Is u die resultaat van blinde toeval? Of is daar rede om te glo dat u vir ’n bepaalde doel geskape is, met ’n wonderlike bestemming wat voorlê?

Terwyl Charles Darwin sy tesis On the Origen of Species geskryf het, het dit die deur geopen vir geloof in ’n doellose bestaan. As gevolg van Darwin se teorie behoort ons vandag nie verbaas te wees dat so baie mense met geen groter verwagting en hoop leef as om gelukkig te wees voordat hulle ophou om vir ewig te bestaan nie!

Indien lewe ’n toevallige en tydelike uitbarsting tussen ewighede van niksheid is, waarom behoort enigiets saak te maak? Dwelmmisbruik, geweld, perversie en alle vorme van selfsug, indien niks blywend is nie, indien niks permanent is nie, indien niks ware betekenis het nie, waarom behoort dit saak te maak wat enigiemand doen?

Die apostel Paulus het die gevolge van so ’n futiele en kortsigtige wêreldbeskouing verstaan toe hy in 1 Korinthiërs 15:32 geskryf het: “As ek in Éfese op menslike wyse met wilde diere geveg het, watter voordeel was dit vir my? As die dode nie opgewek word nie, laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons!

Een feit is seker: Indien Darwin en sy volgelinge reg is, kan die lewe geen permanente, volhoubare betekenis hê nie! Aan die ander kant, indien Darwin verkeerd is en daar is ’n ware Skepper-God, dan is dit nodig dat ons daardie Skepper se uitsonderlike doel vir ons ontdek.

In hierdie artikel sal ons kortliks een manier bespreek waarin Darwin se teorie gebrekkig is en wys hoe daardie teorie op wêreldse godsdiens gebaseer is wat die mens se wêreldbeskouing verander het en kortliks wys wat die Bybel oor die onderwerp van doel te sê het. Ja, ons is die gevolg van ’n doelbewuste skepping – kennis van daardie doel kan u lewe op maniere verander wat Darwin se teorie nooit sal kan doen nie.

Dit is belangrik om aan die begin uit te klaar wat met “Darwinisme” bedoel word. Charles Darwin se teorie het die deur geopen vir die geloof in ’n doellose heelal wat deur toeval ontstaan en ontwikkel het. Met verloop van tyd het wetenskaplikes begin besef dat sommige van die boutjies en moertjies van Darwin se idees iets kortkom. Derhalwe word terme soos “Neo-Darwinisme” en “moderne evolusionêre sintese” nou gebruik om te verduidelik hoe wetenskaplikes hulle standpunte aangaande die oorspronklike tesis van Darwin verander het. Die grondbeginsel bly egter dieselfde: Alle lewe, volgens hierdie teorieë, is die resultaat van naturalisme, dit wil sê, natuurlike prosesse sonder enige eksterne bron. Of anders gestel, nie eers God of intelligensie kan as die bron van lewe beskou word nie.

Een probleem met die evolusionêre konsep is die gebrek aan bewyse daarvoor. Vreemd, maar die meeste mense het nooit eers hierdie moontlikheid oorweeg nie en glo blindelings dat die wetenskap volop onweerlegbare getuienisse byderhand het! Na alles, het almal van ons al daardie ewolusiebome in wetenskapboeke gesien, wat die ontwikkeling van een soort lewe vanuit ’n ander vorm van lewe aantoon. Daar is ook foto’s van mitiese oorgangsgedaantes tussen reptiele en voëls. Dit is presies die probleem: Dit is mitiese gedaantes en mitiese lewensbome! Die feite vertel ’n ander storie.

Wys my die skakels!

