Indien u ’n “hoofstroom” Protestantse kerk bywoon, het u waarskynlik opgemerk dat hulle` ledetal afneem. Waarom gebeur dit? Wat behoort u daaromtrent te doen?

As ’n voormalige Protestant met baie familielede wat nog steeds Protestante is, ag ek dit my plig om u teen ’n eersdaagse ramp te waarsku! Die meeste van die Protestantse kerke sal nie eers oor ’n dekade of twee van nou af bestaan nie!

Waarom?

Die rede is dat die oorgrote meerderheid van die mense in Amerika en die hele Engelssprekende wêreld van mening is dat Protestantisme toenemend ontoepaslik geraak het. Miljoene Protestantse kerklidmate verkies om pad te gee. Hulle word Rooms-Katolieke. Baie mense is eenvoudig moedeloos, ontmoedig en verward. Hierdie verwarde mense beskryf hulleself dikwels as “ontkenners” – wat beteken dat hulle nie aan enige georganiseerde godsdiens behoort nie. Hulle probeer net om “geestelik” te word en probeer net om God op hulle eie manier te aanbid.

Weereens, waarom?

Die antwoord is eenvoudig: Vir baie mense, indien nie die meeste nie, lyk dit of “Protestantisme” in werklikheid vir feitlik niks meer “staan” nie. Die meerderheid van die “hoofstroom” Protestantse kerke volg baie vinnig die gesindhede, oortuigings en die gebruike van hierdie wêreld – hierdie wêreld se toenemend wêreldse en onregeerbare gemeenskap. Waar is die getroue leraars wat op die preekstoel staan en “hoerery” sterk veroordeel – soos die Bybel die gebruik noem – om as ’n ongetroude paar net “saam te woon” sonder enige bindende verpligting teenoor God, familie of mekaar? Waar is die leraars en priesters wat die gebruik van onwettige dwelms, dronkenskap, leuens, bedrog, perverse seks of disrespek vir ouers kragtig veroordeel? Bestaan sulke Godvresende, Bybel-gelowige leraars nog iewers?

Beslis nie in die “hoofstroom” Protestantisme nie! Indien enige getroue Bybel-gelowige leraar soos hierdie wel in enige van hierdie kerke bestaan het, sou hy spoedig afgedank word of figuurlik “uit die dorp gevlug het”! Dus bevind baie min – indien enige – sodanige predikante hulleself nog in “hoofstroom” Protestantisme!

Aan die ander kant wil dit voorkom of die Rooms-Katolieke kerk darem nog vir ’n paar dinge “staan”! Daar is miljoene verwarde mense daar buite wat “na iets soek” – enigiets van werklike waarde – wat stadig maar seker besig is om te kyk na die oorspronklike “moederkerk” van die Protestantisme as ’n plek van godsdienstige veiligheid. Baie waarnemers besef dat die vermeende stabiliteit van die Rooms-Katolieke kerk dit al hoe meer aantreklik maak vir voormalige Protestante wat moeg geword het vir hulle eie denominasies se “gesloer” oor so baie kwessies. Studente van Bybelprofesie sal nie verbaas wees om duisende en selfs miljoene mense na hulle “moederkerk” te sien terugkeer in die volgende paar jaar nie!

Die belangrikste probleem

Vir diegene met insig is die werklike probleem die feit dat die Protestantse hervormers en hulle opvolgers nie eintlik hulle mense na die “geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” teruggelei het nie (Judas 1:3). Onthou die gesegde wat die bekende Protestantse teoloog William Chillingworth dikwels aangehaal het: “Die Bybel, die hele Bybel, en niks anders as die Bybel nie, is die godsdiens van die Protestante” (Schaff-Herzog Encyclopedia of Religious Knowledge, artikel “Chillingworth, W”). Die meeste Amerikaanse kerkgangers – sowel as Britte – dra nogtans feitlik geen kennis van die besonderhede van die Bybel nie!

