Dit was fassinerend om gedurende my 84 lewensjare die verskillende “wêrelde” waarin mense leef te kon waarneem. Die meeste mense word oorheers – ook dikwels beperk – deur die besondere eng wêreld waarin hulle leef.

Miljoene mense leef in die “media”-wêreld en loop oor van entoesiasme oor filmsterre en akteurs in televisie-programme. 
Ander mense is in die “sport”-wêreld verdiep en verwonder hulle aan die drieë wat gedruk word of die lopies wat deur hulle gunsteling sporthelde aangeteken word.

Daar is “wêrelde binne wêrelde”. ’n Gholf-fanatikus mag baie min kennis dra of belangstelling in sokker toon. Vir ’n operaliefhebber mag die meeste “pop”-musiek redelik onbekend wees en ’n aanhanger van die nuutste “boy band” mag ’n weersin hê in simfonie- of koormusiek, of dit selfs minag.

Bewoners van elke “wêreld” sal dikwels toelaat dat hulle eng belangstellings byna al hulle vrye tyd, geld, gesprekke en verhoudings in beslag neem. Individue wat vanuit hulle eng bestaan kan terugkyk en eerder op die “groot prentjie” fokus, waarbinne hierdie eng wêreld in vergelyking maar klein is.

Sir Winston Churchill het gesê: “Daar is ’n groot plan en doel wat hier benede uitgewerk word”. Hierdie “man van die eeu” was op die regte pad, maar selfs hy het nie daardie groot plan en doel ten volle verstaan nie – die rede waarom ons gebore is, die rede waarom ons asemhaal en die doel waarvoor ons geskape is.

Verstaan dit?

 My eie klein “wêreld”

Terwyl ek in die myndorp Joplin in die suidweste van Missouri grootgeword het, was my eie “wêreld” basies tot my vriende en familie en die plaaslike gemeenskappe rondom Joplin beperk. Daardie “wêreld” het verbreed toe ek, as ’n jong volwassene, die geleentheid gehad het om vir 3½ maande aaneen deur Europa te reis. Dit het werklik my oë oopgemaak om te sien hoe duisende basies “gemiddelde” mense hulle lewens lei. Saans, op die breë boulevards van Parys, Rome en Madrid, het ek gesinne by dieselfde tafel gesien sit, terwyl Oupa sy tee drink, ’n seun en skoondogter wyn drink en die jonger kinders hulle koeldrank drink. Hulle het net met hulle lewens aangegaan, nie méér sondig en nie méér regverdig as die meeste Amerikaners saam met wie ek grootgeword het nie.

Hierdie ervaring het my gehelp om te verstaan dat die “egte waardes” wat ons behoort te soek nie dié van middelklas Amerikaanse Protestantisme of Europese Katolisisme of enige ander mensgemaakte “wêreld” van idees en praktyke is nie. Daardie waardes word eerder in die Tien Gebooie gevind, die geïnspireerde weg wat God eeue gelede aan ons voorvaders geopenbaar het. Enige ander “standaard” van gedrag wat deur mense bepaal word, is minderwaardig en beperk – omdat ons eie gedagtes en begrip beperk is en by verre ondergeskik is aan die Skepper wat ons in die eerste plek gemaak het.

Baie mense hou nie daarvan om dit te hoor nie! Ek sal nooit die raad van my ouer kleinneef, ’n baie suksesvolle sakeman, vergeet nie. Hy het ’n groot sirkel getrek met verskillende afdelings om te toon hoe ons elke dag van ons lewens ons tyd behoort te bestee aan aktiwiteite soos onderwys, werk, huisgesin, ens. Hy het slegs ’n baie klein deeltjie vir “godsdiens” afgemerk, want hy het gesê dat dit by tye nuttig mag wees, maar dit moet nooit toegelaat word om inbreuk te maak op die “groot dinge” in die lewe, soos loopbaan en gesin nie.

Wat hy eintlik vir my gesê het, was om God in ’n “kassie” te sit! God het hom natuurlik nie geroep nie en ek het dwarsdeur die dwaling in sy redenasie gesien. Indien daar geen werklike God was nie, kon sy benadering goed gewees het. Indien daar egter ’n ware God van die Bybel is, ’n kragtige Geestelike Wese wat ons geskape het, wat die heelal geskape het, ons gedagtes geskape het en ’n opperste doel vir ons in gedagte het, dan behoort ons nie “vir God in ’n kassie te sit nie”!

