Dit is so maklik om die maan as vanselfsprekend te aanvaar. Sonder die maan sou die lewe op aarde nie dieselfde gewees het nie – om die waarheid te sê lewe sou glad nie moontlik gewees het nie!
Ongeveer 3,000 jaar gelede het die antieke volke van Israel hulleself in ’n posisie bevind om Egipte te verlaat – bevry van die bande van slawerny. Hulle God het die nasie wat hulle in gevangenskap aangehou het, verwoes en hulle uit daardie land uitgelei om Hom te ontmoet – om ’n verbond met Hom te sluit en hulle as Sy volk te vestig.
Terwyl hulle getrek het, het ’n vol maan in die lug bo hulle geskyn – ’n kosmiese getuie van die betekenisvolle gebeurtenisse wat besig was om daar onder plaas te vind.
Die maan is trouens ’n getuie van méér as die gebeure van die menslike geskiedenis. Dit getuig ook van die Skepper en illustreer die besondere aandag wat Hy aan ons planeet gee asook die lewe wat Hy daarop geskape het.
’n Unieke kosmiese verhouding
Sommige wetenskaplikes skat dat moontlik slegs net een persent van die planete in ons heelal, natuurlike satelliete het wat so belangrik is soos ons planeet s’n. Trouens, in ons sonnestelsel is die verhouding tussen die aarde en sy enkele maan uniek – ’n afwyking van wat ons sou verwag op grond van ons huidige teorieë met betrekking tot die formasie van die planeet en wat ons by ander planete sien. Die maan is ongeveer net ’n kwart van die grootte van die Aarde maar nogtans is dit ’n geweldige groot verhouding in vergelyking met ander planete en mane. Dit is in verhouding vyf keer groter as Triton, Neptunus se maan, wat die tweede grootste in ons sterrestelsel is.
Omdat ons satelliet relatief swaar is, is die effek daarvan op ons planeet betekenisvol en waarneembaar in die alledaagse lewe. Die opvallendste hiervan is waarskynlik die effek wat dit op die getye van ons oseane het. Meer as 50% van die verskil wat ons ondervind tussen hoog- en laagwater is te wyte aan die aantrekkingskrag van die maan op die aarde se water.
Die grootste gety-verskille in die wêreld kom by die Bay of Fundy in Kanada voor, waar die verskil tussen laag- en hoogwater meer as 50 voet, of 16 meter, kan bereik! Die ontsaglike, rotsagtige kranse daar is ’n getuie van die krag van die getye om die land langs die kuslyn te vorm. Die erosie van die grond wat deur die wisselende getye veroorsaak word, stel lewensvriendelike minerale en voedingstowwe in die seewater vry. Die lewenspatroon in ons kusstreke word grootliks beïnvloed deur die sikliese natuur van die getye. Ingenieurs werk daaraan om maniere te vind en in te span om die energie van gety-veranderings te benut vir opwekking van krag wat ons op land kan gebruik.
Die voortdurende verandering van ons planeet wat deur die maan veroorsaak word, hou nie by ons oseane op nie. Geoloë het gevind dat selfs die vaste aarde beweeg en bult op ’n gety-agtige wyse as gevolg van die maan se swaartekrag. Terwyl die effek dalk nie so waarneembaar is nie, moet hoogs sensitiewe instrumente ontwerp word met inagneming van hierdie veranderende “aards-getye” soos byvoorbeeld sommige deeltjie-versnellers.
’n Stabiliserende Hand en Bron van wonder
Baie wetenskaplikes glo dat ons unieke maan ’n beduidende rol speel om die draai van die aarde om sy eie as te stabiliseer.
In verhouding tot ons wentelbaan om die son, is die as van die aarde effens gekantel – sowat 23.4° vanaf vertikaal. Hierdie kanteling veroorsaak die siklus van die seisoene, namate energie van die son die aarde se oppervlak teen verskillende hoeke tref met die verloop van die planeet se jaarlange wentelbaan.
