Professor Lawrence Mead het in Junie 2007 die jaarlikse John Bonython-lesing by die Sentrum vir Onafhanklike Studies in Sydney, Australië gelewer. Mead, ’n hoogsgerespekteerde professor in Amerikaanse regering en openbare beleid by New York se Universiteit, het opgemerk dat, wat hy die “Anglo-nasies” noem – die Verenigde State, Groot Brittanje, Australië, Kanada en Nieu-Seeland – vandag “ongeëwenaard” in die wêreld is. In sy aanbieding getiteld “Amerika sal seëvier”, wys Mead daarop dat hierdie nasies die “rykste van alle lande [is] ... die steunpilaar van internasionale instellings wat toegewy is aan vrede en ontwikkeling ... beskik oor die kapasiteit om mag oorsee te kan projekteer wat geen ander lande kan ewenaar nie ... hulle bedryf min of meer die wêreld”. Mead sluit af: “Amerikaanse oppermag is diepgewortel en dit is onwaarskynlik dat dit uitgedaag sal word ... ek sien geen einde daaraan in die nabye toekoms nie”. Bybelse profesieë openbaar egter dat dramatiese veranderings aan die kom is wat die Amerikaners en die nasies van Britse afkoms sal raak op ontnugterende en onverwagte wyses. Wêreldgebeure dui daarop dat hierdie antieke profesieë vandag besig is om gestalte aan te neem!

Nasionale profesieë

Toe Moses die Israeliete uit Egipte gelei het, het God hom aangesê om ’n aantal profetiese waarskuwings te boekstaaf vir Sy “uitverkore” volk (Deuteronomium 7:6). Moses het aan die Israeliete gesê dat hulle geseën sal wees as hulle aan God se instruksies gehoorsaam is (Levitikus 26:1-13), en God se waarskuwing oorgedra: “Maar as julle nie na My luister ... as julle siel van my verordeninge ’n afsku het ... [sal] julle voor jul vyande verslaan word; en julle haters sal oor julle heers ... Ek sal julle trotse mag verbreek” (Levitikus 26:14-19). Moses het nie net met die Jode gepraat nie; hy het met “die kinders van Israel” (Levitikus 24:2; 25:2; 27:2) gepraat. Die kinders (of “huis”) van Israel het bestaan uit twaalf stamme (sien Numeri 10:11-28). Die Jode kom van die stam van Juda, maar elf ander stamme – afstammelinge van die seuns van Jakob – gee opkoms aan ander nasies. (Vir meer inligting oor hierdie wesenlike onderwerp, vra asseblief vir ons gratis boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?)

Moses het kort voordat die kinders van Israel die “Beloofde land” binnegegaan het, soortgelyke instruksies aan hulle herhaal, en hulle gewaarsku: “Maar as jy nie luister na die stem van die Here jou God ... Die Here sal maak dat jy voor jou vyande verslaan word ... en jy sal ’n skrikbeeld vir al die koninkryke van die aarde word ... En jy sal ’n voorwerp van verbasing, ’n spreekwoord en ’n spot wees onder al die volke waarheen die Here jou sal wegvoer” (Deuteronomium 28:15, 25, 37).

God se profete het eeue later soortgelyke waarskuwings herhaal. Jeremia boekstaaf, “huis van Jakob, en alle geslagte van die huis van Israel ... En jy het met baie minnaars gehoereer [deur te vertrou op bondgenote in plaas van op God] ...[jou] minnaars versmaad jou, hulle soek jou lewe” (Jeremia 2:4; 3:1; 4:30). Later het Jeremia hierdie ontnugterende profesie gemaak wat vooruit wys na die einde van hierdie tydvak, “dit is ’n tyd van benoudheid vir Jakob [benoudheid vir al die nasies wat van Jakob afstam] ... Al jou minnaars het jou vergeet, hulle vra nie na jou nie ... aan die einde van die dae sal julle dit verstaan” (Jeremia 30:7, 14, 24). Esegiël boekstaaf: “Daarom het Ek haar oorgegee [die tien stamme van Israel] in die hand van haar minnaars ... Ek verwek jou minnaars, van wie jou siel vervreemd geraak het, teen jou [Jode van Jerusalem]” (Esegiël 23:9, 22). Die boek van Klaagliedere beskryf Jerusalem, “al haar vriende het troueloos teen haar gehandel, haar vyande geword ... Haar teëstanders het die oorhand gekry ... hulle het gelag oor haar ongelukkige uiteinde ... [sy sal sê] Ek het geroep na my liefhebbers – hulle het my in die steek gelaat” (Klaagliedere 1:2, 5, 7, 19).

Antieke profesieë is moderne nuus

Baie mense vandag verstaan nie dat Bybelse profesieë dikwels tweeledig is nie. Baie profesieë wat ’n aanvanklike vervulling in antieke tye gehad het, sal ’n uiteindelike vervulling in die toekoms hê, veral namate ons die einde van hierdie tydvak nader.

