“Irak? Presies waar is Irak miskien?” is ’n vraag wat baie Amerikaners voor 11 September 2001 sou kon vra. Baie min van hulle sou in staat wees om Irak se hoofstad, Bagdad, te identifiseer.

Vandag, na die koalisie-inval gelei deur die VSA, is beide Irak en Bagdad deel van ons daaglikse woordeskat – tesame met die voortdurende tragiese berigte van dood en verwoesting. Wie sou kon dink dat vier jaar later, teen 1 Junie 2007, meer as 3 470 Amerikaanse soldate hulle lewens sou gee vir ’n doel wat baie mense nie verstaan het nie – en wat die meeste Amerikaners vandag ook nie verstaan nie? Ongelukkig moet by daardie syfer ook meer as 25 200 jong Amerikaanse soldate getel word, eens gesond en sterk, vol hoop en drome vir ’n toekoms wat hulle nooit sal hê nie en wat nou op die lys van gewondes is – die meeste van hulle lewenslank.

Waarom? Daardie vraag is al miljoene kere deur die geskiedenis heen gevra maar het onbeantwoord gebly en sal steeds onbeantwoord bly so lank as wat mense die regte Lewenswyse, wat deur liefde aangetoon word, God se liefde, minag. Intussen, onder Satan se onderduimse regering, pluk ons die vrugte van die mens se onmenslikheid teenoor sy medemens.

Ek is nie ’n gebore Amerikaanse burger nie. Ek het my burgerskap bekom na my immigrasie, ongeveer vyf dekades gelede. Ek het dit toe – net soos nou nog steeds – as ’n groot voorreg en seën beskou om ’n Amerikaner te wees. “Die Verenigde State is die smeltkroes waar mense van alle volkere een nasie vorm”, is daar aan my gesê toe ek my toets vir burgerskap geslaag het. Vandag, met die voortdurende agteruitgang van ons kultuur en van ons waardes, is dit beswaarlik nog waar. Die smeltkroes smelt nie meer nie. Ons is in baie opsigte onder onsself verdeeld.

Het u al ooit ’n Amerikaanse begraafplaas oorsee gesien? Daar lyk die verdeeldheid nie so groot nie. Weet u dat daar ’n hele paar Amerikaanse begraafplase in Europa is waar derduisende jong Amerikaanse soldate duisende myle van hulle huise, gesinne en vriende af begrawe lê – byna vergete deur diegene vir wie hulle hul lewens opgeoffer het?

Byna 20 jaar gelede – in April 1988 – het ek na Europa teruggekeer as ’n redakteur van die Plain Truth-tydskrif, en het ek een van daardie begraafplase in Saint-Avold Frankryk, nie te ver van Duitsland af nie, besoek. Die artikel wat ek toe oor my besoek geskryf het, was getiteld “Did They Die in Vain?” Daardie vraag bly vandag nog steeds net so betekenisvol soos wat dit toe was en tot op hede kan ek beswaarlik my emosies beheer wanneer ek dink aan die reuse opoffering wat daardie Amerikaanse soldate gemaak het.

Slegs die dowwe geplof van ’n ligte reëntjie het die stilte verbreek by die Amerikaanse begraafplaas in Saint-Avold Noord-Frankryk, waar ek boaan die hooftrap van die Gedenkgebou gestaan het.

Die gronde van die begraafplaas strek oor meer as 113,5 akker en bevat 10 489 grafstene – byna almal in die vorm van ’n kruis, behalwe 200 wat in die vorm van die tradisionele Ster van Dawid is, vir die afgestorwenes wat aan die Joodse geloof behoort het.           

Die terrein van die grafte bestaan uit nege persele, uitgelê rondom die as van ’n simmetriese patroon en van mekaar geskei deur uitgelegde paadjies. In elke perseel is die grafstene van wit Italiaanse marmer in reguit lyne geplaas.

Wat ’n roerende en imponerende toneel!
Dit was my eerste besoek aan die grootste Amerikaanse begraafplaas in Europa, die “tuiste” van dapper Amerikaanse voetsoldate en vlieëniers waarvan die meeste hulle lewens verloor het tydens die veldslae langs die Duitse grense tydens die Tweede Wêreldoorlog.

