Dokumente wat gedurende die Koue Oorlog opgestel is en wat dekades lank geheim gehou is, openbaar hoe ontstellend naby ons planeet aan ’n kern-Armageddon gekom het! Namate die wêreld al hoe groter risiko’s neem wat betref wapens met ondenkbare verwoestingsvermoë, openbaar Bybelprofesie die ware toekoms wat vir ons almal voorlê.

Die Kubaanse missielkrisis van 1962 het die wêreld amper tot by die ondenkbare gebring: ’n kernoorlog tussen die Verenigde State en die Sowjet-Unie – by wyse van spreke, “Armageddon”. Alhoewel daar verstaan is dat dit so hittete was gedurende die 13 gespanne dae in Oktober, sou baie mense eers dekades later hoor hoe naby dit was en die meeste mense dra nog steeds nie kennis daarvan nie. Oktober 1962 is immers amper 60 jaar gelede. Vir jonger geslagte is dit antieke geskiedenis en besonderhede het vir diegene van ons vervaag wat in daardie tyd geleef het. Selfs ons het nie die hele verhaal geken nie.

Ons kan ook byvoeg dat openbare skole in die Weste, die bestudering van geskiedenis in die afgelope dekades afgeskaal het en dit vervang het met “sosiale studies”. Hierdie subtiele verandering het onskadelik genoeg gelyk toe ek in die laat 1950’s en vroeë 1960’s op skool was, maar dit het aangehou om te ontwikkel. Dit was ’n slim oëverblindery. Woorde het betekenis en sosiale studies is nie dieselfde as geskiedenis nie! Leerders in die laerskool, hoërskool en universiteitstudente word gepeper met propaganda wat “manlike voorregte” behels (veral wit manlike voorregte), vroueregte, LGBTQ+ en hulle regte, die regte van onwettige immigrante, sosialisme en enige ander regte wat maatskaplike manipuleerders kan uitdink om lank-gekoesterde morele sedes en waardes te vernietig.

Hoe kan ons verhoed dat ons die foute van die verlede herhaal as ons nie die lesse uit die verlede oordra nie? Hoe kan ons jonger geslagte blameer vir ’n gebrek aan begrip van gebeure waarvan hulle nooit geleer het nie – en wat hulle nie in konteks kan plaas nie. Indien hulle wel iets oor die Kubaanse missielkrisis geleer word, sal hulle moontlik besef dat die Sowjet-Unie en Kuba die slagoffers van die Amerikaanse imperialisme was! Natuurlik is nie alle skole dieselfde nie en nie alle studente is in die duister nie. Baie jong mense studeer op hulle eie en is goed ingelig. Sommige skole bied uitstekende kursusse in antieke asook moderne geskiedenis aan. Ongelukkig is dit egter ver van die norm.

Twee weke in Oktober

In die jare na die Tweede Wêreldoorlog het nuusflitse dikwels hoofprente in Amerikaanse teaters voorafgegaan. Ek onthou nog hoe hierdie nuusflitse Fidel Castro en sy Kubaanse rewolusionêres dikwels geprys het totdat Castro – tot die ontsteltenis van die V.S.-regering – sy trou aan kommunisme en die Sowjet-Unie verklaar het. ’n Angstige V.S.-regering, het uit vrees vir ’n potensiële vyand,  net 90 myl [144 km] daarvandaan, ondersteuning gemagtig vir die berugte Bay of Pigs-inval in 1961, in Kuba, wat rampspoedig geëindig het. Die probleem was nogtans ’n werklikheid – soos dit al te duidelik geword het toe die Sowjet-leier Nikita Khrushchev tussen Julie en Oktober 1962 in die geheim meer as 41,000 troepe na Kuba verskuif het.

Selfs nog meer kommerwekkend vir V.S.-amptenare was die ontdekking dat Khrushchev kernmissiele in Kuba begin ontplooi het, waarvan sommige mediumafstand-missiele was, wat New York en Chicago kon bereik en ander intermediêre-missiele, wat die laer 48 state en selfs Kanada sou kon bereik. Khrushchev het nou een stap te ver gegaan vir die Verenigde State en dit was ’n direkte uitdaging vir die jong leier, president John F. Kennedy. Kennedy het met top militêre offisiere en raadgewers beraadslaag en gekies – soos wat die geskiedenis toon, ’n wyse reaksie was – om Kuba onder kwarantyn te plaas. Diplomate het daardie term gekies om die woord blokkade te vermy, wat op ’n oorlogsverklaring sou neerkom.