Die VSA is sekerlik besig om probleme oorsee te ervaar – met Irak, Iran, Rusland, China, Somalië, Noord Korea, Afganistan en ander nasies – tesame met weersverwante rampe tuis, groeiende finansiële tekorte en die dalende waarde van die dollar. ’n Voormalige amptenaar van die Bush-administrasie het gesê: “Dit is vir my moeilik om te dink aan enige ander moment in moderne tye waar daar soveel uitdagings gelyktydig hierdie land in die gesig gestaar het”. Madeleine Albright, voormalige Staatsekretaris van die VSA, het gesê dat haar nasie ’n “behoorlike storm” in buitelandse beleid in die gesig staar (The Washington Post, 6 Julie 2006). Onlangse meningspeilings toon dat baie burgers van ander lande voel dat die Verenigde State “hoofsaaklik ’n negatiewe rol in die wêreld” speel “en kan nie vertrou word om verantwoordelik op te tree in die wêreld nie” (BBC, 23 Januarie 2007; Agence France-Presse, 17 April 2007). Die inval in Irak deur die VSA gelei – hoofsaaklik gesteun deur Anglo-nasies, maar teengestaan deur Europa, Rusland en China – is uiters ongewild, beide in Amerika en onder die VSA se bondgenote.

’n Artikel in Newsweek wat tot nadenke stem, “Die einde van Pax Amerikana”, merk op dat terwyl die VSA se ongeëwenaarde militêre mag aan baie nasies die stabiliteit gegee het om voorspoed en demokrasie te ervaar, die VSA nou die mag verloor om andere te dwing om sy leiding te volg. Die artikel kom tot die gevolgtrekking dat: “Gegewe die toenemende anti-Amerikaanse gevoel wat tans oorsee heers, kan die wegkwyning van Pax Amerikana baie blydskap inisieer” (13 Desember 2006).

Die VSA se amptenare gaan voort om beide bondgenote en teenstanders te verbitter. Turkye – ’n NAVO-bondgenoot van die VSA – het aanstoot geneem toe die VSA Kongres dit verlede jaar oorweeg het om die uitmoor van soveel as 1.5 miljoen Armeniërs in die kwynende jare van die Ottomaanse Ryk, as “volksmoord” te bestempel. As Turkye sou wegbreek van die VSA, sal Amerika noodsaaklike voorraadlyne na Irak verloor, wat tans deur lugmagbasisse in Turkye in stand gehou word (Charlotte Observer, 19 Oktober 2007). Chinese leiers was woedend toe die Amerikaanse president George W. Bush, die Kongres se goue medalje verlede Oktober toegeken het aan die Dalai Lama, die verbanne Tibettaanse Boeddhiste leier wat vir dekades uiters uitgesproke was teen die Chinese beleid. China hou ’n groot deel van Amerika se buitelandse skuld, en hulle is besig om die wêreld se grootste vloot op te bou (sien WorldTribune.com, 19 September 2007). Indien die Chinese die bates wat hulle in Amerikaanse dollar besit, oorskakel na die euro, sal die Amerikaanse ekonomie en sy oorverspreide militêre mag in groot moeilikheid wees. In die Midde-Ooste oorweeg die huidige Israelse regering om Israel se vyande te paai deur Jerusalem te deel met die Palestyne – selfs terwyl Iran en sy Moslemse krygsbendes in Libanon, Sirië en die Palestynse Gebied daartoe verbind bly om die Joodse nasie van Israel te vernietig (Charlotte Observer, 12 Oktober 2007; IsraelNN.com, 24 Oktober 2007). Regoor die wêreld is die eens hegte bondgenootskappe van die Israelitiese nasies besig om te versuur.

Waarom probleme?

Waarom staar die nasies wat van antieke Israel afstam – wat God “uitverkies” en geseën het – vandag soveel skynbaar onhanteerbare probleme in die gesig? Waarom word vorige bondgenote van die VSA, Brittanje, Israel en ander Anglo-Saksiese nasies, teenstanders? Die antwoord is opgeteken in u Bybel se profesieë, wat voorspel dat die Israelitiese nasies se bondgenote in die laaste dae teen hulle gaan draai. Deur Moses het God die Israeliete gewaarsku dat hulle hulle bondgenote gaan verloor, “as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; en as julle My insettinge verwerp” (Levitikus 26:14-15). Moses het ook voorspel dat Israel van God sal afdwaal, en gewaarsku: “Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom” (Deuteronomium 31:29). God bulder: “Omdat hulle My wet wat Ek hulle voorgehou het, verlaat het en na My stem nie geluister en daarin nie gewandel het nie, maar gewandel het agter die verhardheid van hulle hart ... stuur [Ek] die swaard agter hulle aan totdat Ek hulle verteer het” (Jeremia 9:13-16). Hy sê: “Omdat jy My vergeet heten My agter jou rug gewerp het, so dra jy dan ook nou jou skandelike dade en jou hoererye” (Esegiël 23:35). Maar selfs indien die moderne afstammelinge van antieke Israel nie betyds hulle weë verander om die gevolge van hulle dade vry te spring nie, kan as indiwidu begin om veranderings in u eie lewe te maak – indien u die waarskuwings ter harte neem van profesieë wat vandag begin gestalte aanneem!