Is vampier-stories net ’n bron van pret en plesier? Is heksery en astrologie skadelose stokperdjies, of kan hulle skade aanrig aan diegene wat dit beoefen? Baie mense besef nie dat die okkulte nou die moderne kultuur deurdrenk en dat Christene waaksaam moet bly teen die bose invloed daarvan nie.


Miljoene mense regoor die wêreld is navolgers van astrologie, toordery en die okkulte. Saai hulle die saad van verwoesting en vernietiging? Is hierdie net skadelose stokperdjies, of kan u werklike gevare in die gesig staar indien u u met die okkulte besig hou?

Vroeër vanjaar het Harry Potter and the Deathly Hallows: Deel 2, op die eerste dag ’n rekord opgestel in die teaters, deur $92.1 miljoen in Amerika te in op Vrydag 15 Julie – daardeur is die vorige rekord met byna $20 miljoen gebreek. Daardie ou rekord was gehou deur ’n ander film met ’n okkultiese tema – The Twilight Saga: New Moon – wat $72.7 miljoen ge-in het op die vrystellingsdatum, 20 November 2009.

Die nuutste (en finale) film in die Harry Potter-reeks het voortgegaan om die vorige Amerikaanse rekord vir ’n openingsnaweek in kaartjieskantore te verpletter, deur $168.6 miljoen te in – heelwat meer as die vorige rekordhouer, The Dark Knight. Hierdie jongste Harry Potter-rekordbreker het ook wêreldwyd rekords laat spat, en $307 miljoen gevoeg by kaartjieverkope buite Amerika, en daardeur die vorige rekordhouer, Pirates of the Caribbean: On Stranger Tides, verbygesteek.

Met die nuwe Harry Potter-film wat meer as $475 miljoen in die eerste naweek na vrystelling ingebring het, is daar geen twyfel dat die okkulte ’n groot kaartjiekantoor trekpleister bly – en groot besigheid is nie. Sewe van die top 25 geldmaak-films van alle tye kom uit die agt-film Harry Potter-reeks – ’n reeks wat reeds meer as $5 miljard in kaartjieverkope verdien het.

Okkultiese temas is ook gewild in boeke. Die Harry Potter-films het natuurlik hul oorsprong gehad in die gedrukte media, met ’n geskatte 450 miljoen eksemplare van die sewe Harry Potter-boeke wat al verkoop is. Ander skrywers het munt geslaan uit hierdie neiging, die vier romans in die Twilight-reeks het saam meer as 100 miljoen eksemplare verkoop. Twilight-boeke is veral gewild by jong meisies, wat almal die verhaal gevolg het van ’n tienermeisie wat verlief raak op ’n eeu-oue vampier. Dit is dus geen verrassing dat die Twilight-boeke alreeds aangepas is vir verfilming nie; drie Twilight-films het meer as $1.8 miljard aan kaartjieverkope verdien, met ’n vierde, Breaking Dawn, Deel 1, wat beplan was vir uitreiking in November 2011.

Vandag se media-behebtheid met die okkulte strek veel verder as Harry Potter. Vyf-en-dertig jaar gelede het baie mense die TV-reeks, Bewitched, as kontroversieel beskou. Vandag lyk dit maar mak in vergelyking met sulke gewilde TV-aanbiedings soos The Vampire Diaries en True Blood, wat die okkulte ophemel.

Vir baie mense is die okkulte nogtans meer as fiksie. ’n CBS News-peiling in Februarie 2011 het bevind dat 48% van die respondente geglo het in die bestaan van spoke, met 22% wat beweer het dat hulle ’n spook persoonlik gesien het of die teenwoordigheid daarvan aangevoel het. Daardie syfer weerspieël die resultate van ’n 2006 Ipsos Reid-meningspeiling wat bevind het dat 47% van die Kanadese gerapporteer het dat hul oortuig is dat spoke bestaan, met 18% wat gesê het dat hulle al in die teenwoordigheid van ’n spook was. ’n Britse navorsingsfirma het ewe-eens bevind dat meer as 40% van die Britte in spoke glo. Dit is nogal ’n taamlike verandering sedert die 1950’s, toe ’nGallup-peiling bevind het dat net sowat een uit elke tien Britte in spoke glo (“Four out of ten Britons believe in ghosts”, The Sunday Times of London, 13 April 2009).

