Kan u uself ’n wêreld voorstel sonder oorlog, armoede, misdaad en korrupsie? Daardie wêreld is gouer hier as wat u mag dink!

Namate nasies verder en verder wegdraai van die God van die Bybel, is die basiese grondslag van ons hele samelewing besig om te verbrokkel. Daar is egter goeie nuus! ’n Volmaakte regering, onder die heerskappy van Jesus Christus wat sal terugkeer en wat binnekort vrede en voorspoed na ons planeet sal bring!


Diegene wat Bybelprofesieë verstaan sal kan herken dat ons huidige samelewing naby aan die einde is. Ons is werklik in die “laaste dae” wat die apostel Paulus byna 2,000 jaar gelede beskryf het: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Timótheüs 3:1-5)!

Die huwelik word herdefinieer. Minagting vir God, ouers, onderwysers, burgerlike leiers – selfs vir die waarde van die menslike lewe self – is aan die toeneem. Waarlik, ons sal die gevolge moet dra van ons samelewing wat verder voortsnel op die morele glybaan wat afgly in verderf. Namate ons sien hoe regerings regoor die aarde begin verbrokkel, terwyl hulle op toenemende maniere korrup en afvallig word, behoort dit duidelik te word dat indien die Almagtige God vir Jesus gaan terugstuur na hierdie aarde, dit redelik gou sal moet wees!

Wat lê dus voor? Met so baie voorbeelde van korrupte heersers oor nasies, rondom ons, mag dit vir sommige mense moeilik wees om te glo dat God Self Sy profeet Jesaja geïnspireer het om ’n toekomstige heerser te beskryf, wat sal regeer met liefde en “... aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel; maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak” (Jesaja 11:4).

Hoe sal die algemene atmosfeer oor die hele aarde wees wanneer hierdie regering gevestig word? “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9). Die “kennis van die Here” – die begrip van God se helelewenswyse – sal die aarde oordek. ’n Bietjie vroeër het God vir Jesaja geïnspireer om te sê: “Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:3-4).

’n WERKLIKE wêreldregering!

Is u bewus daarvan dat die Bybel God se toekomstige regering tot in die fynste besonderhede beskryf? Dit is baie “werklik” in God se gedagte. Dit behoort ook by u ’n werklikheid te wees indien u van plan is om daar te wees!

Let op na die beskrywing van wat net voor Christus se wederkoms sal gebeur: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15). Is dit maar net ’n abstrakte idee of versinnebeelding? Nee! U Bybel openbaar ’n hele regeringstelsel onder Jesus Christus. Die profeet Hosea was byvoorbeeld geïnspireer om aan ons te vertel wat met die twaalf stamme van antieke Israel sou gebeur nadat hulle weggedryf was in ballingskap: “Want die kinders van Israel sal ’n lang tyd bly sit sonder koning en sonder vors en sonder slagoffer en sonder klippilare en sonder efod en huisgode. Daarna sal die kinders van Israel hulle bekeer en die Here hulle God soek en Dawid hulle koning, en met siddering aankom na die Here en na sy goedheid in die laaste van die dae” (Hosea 3:4-5).

Ja, u Bybel vertel uitdruklik aan ons dat Koning Dawid van antieke Israel opgewek en sy eertydse werk aan hom teruggegee sal word – as koning oor die hele nasie van Israel, in die “laaste dae”.

Waarom Koning Dawid? Hy was tog oor die algemeen die mees bekwame en regverdige koning wat Israel ooit gehad het. Hy is dikwels gebruik as die “maatstaf” waarvolgens ander konings beoordeel is. Historiese boeke van die Bybel sal dikwels meld dat ’n koning regverdig was net “soos sy vader Dawid”. God word ook selfs in die Nuwe Testament aangehaal toe Hy gesê het: “Ek het Dawid, die seun van Isai, gevind, ’n man na my hart, wat al my welbehae sal doen” (Handelinge 13:22).

Met Dawid se wye ervaring en algehele toewyding in die toepassing van God se wette en lewenswyse, is hy direk deur God gekies om oor al die stamme van Israel te wees: Juda, Efraim, Manasse, Sebulon en Naftali, ens. Hierdie stamme – soos duisende van u wat hier lees weet – bestaan nou uit die moderne Engelssprekende nasies van die Verenigde State van Amerika en die Britse Statebond – sowel as die vredeliewende nasies van noordwestelike Europa (bv. Frankryk, Holland, die Nederlande, ens.)