Die meeste hiervan was aan almal wat destyds aandag daaraan geskenk het bekend, maar daar was veel meer onder die oppervlak aan die gang, wat eers dekades later bekend sou word, ná die vrystelling van voorheen hoogsgeheime dokumente.

Onderwater en alleen

Hier is iets wat die meeste mense nog steeds nie weet nie: Die Sowjet-Unie het vier duikbote na Kuba gestuur en die V.S.-vlootvaartuie het op 27 Oktober 1962 die duikboot B-59 onderskep en lae plofkrag-bom daarop losgelaat (soos wat vir vlootopleiding gebruik word en nie kragtiger as ’n handgranaat is nie). Dit was bedoel om as ’n waarskuwing te dien en die duikboot na die oppervlak te lok en nie om dit te vernietig nie. Wat die V.S. destyds nie geweet het nie, was dat die duikboot B-59 ’n torpedo gedra het met ’n kernplofkop wat ongeveer tweederdes van die plofkrag van die atoombom bevat het wat op Hiroshima gebruik was en wat genoeg was om ’n groot deel van die V.S.-vloot in die omgewing te vernietig.

Die manne op die duikboot was egter al ’n paar dae onderwater sonder om in verbinding met Moskou te wees en hulle het nie geweet dat die dieptelading-ontploffings rondom hulle slegs as waarskuwing bedoel was nie. Die temperatuur aan boord van die diesel-aangedrewe duikboot was ongeveer 100 grade en as gevolg van die opbou van koolstofdioksied kon die bemanning nie helder dink nie. Offisiere aan boord van B-59 het gewonder of oorlog tussen die supermoondhede alreeds begin het, want die missielkrisis het dit immers ’n werklike moontlikheid gemaak. Wat daarna gebeur het was angswekkend – as mens dit agterna beskou.

Vadim Orlov, ’n intelligensiebeampte aan boord van die duikboot, onthou hoe die Amerikaanse skepe “wat ons omring het en die sirkel begin nouer trek het, tot die aanval oorgegaan en diepteladings laat val het. Dit het reg langs die romp van die skip ontplof. Dit het gevoel of ’n mens in ’n metaalvat is, wat iemand aanmekaar met ’n tienpond-hamer slaan” ... Orlov onthou dat kaptein Valentin Savitsky geskree het: “Ons gaan hulle nou in die lug blaas! Ons sal sterf, maar ons sal hulle almal laat sink – ons sal ons vloot nie in die skande steek nie!” Die politieke offisier, Ivan Semonovich Maslennikov het ingestem dat hulle die torpedo afvuur (“Nuclear Close Calls: The Cuban Missile Crisis,” AtomicHeritage.org, 15 Junie, 2018).

Indien hulle dit afgevuur het, sou u en ek dalk nie hier gewees het om dit te lees nie. Die nadraai daarvan sou ons almal geraak het en ons wêreld sou grootliks verskil het van wat dit vandag is. Wat oor die algemeen onbekend is en wat dekades later eers aan die lig gekom het, was dat Amerika reeds vooraf besluit het hoe hulle op so ’n aanval sou reageer.

“’n Smeulende, radioaktiewe ruïne”

President Kennedy se voorganger, Dwight Eisenhower, het oorlog alte goed verstaan en het tydens sy presidentskap probeer om te hou by sy standpunt om die toename van kernwapens in toom te hou. Die V.S.-kernarsenaal het nogtans geweldig gegroei tydens Eisenhower se agt jaar as die leier van die vrye wêreld. Die Amerikaanse publiek is doelbewus in die duister gehou oor hulle oorweldigende voorsprong wat kernwapens betref en die vermoë om dit te vuur. “Volgens die fisikus Pavel Podvig kon Sowjet-bomwerpers destyds ‘ongeveer 270 kernwapens op die V.S.-gebied afvuur’. Daarenteen het die Verenigde State duisende plofkoppe gehad wat hulle kon vuur vanaf 1,576 Strategic Air Command-bomwerpers sowel as 183 Atlas en Titan interkontinentale ballistiese missiele (ICBMs), 144 Polaris-missiele via nege kern-duikbote en tien nuutgeboude Minuteman ICBMs” (AtomicHeritage.org). Elkeen van die Atlas-, Titan-, Polaris- en Minuteman-missiele was toegerus met kerntoestelle wat elkeen onafhanklike teikens kon aanval.