Selfs leiers van nasies volg die okkulte na. Donald Regan, voormalige hoof van die Withuis se personeel, skryf in sy outobiografie, For the Record, dat President Ronald Reagan se reise en aktiwiteite deur ’n astroloog van sy vrou se keuse, nagegaan is. Die London Daily Telegraph het berig dat die voormalige Britse premier, Margaret Thatcher, ’n astroloog geraadpleeg het “vir tekens van toekomstige gevare”. Die meeste lede van die Indiese Parlement het persoonlike astroloë in hul gevolg. Selfs in die voormalige Sowjet-Unie, eens ’n bolwerk van materialisme, het die okkulte die septer geswaai, omdat Rusland “verswelg is deur astroloë, onbekende vlieënde voorwerp-kenners, waarsêers, parapsigoloë, pseudo-dokters en ander kwaksalwers, aangaande wie ware wetenskaplikes selde pogings aanwend om te weerspreek ... Een van die belangrikste take van ’n senior amptenaar in die Presidensiële Veiligheidsdiens is om astrologie te bestudeer en horoskope voor te berei” (London Daily Telegraph, 29 Julie 1996).

Hoe is die mensdom mislei?

Die Skrif onthul die bron van okkultiese misleiding. “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9). Satan het die hele wêreld verlei [mislei], nie net ’n deel van hierdie wêreld nie. Hy het ook geestelike helpers, wat demone genoem word.

Hoe mislei Satan die hele wêreld? Hy doen dit deur middel van die okkulte, vals godsdiens en vals onderwys – deur middel van ’n maatskaplike stelsel wat soek na losbandige plesier, eerder as na God! Die profeet Jesaja het geskryf: “En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel – moet ’n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word?” (Jesaja 8:19). Na wie soek mense deesdae: Mediums, towenaars of die ware God? Jesaja skryf: “Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ’n volk wat geen dageraad het nie” (Jesaja 8:20).

Ons behoort te verstaan dat daar ’n werklike geestelike wêreld is! Gee ag aan hierdie waarskuwing: “As jy kom in die land wat die Here jou God jou sal gee, moet jy nie leer om volgens die gruwels van daardie nasies te doen nie. Daar mag niemand by jou gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat deurgaan – wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, of wat met besweringe omgaan, of wat ’n gees van ’n afgestorwene vra of ’n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie” (Deuteronomium 18:9-11).

Die Almagtige God veroordeel towery en heksery. Indien u “rondspeel” met sulke duisterhede, dan behoort u daardie onderwêreld van boosheid te verwerp! Soek na die ware God van u Bybel! God se waarskuwing gaan voort: “Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die Here ’n gruwel; en om hierdie gruwels ontwil verdryf die Here jou God hulle voor jou uit. Opreg moet jy wees met die Here jou God. Want hierdie nasies wat jy uit hulle besitting verdrywe, luister na goëlaars en waarsêers; maar wat jou aangaan, die Here jou God het jou nie so iets toegelaat nie”(Deuteronomium 18:12-14).

Kan enigiets meer duidelik wees aangaande die euwels van heksery en towery? Tog leer miljoene volwassenes hulle kinders dat daar niks verkeerd is met ’n Harry Potter wat aktief heksery en towery bedryf nie. Die profeet Samuel het egter aan Koning Saul gesê dat waarsêery sonde is. “Want wederstrewigheid is ’n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp” (1 Samuel 15:23).

Geestelike hoerery?