Wetenskaplikes glo egter dat hierdie kanteling kon ontwikkel tot ’n wilde en geweldige geskud met dramatiese gevolge op ons klimaat, sou dit nie wees vir die stabiliserende invloed van die maan se swaartekrag nie. Selfs indien die kanteling met slegs 10° sou toeneem, sal die seisoene, siklusse hê met dramatiese temperatuur-uiterstes. Groot gedeeltes van elke halfrond sou vir maande lank gehul gewees het in ononderbroke warm sonlig of vriesende skaduwee vir maande aaneen. Die maan dien as die aarde se gravitasie herder en hou die planeet se hoek van kanteling binne ’n gematigde reikwydte wat voorsiening maak vir lewens-onderhoudende seisoene terwyl dit ook ’n stabiele wêreld-klimaat in stand hou.
Die maan is egter spesiaal, bo en behalwe sy rol in die regulering en volhouding van lewe op aarde. Dit verryk ook daardie lewe.
In hulle bekende “Privileged Planet” hipotese teken Jay W. Richards en Guillermo Gonzales aan dat baie van die eienskappe van die aarde onwaarskynlik is op maniere wat nie net lewe moontlik maak nie maar verskaf ook aan die mensdom die geleentheid om wetenskaplike ontdekkings te maak en die kosmos rondom ons waar te neem. Hulle argument is dat so ’n reëling daarop dui dat ons heelal “ontwerp is vir ontdekking” en die maan is ’n goeie voorbeeld van daardie ontwerp.
Enige persoon wat al ooit ’n algehele sonsverduistering waargeneem het, kan getuig, dit is ’n wonder om te beleef. Wanneer die maan die son verduister en ’n gedeelte van die aarde dan in skaduwee gehul is, is dit asof die dag in nag verander. Sterre verskyn in die lug, nagvoëls begin met hulle melodieë en ’n unieke 360° “sonsondergang”-effek word op die horison gesien wat die donker lug daarbo omraam. By die fokuspunt van die sonsverduistering waar die son behoort te wees, sien mens iets wat soos ’n swart gat in die uitspansel lyk – die donker, vormlose silhoeët van die maan, wat die son heeltemal blokkeer en die gewoonlik onsigbare sonkrans soos ’n kroon dra.
So ’n skouspel is slegs moontlik as gevolg van ’n hoogs onwaarskynlike kombinasie van faktore: ’n Maan wat presies die regte grootte is, presies die regte afstand en in presies die regte posisie is. Geen ander planeet in die sonnestelsel geniet so ’n skouspel nie en tog kom dit gereeld voor op die een planeet met intelligente wesens wat in staat is om dit te waardeer en om daarvan te leer.
Gebeurtenisse soos verduisterings toon aan ons die doel en ontwerp van die maan. In die bladsye van die boek Génesis verklaar God dat hy die maan daar gestel het as deel van “die uitspansel van die hemel, om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare” (Génesis 1:14). Soos die “klein lig om te heers oor die nag” (vers 16) die maan en sy siklus die mens voorsien van ’n instrument om die verloop van tyd op te teken en te meet.
Sommige kulture het die maan valslik aanbid. Die maan behoort egter nie aanbid te word as een of ander soort godheid nie. Dit behoort eerder waardeer te word as ’n geskenk aan die mensdom van die Een wat aanbid moet word.
God se “getroue getuie in die hemelruim”
Die mensdom het meer as 50 jaar gelede sy voete op die maan gesit, maar sedert die laaste Apollo-sending in 1972 het ons dit nie weer besoek nie.
Tog gaan die maan voort om ons steeds te besoek. Toe die Psalmdigter Etan, die Esrahiet, geïnspireer was om God se gedagtes oor die afstammelinge van koning Dawid aan te teken, het hy geskryf: “Soos die maan sal hy vir ewig vasstaan, en die getuie in die hemel is getrou” (Psalm 89:38). Dit was waarlik ’n getroue getuie. Die hele geskiedenis van die mensdom het op ons planeet plaasgevind terwyl die maan stilweg bokant ons wag gehou het – ’n getuie wat gehoorsaam is aan die verordeninge wat deur sy Maker ingestel is (Jeremia 31:35).
Met die noukeurige ontwerp, die voordelige invloed daarvan en sy presiese plasing, dien die maan as ’n getuie van die deernis en besorgdheid wat ons Skepper vir die werke van Sy hande het.