Ja, om vry te word – om van die vervalste werklikheid te ontsnap wat geskep is as ’n tronk vir ons verstand en om ’n weg na die waarheid van God te vind – vereis dat ons in Christus se Woord bly en om bereid te wees om ’n paar baie moeilike en ongemaklike vrae te vra.
Ons moet bereid wees om ons eie oortuigings te ondersoek en om onsself af te vra of dít wat ons glo – met inbegrip van oortuigings wat ons lank reeds as vanselfsprekend aanvaar het – in werklikheid wáár is. Eerlikwaar, die meeste mense sal dit liewer nie doen nie. Die meeste mense gaan deur die lewe sonder enige nadenke of ondersoek. Die meeste mense oor die algemeen is deesdae van hulle politieke sienings tot hulle standpunte oor die kwessies van die dag, meer geïnteresseerd in argumente. Die meeste mense wil eerder bewys dat hulle reg en hulle opposisie verkeerd is, in plaas daarvan om eerder hulle oortuigings te ondersoek om te sien of wat hulle glo ooreenstem met wat waar is.
Godsdienstige Illusies?
’n Gebrek aan innerlike waarneming en selfondersoek brei ook uit na ons godsdienstige idees. Hoeveel mense ondersoek hulle oortuigings oor God “eerlik”? Hoeveel mense ondersoek werklik hulle idees oor die sin van die lewe, oor reg en verkeerd en oor goed en kwaad? Hoe dikwels gaan mense bloot net voort in die godsdienstige gebruike en praktyke wat hulle as kinders geleer is, sonder om seker te maak dat die god wat hulle aanbid die ware God is? Hoeveel mense aanvaar die geloofsoortuigings en praktyke wat deesdae deur die baie en verskillende geestelike leiers verkondig word, sonder om die akkuraatheid daarvan te evalueer?
Die apostel Paulus, wat aan Christene geskryf het wat net ’n paar dekades na Christus se opstanding geleef het, moes hulle aanspoor om so ’n ondersoek te doen. Hy het geskryf: “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ’n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai” (Galásiërs 1:6-7).
Paulus het gesien dat ’n ander evangelie begin posvat in die Christelike Kerk – ’n ander evangelie as die ware Evangelie van Jesus Christus. Let op sy besorgdheid: “Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Korinthiërs 11:3-4).
Paulus was in ’n stryd gewikkel teen die verspreiding van ’n lering wat ’n verskillende evangelie, ’n verskillende gees en ’n verskillende Jesus verkondig het. Alhoewel die leringe en gewoontes daarvan baie soortgelyk aan die ware Evangelie van Jesus Christus geklink het, was dit ’n vervalsing. Terwyl dit bedrieglik dieselfde was, was dit nie die waarheid nie.
Die Bybel beskryf ’n stryd om die suiwerheid van die Christelike geloof te handhaaf – ’n stryd wat net ’n paar jaar begin het nadat Christus Sy Kerk gestig het. Ons sien selfs in die voorlaaste boek van die Bybel hoe hierdie stryd voortduur:
“Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën” (Judas 3-4).
Wie is die vervalser?
Wie was egter die uiteindelike bron van die vervalste “Christelikheid” wat die jong Kerk met korrupsie besmet het? Paulus het verduidelik: “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig” (2 Korinthiërs 11:13-14).
Satan die duiwel, was die bron van verwarring en korrupsie in die vroeë Kerk. Paulus noem hom “die god van hierdie wêreld” (2 Korinthiërs 4:4). Dit is hy wat die jong Kerk in die eerste eeu geïnfiltreer het, die liggelowiges mislei het en ’n nagemaakte evangelie, ’n vervalste geloof en ’n vervalste Christus opgedis het.
Hoe het hierdie stryd in die eerste eeu uitgedraai? Hier is ons, twintig eeue later – alles het sekerlik goed afgeloop, nie waar nie of het dit regtig? Ons weet dat Jesus Christus beloof het dat Hy Sy Kerk sou bou en dat die poorte van die doderyk, dit nooit sou oorweldig nie (Matthéüs 16:18). Alhoewel dit grootliks vervolg, beswadder en misverstaan sou word, sal die Kerk wat Jesus Christus gestig het om “die hele raad van God te verkondig” (Handelings 20:27) nooit van die aarde af sal verdwyn nie en daar is geprofeteer dat Sy Kerk teenwoordig sal wees tydens die hoogtepunt van Sy Wederkoms.