Die term evolusie beteken dat iets met verloop van tyd verander. Vir een soort kreatuur om in ’n ander soort te ontwikkel, moet heelwat toenemende veranderinge plaasvind. Dit beteken dan dat daar ontelbare tussenstadium fossiele behoort te wees wat maklik gevind kan word, maar dit is nie die geval nie. Michael Denton verduidelik die gebrek aan fossielbewyse: “Indien daar volgens hierdie teorie ontelbare oorgangsvorme bestaan, waarom vind ons dit dan nie in ontelbare getalle in die kors van die aarde vasgelê nie?” (Evolution: A Theory in Crisis, Denton, bl. 157). Byvoorbeeld, daar word aangeneem dat walvisse uit ’n onbekende landsoogdier ontwikkel het, maar hóé kon dit gebeur het? Denton gee ’n verkorte lys van veranderings wat sou moes plaasvind sodat dit kon gebeur:

“Voorste ledemaat veranderinge, die evolusie van stertpunte, vaartbelyning, die vermindering van agterste ledemate, veranderinge aan die skedel om die neusgate na die bopunt van die skedel te bring, verandering aan die tragea, wysigings van gedragspatrone, gespesialiseerde tepels sodat die kleintjies onder water gevoed kan word (’n volledige lys sal enorm wees). ’n Mens is geneig om regstreeks in terme van moontlik honderde, selfs duisende oorgangspesies tussen ’n hipotetiese landelike voorouer en die gemeenskaplike voorouer van die moderne walvis te dink” (Denton, bl. 174).

Dit is treffend dat selfs die mitiese landdier waaruit walvisse vermoedelik ontwikkel het onbekend is en nie in die fossielrekords gevind word nie, nog minder in die honderde oorgangs vorme. Dieselfde scenario sou dan afgespeel het tussen reptiele en voëls, visse en landdiere, trouens, vir enige verandering van een diersoort na ’n ander; maar die feit is, daar is geen oorgangsvorme nie! Die uiters skaars sogenaamde voorbeelde in handboeke is presies net dit – veronderstelde voorbeelde. Vir dekades al soek paleontoloë na die “onbekende skakel” tussen die moderne mens en die meer primitiewe primate. Wetenskaplikes erken dat hierdie veronderstelde skakel nie meer langer as ’n lewende spesie bestaan nie, tog kan dit nie in die fossielrekords gevind word nie! Daar is baie primaat fossiele, maar geen spoor van oorgangsvorme – tussengangers – tussen ons en ons veronderstelde voorvaders nie. Tog, vir evolusie om waar te wees, behoort daar so baie intermediêre stappe te wees dat dit die logika uitdaag om in die evolusie van aap tot mens te glo wanneer daardie oorgangsvorme eenvoudig net nie daar is nie!

“Hoewel skadelik, was die afwesigheid van tussengangers in 1860 nie noodlottig nie, want daar was redelike hoop dat daar uiteindelik nog baie daarvan gevind sou word namate geologiese aktiwiteite vermeerder het ... Slegs ’n klein fraksie van die honderdduisend of so fossielspesies wat vandag bekend is, was aan Darwin bekend. Feitlik alle nuwe fossielspesies wat sedert Darwin se tyd ontdek is, is óf nou verwant aan bekende vorme óf, soos die Paganaphoras, vreemde unieke tipes van onbekende verwantskap” (Denton, bll. 160-161).

Denton skryf ook:

“Die algehele beeld van lewe op aarde is vandag so onsamehangend, die gapings tussen die verskillende tipes so duidelik dat -– soos Steven Stanley ons in sy onlangse boek Macroevolution herinner – indien ons kennis van biologie beperk was tot daardie spesies wat tans op aarde bestaan, ‘mag ons wonder of die leer van evolusie as iets meer as ’n skandelike hipotese sou kwalifiseer’. Sonder tussengangers of oorgangsvorme om die enorme gapings wat bestaande spesies en groepe organismes van mekaar skei te oorbrug, sou die konsep van evolusie nooit ernstig as ’n wetenskaplike hipotese opgeneem kon word nie” (Denton, bll. 157-158).

Vir die rekord, Steven Stanley is ’n paleontoloog en evolusionêre bioloog, maar hy is nie alleen in die erkenning dat daar ’n probleem met bewyse is nie. Michael Ruse is ’n bekende filosoof, evolusionis en self-geïdentifiseerde agnostikus. “In 1981 het Ruse in ’n saak getuig waar ’n Arkansas regter beslis het dat die skeppingswetenskap – wat die staat probeer het om in skole in te voer – nie geldige wetenskap is nie, maar ’n ongrondwetlike poging om godsdiensonderrig in die klaskamer te gee. Die Hooggeregshof het die besluit in 1987 gehandhaaf” (The Boston Globe, “Evolutionary War”. 1 Mei 2005).