Die krag van geloof

Namate ons sien hoe Boko Haram en ISIS deesdae op duisende vierkante kilometer land beslag lê, stede terroriseer en talle teenstanders vermoor, alles in die naam van godsdiens, behoort dit voor-die-hand-liggend te wees dat die “geesteswêreld” ’n belangrike motiveerder vir miljoene mense regoor die wêreld is. Ons kan dit nie ignoreer en verwag om te oorleef nie.

Wat beteken dit vir my en vir u? Die geïnspireerde Woord van God dui aan dat voordat Christus weer kom, die Arabiese wêreld sal verenig onder iemand wat die “koning van die Suide” genoem word (Daniël 11:40). Hy sal teen ’n “Dier”-moondheid, wat binnekort in Europa sal verrys, in opstand kom en dit sal miljoene mense betrek wat so totaal mislei sal wees dat hulle letterlik teen Christus sal veg met Sy Wederkoms (Openbaring 17:14)!

Hierdie tydskrif en alles wat hierdie Werk rugsteun, het ontstaan gedurende die eindtyd, die “laaste dae” van die huidige tydperk – soos die Bybel dit stel – om die nasies te waarsku dat die Skepper binnekort sal ingryp om die anti-God dwaasheid wat rondom ons aangaan,heeltemal te stop. Die lewende Christus sal binnekort as Koning van die konings terugkom (Openbaring 11:15). Hy sal die beskawing verander, ’n einde maak aan die voortdurende mededinging, misleiding, ontrouheid, moord en so baie ander vieslike dinge wat vandag aangaan, soms selfs in die naam van godsdiens.

Reageer op die Waarheid!

Wat van u? Indien u gewillig is om aan uself te bewys dat daar ’n ware God is, ons Vader en ons Skepper wat ons gemaak het en aan ons lewe en asem gee en indien u in staat is om aan uself te bewys dat die Bybel die geïnspireerde openbaring van daardie God is, dan behoort u daarop te reageer. U behoort ’n studie daarvan te maak, te mediteer en met u hele hart na God te “soek”. Enigiets anders is dwaas! Die Almagtige God het aan ons voorouers gesê wat hulle nageslag behoort te doen wanneer hulle uiteindelik in ballingskap geneem sal word aan die einde van hierdie huidige tydperk: “Dan sal julle daarvandaan die Here jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek. As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die Here jou God terugkeer en na sy stem luister” (Deuteronomium 4:29-30).

Verstaan u? Meer as enige ander “wêreld” waarin u uself mag bevind, is die wêreld van God se Waarheid die uiteindelike wêreld wat u hele lewe sal raak, baie meer as wat u u nou kan indink!

Ek daag dus almal van u uit, liewe Lesers, om “dit na te jaag”. Die ware God, die Skepper en Heerser van die heelal, die Een wat elke woord van die Bybel geïnspireer het, sal aan u begrip, krag en hulp verleen indien u werklik na Hom “soek” soos die meeste van u nognooit voorheen gedoen het nie.

In hierdie Werk is ons hier om u te dien. Ons wil u graag help. Ons kan ’n veel groter aanhang hê deur valshede soos die “hoofstroom” godsdiens te verkondig, maar ons wil graag die paar mense help wat opreg wil leer en die Waarheid wil beoefen. Indien u dit nog nie gedoen het nie, bestel asseblief ons gratis Wêreld van Môre-Bybelstudiekursus. U kan dit bestel by www.wvm.co.za, of u kan met die streekskantoor die naaste aan u (gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif) kontak maak. Ek raai u ten sterkste aan om te begin om die Bybel te bestudeer soos nog nooit tevore nie. Bestudeer al ons gratis leesstof, maar veral die Wêreld van Môre-Bybelstudiekursus. Indien u dit doen, sal dit u “lewe” verander soos nog nooit tevore nie – indien u gewillig is om die tyd af te staan om te studeer en te reageer op die heel belangrikste doel wat God besig is om aan u te openbaar deur hierdie Werk van u Skepper en u God!