Eisenhower het geglo dat daar nooit ’n beperkte kernstryd sou wees nie – sodra een bom sou afgaan, sou dit vinnig eskaleer. Daarom het Eisenhower sy generaals opdrag gegee om ’n “Single Integrated Operational Plan” (SIOP) saam te stel. Dit sou op die lange duur die opdrag van die lugmag se Strategiese lugkommando weerspieël, soos dit onder leiding van generaal Curtis LeMay en sy opvolger, generaal Thomas Powell, tot stand gebring is. Die joernalis Evan Thomas berig dat generaal Curtis LeMay, wat toesig gehou het oor die vernietiging van die Japanese stede tydens die Tweede Wêreldoorlog, deur middel van massiewe vuurbomme, “een oorlogsplan gehad het, soos wat ’n vlootbeampte dit in 1954 beskryf het: Om die Sowjet-Unie binne twee ure as ’n smeulende radioaktiewe ruïne agter te laat” (Ike’s Bluff, bl. 397).

Hoeveel Amerikaners en ander inwoners van ons planeet het iets geweet van die reaksie wat ’n Sowjet-kernaanval, ongeag hoe beperk ookal, van die Verenigde State sou ontlok het? Thomas verduidelik dat SIOP ’n oorweldigende vergeldingsplan verteenwoordig het, wat ontwerp was om die “Sowjet-Unie, Rooi China en die Sowjet-satellietstate [Oos-Europa] in ’n enkele rampspoedige slag te vernietig, indien die Verenigde State aangeval sou word”.

Onder die SIOP sou die Verenigde State alles in die stryd werp deur sy hele strategiese arsenaal van 3,500 wapens af te vuur. Die plan was ’n daad van “oormatige militêre mag”, het [George] Kistiakowsky gesê. Die wetenskaplike adviseur het gesê, dit is “die vier of vyf keer doodmaak van iemand wat reeds dood is”. Nadat hy van sy middagslapie teruggekeer het vir die inligtingsessie, het Eisenhower vir sy vloot-adjudant, Kaptein Pete Aurand, gesê dat die SIOP “my so bang maak soos die duiwel vir ’n slypsteen” (Thomas, bl. 394).

Die nuutverkose president Kennedy is in Desember 1960 aangaande SIOP ingelig, maar hy het dit waarskynlik nie onmiddellik begryp nie. ’n Rukkie later, na nog ’n SIOP inligtingsessie, het die jong verkose president aan sy minister van Buitelandse Sake, Dean Rusk, met gemengde gevoelens van verwondering en weersin opgemerk: “En hulle noem ons mense”. Tog het nie Kennedy of die presidente wat hom gedurende die volgende 40 jaar opgevolg het, die SIOP kleiner gemaak nie. In werklikheid het dit meer ingewikkeld en ongelooflik openbarend geword (Thomas, bl. 399).

’n Hoogsgeheime verslag wat in 2011 aan die lig gekom het, het bekendgemaak hoe SIOP in 1962 daar uitgesien het. Diegene wat deur so ’n massiewe reaksie sou sterf, was geraam op meer as 200 miljoen mense in die USSR en China, met ’n verdere vier miljoen mense in Pole en ander Oos-Europese lande wat onder die heerskappy van die USSR was (“U.S. War Plans Would Kill an Estimated 108 Million Soviets, 104 Million Chinese, and 2,6 Million Poles: More Evidence on SIOP-62 and the Origins of Overkill,Unredacted.com, 8 November 2011).

