Die Verenigde State van Amerika en ander Israelitiese nasies (die Verenigde Koninkryk, Kanada, Australië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika en nasies van die noordwestelike Europese afkoms), het ongekende finansiële voorspoed gedurende die afgelope twee eeue ervaar. Die pond en die dollar was die wêreld se reserwe geldeenhede en was vir ’n hele paar honderd jaar die erkende ruilmiddels vir wêreldhandel. Hierdie bevoorregte en uitnemende posisie is nietemin besig om te verander en ’n dramatiese ommeswaai gaan ’n aanslag op die Israelitiese nasies hê namate antieke Bybelprofesieë gestalte aanneem in die jare wat voorlê.

Waarskuwingstekens – ontluikende gevare

Die internasionale monetêre stelsel wentel deesdae om die Amerikaanse dollar. Amerika skuld egter 16 triljoen dollar aan soewereine welvaartfondse in die Midde-Ooste en aan potensiële vyandige nasies soos China en Rusland. Hierdie stygende skuld ondermyn vertroue in die VSA dollar en om geld van potensiële teëstanders te leen sal beperkinge op politieke en militêre opsies vir Amerika beteken, indien ’n krisis sou ontstaan. Pogings deur die VSA Tesourie om die dollar te verswak (sy waarde te verminder) ten einde die bedrag wat aan die uitleen nasies verskuldig is te verminder, word nie deur daardie nasies waardeer nie, aangesien dit die bedrag van die rykdom wat hulle in VSA dollars hou bedreig. Dit het ’n werklike begeerte aan die kant van ander nasies laat ontstaan om ’n alternatiewe geldeenheid as teenvoeter vir die VSA dollar te skep. In werklikheid, soos die ekonoom James Rickards daarop gewys het, Amerika se grootste ekonomiese mededingers – China, Rusland en die olie-produserende lande van die Midde-Ooste – doen alles moontlik om die VSA monetêre monopolie te beëindig. Rickards is ’n raadgewer van internasionale ekonomie vir die Departement van Verdediging van die VSA.

Die nasies wat negatief geraak word deur die Amerikaanse finansiële beleid is nie in staat om die VSA militêre oorheersing uit te daag nie. In ons moderne elektroniese tydperk is daar tog ander metodes om die Amerikaanse beleid uit te daag – met inbegrip van kuberaanvalle en valuta oorloë! Die doel van ’n finansiële oorlog is om handel te ontwrig, rykdom te vernietig en ’n teëstander se vermoë te verlaag en geopolitieke voordeel te behaal. Kuberaanvalle op finansiële markte wat die verkoop van aandele en effekte naboots, kan tot finansiële paniek lei wat oornag of in ’n kwessie van dae, groot bedrae van rykdom kan uitwis. Waarnemers erken dat “’n goed georkestreerde finansiële kuberaanval so ontwrigtend soos enige tradisionele militêre aanval kan wees”. (Currency Wars, Rickards, bl. 47). Toevallige of kwaadwillige aktiwiteite wat vertroue in die dollar ondermyn – die belangrikste geldeenheid in wêreldhandel – kan tot die ineenstorting van die internasionale stelsel lei en wydverspreide maatskaplike en politieke onrus veroorsaak. Rickards sê elders: “Die heel waarskynlikste uitkoms van valuta oorloë en die verlaging van die dollar is moontlik ’n chaotiese, katastrofiese verlies van beleggersvertroue” en die implementering van noodmaatreëls deur regerings om ’n soort van monetêre stelsel te behou (ibid., bl. 247). Hierdie selfde skrywer merk op: “Die verloop van die VSA dollar is onvolhoubaar ... dit laat chaos as ’n sterk moontlikheid” (ibid., bl. 255). Hy skryf ook dat ons kyk na “die dollar se laaste dae en die gevolglike ineenstorting van die internasionale monetêre stelsel ... die volgende finansiële ineenstorting sal ongekend in omvang wees ... [en] stem met niks in die geskiedenis ooreen nie” (The Death of Money, bll. 6, 12-13).