Is daar “onskuldige” maniere om “pret” te hê met die okkulte? Sommige mense argumenteer dat om hul op te tooi in monsteragtige Halloween kostuums slegs skadelose speletjies is, en rasionaliseer dat ouers wat hul kinders Halloween laat vier, hulle nie aanmoedig om hulself bloot te stel aan simbole en gebruike van die okkulte nie. Ouers wat egter hierdie benadering volg, plaas hul kinders se geestelike lewens op die spel, deur die duiwel se invloed te onderskat (Efesiërs 2:2; 2 Korinthiërs 4:4).

Selfs op die vlak van fisiese veiligheid, kom meer en meer ouers tot die besef dat die Halloween gebruike van “trick-or-treat”, kinders kan blootstel aan ernstige gevaar. In die bogenoemde Ipsos Reid-studie, is bevind dat 84% van Kanadese saamstem met die stelling: “In hierdie dag en tyd, is dit onveilig vir kinders om op Halloween te gaan “trick-or-treat” sonder ’n volwassene wat toesig hou”.

As ouers maar net so bekommerd was oor hul kinders se geestelike veiligheid! God sê dat deelname aan die okkulte geestelike hoerery is (Psalm 106:35-39)! Hoe het God Sy volk vir hulle goddeloosheid gestraf? “Toe het die toorn van die Here ontvlam teen sy volk, en Hy het ’n afsku gekry van sy erfdeel. En Hy het hulle in die hand van die heidene gegee, en hulle haters het oor hulle geheers; en hulle vyande het hulle verdruk, sodat hulle onder hul hand moes buig” (Psalm 106:40-42). Die volk van Israel het in ballingskap gegaan as gevolg van hierdie gruwelike praktyke. ’n Groot verdrukking en ballingskap sal ook oor ons nasie kom, indien ons nie daarin slaag om ons te bekeer van ons bose bedrywighede nie!

In die evangelie van Lukas vind ons dat ons Verlosser baie mense genees het wat geteister was deur bose geeste: “En in dieselfde uur het Hy baie mense genees van siektes en kwale en bose geeste, en aan baie blindes die gesig geskenk” (Lukas 7:21). Leer ons ons kinders om bose geeste te lok en vriendskap met hulle te kweek gedurendeHalloween? Om soos ’n demoon of heks aan te trek, lok eerder boosheid uit, as om hulle teen te staan!

Die apostel Jakobus beveel ons om die bose te weerstaan, nie om dit te voed nie! “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jakobus 4:7). Dit is u Skepper se opdrag aan u! Hy belowe dat die duiwel dan van u sal wegvlug. Ja, “Weerstaan die duiwel”! Moet nie aansluit by die massas en deelneem aan viering van die donker wêreld van Satan en die okkulte nie! Moet nie deelneem aan die duistere gebruike van Halloween of enige ander soortgelyke praktyke nie.

Let op na God se waarskuwings teen die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê: “Begeef julle nie tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê nie. Soek hulle nie om julle deur hulle te verontreinig nie. Ek is die Here julle God” (Levitikus 19:31). Die Skepper God sê uitdruklik dat ons mediums en spiritiste moet vermy. Hy wil nie hê dat u besoedel moet word deur bose invloede nie. Let op Sy sterk taal: “En as ’n persoon hom begewe tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê om agter hulle aan te hoereer, sal Ek my aangesig teen dié persoon rig en hom uitroei onder sy volk uit. Toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is die Here julle God” (Levitikus 20:6-7).

Wanneer ’n persoon met geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê omgaan, sê God dat die persoon homself onteer. Christene behoort skoon en ongeskonde te wees. Hulle behoort “heilig” te wees, soos ons nou net gelees het. Onthou wat die apostel Petrus skryf: “Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Petrus 1:15-16).

