Bybelprofesie is nie net ’n raaisel wanneer u die lewensbelangrike beginsels aanleer om die versteekte waarhede in die bladsye van u Bybel te ontdek nie!


Mense wou nog altyd meer van die toekoms weet en hulle probeer elke moontlike bron raadpleeg, behalwe die Bybel. Koerante met ’n hoë sirkulasie publiseer dikwels ’n horoskoop. Die idee is dat u geboortedatum op een of ander wyse u karaktertrekke en profetiese gebeure op sekere tye van die jaar bepaal en dit word vermoedelik weer bepaal deur die ligging van sterrebeelde in die hemel.

Sommige mense betaal mediums om ’n kristalbal te lees en probeer soms om met dooies te kommunikeer. Ander mense lees Tarot-kaarte vir profetiese verduidelikings. Miljoene mense kyk na séances, channeling en sterrekunde vir krag en insig. Hulle hou hulle besig met die okkulte en soek antwoorde by waarsêers en mistici. Hulle hou selfs samesyn met hekse, mediums en towenaars. Sal al hierdie dinge God se wil vir u openbaar? Natuurlik nie! God noem hierdie gebruike ’n gruwel (Deuteronomium 18). Daar is ’n wêreld van geestelike misleiding. God sê aan ons dat Satan die duiwel die hele wêreld mislei (Openbaring 12:9). Hy het biljoene mense mislei. God kan ons egter help om dwarsdeur die planne en misleiding van die duiwel te sien.

 Bybelprofesie is vir baie mense opwindend, maar ’n paar Bybelprofesieë mag dalk moeilik wees om te verstaan. Die boeke van Daniël en Openbaring beeld verskeie simbole en beeldspraak uit. Die bekende Vier Ruiters van die Apokalips simboliseer verwoesting en misleiding (Openbaring 6:1-8). Die Dier van Openbaring 13 wat uit die see oprys, het sewe koppe en tien horings. Die Dier van Openbaring 17 wat uit die afgrond verrys het ook sewe koppe en tien horings, maar die Dier word deur ’n hoer gery. Die apostel Johannes skryf wat hy in ’n visie sien: “... en op haar voorhoof was ’n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (Openbaring 17:5).

Watter ander verwarrende profetiese simbole sien ons in die Bybel? Hoe kan ons die Skrif se geheimsinnige simbole en die ingewikkeldheid van Bybelprofesie verstaan? In hierdie artikel sal ons kortliks ’n paar belangrike beginsels in aanmerking neem vir begrip van die profesieë in die Bybel.

Vertrou die Skrif om die Skrif te interpreteer

Waarheen behoort u u te wend om die waarheid te leer? Jesus het in Sy innige gebed die nag voor Hy gekruisig is, vir Sy dissipels gebid: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (Johannes 17:17). God se Woord, die Bybel, is waarheid. Dit is die geskrewe Woord van God. Indien u die toekoms wat God vir u en vir die hele mensdom beplan het wil verstaan, behoort u na die Bybel te gaan en nie na waarsêers en mediums nie.

 Die boek Openbaring bevat simboliese taal en gee ’n beskrywing van die verheerlikte Messias, die Seun van die mens, wat tussen sewe kandelare staan. Ons lees: “En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en ’n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag” (Openbaring 1:16). Wat simboliseer die sterre en kandelare? Ons hoef nie te raai nie; die Bybel self gee aan ons die betekenis! “... die verborgenheid van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en die sewe goue kandelaars: die sewe sterre is die engele van die sewe gemeentes, en die sewe kandelaars wat jy gesien het, is die sewe gemeentes” (vers 20).

 In Bybelse simboliek word engele sterre genoem en kandelare is kerke. Die skrywer van Openbaring, of die Apokalips, gaan in die volgende twee hoofstukke voort om God se boodskap en vermaning aan die sewe gemeentes in Klein-Asië, hedendaagse Turkye, te skryf. Die apostel Johannes het natuurlik hierdie boek teen die einde van die 1ste eeu n.C. geskryf.

 U is waarskynlik vertroud met die verhaal van koning Nebukadnésar se droom. Die profeet Daniël is voor koning Nebukadnésar geroep en het die groot beeld in die koning se droom beskryf: “U, o koning, het ’n gesig gehad – kyk, daar was ’n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik. Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei. U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ’n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het” (Daniël 2:31-34).