Wat sien ons dan vandag? ’n Verstommende verskeidenheid geloofsoortuigings en praktyke wat aanspraak maak op die naam “Christen”, maar dit kan nie almal waar wees nie. Die boek Openbaring beskryf hoe ons wêreld sal wees in die dae net voor die Wederkoms van Jesus Christus. Johannes het geskryf: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei” (Openbaring 12:9).
Ja, Satan mislei die hele wêreld. Sy vervalsing het nooit opgehou nie. Hy het nie opgegee in sy poging om ’n valse Christelikheid, ’n valse evangelie en ’n valse Christus te versprei nie. Hy doen hom steeds voor as ’n engel van die lig, hy is steeds die god van hierdie wêreld en hy is steeds die vader van leuens.
Dink oor hierdie profesie van die eindtyd – ons tyd: “En uit die aarde het ek ’n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ’n lam en het gepraat soos ’n draak” (Openbaring 13:11). Hier in hierdie beskrywing van ’n groot valse profeet, die komende Antichris wat binnekort aan die hele wêreld geopenbaar sal word, sien ons dat hy soos ’n lam lyk. Baie mense sal wel aanneem dat hy Christus verteenwoordig. Diegene wat onderskeidingsvermoë het, sal egter besef dat hy nie soos die Lam klink nie – hy praat eerder soos ’n draak, soos daardie slang van ouds wie Satan die duiwel is, wat sy vervalste godsdiens versprei om die hele wêreld te mislei.
Vervalste Christelikheid?
Ons het in die Skrif gesien dat Satan al vir millennia lank kragtig aan die werk was om die wêreld te mislei. Ons sien ook dat die wêreld in die eindtyd onder sy invloed sal wees. Kom ons kyk dus na ’n moeilike vraag wat min mense die moed sal hê om eerlik te beantwoord: Verteenwoordig deesdae se hedendaagse “hoofstroom Christendom” die ware Christenskap van Jesus Christus of die vervalsing wat deur Satan aangebied word?
Baie geskiedkundiges en geleerdes het reeds hierdie vraag in oorweging geneem. Let op hierdie opmerking van die Protestantse geleerde Jesse Lyman Hurlbut: “Vir vyftig jaar ná die apostel Paulus se lewe hang ’n gordyn oor die Kerk se geskiedenis, waardeur ons tevergeefs probeer om te kyk; en wanneer dit uiteindelik geopenbaar word, ongeveer 120 n.C. met die geskrifte van die vroegste kerkvaders, vind ons ’n kerk wat in baie opsigte heeltemal verskil van dié in die dae van die apostel Petrus en die apostel Paulus” (The Story of the Christian Church, 1933, bl. 41).
Hurlbut is geensins alleen in sy beoordeling nie. Kan dit werklik waar wees dat die vervalste Christelikheid wat die vroeë Kerk soos ’n virus in die eerste eeu binnegedring het, steeds in die een-en-twintigste eeu teenwoordig kan wees? Christus noem sy ware volgelinge ’n “klein kuddetjie” (Lukas 12:32). Is dit moontlik dat die vervalsing in werklikheid die oorheersende vorm kan wees van wat die meeste mense vandag “Christelikheid” noem?
Indien wel só, hoe sal ons weet? Hoe kan ons bepaal of die geloof wat ons volg die waarheid of die vervalsing is?
In ons poging om ’n vervalste geloof te identifiseer, kan ons ’n wenk neem van die Verenigde State se Departement van Tesourie in hulle stryd teen vervalste geld. Een van die doeltreffendste maniere om ’n namaaksel te herken, is om heeltemal en volkome vertroud te wees met die ware Jakob. Wanneer u waarlik bewus is van hoe ’n regte R200-noot tussen u vingers voel – die ingewikkelde fynste besonderhede in sy kunswerk, die gewig van die papier in u hande, die manier waarop dit reageer wanneer dit gevou word, die manier waarop ink in die papier invloei, die klein vesels wat in die produk ingevoeg is – kan u maklik agterkom wanneer ’n vervalsing aan u oorhandig word. Wanneer u die “ware Jakob” ken, staan die subtiele verskille in die vervalsing vir u uit soos die verskil tussen nag en dag, selfs al sou ander mense wat minder bekend is daarmee, dit nie eers agterkom nie.
Mense probeer nogtans steeds om vervalste geldeenhede te druk en te versprei. In Mei 2023 het die V.S. se Doeane- en grensbeskermingsbeamptes in Pennsilvanië vier skeepsvragte onderskep wat meer as $14 miljoen se vervalste geldeenhede bevat het. Solank as wat mense aandring op die vervalsing, kan ons verwag dat dit verskaf sal word.