Jesus Christus het ook self die twaalf oorspronklike Apostels aangestel om direk oor die twaalf stamme van Israel te heers (Lukas 22:29-30). Antieke Juda – die Joodse volk – kan moontlik onder Petrus, die leidende apostel vir baie jare, geplaas word. Efraim – moontlik die suksesvolste stam op materiële gebied – kan moontlik onder Jakobus of dalk Johannes geplaas word. Manasse, Efraim se broedernasie, kan moontlik onder Johannes of Bartholomeüs of dalk Andreas geplaas word. Is die prentjie vir u duidelik? Hierdie regerings sal werklik wees en hulle sal binnekort aktief ’n werklike regering hier op hierdie aarde administreer (Openbaring 5:9-10).

Regoor die hele aarde, met ’n bevolking wat vinnig toeneem as gevolg van gelukkige en groterwordende gesinne en geen oorlog nie, sal daar duisende stede en munisipaliteite wees wat deur die ander heiliges van God geadministreer sal word – deur die twaalf Apostels of ander geestelike konings en priesters. Al die heidense nasiesvan die aarde – wat Duitsland (moderne Assirië) en Rusland (moderne Gog of Magog) insluit – sal geadministreer word deur geestelike regeerders, moontlik onder die leiding van Daniël, net soos die Israelitiese nasies oorhoofs deur Dawid regeer sal word. Ons vermoed dat Daniël die heerser kan wees oor die verskillende heidense nasies, aangesien God hom gebruik het om oor die grootste heidense ryk in die wêreld se geskiedenis te heers – die “hoof van goud” wat in Daniël 2:38 beskryf word. Alhoewel ons net ’n paar van die uitdruklike besonderhede “vermoed”, kan ons seker wees van die “groter prentjie” – omdat die raamwerk van die organisasie duidelik in die Bybelgegee word! Dit is op hierdie wyse waarop dit binne die leeftyd van baie van u ingestel sal word!

’n Wonderlike geleentheid vir ons!

Wie van die twaalf Apostels – wat dan opgewek sal word om oorhoofs oor die nasies te heers – sal oor die verskillende individuele stede en ander regeringstrukture in Christus se toekomstige regering heers? Die baie ander opgewekte ware heiliges van God! God se Woord verduidelik uitdruklik dat dit die heiliges se beloning is om “die koninkryk in besit” te neem (Daniël 7:22). Die profeet Daniël verduidelik verder wat sal gebeur wanneer hierdie huidige tydperk tot ’n einde kom: “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees” (vers 27).

Ja, die ware heiliges van God – diegene wat hulle lewens ten volle aan God onderwerp het om Sy wil te doen, soos koning Dawid dit gedoen het – sal heers oor die nasies van hierdie wêreld. Natuurlik onder Christus en onder Dawid of Daniël of ander groot leiers wat in Christus se toekomstige regering oor hulle aangestel sal word. Wat is dus ’n paar kenmerke waaraan ons hierdie heiliges wat sal heers sal uitken? Die Bybel verduidelik wie hierdie ware heiliges is: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar” (Openbaring 14:12). Ja, hierdie duisendjarige regeerders sal heiliges wees wat opgewek is en wat nou in hierdie tydperk die Bybel verstaan en gehoorsaam is en God se gebooie onderhou. Dit is hulle wat God werklik geken het en saam met Hom gewandel het. Soos die geliefde apostel Johannes reg aan die einde van die Nuwe Testament verduidelik: “En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ’n leuenaar, en in hom is die waarheid nie” (1 Johannes 2:3-4).

My vriende, miljoene mense weet dalk vandag van God en glo in hulle eie persoonlike begrip van God, maar u, as iemand wat die waarhede wat in hierdie tydskrif aangebied word lees, mag moontlik een van die relatief min mense wees wat nou geroep word om te weet en besonder bekend te raak met die ware God, die Skepper van hemel en aarde. Diegene wat deur God geroep word, weet nie net “van” Hom nie. Indien u God se roeping aanvaar, sal u Hom leer ken en Sy ware karakter deel van u maak, deur toe te laat dat Hy Sy lewe deur die Heilige Gees in u sal leef. Hoe sal u weet dat u Hom regtig ken? Soos Johannes skryf: Ons ken Hom, “as ons sy gebooie bewaar”.