Wat sê ’n mens – wat kan ’n mens sê – in tye soos hierdie? Hoe beheer ’n mens jou emosies terwyl duisende grafstene in stilte na jou kyk? So baie lewens, meestal jonk, eens vol drome en hoop, lê nou onder daardie grafstene begrawe.

 “Waarom oorloë?” is moontlik die vraag wat die meeste deur besoekers gevra word wanneer hulle hierdie tragiese plek sien.

Daar is natuurlik ander Amerikaanse begraafplase in Europa. Reg oor die wêreld is daar ook talle ander begraafplase wat die oorskotte bevat van soldate van alle nasionaliteite en rasse. Ook hulle het – vir vrede en vryheid – hulle kosbaarste gawe opgeoffer – hulle lewens!

Vrede en vryheid? Wat ’n paradoks – wat ’n eufemisme! Wie sou in 1945 kon dink dat meer as 150 verdere oorloë in minder as 50 jaar in die jare na die einde van die Tweede Wêreldoorlog gevoer sou word? Wie sou geglo het dat miljoene ander soldate van alle nasionaliteite ook sou sterf en vandag nog steeds sterf –­ vir vrede en vryheid?

Maar, waar is die vrede? Wat is die vryheid of bevryding waarvoor mense bereid is om te sterf? By Saint-Avold, reg voor die Besoekersgebou aan die westekant, lê die rantjies waarin ’n deel van die versterkings van die Maginotlyn is.

Baie van die lesers van die Wêreld van Môre is waarskynlik te jonk om die groot rol te onthou wat die Maginotlyn, na die Eerste Wêreldoorlog, veronderstel was om in Frankryk se verdediging te speel. Baie mag dalk nie eens weet dat dit gestaan het as ’n pilaar van vrede nie – ’n ondeurdringbare skans waardeur geen leër kon kom of afgebreek kon word nie! Tog het die Maginotlyn geval – net soos die soldate wat opgedra was om dit te verdedig!

Wes van die Gedenkvoorhof se ingangspoorte, is die Kapel en Gedenkgebou. Binne in die gebou, onder die vyf standbeelde wat die oënskynlike ewige stryd om vryheid, soos voorgestel deur godsdienstige en militêre helde, verteenwoordig, lees die inskripsie: “Ons mede-landgenote – hulle het alles verduur en alles gegee sodat die mensdom in vryheid en vrede kan leef. Hulle sluit aan by daardie roemryke groep helde wat hulle vooraf gegaan het”.

Toe ek oor dié woorde nadink, het ek gewonder wat al hierdie helde – ­wat vir “vrede en vryheid” gesterf het – ­nou sou sê as hulle kon praat!

Teen die noordelike muur is kleurfoto’s van ses ander Amerikaanse militêre begraafplase in Europa en bokant die foto’s is die woorde van Generaal Dwight Eisenhower: “Hier word ons en almal wat hierna in vryheid kan leef, daaraan herinner dat ons aan hierdie manne en hul kamerade ’n skuld het om te vereffen, met dankbare herinnering aan hulle opoffering en met die vaste voorneme dat die saak waarvoor hulle gesterf het, sal bly voortleef”.

Inderdaad betekenisvolle woorde! ’n Plegtige voorneme! Maar, waar is ons vandag?

Die geskiedenis getuig

Sedert die begin van die mensdom het oorloë, met die vooruitgang van die beskawing, duurder en wreder geword.

’n Paar jaar gelede het ’n Hollandse professor die tyd afgestaan om die koste van die dood van ’n soldaat van die vyand te bereken gedurende verskillende tydperke in die geskiedenis. Hy het geskat dat tydens die heerskappy van Julius Caesar, dit minder as ’n dollar gekos het om ’n soldaat van die vyand dood te maak. Teen Napoleon se tyd het dit geweldig toegeneem – tot meer as $2 000. Teen die einde van die Eerste Wêreldoorlog het dit verskeie kere vermenigvuldig tot die syfer van ongeveer $17 000. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was dit ongeveer $40 000. In 1970 in Viëtnam het dit die Verenigde State $200 000 gekos om een soldaat van die vyand dood te maak.

Washington se ekonoom, Scott Wallsten, het onlangs bereken dat die koste van die VSA se oorlog in Irak, $1 biljoen sal oorskry! Linda Bilmes, ’n openbare beleidsdeskundige aan die Kennedy Skool vir Regeringswese, skat die koste op meer as $2 miljard, nadat die baie verskillende indirekte kostes verbonde aan ’n oorlog in berekening gebring is. ’n Mens sou reken dat geen nasie ooit weer nog ’n oorlog sou kon bekostig nie! Waarom berei die hele wêreld dan vir een voor?