Jesus Christus het Sy volgelinge beveel: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). “Die Amerikaanse burgers weet nogtans feitlik niks van die Bybel nie. Hoewel die meeste mense dit as die Woord van God beskou, lees baie min dit nog. Selfs evangelie-gesinde persone van die Bybelstreek lyk of hulle meer daarop fokus om Jesus lief te hê as om te leer wat Hy te sê gehad het” (Charlotte Observer, 18 Maart 2007).

Het die laaste sin u aandag getrek? Dit is lewensbelangrik! Dit is waar dat selfs “Christene uit die Bybelstreek” baie meer daarop gefokus is om “Jesus lief te hê” as op wat Hy te sê gehad het! Dit is waarom hulle so verward, so verdeeld en so onkundig is oor wat die geïnspireerde Woord van God probeer om aan hulle te vertel. Hulle bestudeer eenvoudig nie hulle Bybel met dieselfde sorg en aandag wat hulle aan ’n boek oor geskiedenis, wiskunde of kwantumfisika sou gee nie. Hulle benader dit net met ’n sentimentele gesindheid en lees stukkies en brokkies daaruit – hulle bestudeer nie regtig die hele Bybel met ’n begeerte en gebed vir begrip nie en vra God nie vir die gewilligheid om gehoorsaam te wees aan wat Hy aan hulle sê in die bladsye daarvan nie!

In plaas van om die geïnspireerde Woord van God as die fundamentele paradigma of “model” te gebruik van wat hy wou herstel, het Martin Luther – wat erken word as die primêre stigter van Protestantisme – vermoedelik in opstand gekom teen sekere Rooms-Katolieke gebruike. Trouens, hy het bedoel om nogtans met baie van die basiese leerstellings van Katolisisme voort te gaan, behalwe met daardie waarmee hy persoonlik verskil het! Protestantisme is dus ’n “mengelmoes” van verskillende idees. Sommige idees is nog van heidense praktyke oorgehou wat deel van die vroeë Rooms-Katolieke was. Ander is van die selektiewe gebruik van sekere skrifgedeeltes afgelei terwyl ander geïgnoreer word. Ander idees was niks meer as ’n gier van Luther en sy kollegas sonder die inagneming van die Skrif nie! Dit wil voorkom of dit nooit by hulle opgekom het dat indien hulle werklik die “geloof wat eenmaal oorgelewer is” wou herstel, dit dan nodig sou wees om ten volle terug te keer na die leerstellings van die Bybel nie!

Dit is dus merkwaardig dat in verwerping van die leer van transsubstansiasie – die idee dat brood en wyn Christus se letterlike liggaam en bloed word – Luther die absolute gesag van die Skrif in sake van geloof en gebruike verklaar. Hy meld: “Want dit wat beweer word sonder die gesag van die Skrif of van bewese openbaring kan beskou word as ’n mening, maar daar is geen verpligting om dit te glo nie ... Transsubstansiasie ... moet beskou word as ’n uitvindsel van die menslike rede, aangesien dit nóg op die Skrif gegrond is nóg op nugter beredenering” (Documents of the Christian Church, red. Bettenson, bl. 280).

Indien Luther voortgegaan het om hierdie tipe van skriftuurlike toets op al sy leerstellings toe te pas, sou die wêreld vandag ’n ander soort plek gewees het! Tydens die aanklag vir die invoeging van die woord “sola” (alleen) in Romeine 3:28, het hy uit die hoogte geantwoord: “Indien u Pous homself enige onnodige ergernis oor die woord sola gee, kan u prontuit antwoord: Dit is die wil van dr. Martin Luther dat dit so sal wees” (Manual of Universal Church History, bl. 199). Ons kan ook op goeie gesag byvoeg, dat geen ander rede vir sulke onskriftuurlike veranderinge soos hierdie, ooit gegee is nie. Wanneer dit by Luther se eie persoonlike dogmatiese oortuigings kom, was Martin Luther werklik ’n eiesinnige man.

