Terwyl die wêreld sy aandag gefokus het op die burgeroorlog in die Oekraïne, die gewapende stryd tussen die Israeli’s en Hamas in Gaza, die verklaring van ’n Islamitiese Kalifaat in Sirië-Irak en die wydverspreide aksies van China in die Suid-Chinese See, vind beduidende profetiese gebeure in Europa plaas.

Baie aandag is op Skotland gefokus, wat die selfvoldaanheid van Engeland en die ander streke van die Verenigde Koninkryk geskok het. Eeue-oue verhoudings tussen die Engelssprekende Europeërs staan voor ’n uitdaging soos nog nooit vantevore nie.

Intussen het Duitsland in stilte, byna sonder om die nuusopskrifte te haal, wesenlik beheer oor die Europese vasteland oorgeneem en hulleself bewys as die dominante mag in die Europese Unie, net soos die eertydse Bybelse profesieë lankal voorspel het. In die jare wat voorlê, sal hierdie gebeure nie net Europa verander nie, maar ook die Midde-Ooste en inderdaad die hele wêreld. U behoort te verstaan waarom dit gebeur en waarheen hierdie gebeure lei!

Die Duitsers neem leiding

Die Europese Unie is oorspronklik gestig as ’n meganisme om Duitsland aan Europa te verbind en om Duitsland se geskiedkundige geneigdheid tot aggressie in toom te hou. Die Franse het hulleself gesien as ’n wyse Franse ruiter op die sterk Duitse perd, wat saam die toekoms van Europa sou bepaal. Die Europese finansiële krisis en Duitsland se sterk ekonomie het saamgewerk om die finansieel welvarende Duitsers (met geld om uit te leen aan hulle skuldbelaaide bure) tot in die beherende posisie in die EU te plaas. Soos ’n Ierse politikus opgemerk het: “Die Duitse perd het die Franse ruiter afgegooi en koers gekies na Berlyn”. Onlangse gebeure het gewys dat die gerieflikheidshuwelik tussen Frankryk en Duitsland vermoedelik verby is. “Met Brittanje wat wegdryf en Frankryk op die vloer, word Duitsland, hoewel onwillig, gedwing om die leidende rol in die raad in Europa oor te neem” (The Times, 6 Julie 2014).

Deesdae neem die Duitsers die EU en Europa oor. Martin Schultz, ’n Duitse politikus en voorstander van nouer samewerking tussen Europese nasies, dien tans sy tweede termyn as President van die Europese Parlement uit. Schultz wil graag die EU militêr sterker maak en minder afhanklik wees van die VSA. Klaus Welle, die Sekretaris-Generaal van die Europese Parlement, is ’n ander Duitse politikus, wat sy rol gebruik het om die werksaamhede van die parlementêre liggaam te moderniseer. Die nuwe Stafhoof vir Jean-Claude Juncker, die inkomende hoof van die Europese Kommissie, is Martin Selmayr: “’n Duitse prokureur wat die meesterbrein agter Juncker se verkiesingsveldtog was ... en die werklike mag agter Juncker is” (The Times, 6 Julie 2014). Selmayr, ’n voormalige wandelgangpolitikus, “is ongelooflik slim en bekwaam en glo opreg in die Europese projek, maar hy is ook ’n genadelose stoomroller wat vir niks sal stuit nie ... [hy] sal waarskynlik aansienlike invloed vir sy land in die nuwe kommissie verseker” (ibid.). Juncker, ’n Luxemburger en stoere federalis, is nie die Anglo-Saksers goedgesind nie en het gesê dat “enige teenstander wat die komende [Europese] supermoondheid teenstaan gemotiveer is deur kleinlike, vuil en immorele belange; doof vir enige geskiedkundige bestemming” (The Telegraph, 22 Junie 2014).