Wat het hierdie standbeeld gesimboliseer? Daniël sê aan koning Nebukadnesar: “... ú is die hoof van goud” (vers 38). Daniël se profesie openbaar vier historiese wêreldryke. Nebukadnésar se Babiloniese ryk sou vervang word met die Medo-Persiese Ryk (558 v.C. – 330 v.C.), voorgestel deur die bors en arms van silwer. Die maag en bobene van brons stel die Grieks-Macedoniese Ryk van Alexander die Grote voor (333 v.C. – 31 v.C.). Die twee bene van yster stel die Romeinse Ryk voor (31 v.C. – 476 n.C.). Laastens stel die tien tone aan die twee voete van yster gemeng met klei, ’n toekomstige herlewing van die Romeinse Ryk voor. Die geskiedenis het bevestig dat die voorspellings van hierdie vier ryke wel ’n werklikheid geword het.

Verstaan profetiese tydgapings

Die Evangelie van Lukas berig wat plaasgevind het terwyl Jesus Sy tuisdorp, Nasaret, besoek het en genooi is om op die Sabbat uit die Skrif te lees. “En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig; en toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is: Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig. En nadat Hy die boek toegemaak en aan die dienaar teruggegee het, gaan Hy sit, en die oë van almal in die sinagoge was op Hom gevestig. Toe begin Hy vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul” (Lukas 4:17-21).

Jesus het die boek waarin Hy gelees het reg in die middel van ’n vers toegemaak. Hy het die tweede deel van die vers, wat verwys na die dag van wraak, uitgelaat. Waarom? Omdat die res van Jesaja se profesie betrekking het op Jesus se wederkoms wanneer die Dag van die Here, die dag van God se wraak en toorn, sal plaasvind. Ja, daar is ’n tydgaping van ongeveer 2,000 jaar tussen die vervulling van die eerste deel van die vers en die tweede deel van dieselfde vers.

Nog ’n aspek van profetiese tydgapings is die beginsel van “tweeledigheid”. Ons vind dikwels in die Bybel ’n vorige vervulling van ’n profesie en ’n later, meer klimaktiese vervulling van die profesie. Die beginsel van tweeledigheid word deurgaans in die Bybel gevind. Ons lees byvoorbeeld: “So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword; die laaste Adam ’n lewendmakende Gees” (1 Korinthiërs 15:45). Wie is die laaste Adam? Die Skrif gee aan ons die antwoord: “Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel” (vers 47). Ja, die tweede Adam is Jesus Christus.

Soos ons kan sien is profesie tweeledig en ons behoort lesse uit die geskiedenis te leer. Die vernietiging van Jerusalem deur die Romeinse leërs in 70 n.C. was net ’n versinnebeelding van die Groot Verdrukking wat nog voorlê.

Vind moderne nasies in die Bybel

Waar word die Verenigde State van Amerika in die Bybel genoem of onder watter naam kan ons dit vind? Waar kan ons Groot-Brittanje in die Skrif vind? Dit is duidelik dat die moderne name nie genoem word nie, maar die voorsate van hierdie nasies word prominent in die Bybel vermeld.

 Die Bybel praat van nasies soos Egipte, Libië en Ethiopië en dit mag u verras dat Assirië uiteindelik een van die voorste nasies in die Millennium sal wees, saam met Egipte en Israel (Jesaja 19:23). Watter nasie is dan deesdae Assirië?

 In ons gratis herdrukte artikel, “Herrysende Duitsland: ’n Vierde Reich?”, verduidelik die Wêreld van Môre se skrywer, Douglas S. Winnail: “Die meeste moderne geskiedskrywers huiwer of laat na om ’n verband te sien tussen die verdwyning van die Assiriërs en die verskyning van die Germaanse stamme. Duitsland se kulturele geskiedenis en nasionale karakter ewenaar egter Assirië s’n soos geen ander nasie nie ... Wanneer die Bybel van Assirië in die eindtyd praat, word daar na Duitsland verwys. Geen ander moderne nasie pas so volmaak by die beskrywing nie”. Indien u dit nog nie gedoen het nie, skryf gerus en vra u gratis afskrif van hierdie belangrike artikel aan.

U sal baie meer van eindtydse profesie kan begin verstaan wanneer u akkurate kennis het van die moderne afstammelinge van antieke Bybelse nasies. Ons gratis boekie,Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? sal aan u die geskiedkundige, sowel as die Bybelse inligting gee om hierdie groot nasies in profesie te kan identifiseer.

Ken God se profetiese raamwerk

Hierdie is ’n belangrike sleutel om Bybelprofesie te verstaan. Dit is ’n sleutel wat relatief min belydende Christene van weet. Die waarheid is dat Christus weer sal kom om ’n letterlike Koninkryk hier op aarde te vestig, vir ’n letterlike tydperk van eenduisend jaar. Die boek Openbaring beskryf ’n tydperk van 3½ jaar in die aanloop tot die wederkoms van Christus. Die eerste vyf seëls van Openbaring, uiteengesit in Openbaring 6, dek ’n tydperk van 2½ jaar, die Groot Verdrukking waarvan Jesus in Mattheüs 24 praat.