Hierdie beginsel geld ook vir ’n vervalste geloof, ’n vervalste Christus en ’n vervalste Christelikheid. Wanneer u vertroud raak met die ware standaard, kan die vervalsing nie anders as om uit te staan vir sy verskille nie, dit maak nie saak hoe subtiel dit is nie. Daar is steeds baie mense wat steeds tevrede is met die vervalsing.
Ons kan van die V.S. se Tesourie-standaarde leer om vervalste geldeenhede uit te ken, maar waar kan ons die ware standaard vir die Christelike geloof en praktyk vind?
Ons moet uit God se eie Woord leer – die Bybel. Dink aan die voorbeeld van die Beréane: “Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan. En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was” (Handelinge 17:10-11).
Wat sal Christene erf?
Wat is dit wat die meeste belydende Christene nie oor die Skrif verstaan nie? Dink byvoorbeeld aan iets so basies soos die beloning van die gereddes. Baie kerke leer dat wanneer ’n mens sterf, hy hemel toe gaan. Dit beteken vir sommige mense om in die wolke rond te sweef met ’n harp in hulle hande. Ander persone het al die hemel beskryf as ’n “pragtige visioen” waar ’n mens net eenvoudig tot in ewigheid met vreugde na die aangesig van God staar.
Wat leer die Bybel ons egter oor die beloning van die gereddes? In die Skrifgedeelte bekend as die Saligsprekinge, openbaar Jesus iets belangrik: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Matthéüs 5:5).
God se Woord beskryf deurgaans dat die heiliges se erfenis net hier op hierdie planeet sal wees. Wat sê die Bybel vir ons, sal die heiliges op die aarde doen? Let op dat “aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het” (Openbaring 2:26-27). Ons lees ook Christus “het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:10). Later vind ons dat die heiliges saam met Christus vir “duisend jaar” sal regeer (Openbaring 20:6).
Is dit net ’n soort simboliese taal of metafoor wat ons kan weg redeneer of ignoreer? Volgens wat die apostel Paulus aan Christene in Korinthe geskryf het, het hy nie so gedink nie: “Durf iemand van julle wat ’n saak teen ’n ander het, gaan reg soek voor die onregverdiges en nie voor die heiliges nie? Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Korinthiërs 6:1-3).
Hier, soos op baie ander plekke, verduidelik die Bybel dat die beloning van die gereddes letterlik is om saam met Jesus Christus in krag en heerlikheid te regeer! Vandag se getroue Christene het ook deel in Christus se belofte dat hulle “alles” sal beërwe (Openbaring 21:7) – met inbegrip van ’n lewensbelangrike rol op die aarde in die vinnig naderende Millennium, wanneer Jesus Christus die Koninkryk van God regoor die wêreld tot stand sal bring. U kan meer daaroor lees in mnr. Richard Ames se artikel elders in hierdie uitgawe.
Ongelukkig sal u selde – indien ooit – hoor dat hierdie waarheid deesdae verkondig word in die meeste kerke wat Christelikheid bely. Dit is egter nie nodig dat u geflous word nie. Die suiwer Woord van God gee ons ’n rotsvaste standaard wat ons toelaat om Satan se vervalsing te identifiseer.
Die R200-noot toets
Wat vind ons wanneer ons die “R200-noot toets” op ander aspekte van tradisionele “Christelikheid” toepas? Hoe vergelyk dit met die Woord van God, hoe weeg dit teen mekaar op?
Let op sommige van die tradisionele vieringe wat met hedendaagse “Christelikheid” geassosieer word. U het waarskynlik al die Engelse liedjie gehoor wat Kersfees as “die wonderlikste tyd van die jaar” verkondig. Mense ruil geskenke uit, versier bome, steek Joel blokke aan en geniet baie tradisies wat al vir geslagte oorgedra is en in Christus se Naam gevier word. Gedurende Paasfees vertel ouers vir hulle kinders dat die Paashaas vir hulle gekleurde eiers en lekkergoed gebring het en hulle geniet warm paasbolletjies en ander tradisies wat al vir jare lank in die Naam van Christus beoefen word.
Enige hoogaangeskrewe ensiklopedie sal uitvoerig verduidelik dat hierdie tradisies en heidense gebruike hulle oorsprong in heidense aanbiddingsrituele het wat die Christelikheid eeue gelede – of selfs millennia – voorafgegaan het. Mense wat bewus is van hierdie oorsprong, sê soms dat dit gepas is om nie-Christelike gebruike “in te lyf” deur dit in “Christelike” aanbidding in te sluit. Hoe voel God werklik oor die gebruik van heidense gebruike om Hom en Sy Seun te aanbid?