Is dit wetenskap of godsdiens?

’n Paar jaar later verander Ruse egter sy siening aangaande die oorsprong van evolusie. Teen die einde van Maart 1992 het Philip Johnson, professor in regte aan die Universiteit van Kalifornië, Ruse genooi om deel te neem aan wat bekend geword het as die Darwinisme simposium by die Suidelike Metodiste Universiteit. Johnson was ’n bekeerling van die idee dat evolusie ’n gebrekkige teorie is, nadat hy Michael Denton se boek gelees en ’n beduidende figuur in die debat geword het. Ruse, wat as ’n redelike persoon voorgekom het, het die geleentheid verwelkom om die vraag op ’n akademiese vlak en beskaafde wyse te bespreek.

Johnson se bydrae tot die debat was om lig te werp op die feit dat evolusionêre wetenskap nie heeltemal ’n objektiewe wetenskap is nie, maar op naturalisme gebaseer is: “’n Filosofie wat ‘aanvaar dat die hele natuurryk ’n geslote stelsel van stoflike oorsaak en gevolg is wat nie deur enigiets van “buite” beïnvloed kan word nie’” (Woodward, Doubts About Darwin, bl. 95).

Die beleefde gesprek tussen Johnson, Ruse en die ander deelnemers het ’n impak gehad. ’n Jaar later het Ruse by die jaarlikse vergadering van die American Association for the Advancement of Science (AAAS) in Boston gepraat om ’n bydrae te lewer tot “The New Antievolutionism” seminaar, wat georganiseer is as teenvoeter vir die nuutgestigte Intelligent Design beweging. Sy praatjie was teen die groeiende “Philip Johnson probleem gemik”. Hy het met kritiek op Johnson se boek begin, maar wat gevolg het, was nie wat sommige mense wou hoor nie.

“Ruse het onverwags sy gehoor geskok deur te sê dat hy die kwessie van filosofiese uitgangspunte in die afgelope jare bedink het en na sy deelname aan die simposium sy gedagtes op ’n belangrike punt verander het: ‘Ek moet erken, in die laaste tien jaar sedert my optrede of verskyning in die skeppingsleerverhoor in Arkansas, het ek self tot hierdie standpunt gekom’. Watter standpunt? Ruse het verduidelik dat veral diegene in die akademie, ‘beide histories en miskien filosofies, behoort in te sien dat die wetenskapkant sekere bonatuurlike aannames ingebou het om wetenskap te beoefen – dit is dalk nie ’n goeie ding om in ’n hof te erken nie – maar ek dink eerlik dat ... ons dit behoort te erken’” (ibid., bl. 147).

Ruse gaan voort deur te sê:

“... vir baie evolusioniste, het evolusie gefunksioneer as iets met elemente wat, laat ons sê, verwant is aan ’n wêreldse godsdiens”. Hy was egter nie klaar nie want hy gaan voort: “Evolusie wat verwant is aan godsdiens, behels om te verseker dat voorkeur of bonatuurlike aannames, wat op ’n sekere vlak nie op ervaring bewys kan word nie ... Verder dink ek die manier om met die skeppingsleer te handel, asook die leer van evolusie, is om nie hierdie feite te ontken nie, maar om dit te erken en te sien waarheen ons gaan as ons van daar af aanbeweeg” (ibid.).

Mikrobioloog Michael Behe was ook een van Denton se bekeerlinge. Soos dit in die gewilde video, Unlocking the Mysteries of Life weergegee is, verduidelik Behe dat hy vir baie jare evolusie as die waarheid aanvaar het, maar nadat hy Denton se boek gelees het, het hy besef daar was “baie moeilike probleme met Darwin se evolusie waaroor ek nog nooit gedink het nie en wat niemand in al my studies wat tot my Ph.D. gelei het, die moeite gedoen het om op te noem nie ... Ek het onmiddellik besef dat dit moeilike probleme was en het kwaad geword omdat niemand daarvan melding gemaak het nie. Ek het gevoel asof ek om die bos gelei is om tot ’n gevolgtrekking te kom wat nie regtig die bewysregtelike ondersteuning geniet het soos wat ek gedink het nie”.