Die sesde seël is die hemelse tekens. Die hele wêreld sal kennis neem wanneer hierdie dinge plaasvind. Die apostel Johannes skryf: “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit” (Openbaring 6:12-14).

Die hele wêreld sal geskok en vreesbevange wees. Die mensdom sal besef dat die tyd van God se oordeel aangebreek het! Die hemelse tekens is inleidend tot die eenjarige profetiese tydperk, bekend as die Dag van die Here, waarna in sowat dertig profesieë in die Bybel verwys word. Die Dag van die Here, in eindtydse profesieë, die tyd wat Christus se wederkoms voorafgaan, strek oor ’n tydperk van een jaar (Jesaja 34:8; 63:4), wat sal volg op die Groot Verdrukking en die hemelse tekens. Dit is die jaar van God se straf oor die nasies. Dit bereik ’n hoogtepunt met die aankondiging van Christus se wederkoms en die vestiging van die Koninkryk van God op aarde.

Dít is die opwindende goeie nuus van profesie! “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Ons behoort almal uit te sien na die wederkoms van Christus. Ons behoort geestelik gereed te wees vir daardie gebeurtenis wat voorlê. Soos u kan sien, gee die Bybel aan ons ’n algemene raamwerk vir profesieë. U behoort daardie raamwerk te verstaan!

Leer die doel van Bybelprofesie

Daar is baie godsdienstige amateurs wat wilde idees vorm en wanvoorstellings van die profesie maak. Wat is die doel van profesie? Unger se Bybelse Woordeboek gee die volgende waarskuwing. “Profesie is nie bedoel om die toekoms vir ydele nuuskierigheid oop te maak nie, maar vir die groter doel naamlik om lig te verskaf aan diegene wie se geloof versterking nodig het”. Benodig u geloof versterking? “Die openbaring van toekomstige gebeure mag help in tye van moedeloosheid, om hoop op te wek of te behou, om vertroue te versterk te midde van algemene afvalligheid en om te waarsku teen kwaad wat die gelowiges bedreig. Die voorspellings teen Babilon, Tirus, Egipte, Nineve en ander koninkryke is aan God se mense gegee om hulle te bemoedig deur aan hulle te onthul wat die lot van hulle vyande is” (Unger’s Bible Dictionary, bl. 892).

Verstaan ook dat Bybelprofesie mense en nasies waarsku om tot bekering te kom, sodat hulle straf kan vryspring. Johannes die Doper het massas mense gedoop wat deur sy prediking geraak is. Die Evangelieskrywer, Mattheüs, beskryf wat gebeur het: “In daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judéa gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mattheüs 3:1-2). Jesus Christus het natuurlik later dieselfde boodskap verkondig (Markus 1:14-15). Wat was die reaksie op Johannes se prediking? “En Jerusalem en die hele Judéa en die hele omtrek van die Jordaan het uitgegaan na hom toe. En hulle is deur hom in die Jordaan gedoop met belydenis van hulle sondes” (Mattheüs 3:5-6).

Is u besig om voor te berei vir die wederkoms van Christus? Wanneer u die realiteit van Bybelse profesie begryp, sal dit u help om voor te berei! Op die dag van Pinkster, in 31 n.C., het die apostel Petrus die duisende mense in sy gehoor vermaan om hulle te bekeer en om gedoop te word (Handelinge 2:38). Petrus het die skare gemotiveer om hulle lewens te verander. Hy het gesê: “Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag. Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drieduisend siele toegebring” (Handelinge 2:40-41). Indien God u gebring het tot op die punt van bekering en u die verbintenis van die doop verstaan, moet u asseblief nie huiwer om kontak te maak met een van ons verteenwoordigers by die streekskantoor die naaste aan u nie. Die besonderhede verskyn op bladsy 2 van hierdie tydskrif.

Die Bybel beskryf duidelik die oordeel wat oor die Westerse nasies sal kom indien ons volhard met ons onsedelike, anti-God lewenstyl. Indien u egter die Bybelprofesie verstaan, kan u groot lyding gespaar word en God se seëninge individueel ervaar, selfs al sou God u nasie oordeel. Profesie openbaar die ontnugterende eindtydse gebeure wat binnekort voorlê, maar dit openbaar ook die goeie nuus van God se toekomstige Koninkryk. Mag God daardie wonderlike dag bespoedig!