God het Sy opinie in die Skrif baie duidelik gemaak. Hy het duidelik beveel dat heidense gebruike nie gebruik mag word om Hom te aanbid nie. Hy het gewaarsku dat Sy volk “nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die Here jou God nie; want alles wat vir die Here ’n gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen; want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode. Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie” (Deuteronómium 12:30-32).
Gereelde lesers van hierdie publikasie weet Jesus Christus is die God wat daardie opdrag gegee het en ons neem aan dat Sy ware Kerk Hom sal gehoorsaam. Wat het Hy gesê oor diegene wat Sy Wette verwerp ten gunste van hulle eie idees? Hy het vir die Fariseërs gesê: “Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou” (Markus 7:9). Christus het ’n praktyk veroordeel wat deesdae oorheersend is in “hoofstroom Christelikheid” – ’n poging om Hom te aanbid deur tradisies te gebruik wat ontwerp is vir die aanbidding van valse gode.
Wat sal u kies?
The Matrix is maar een van baie verhale van wetenskapfiksie waarin ’n held ontdek dat die wêreld rondom hom nie is soos dit voorkom nie, maar in werklikheid ’n slinkse misleiding is – ’n vervalste werklikheid – ontwerp om hom daarvan te weerhou om te weet wat die waarheid is.
Daar is dikwels in hierdie verhale ’n oomblik wanneer die held agterkom wat die waarheid is en ’n moeilike besluit moet neem: Gaan ek terug na die gemaklike wêreld wat ek nog altyd geken het, selfs al weet ek dit is ’n leuen of is ek dapper genoeg om die volgende stap te neem en die waarheid ten volle te aanvaar, ongeag hoe ongemaklik daardie besluit mag lyk? Soos diegene wat bewustelik vervalste geldeenhede spandeer, is daar baie mense wat voor die werklikheid van God se Woord te staan kom en dan bereid is om hulle toekoms toe te vertrou aan dit wat nie werklik is nie.
Net so, wanneer u die ware Christenskap van die Bybel ontdek en besef hoe dit verskil van die “Christendom” wat oral rondom ons beoefen word, kan u wat hierdie tydskrif lees, dalk op so ’n oomblik in u eie lewe kom.
Indien dit gebeur, sal u nie alleen wees nie. Ek ken daardie gevoel. Ek was ook daar. Dit verg moed om die daad by die woord te voeg met betrekking tot dit wat u leer. U mag dalk ’n angstige gevoel ervaar en wonder waar die pad sal eindig sodra u dit wat u in u Bybel leer begin uitleef.
Dit is nie nodig – u behoort nie – die vervalsing te aanvaar nie. Ek het gevind daar is ware vreugde en opwinding wanneer u die waarheid ontdek wat u nog nooit tevore geleer het nie. Bybelgedeeltes wat u dalk baie keer gelees het, maar nooit heeltemal verstaan het nie, kry lewe en pas in by ’n groter prentjie.
Namate u dele van die Bybel ontdek wat u voorheen geïgnoreer het, begin u sien watter wonderlike boek die hele Bybel is. U begin waardeer dat God waarlik nie die outeur van wanorde is nie (1 Korinthiërs 14:33). U ervaar self die oorvloedige lewe wat Hy beloof aan dié wat Hom gehoorsaam (Johannes 10:10).
U mag dalk soms wonder of u alleen is om ware Christenskap in plaas van die vervalsing na te streef. Hier verskaf die Bybel weereens die antwoord – in Jesus Christus se belofte dat Hy Sy Kerk sal bou en dat die graf dit nooit sal oorwin nie (Matthéüs 16:18). Wanneer u u Bybel lees, sal u sien dat Sy ware Kerk wel bestaan en teenwoordig sal wees by Sy Wederkoms en wag vir die dag wanneer dit aan Hom oorhandig sal word as ’n bruid wat “haar gereed gemaak” het (Openbaring 19:7).
Die apostel Paulus noem die ware Kerk – nie die vervalste kerk nie – “die gemeente [is] van die lewende God, ’n pilaar en grondslag van die waarheid” (1 Timótheüs 3:15). Soos ons vroeër gelees het, sê Jesus: “... julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). Dit verg moed om ’n gerieflike leuen te laat vaar en om na die waarheid te begin streef. Iewers, soos ’n klein maar kosbare edelgesteente, te midde van ’n hoop vervalsings, is die Kerk wat getrou die waarheid van Jesus Christus onderrig – presies dieselfde boodskap en lewenswyse wat Hy na hierdie aarde gebring het.
Hoe sterk is u begeerte om daardie Kerk te vind? Dan, sodra u dit gevind het, is u bereid om die vervalsing prys te gee?