Wat is u eintlike DOEL?

Jesus Christus beveel ons: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheüs 6:33). Dwarsdeur die Bybel, word God se geregtigheid beskryf as Sy gebooie. Indien u dus God se geregtigheid soek – daardie selfde karaktereienskapvan God wat in u geplaas word deur die Heilige Gees – sal u Christus se uitdruklike leerstellings volg as u ware doel in die lewe. U sal bo alles Sy toekomstige regering soek – Sy Koninkryk – en u voorberei vir u deel in daardie toekomstige regering. Al u gedagtes en handelinge sal op die bereiking van daardie wonderlike doel gerig wees – die eintlike doel waarvoor God u in die eerste plek geskape het!

Die apostel Paulus beskryf duidelik dat dit die doel van die ware heiliges is om oor die hele wêreld te regeer of te oordeel! Hy was geïnspireer om te skryf: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Korinthiërs 6:2-3).

Die apostel Johannes sê aan ons: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met 'n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het” (Openbaring 2:26-27). Johannes beskryf die geïnspireerde “Lied van die Heiliges” as volg: “Toe sing hulle ’n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met U bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:9-10).

Ja, die ware heiliges van God – diegene wat werklik hulle menslike natuur “oorwin”, asook die versoekings van die wêreld sowel as die leuens van Satan die duiwel – sal die geleentheid hê om as konings en priesters te dien. Let ook op: Hulle sal “op die aarde” regeer – nie in die hemel rondsit met niks om te doen nie!

Wat was die boodskap van die oorspronklike Christene?

Die historikus Edward Gibbon herinner ons in hoofstuk 15 van Decline and Fall of the Roman Empire, daaraan dat die vroeë Christene geglo het in God se komendewêreldregering: “Die antieke en gewilde leerstelling van die Millennium was nou verbind met die wederkoms van Christus. Soos die werke van die skepping in ses dae voltooi is, so sal die duur van hulle huidige regering, volgens ’n oorlewering wat toegeskryf is aan die profeet Elia, ses duisend jaar wees. Volgens oorlewering word hierdie lang tydperk van arbeid en twis, wat nou byna verstreke is, opgevolg deur ’n vreugdevolle Sabbat van eenduisend jaar. Christus sal dan met ’n triomfantlike groep heiliges en die uitverkorenes wat die dood vrygespring het; of wat wonderbaarlik opgewek is, op die aarde regeer totdat die tyd vir die laaste en algemene opstanding aangebreek het”.

Ja, die vroeë Christene het God se doel verstaan en ook waarom Hy sommiges uit hierdie huidige samelewing in Sy Kerk inroep om voor te berei vir die “Wêreld van Môre!

Ware Christene moet leer om God se wette en weë nou te gehoorsaam en daarvolgens te leef, terwyl hulle hulle voorberei om ander mense te leer en op te lei om die weg van vrede uit te leef gedurende die toekomstige millennium – wanneer die koninkryk van God, die werklike regering van God, die septer sal swaai oor hierdie aarde! Ons moet ons voorberei deur te leer om wys te oordeel met behulp van die vermoëns wat God aan ons gegee het. Soos Jesus Christus dit duidelik gemaak het in die “gelykenis van die ponde”, sal aan diegene wat hulle talente en kwaliteite gebruik – terwyl hulle sonde oorwin en God gehoorsaam – werklike gesag gegee word oor stede. Jesus het aan die man wat tien ponde verdien het met sy een pond gesê: “Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oortienstede. En die tweede kom en sê: Meneer, u pond het vyf ponde verdien. En hy sê ook vir hierdie een: En jy moet wees oor vyf stede” (Lukas 19:17-19).

Hoe sal die lewe onder God se regering wees? Die Bybel sê duidelik aan ons wanneer dit die tyd van Jesus Christus se heerskappy op die aarde beskryf: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel; want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis” (Jesaja 35:5-6). Verder ook: “Dáár sal geen leeu wees nie, en geen verskeurende dier sal daarop kom of daar aangetref word nie; maar die verlostes sal daarop wandel, en die losgekooptes van die Here sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg” (verse 9-10).