In die nadraai sou radioaktiwiteit ongetwyfeld miljoene lewens ge-eis het, wat waarskynlik die rede is waarom een verslag die moontlike sterfgevalle op so hoog as 600,000,000 sterftes geskat het. Dit sluit nie miljoene ongevalle in die vrye wêreld in nie. Hoewel die USSR se reaksie op SIOP miskien minder oorweldigend sou gewees het, is enigiemand naïef wat dink dat die Sowjetplan meer beskaafd was. Indien die mensdom in hierdie terme kan dink, is die uitvoering van so ’n massavernietiging nie buite die kwessie nie.

Hierdie ongevalle-syfers is selfs meer skokkend indien in ag geneem word dat die wêreldbevolking in die vroeë 1960’s net meer as 3 miljard mense was, wat aansienlik minder as die 7,8 miljard mense is wat in 2019 geleef het. Wanneer ons die moontlike verliese aan albei kante en onder al hulle bondgenote in ag neem, met inbegrip van die moontlike sterfgevalle as gevolg van bestralingsvergiftiging, sou dit nie onredelik wees om te glo dat sodanige kernstryd sou gelei het tot die dood van ’n kwart tot eenderde van die mensdom in 1960 nie!

Een verlate stem

Wat het dus ’n kern-Armageddon in 1962 verhoed? Soos ons reeds gesien het, was die Sowjet-duikboot B-59 in die duister oor die toestand van die wêreld bo die golwe. V.S.-magte het probeer om die duikboot na die oppervlak te dwing, maar die Sowjet-kaptein Savitsky en die politieke offisier Maslennikov, wat gedink het hulle word aangeval en dat daar moontlik reeds oorlog tussen die supermoondhede begin het, het ooreengekom om ’n torpedo met ’n kernplofkop te lanseer. Waarom het hulle dit nie gedoen nie? Wat het hulle gekeer?

Die Sowjet-Unie was net so bekommerd soos die Verenigde State oor ’n toevallige kernoorlog. Daarom het hulle protokol vereis dat drie offisiere in ooreenstemmig moes wees.

Die laaste oorblywende offisier, tweede kaptein in bevel, Vasili Alexandrovich Arkhipov, het nie saamgestem nie. Hulle het nie verseker geweet of die skip aangeval word nie, het hy aangevoer. Waarom nie na die oppervlak gaan en dan opdragte van Moskou afwag nie? Uiteindelik het Arkhipov se mening geseëvier. Die B-59 het naby die Amerikaanse oorlogskepe opgeduik en die duikboot het noordwaarts vertrek om sonder voorval na die Sowjet-Unie terug te keer (AtomicHeritage.org).

Dit is hoe naby ons aan Armageddon gekom het!

“Broken Arrows”

Ons leef in ’n baie gevaarliker wêreld as wat die meeste mense besef. Ander geheime dokumente wat in onlangse jare vrygestel is, gee aanvullende besonderhede van hoe naby die wêreld aan ander rampe gekom het. “Broken Arrow” is ’n militêre seinkode wat gebruik word vir ’n toevallige gebeurtenis wat ’n kernwapen of gedeeltes daarvan insluit. ’n Verslag van 6 April 2019 het aan die lig gebring dat die Verenigde State erken dat hy 32 Broken Arrow-voorvalle gehad het. Ses daarvan het wapens behels wat nooit gevind is nie of doelbewus ongehinderd gelaat is. U sal waarskynlik een of meer interessante gevalle vind, afhangende van waar u woon, aangesien hierdie voorvalle in Brits-Columbië, Quebec, Engeland, Spanje, Noord- en Suid-Carolina, Kalifornië, Arkansas, Florida, Maryland, Louisiana en Indiana plaasgevind het, om maar net ’n paar op te noem. Dit is waarskynlik dat die totale aantal voorvalle van Broken Arrow veel groter is, want die Sowjet-Unie is baie meer geheimsinnig en dus is hulle eie foute nie algemeen bekend nie.

Twee Amerikaanse voorvalle is veral noemenswaardig. Een voorval wat plaasgevind het, was op ’n lugmagbasis in Engeland, ’n jaar voordat my gesin daarheen oorgeplaas is.

