Vir 70 jaar lank is NAVO al ’n sleutelfiguur in pogings om wêreldvrede te bewerkstellig. Ons wêreldse probleme verdwyn egter nie. Sal vrede ooit bereik word?

Kort na die einde van die Tweede Wêreldoorlog het die seëvierende geallieerdes die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) gestig. Die doel hiervan was om ’n militêre teëwig te vorm teen die Sowjet-bedreiging, met die doel om Europa se nuwe nuutgevonde vrede te beskerm. NAVO se sewentigjarige herdenking is in 2019 gevier. Sedert die stigting van NAVO, het Wes-Europa ’n ongekende tydperk van vrede en veiligheid geniet. NAVO het hom by veranderende omstandighede aangepas en sy omvang uitgebrei om diplomatieke en krisisbestuur in te sluit. Sy lidmaatskap het dramaties van 12 tot 29 lande uitgebrei en het verskeie bedreigings om te bestaan oorleef.

’n Onvolhoubare toekoms

Dit bring ’n paar belangrike vrae na vore. Terwyl die VSA se president, Donald Trump daarop aandring dat teësinnige NAVO-lede die ooreengekome minimum bydrae van twee persent van hulle nasionale begrotings vir verdedigingsuitgawes behoort te betaal ter ondersteuning van NAVO-bedrywighede, bevraagteken sommige lede weer die organisasie se vermoë om in sy huidige vorm te kan oorleef. Behoort die Verenigde State voort te gaan om die grootste deel van NAVO se militêre koste te dra om die vrede in Europa te verseker in die lig van verhoogde vlakke van Russiese aggressie? Behoort Europa meer te doen om vir homself te sorg? Wat gebeur indien die Europese Unie sou besluit om sy eie mededingende militêre magte te finansier indien die VSA onwillig sou wees of dalk nie kán nie, as gevolg van dringender kwessies in die Stille Oseaan? Sal NAVO altyd daar wees om die vrede van Europa te verseker of sal daar ’n tyd aanbreek wat daar nie meer ’n NAVO sal wees nie? Bybelse profesie oor hierdie onderwerp mag u verbaas. Die Bybel wys op ’n ander en meer volhoubare oplossing vir die probleme van Europa en die wêreld. Voordat ons egter na die geprofeteerde toekoms kyk, laat ons eers NAVO se verlede en huidige suksesse bekyk.

Vryheid en sekuriteit

NAVO se hoofdoel is om die vryheid en sekuriteit van sy lidlande te verdedig, veral dié in Europa. In 1948 is die besprekings wat tot die NAVO-alliansie gelei het, noodsaaklik gemaak as gevolg van die Sowjet se versterking van mag en invloed in Oos-Europa. Die Noord-Atlantiese Verdrag is op 4 April 1949 onderteken, met inbegrip van die omstrede Artikel 5 vir Kollektiewe Verdediging: ’n Aanval op een bondgenoot word beskou as ’n aanval op alle bondgenote. Die 12 stigterslede was België, Kanada, Denemarke, Frankryk, Ysland, Italië, Luxemburg, Nederland, Noorweë, Portugal, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State.

Vir dekades lank, tydens die Koue Oorlog, het die NAVO-alliansie die konflik met die Sowjet-geleide Warskou Verdragslande tot ’n minimum beperk as gevolg van die naderende bedreiging van ’n kernuitwissing van albei kante – die sogenaamde MAD-leerstelling: Mutually Assured Destruction! Teen die 1960’s, met kernafskrikmiddels in plek, het NAVO wesenlik besef dat hulle bestaan noodsaaklik is om die kerngelykheid van die VSA-Sowjet-lande te verseker. Met relatiewe vrede, as gevolg van NAVO se beskerming, was die nasies van Europa vry om nadere ekonomiese, sosiale en politieke bande te versterk deur die EU te vorm.

Interne konflik binne NAVO het die reaksies belemmer vir beide die oprigting van die Berlynse Muur van 1961 asook die Sowjet-inval van Tsjeggo-Slowakye in 1968. Sulke konflikte het NAVO aangespoor om bykomende strategieë te ontwikkel om sy militêre en diplomatieke invloed te versterk. NAVO se rol het uitgebrei van “bewaker van vrede”– handhawing van die status quo van die die dooie punt tydens die Koue Oorlog – na “bevordering van vrede” in ’n wyer arena deur middel van internasionale krisisbestuur en die bestuur van politieke, ekonomiese en sosiale verandering.