 Astrologie en valse profesie

Satan mislei ook die mensdom deur middel van sterrekunde. Volgens die Encyclopaedia Britannica: “Astrologie het in Mesopotamië ontstaan, moontlik in die 3de millennium v.C., maar bereik sy volle ontwikkeling veel later in die Westerse wêreld, binne die omwenteling van die Griekse beskawing tydens die Hellenistiese tydperk. Dit het in sy ouer Mesopotaamse vorm na Indië versprei. Die Islamitiese kultuur het dit geabsorbeer as deel van die Griekse erfenis; en in die Middeleeue, toe Wes-Europa sterk beïnvloed was deur die Islamitiese wetenskap, het Europese astrologie ook die invloed van die Ooste beleef ... Alhoewel verskeie Christelike rade astrologie veroordeel het, is die geloof in die wêreldbeskouing wat dit impliseer, nie ernstig daardeur geskud nie. In die latere Europese Middeleeue het ’n aantal universiteite, waaronder Parys, Padua, Bologna en Florence, leerstoele vir astrologie gehad”.

Alhoewel alle ware Christene astrologie oor die jare heen veroordeel het, het dit bly voortbestaan. In ons moderne tyd erken astroloë dat die koerante se verskeidenheid van horoskope se advies hoofsaaklik vir vermaak is. Wanneer wêreldleiers egter astroloë raadpleeg vir leiding, is hulle op soek na die verkeerde god! Luister na God se waarskuwing deur die profeet Jeremia: “So sê die Here: Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie, en skrik nie vir die tekens van die hemel, omdat die heidene daarvoor skrik nie” (Jeremia 10:2).

Ons het alreeds gesien dat Jesus voorspel het dat tekens en wonders baie mense sal mislei. Die boek van Openbaring onthul dramatiese gebeure wat gaan lei tot die wederkoms van Christus. Daar sal ’n groot valse profeet en godsdienstige sisteem wees wat wonderwerke, tekens en wonders verrig. Die apostel Johannes skryf oor hierdie groot valse profeet: “Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense” (Openbaring 13:13). Miljoene, indien nie miljarde mense nie, sal mislei word deur hierdie indrukwekkende wonderwerke. “En hy [die valse profeet] verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen” (Openbaring 13:14).

Hoe kan u bepaal of iemand werklik ’n dienaar van God is en nie iemand is wat beheer word deur die okkultiese wêreld nie? Deuteronomium gee aan ons ’n sleutel. “As ’n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou ’n teken of wonder aankondig, en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons agter ander gode aan loop – wat jy nie geken het nie – en hulle dien, dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie; want die Here julle God beproef julle om te weet of julle werklik die Here julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel. Julle moet die Here julle God navolg en Hom vrees en sy gebooie hou en na sy stem luister en Hom dien en Hom aanhang” (Deuteronomium 13:1-4).

’n Valse leraar of profeet mag selfs akkuraat profeteer met betrekking tot ’n teken of wonder. God sê egter dat indien hy u na ander gode lei – indien hy u weglei van die God van die Bybel en die ware Jesus Christus van u Bybel – dan is hy ’n valse profeet. Neem ook kennis dat God u mag toets om te sien of u getrou sal wees aan Sy woord en Sy lewenswyse!

Wees op u hoede!

Satan het die hele wêreld mislei. Hy beskik oor baie maniere van misleiding, met inbegrip van hekse, towery, duiwelskunste, astrologie, spiritisme en valse godsdiens. U behoort te waak teen die gevare van die okkulte.

Die apostel Petrus gee aan ons hierdie opdrag: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is” (1 Petrus 5:8-9).

God belowe aan ons beskerming teen die bose. Jesus leer ons om te bid: “En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose” (Mattheüs 6:13). Paulus vermaan Christene: “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efesiërs 6:11-12). U kan die bose een oorwin deur die woord van God – die Bybel – te ken en daarvolgens te lewe. U kan die versoekings en misleidings van die okkulte en die valse godsdiens oorwin. Soos die apostel Paulus ons aanmoedig in Filippense 4:13: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee”. Mag God u bemagtig om die toekoms tegemoet te gaan in geloof. Mag u nie lewe deur die duistere misleidings van hierdie wêreld nie, maar deur die lig van die waarheid, God se woord.