In ’n onlangse historiese skuif, is ’n Duitse Weermaggeneraal, Markus Laubenthal, voormalige bevelvoerder van Duitsland se 12de Panser Brigade, benoem as Stafhoof van die VS Weermag in Europa – die eerste nie-Amerikaner wat ooit vir daardie pos benoem is (“German officer to serve as U.S. Army Europe’s chief of staff”, ArmyTimes.com, 31 Julie 2014). Die groeiende voortreflikheid van Duitsers in topposte in die EU en ander organisasies in Europa, is besig om “’n bron van kommer te word vir ander regerings” (“Juncker’s ‘steamroller’ sidekick flattens UK hopes of top EU job”, The Times, 6 Julie 2014).

Die “koningin” van Europa

Die heel sigbaarste en invloedrykste Duitser in Europa vandag is Angela Merkel. Die Duitse Kanselier is Europa se heel indrukwekkendste politikus, die ongekroonde koningin van Europa en selfs die magtigste vrou in die wêreld. Merkel word as ’n “politieke meesterbrein van buitengewone bekwaamheid, subtiliteit en ambisie” gesien wat “deur gebruik te maak van die Europese Unie as haar middel ... geslaag het waar Bismarck, Keiser Wilhelm II en Hitler gefaal het, deur die hele vasteland in ’n groter Duitse Ryk te omskep” (dailymail.co.uk/debate/article-2311874, 19 April 2013). As die hoof van die grootste ekonomie in Europa en die vierde grootste ekonomie in die wêreld, “het Angela Merkel Duitsland die onbetwiste meester van Europa gemaak” en “met ’n geslepenheid wat Machiavelli waardig sou wees, het Duitsland se Kanselier die geleentheid wat haar aangebied is, aangegryp om magsverhoudings in Europa te herstruktureer” (ibid.). Aangesien Duitsland “die [finansiële] sekuriteit vir die hele euro-sone verskaf, gaan niemand met hulle stry daaroor dat hulle alles beheer nie ... [want] die Duitsers besit Europa reeds” (“Deutschland über alles, we are all Germans now”, independent.ie, 8 Augustus 2011). Merkel en haar bondgenote is vasbeslote om druk uit te oefen op die Europese nasies en hulle aan te moedig in die rigting van ’n Verenigde State van Europa, omdat “Duitsland, as die euro-sone se grootste skuldeiser, die meeste het om te verloor indien die euro in duie stort ... [en] Duitsland sal daarvoor verantwoordelik gehou word” (“The Reluctant Hegemon”, The Economist 15 Junie 2013). Waarnemers het opgemerk dat Merkel van plan is om haar amp as Kanselier aan ’n opvolger te oorhandig wat Duitsland sal aanspoor om ’n meer dominante rol op die wêreldtoneel te speel. Op daardie stadium kan Merkel na vore tree om “gekroon” te word as die President van ’n Verenigde Europa (“Why Queen Angela makes Europe dance to Merkel’s tune”, telegraph.co.uk, 16 Julie 2014).

Duitsland in profesie

Wat sal Duitsland se rol wees in die jare wat voorlê? Die profeet Jeremia dui aan dat die Israelitiese nasies (Amerika, volke van Britse afkoms en die volke van Noordwes-Europa) in die laaste dae ’n “tyd van benoudheid vir Jakob” sal beleef omdat hulle hulle gedistansieer het van God (Jeremia 30:7, 14-15). Die profete Jesaja en Hosea het opgeteken dat God “Assirië” sal gebruik om die afvallige Israelitiese nasies te korrigeer en te straf (Jesaja 10:5-10; Hosea 5:5; 11:5). Die Bybelse nasie van Assirië word in eindtydse profesie geïdentifiseer as die moderne nasie van Duitsland (sien “Herrysende Duitsland: ’n Vierde Reich?” Wêreld van Môre, September-Oktober 2007). Die opkoms van Duitsland tot ’n oorheersende posisie in Europa – waar die nasies wat eens die wêreldtoneel oorheers het, hulle voorberei om ’n “teëwig” teen Amerika en die Anglo-Saksiese wêreld te word, is ’n betekenisvolle profesie. U behoort hierdie ontwikkelings in Europa dop te hou soos wat in die eindtydse Bybelse profesieë geopenbaar word asook die woorde van die Duitse volkslied wat verkondig: “Duitsland bo alles, bo alles in die wêreld”.