Met die ineenstorting van die Sowjet-Unie in 1989 het die Sowjet-bedreiging stadigaan gekwyn. Dit het egter nie beteken dat NAVO ontbind kon word nie. Vrede en versoening het nog nie in Europa bestaan onder diegene wat bevry was van die Sowjet-invloed nie. Plaaslike etniese konflik het ontvlam in die Bosniese Oorlog, waartydens NAVO in 1994 die eerste skote afgevuur het en vier Bosnies-Serwiese vliegtuie afgeskiet het. Dit was ’n skending van ’n V.N.-verklaarde spersone. In Bosnië het NAVO geleer dat ’n omvattende benadering nodig was om konflik op te los en vrede te bou: Die Wêreldbank was nodig vir belegging, die EU vir regering, die V.N. om verkiesings te organiseer en NAVO-magte van hoofsaaklik Europese nasionale samestelling om volgehoue vrede op grondvlak te bou en om met die plaaslike bevolking te identifiseer.

In die moderne era van internasionale terrorisme het NAVO se fokus verskuif van Europa en die Noord-Atlantiese Oseaan na die bron van huidige bedreigings. Huidige pogings om vrede te bewaar, sluit diplomatieke sendings in Kosovo, Irak en die Middellandse See sowel as lugpolisiëringsdienste in die Afrika-Unie. NAVO het V.N. van 2003 tot 2014 die Internasionale Veiligheidbystandsmag (ISAF) in Afganistan gelei, ná die geallieerde ingryping en sekuriteit oorgedra aan Afgaanse owerhede. Dit het 50 NAVO-personeellede en -vennootnasies ingesluit. Meer as ’n duisend NAVO-personeellede het hulle lewens gedurende hierdie tyd verloor. Die mens se poging om vrede te bewerkstellig, het ’n prys.

In Julie 2018 het die VSA president Trump tydens ’n NAVO-beraad in Brussel die finansiële lasdeling as ’n groot probleem vir NAVO beklemtoon. Hy het ’n beroep gedoen op NAVO-lande om, afgesien van vernaamste bydraers (die VSA, Duitsland, die VK en Frankryk) meer verantwoordelikheid te aanvaar vir die finansiering van hulle eie verdediging. Terselfdertyd raak Rusland, toenemend aanmatigend in Europa, deur Oos-Oekraïne binne te dring en die Krim te annekseer. Dit lei tot meer vrae. Sal NAVO nog ’n krisis kan hanteer, aangesien die VSA dreig om homself meer af te sonder en sy betrokkenheid te verminder? Sal die EU verplig wees om ’n Europese militêre mag op te bou om die vakuum te vul wat geskep is in die afwesigheid van ’n VSA militêre mag – of selfs NAVO se ondergang?

Geprofeteerde weg na vrede

Die Wêreld van Môre skryf lank reeds oor ’n Europese Diermoondheid wat in die boek Openbaring beskryf word, wat tien konings of nasionale leiers insluit (Openbaring 17:12-13). Eindtydse Bybelse profesie dui aan dat nie NAVO of enige ander militêre mag, in staat sal wees om blywende vrede in Europa te kan bewerkstellig of in stand sal kan hou nie. Die Bybel verklaar in Jesaja 59:8 dat die mensdom “hul paaie krom maak” en dat die mense nie die weg na vrede ken nie. Die Bybel gee ook die rede waarom. As nasies, vrees en gehoorsaam ons nie vir God nie (Romeine 3:17-18). Ons probeer om vrede met oorweldigende mag te bewerkstellig en inderdaad is dit dikwels die enigste ding waarop tiranne sal reageer, maar dit is nie die blywende oplossing nie.

Jesus Christus die Messias sal na hierdie oorlogverskeurde aarde terugkeer om die uitwissing van die hele mensdom te voorkom, as gevolg van die botsings tussen die supermoondhede in die Midde-Ooste, waarby Rusland, China en die Europese Diermoondheid betrokke sal wees tydens die hoogtepunt van die komende Groot Verdrukking (Matthéüs 24:22). Hy gaan nie die magte van NAVO of enige ander menslike mag gebruik om ware vrede te bewerkstellig nie. Net die ingryping van die Vredevors, wat ’n verheerlikte leër van diegene wat Hom vrees en gehoorsaam, lei, kan ’n rampspoedige oorlog verhoed en ’n ongekende tyd van wêreldvrede inlei. Openbaring 17:14 sê vir ons: “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou.”

Die Almagtige God is die enigste Een wat werklik weet hoe om volhoubare vrede te bou – n feit wat die baie opregte individue wat in NAVO dien, in die toekoms ten volle sal kan waardeer. Vir meer inligting oor die wêreldgebeure vlak voor ons, lees ons boekies Die Dier van Openbaring en Armageddon en daarna, aanlyn of kontak die streekkantoor naaste aan u vir ’n gratis kopie. Kontakbesonderhede verskyn op bladsy 2 van hierdie tydskrif.