Die fossielrekord is op die agtergrond geskuif teenoor die nog groter uitdagings vir die teorie van evolusie uit die veld van mikrobiologie, maar die fossielrekords bly steeds ’n groot probleem vir evolusionêre teorieë. Darwin kon 150 jaar gelede verskoon word vir die stel van sy hipoteses ten spyte van ’n gebrek aan fossielbewyse, maar vandag is dit duidelik dat geeneen van die tienduisende of selfs miljoene tussengangers (vermiste skakels) gevind is of gevind sal word nie. Dit is eenvoudig nie daar nie!

’n Doel vir lewe

Dus, wat is Darwin se bydrae tot die wêreld? Darwin se nalatenskap en dié van sy volgelinge wat voortgaan om sy teorie te verdraai, is doelloos.

“Dit was omdat Darwin se teorie die mens se verbintenis met God verbreek en hom losgelaat het in ’n kosmos sonder doel of einde, dat die impak so fundamenteel was. Geen ander intellektuele revolusie in die moderne tyd ... het die mens so diep geraak soos die manier waarop hulle hulleself en hulle plek in die heelal gesien het nie ... Die idee het elke aspek van die moderne denke geraak; en geen ander onlangse teorie het meer gedoen om die manier waarop ons onsself sien en ons verhouding met die wêreld rondom ons te vorm nie ... Die triomf van evolusie beteken die einde van tradisionele geloof in die wêreld as ’n doelgerigte geskape orde, die sogenaamde teleologiese lewensbeskouing wat oorheersend in die Westerse wêreld was vir twee millennia” (Denton, bll. 15, 67).

Toeval kan nie verduidelik of doel verskaf nie. Dit is God wat daardie doel aan die lewe gee, nie evolusie nie. Daar kan geen blywende doel sonder God wees nie, want net God kan lewe anderkant die graf gee. Job het die belangrikste vraag wat ooit gevra kan word gevra en toe die antwoord gegee: “As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe? Dan sou ek hoop al die dae van my stryd totdat my aflossing kom; U sou roep, en ek sou U antwoord, na die maaksel van u hande sou U verlang” (Job 14:14-15).

Die mens is God se handewerk. Die heel eerste hoofstuk van die Bybel verklaar God se doel vir ons: “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape” (Génesis 1:26-27). Ander Bybelverse brei op die oorspronklike tema uit. “... soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees ... en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige” (2 Korinthiërs 6:16, 18).

In plaas daarvan om in die grond te grawe in ’n vergeefse soektog na die miljoene vermiste skakels wat eenvoudig nie daar is nie, behoort die mens na bo te kyk en die God wat ons gemaak het te ontdek, wat ons ’n grootse, heerlike en ewigdurende doel bied. ’n Jong skaapwagter seun, wat later koning geword het, het eenkeer toe hy opkyk na die hemel, gepeins: “... wat is die mens dat U [God] aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?” (Psalm 8:5). Die apostel Paulus, wat na hierdie Psalm verwys, gee die antwoord op die vraag en hoe dit met Jesus Christus verband hou. “Want dit het Hom betaam, ter wille van wie alle dinge en deur wie alle dinge is, as Hy baie kinders na die heerlikheid wou bring, om die bewerker van hulle saligheid deur lyde te volmaak” (Hebreërs 2:10).

Bolangs kan die teorie van evolusie aantreklik lyk. Dit is gewild. Dit is polities korrek. Dit word altyd as gesaghebbend voorgestel, asof dit ’n feit is, terwyl dit baie meer aan ’n wêreldse godsdiens verwant is as aan ware wetenskap. Die fossielrekords vertel nogtans nie leuens nie, ook nie God wat u vir ’n wonderlike doel geskape het nie!

Vir meer inligting oor die doel van u bestaan, maak seker dat u ’n eksemplaar van ons gratis boekie, U uiteindelike bestemming, aanvra. Dit verduidelik presies wat die Bybel oor God se doel vir die mensdom sê – ’n ewige bestemming, baie meer opwindend as om vir ewig op ’n harp op ’n wolkie te sit en speel. Kennis van u doel sal ’n verandering meebring, nie net ’n toename nie!