Op 27 Julie 1956 was ’n V.S. B-47-bomwerper besig met ’n opleidingsoefening toe dit op ’n kernwapenpakhuis by die Lakenheath-lugbasis by Suffolk, Engeland neergestort het. Die hele bemanning van die vliegtuig het gesterf. In die bergingsfasiliteit, wat as ’n “igloo” bekend staan, was drie Mark 6 kernbomme, waarvan een se plofkop in die ongeluk afgeskeur is. Ondersoekbeamptes het tot die gevolgtrekking gekom dat dit ’n wonderwerk is dat die bom nie ontplof het nie (“‘Broken Arrows’ – The World’s Lost Nuclear Weapons,” InterestingEngineering.com).

Dit was egter nie die enigste wonderwerk nie. Hier is nog ’n voorval waar “geluk” aan die V.S. se kant was:

Op 24 Januarie 1961 het ’n B-52 bomwerper waarop twee, drie- of vier-megaton-kernbomme was, oor Goldsboro, Noord-Carolina gevlieg toe ’n strukturele breuk die regtervlerk erg beskadig het. Die vliegtuig het uitmekaar gebreek en die twee kernwapens is vrygelaat. Op een bom was drie van sy vier veiligheids-meganismes geaktiveer.

In 2013 het ’n versoek vir die vrystelling van inligting bevestig dat slegs ’n enkele skakelaar uit die vier, verhoed het dat die bom ontplof het. Een lid van die opruimingspan het onthou: “Tot my dood sal ek nooit vergeet hoe ek my sersant hoor sê het: ‘Luitenant, ons het die veiligheidskakelaar gevind’. Ek het gesê: ‘Wonderlik’. Hy het gesê: ‘Nie wonderlik nie. Die wapen is gereed om te ontplof’” (ibid.).

Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog het die mensdom met Armageddon gespeel. Wat kan gebeur indien een van die Broken Arrows-insidente – of wat dit ookal genoem word deur die Russe, Chinese, Noord-Koreane, Indiërs, Pakistaniërs of enige ander land of ongebonde lande wat kernwapens besit – per ongeluk naby of in vyandelike grondgebied ontplof? Wat kan gebeur as die een of ander staat op dwase wyse sou besluit dat om so ’n wapen teen ’n vyand af te vuur in sy beste belang is? Sal dit ’n kettingreaksie aan die gang sit wat die mensdom in gevaar kan stel? Volgens die Bybel en spesifiék volgens Jesus Christus is dit presies waarop ons wêreld afstuur as Hy nie sou ingryp nie (Matthéüs 24:21-22). Hy sál egter ingryp om die mensdom van selfvernietiging te red! Ons weet ook dat toekomstige oorloë met wapens geveg sal word wat tans nog nie aan die publiek bekend is nie. Alhoewel nuwe wapens dikwels jare lank geheim gehou word voordat die publiek daarvan bewus raak, kan daar in die toekoms selfs meer vernietigende wapens wees, wat só gevorderd is dat selfs wetenskaplikes in hoogs geheime laboratoriums dit nog nie gewaag het om selfs daaraan te dink nie. Wie weet wat die menslike verstand kan uitdink wanneer dit by grootskaalse doodmaak kom?

Openbaring beskryf ’n soort wapen wat nie sal doodmaak nie, maar vir ’n periode van vyf maande “pyniging” sal veroorsaak ... “soos die pyniging van ’n skerpioen wanneer hy ’n mens steek. En in dié dae sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; en hulle sal verlang om te sterwe, en die dood sal vir hulle wegvlug” (Openbaring 9:5-6).

Sal “Armageddon” kernwapens insluit? Moontlik, maar op ’n sekere punt kan die mensdom se hoë-tegnologiese wapens as nutteloos of onvoldoende beskou word. Hoe anders kan ons die noodsaak van ’n leër van “tweehonderd miljoen” soldate begryp (Openbaring 9:13-18)? Terwyl God se Woord hierdie geprofeteerde leër met die dood van een derde van die aardse bevolking verbind, is hierdie nog steeds nie die Bybelse Armagéddon wat in Openbaring 16:13-16 beskryf word nie. Wat ons in die Skrif sien, is dat daar in die nabye toekoms ’n alles-geoorloofde oorlog sal plaasvind.