Eerlikwaar, my vriende, die meeste van u wat hierdie artikel lees, is in hierdie tyd van die mees geseënde mense op hierdie aarde wat vol kwellinge en onrus is! Wanneer ons voortdurend van die mate van broodgebrek en hongersnood wat nou miljoene mense regoor die wêreld teister lees, asook van die toenemende getal onskuldige mense wat gemartel en verkrag word, behoort ons uit te roep: “... laat u koninkryk kom”! Ons leef in ’n wêreld waar die wreedheid van ’n oorlog ’n hele geslag soldate agtergelaat het wie se arms of bene afgeskiet is, oë verblind is en ore ontbreek en wat emosionele probleme as gevolg van wat hulle in gevegte gesien het. ondervind. Die Bybel sê ook aan ons dat oorloë en geweld sal toeneem in die jare wat Christus se wederkoms voorafgaan.

Nadat Jesus Christus wat teruggekeer het ’n ontsaglike wêreldwye opstand oorwin het, sal Hy ’n tydperk inlui waartydens daar geen oorlogvoering sal wees nie! Daar sal vrede op die aarde wees! Niemand sal aanvalle deur gevaarlike wilde diere hoef te vrees nie. Diegene wat vermink, blind of doof is sal genees word. Daar sal oral ’n atmosfeer van liefde en seëninge heers, terwyl die mense wat “vrygekoop is” van die lyding aan die einde van hierdie tydperk, oorweldig sal wees van blydskap. Op hierdie oomblik mag dit dalk nie belangrik lyk vir baie mense wat maar net “voortgaan” en nog nie die groot lyding wat in ons wêreld is, ervaar het nie. Teen die tyd dat Christus se werklike Koninkryk egter hier op die aarde gevestig is, sal dit oneindig baie beteken vir miljoene der miljoene mense wat ly! Indien ek en u die Bybel verstaan enonsself werklik in gehoorsaamheid oorgee aan God se diens, sal ons die wonderlike geleentheid hê om hulp te verleen, opleiding te gee en vreugde te bring aan miljoene der miljoene mense regoor die aarde!

Psalm 72 beskryf aan ons die toekomstige regering van die Messias as volg: “... o God, gee aan die koning u regte en u geregtigheid aan die seun van die koning. Laat hy u volk oordeel met geregtigheid en u ellendiges met reg. Die berge sal vrede dra vir die volk, en die heuwels, deur geregtigheid. Hy sal aan die ellendiges van die volk reg verskaf, die kinders van die behoeftige verlos en die verdrukker verbrysel. Hulle sal u vrees so lank as die son skyn en so lank as die maan daar is, van geslag tot geslag. Hy sal neerdaal soos reën op die grasveld, soos buie – ’n swaar reën op die aarde. In sy dae sal die regverdige bloei en volheid van vrede, totdat die maan nie meer is nie” (verse 1-7). Dan sê God aan ons: “Ja, al die konings sal hulle voor hom buig, al die nasies sal hom dien. Want hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë” (verse 11-14).

Waarlik, die verdruktes en die armes sal huil van blydskap wanneer die Messias weer na hierdie aarde terugkeer en ware gemoedsvrede en blywende seëninge bring, soos wat ons wêreld nog nooit voorheen geken het nie. Ons – indien ons voorberei om deel daarvan te wees – sal die geleentheid kry om hierdie ewige vreugde wat God vir die hele wêreld beplan, teweeg te bring.

Dit is die toekomstige “volmaakte regering” wat God Self beplan het en wat Hy tot stand sal bring! Sommige mense sal daarteen in opstand kom. Ons kan dit selfs persoonlik verwerp maar dit sal plaasvind, want die Skepper en Heerser van die heelal het dit belowe en het ’n plan om dit tot stand te bring. Mag God ons almal help om te verstaan en voorbereid te wees om deel te hê aan hierdie volmaakte wêreldregering wat binnekort na die aarde sal kom. Mag u ag slaan op God se raad om nie net die Waarheid van die Almagtige God te “hoor” nie, maar om daarvolgens te handel en so u Skepper se doel vir u lewe te vervul!