Antieke profesieë

Wat baie mense vandag nie kan begryp nie is dat God lank gelede vir Abraham en sy Israelitiese nageslag belowe het dat, indien hulle Sy Wette gehoorsaam, hulle geseënd sou wees (Génesis 12:1-3; Deuteronómium 28:1-13). God het egter die Israeliete gewaarsku dat indien hulle ongehoorsaam sou wees aan Sy Wette, Hy hulle “trotse mag [sal] verbreek” – met inbegrip van hulle monetêre mag – hulle vyande die oorhand oor hulle sou kry (Levitikus 26:14-20). God waarsku die Israeliete verder dat indien hulle Hom sou verwerp en teen Sy weë sou draai, die vreemdelinge in hulle midde sal opstaan en die Israelitiese nasies hulle mag en invloed sou verloor en debiteure van ander nasies word (Deuteronómium 28:43-45). Die profeet Jesaja het die Israeliete gewaarsku dat, omdat hulle geweier het om Sy Wette te gehoorsaam, Hy die beskermende “doringheining” sal verwyder wat Hy om hulle geplaas het as gevolg van die gehoorsaamheid van hulle voorvader Abraham (Jesaja 5:5). Jesaja profeteer ook dat die Israelitiese nasies soos Sodom en Gomorra sou word (bevordering van homoseksualiteit, dieselfde-geslag huwelike en ander sensuele plesier – sien Génesis 19:5-7; Eségiël 16:49-50) en dat God die ondersteuning van hulle samelewing sou verwyder (met inbegrip van hulle ekonomiese fondament – Jesaja 1:1-10; 3:1-5). Die profeet Miga het voorspel dat die tyd sal kom wanneer die sondige Israeliete sal probeer om hulle geld te spaar, maar dié pogings sal tot niks kom nie en hulle rykdom sal aan diegene gegee word wat hulle oorwin (Miga 6:14).

Eségiël is opdrag gegee om die Israelitiese nasies te waarsku (Eségiël 2:3; 3:4, 16-17) dat, as gevolg van hulle ongehoorsaamheid aan God se Wette, hulle “onheil op onheil” sou beleef en dat hulle geld waardeloos sou word en hulle dit soos vullis in die strate sou gooi (Eségiël 7:19, 26). Jeremia profeteer dat plunderaars “skielik” op die sondige Israelitiese nasies sou afkom omdat hulle God se Wette verlaat het en dit gevolglik tot ’n ongekende ramp sal lei (Jeremia 6:26; 9:13-19; 19:3-4). In die moderne 21ste eeu se terme kan Jeremia se waarskuwing dat God die “swaard” en die “plunderaar” teen sondige Israelitiese nasies sal stuur, kuberaanvalle en valuta oorloë insluit – wat kan lei tot ontwrigting, onderdrukking en selfs gewapende konflikte.

Deesdae neem ál hierdie profesieë gestalte aan in die nuus! Die trots van Amerika se ekonomiese mag is besig om te kwyn namate vertroue in die dollar daal en vertroue verdwyn in Amerika se vermoë om leiding te neem en ’n model vir die wêreld te wees. Amerika het as gevolg van ongedissiplineerde lenings ’n skuldenaar van ander nasies geword, met inbegrip van mededingers en potensiële vyande. Amerika se monetêre beleid om die dollar te verswak bedreig die rykdom van ander nasies wat dollars gebruik en moedig wrewel aan teen die Amerikaanse finansiële oorheersing in die internasionale sfeer. Dit voed ’n groeiende beweging om die dollar te ondermyn en met ’n alternatiewe geldeenheid te vervang. Finansiële ontleders voorspel dat die ondergang van die dollar die internasionale monetêre stelsel kan laat misluk en die wêreld in finansiële en maatskaplike chaos kan dompel.

Uit ’n profetiese oogpunt kan ook daarop gelet word dat “die euro wat by die sydeur wag, nog ’n bedreiging vir die leierskap van die dollar” is en Mario Draghi, die president van die Europese Sentrale Bank (wat in Frankfurt, Duitsland geleë is) het verklaar: “Die ESB is gereed om te doen wat ookal nodig is om die euro te bewaar” (The Death of Money, bl. 112). Die profeet Hosea het lank gelede aangedui dat finansieel besorgde Israelitiese nasies na Assirië (Duitsland) sou kyk vir hulp namate ons die einde van hierdie tydperk nader (Hoséa 5:13). Dit is ontnugterend om te sien hoe hierdie antieke profesieë gestalte aanneem op dieselfde tyd as wat Amerika en ander sogenaamde Christelike nasies van God en hulle unieke Bybelse erfenis wegdraai. Hulle word deur hulle opponente as moderne voorbeelde van Sodom en Gomorra beskou – op pad na vernietiging. Om te leer wat met hierdie nasies en die wêreld gaan gebeur namate die einde van hierdie tydvak nader kom, lees gerus ons insiggewende boekie, Armageddon en daarna.