Vraag: In Handelinge 8, waar ons lees dat Filippus die evangelie aan die Samaritane verkondig het, lees ons hy het “Christus aan hulle verkondig” (vers 5). Waarom verkondig u tydskrif dan die Koninkryk van God en nie bloot Christus as persoon nie?

Antwoord: 
Hierdie is 'n algemene wanbegrip. Baie mense glo vandag dat deur slegs oor Christus as persoon te preek, hulle Sy boodskap verkondig. Jesus Christus het egter met 'n baie spesifieke boodskap gekom. Diegene wat slegs oor Sy persoon preek, verdraai Sy boodskap en leer teenstrydig met wat Hy onderrig het. 'n Nadere ondersoek van Handelinge 8 sal die onbreekbare band tussen Jesus as persoon en Sy ware boodskap illustreer.

Let op wat Filippus verkondig het toe hy “Christus aan hulle verkondig [het]”. Ons lees: “Maar toe hulle Filippus geglo het, wat die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus verkondig het, is hulle gedoop, manne sowel as vroue” (vers 12). Met ander woorde, toe Filippus Christus verkondig het, het hy die boodskap wat Christus hom geleer het verkondig—aangaande Christus se identiteit as Verlosser en Koning (Sy “Naam”), en aangaande die “Koninkryk van God” waaroor Christus sal heers. In antwoord op hierdie boodskap het baie mense Christus—en gevolglik ook Sy boodskap—aanvaar.

Is die “Koninkryk van God” die een of ander warm gevoel in die hart van die gelowige? Nee! Die apostel Johannes het Jesus Christus se profetiese verduideliking van die toekomstige koninkryk waaroor hy sal regeer, geboekstaaf. Johannes skryf van 'n toekomstige tyd wanneer die “koninkryke van die wêreld die eiendom van onse Here geword [het] en van Sy Christus, en hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Hierdie is nie beeldspraak nie; Jesus is 'n werklike Koning. Hy sal oor 'n letterlike Koninkryk heers, bygestaan deur die herrese getroue Christene (Openbaring 5:9-10; 1 Korinthiërs 15:50-52). Daar sal spesifieke tekens wees wat Sy koms voorafgaan en diegene wat hulle by Christus se vyande geskaar het, sal “rou bedryf” wanneer hulle Hom sien kom om daardie Koninkryk te vestig (Mattheus 24:30).

Let op wat Hy gesê het toe Pilatus Hom vra: “Is U dan tog 'n koning?” Jesus antwoord: “U sê dat Ek 'n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom” (Johannes 18:37). Jesus verduidelik egter dat Sy Koninkryk nie van “hierdie wêreld”—hierdie huidige tydperk—is nie, maar van die Wêreld van Môre (vers 36).

Christus sal Sy Koninkryk vanuit 'n hoofkwartier in Jerusalem bestuur. “En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem” (Miga 4:2). Namate mense Christus se weë aanleer, sal 'n “Millennium” wat onder God se heerskappy geleef word, ongekende vrede en vreugde meebring soos nog nooit tevore in menseheugenis nie.

Jesus Christus se boodskap was die goeie nuus van verlossing en die Koninkryk van God wat op hierdie aarde gevestig sal word, ten einde alle mensewesens voor te berei vir die ewige lewe in Sy Gesin. Al Christus se dissipels het hierdie einste boodskap verkondig (Lukas 9:1-2; 10:1-2, 9; Handelinge 20:21, 25; Mattheus 24:14; 28:18-20).

Om “Christus te verkondig” beteken derhalwe om die volle waarheid aangaande Jesus Christus, Sy dood en opwekking, asook die goeie nuus van die toekomstige Koninkryk van God te verkondig. Diegene wat Jesus Christus werklik aanneem, sal Sy boodskap aanvaar, berou tot bekering hê, gedoop word en Hom toelaat om Sy lewe in hulle te leef (Filippense 2:5; Galasiërs 2:20), sodat Hy hulle kan voorberei vir die ewige lewe in Sy Gesin. Hierdie dramatiese verandering en verbintenis tot God se leefwyse, sal beloon word met Christus se Wederkoms, wanneer Hy sal sê: “Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af” (Mattheus 25:34).