Op 6 Augustus 1945 in Hirosjima, het die kombinasie van die hitte en ontploffing van die atoombom alles in die onmiddellike omgewing verpoeier. Dit het verder weg spontane brande laat ontstaan en winde gegenereer wat die vlamme in Hirosjima se krateragtige vorm so kragtig aangeblaas het dat die vure byna 11,4 vierkante kilometer van die stad afgebrand het. Daardie bom –­ met sy lading van slegs 12 kiloton –­ het minstens 80 000 mense gedood en daarby meer as 70 000 ander beseer.

Op 9 Augustus 1945 is ’n tweede bom op Nagasaki gegooi. Dit het minstens 40 000 mense gedood, nog net soveel beseer en bykans 4,4 vierkante kilometer vernietig.

Dit is jammer om dit te sê, maar die getuienis van die geskiedenis ten spyt, het mense nog nie geleer dat oorloë nie probleme kan oplos nie; hulle het nog nooit nie. Een euwel by ’n ander euwel gevoeg maak twee euwels – hulle kanselleer mekaar nie uit nie. Oorloë vernietig. Hulle bou nie op nie.

Die oorsaak van oorloë

Waarom het ons dan oorloë? Waarom veg individue of volkere? Byna almal stem saam dat oorloë moet ophou, maar niemand het nog ’n manier ontdek om dit uit te skakel nie. Die talle konferensies oor vrede – waarvan die meeste tydens die twintigste eeu gehou is – het nóg oorloë voorkom, nóg hulle pas vertraag.          

Hoe vreemd! Deur die geskiedenis heen het die mens tevergeefs gepoog om die werklike oorsake van oorloë te verstaan. Hulle kon dit nie vind nie omdat hulle hul nie tot die regte bron – die Bybel – gewend het nie. Die apostel Jakobus skryf: “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring” (Jakobus 4: 1-3).

Rusies en oorloë is neweprodukte van menslike, wêreldse, selfsugtige gedagtes van jaloesie, wellus en nyd. Die menslike aard stel heel eerste belang in sy eie gerief – in sy eie voordeel tot nadeel van sy naaste.

Alle mense is gelyk voor God. Gelykheid kan egter net behaal word wanneer ons almal saam stap – onder leiding van dieselfde liefdevolle gees – ongeag ras of nasionaliteit.

Wat sal die uiteinde wees? Indien oorloë in die verlede wenners en verloorders agtergelaat het, bly dit ’n feit dat daar met die Derde Wêreldoorlog slegs verloorders sal wees – geen wenners of oorwinnaars nie.

Regerings is hiervan bewus. Op hulle beurt waarsku militêre kundiges die wêreld van wat mag voorlê! U onthou moontlik die gesaghebbende woorde van Generaal Douglas MacArthur kort na die Tweede Wêreldoorlog toe hy gesê het:

 “Ons het ons laaste kans gehad. Indien ons nie ’n beter en regverdiger stelsel kan bedink nie, is Armageddon op ons voorstoep. Die probleem is basies teologies en verg ’n geestelike oplewing en verbetering van die menslike karakter wat sal sinchroniseer met ons byna ongeëwenaarde vooruitgang in wetenskap, kuns, letterkunde en alle materiële en kulturele ontwikkelings van die afgelope 2 000 jaar. Dit moet van die gees wees ten einde die vlees te kan red”.    

Geskiedenis herhaal homself omdat mense nie hul lesse leer nie. Hulle gaan voort om te leef net soos hulle wil leef, om vrede volgens hulle eie begrip na te strewe en om geregtigheid volgens hulle eie menslike redenasie toe te pas. Ons maai almal wat ons saai.

Die geskiedenis herhaal homself inderdaad omdat mense nie ophou sondig nie! Van die begin af het die mens die weg van rebellie gevolg. Vandag, na byna 6 000 jaar van beskawing, verkies die mens nog steeds om die weg van rebellie te volg.

Waarom? Omdat, presies soos Generaal MacArthur gewaarsku het, die verandering nie geestelik was nie.