My generasie en dié voor my het onder die skaduwee van ’n sampioenwolk geleef – sommige van ons méér as ander. As kinders van militêre gesinne wat op die U.S. Strategic Command-basisse grootgeword het, het ek en my vriende verstaan dat ons in die spervuur sou wees as daar oorlog sou uitbreek. Ons het ons persoonlike nagmerries gehad, maar dit selde met mekaar gedeel. Alhoewel ons nie kan ontken dat daar verseker moeilike dae voorlê nie, waarsku die Bybel ons almal dat die meeste van ons baie groter probleme as ’n kern-Armageddon het.

Vertroosting en vrede

Dit mag u dalk verbaas dat Bybelprofesie eintlik ’n vertroosting vir my en vir baie ander mense in daardie gevaarlike tye was. Tydens die Kubaanse missielkrisis het ek verstaan dat daar niks was waaroor ek my hoef te bekommer nie en – alhoewel ek toe nie geweet het van die Sowjet-duikboot B-59 nie – was ek tog reg. Ja, dit was ’n gespanne krisistyd, waartydens een fout die wêreld uitmekaar kon ruk. Die Bybel het egter vir my gesê en vir ander mense wat geseënd was om te kon verstaan, dat dit nie God se tyd of plek vir so ’n ramp was nie. Daardie kennis het my gemoedsrus gegee. Ook vandag, ondanks enkele aaklige geprofeteerde gebeure op die horison, kan diegene wat met toewyding op God vertrou, vertroosting en gemoedsrus hê. Daar is ’n manier om aan Armageddon te ontkom. Nog belangriker, alhoewel ons almal uiteindelik sal sterf, is daar ’n ewige lewe na die dood beskikbaar gestel vir almal wat dit sal nastreef. Soos Jesus beloof het: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie” (Johannes 11:25-26). Nadat Hy hierdie woorde gespreek het, het Jesus ’n vraag gevra wat op ons almal van toepassing is: “Glo jy dit?”

U Bybel openbaar baie oor die eindtyd en ons by Die Wêreld van Môre bied baie gratis bronne aan wat u kan help om te verstaan wat die Bybel openbaar. Ons sal draaie en kinkels teëkom namate die geskiedenis ontvou, maar ons kan die geheelbeeld werklik ken.

Die belangrikste is dat dit nodig is om te weet waarom ons in die eerste plek gebore is. Wat is God se plan vir ons. Die lewe is kosbaar en onseker. Ons mense is baie meer aanpasbaar as wat ons soms dink, maar baie broos wanneer die geheelbeeld in ag geneem word. Ons is tydelik en die lewe is kort. Daar is egter ’n God en Hy gee ons die geleentheid om vir ewig te leef. Hy beoordeel die besluite wat ons neem – of ons Hom met ons hele hart, verstand en wese liefhet en of ons die skare volg en die mens meer vrees as vir God. Dit slaan ’n mens dronk dat so min mense tyd afstaan om te bewys dat God ’n realiteit is, dat Hy ’n beloner van diegene is wat Hom ywerig soek en wat Sy doel vir ons is. Dit wil voorkom dat die meeste mense meer geïnteresseerd is in wat vanaand op televisie is en of “hulle span” hierdie naweek die wedstryd gaan wen.

Indien u meer wil verstaan van wat vir die laaste dae voorspel is, skakel, skryf of besoek ons webtuiste om ons gratis boekies, Armageddon en daarna, Die Dier van Openbaring en Openbaring: Die Verborgenheid Onthul, te bestel. Alles wat ons aanbied, word natuurlik gratis gestuur.

Indien dit vir u belangrik is om die doel van die lewe te verstaan, is u ook welkom om ons hulpbron, U uiteindelike lotsbestemming, aan te vra. Indien u meer betrokke wil raak en meer inligting wil hê oor die Lewende Kerk van God wat die onderskrywer van die Wêreld van Môre is, soos byvoorbeeld wat ons glo en hoe u by een van ons vele gemeentes regoor die wêreld betrokke kan raak – verwittig ons asseblief daarvan. Kontak die streekkantoor die naaste aan u, deur gebruik te maak van die inligting op bladsy 2 van hierdie tydskrif. Ons is hier om te dien!