Die woord dissipline is vandag ongewild; was dit nog altyd. Jonk en oud, mans of vroue, byna almal soek vryheid sonder om die reëls te respekteer wat dit beheer. Die meeste mense besef klaarblyklik nie dat ware vryheid die reg is om dít te doen wat God se Wet toelaat.

Vryheid is gelykstaande aan gehoorsaamheid aan God se Wet. Ons geniet vryheid wanneer ons óns wil aan Hom ondergeskik maak. Die apostel Jakobus noem God se  Wet ’n volmaakte wet van vryheid: “Maar hy wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ’n vergeetagtige hoorder is nie, maar ’n dader van die werk, gelukkig wees in wat hy doen” (Jakobus 1:25).
As ’n leser van die Wêreld van Môre behoort u te weet dat, volgens Bybelprofesieë, ons nou leef in die laaste dae van die samelewing soos ons dit ken. Ons is lankal verby die punt waar geen terugkeer meer moontlik is nie, en tensy God deur ’n wonderwerk ingryp, sal menslike lewe op aarde uitgewis word.

Hoe gedenkwaardig is dié woorde van ’n Franse koerantman wat geskryf het: “Indien die mens misluk om die weg na samewerking en welwillendheid te vind, sal hul verstommende uitvindings eindig deur die naïewe elemente te word van ’n reuse moord-industrie!”

Ongelukkig is daar geen aanduiding dat die huidige beskawing ooit die weg na welwillendheid en samewerking sal vind nie.

Baie mense vra: “Kan godsdiens ons dan nie help om ons probleme op te los nie? Kan godsdiens nie ’n einde aan oorloë bring nie?”

Presies wat bedoel u met “godsdiens”? Daar is vandag meer godsdienste as volkere – en tradisionele Christendom self bestaan uit honderde verskillende sektes en groepe wat almal daarop aanspraak maak dat hulle die waarheid verkondig.

Mans en vroue is deur geslagte heen uitgemoor, gehang, lewend verbrand en gemartel in die naam van godsdiens. Waarom? Omdat die mens sy eie godsdienste bedink en geskep het, sy eie gelowe; en sy rug gedraai het op die geopenbaarde ewige waarheid. Die gevolg is dat nóg die mens se probeerslae, nóg sy godsdienstige gelowe vrede op aarde kan bewerkstellig. “Verwoesting en ellende is in hulle paaie”, sê God, “die weg van vrede ken hulle nie” (Romeine 3:16-17).

Die afgestorwenes sal weer opgewek word

Die 10 489 voetsoldate en vlieëniers wat begrawe lê onder die wit marmer grafstene by Saint-Avold sal eendag weer lewe – en hulle sal ’n nuwe hoofstuk in die geskiedenis skrywe.

Hierdie keer sal die geskiedenis wat hulle skryf egter nie vol oorloë wees nie; dit sal uit vrede bestaan – wêreldwye vrede! Saam met die ander miljoene der miljoene soldate wat ook “vir vrede en vryheid” gesterf het, sal hulle opgewek word om in ’n nuwe wêreld te lewe, ’n totaal ander wêreld waar die verandering uiteindelik geestelik sal wees.

U leef vandag in ’n sterwende wêreld. ’n Nuwe beskawing sal binnekort tot stand kom waar alle mense geleer sal word om God se Wette en onderwysing te eerbiedig.

’n Wonderwerk? Ja, maar dit sal plaasvind omdat Jesus Christus self hier op aarde die Koning van die konings en Here van die here sal wees. “En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Miga 4:3).

Dít is die evangelie wat Jesus Christus gebring het – die uiteindelike hoop van die ganse mensdom. In die wonderlike wêreld van môre ... “sal [hulle] geen kwaad doen of verderf aanrig op My hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9). Op daardie reënerige dag by Saint-Avold, terwyl ek in stilte na die 10 489 grafstene gekyk het, het ek aan hierdie woorde gedink.

Die verhaal van daardie soldate – net soos die verhaal van alle soldate wêreldwyd wat vir vrede en vryheid gesterf het – is nie klaar nie. Hulle sal weer lewe, ná die opstanding. Dít wat hulle nie deur hulle dood “vir vrede en vryheid” kon bereik nie, sal hulle kan verwesenlik deur hulle lewe vir vrede en vryheid – ware vrede en vryheid in Christus.