In die beoordeling van enige mens of beweging, het Jesus gesê: “So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken” (Mattheüs 7:20).

Indien mens eerlik en objektief die werklike “vrugte” van die uitlewing van Protestantisme – of Katolisisme wat dit betref – in enige nasie of gebied van die wêreld in ag neem, word dit duidelik dat ware Christenskap nie in enige van daardie plekke herstel is nie. Soos alle studente van geskiedenis weet, baie van die groot oorloë van die laaste paar honderd jaar het in Europa plaasgevind. Ons lees van Protestante wat teen Protestante veg, Katolieke wat teen Katolieke veg. Elke kant se biskoppe of priesters sal dikwels die troepe “seën” wanneer hulle teen die rant opgaan om die vyand met die bajonet te steek en sy ingewande uit te haal. Daardie “vyand” mag dalk selfs ’n persoon van hulle eie godsdienstige geloofsoortuiging wees!

Christelikheid?

God identifiseer die Roomse kerk

Die volharding van die Protestantse leiers op hulle basiese eenheid met die Katolieke kerk en hulle identifikasie van haar as hulle “moeder”-kerk, is baie betekenisvol!

In die vroeë uitgawes van Martin Luther se vertaling van die Nuwe Testament, is daar baie illustrasies wat die “Hoer van Babilon” as die Rooms-Katolieke kerk uitbeeld. Terwyl hy hierdie algemeen aanvaarde interpretasie beskryf, vertel Roland Bainton aan ons: “Gevalle Babilon is duidelik Rome” (Here I Stand, bl. 258). Talle Protestantse boeke, pamflette en traktate maak vandag dieselfde identifikasie. Hulle bestempel die Rooms-Katolieke kerk as die “Groot Hoer” van Openbaring 17.

Daar moet nogtans toegegee word dat die meeste van die meer konserwatiewe Protestantse kerklike skrywers opgehou het om hierdie identifikasie te maak. Na daardie eerste uitgawes van die Bybel en hulle verskeie pamflette en traktate, het hulle tot hulle verleentheid besef dat hulle van hulleself praat! In een van die gedeeltes wat die heel maklikste in hierdie geïnspireerde profetiese boek verstaan word, beskryf God ’n groot vals godsdienstige stelsel wat sou ontstaan en bestempel dit as “die Groot Babilon” (Openbaring 17:1-6).

Wanneer ons na Openbaring 17 blaai, sien ons dat die vrou wat hier uitgebeeld word, ’n gevalle vrou is – ’n “Groot Hoer”. Sy sit op “baie waters”. In vers 15 identifiseer die profesie self hierdie waters as “volke en menigtes en nasies en tale”. Hierdie gevalle vrou is dus ’n groot kerk – wat oor baie nasies en volke regeer. Sy word daarvan beskuldig dat sy met die konings van die aarde “gehoereer het”. Geestelik kan dit net beteken dat sy aan inmenging in die politiek en oorloë van hierdie wêreld skuldig is.

Christus het gesê dat Sy Koninkryk nie van hierdie wêreld is nie (Johannes 18:36). Jakobus praat van diegene wat aan die stoflike welluste en oorloë van hierdie wêreld deelneem as geestelike “egbrekers” (Jakobus 4:1-4). Die profesie word nou duidelik! Hierdie afvallige kerk word veroordeel omdat sy in politiek betrokke was en aan die oorlogvoering van hierdie wêreld deelgeneem het.

Hierdie gevalle vrou, of kerk, is met purper en skarlaken kleure geklee. Die purper simboliseer koninklike mag en waardigheid. Die skarlaken dui op haar geestelike hoerery! Sy is ’n welgestelde kerk, “versier met goud en kosbare stene en pêrels” (Openbaring 17:4). Johannes skryf: “En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien” (vers 6).

Hierdie kerk het baie van God se heiliges wreed vervolg en gemartel. Haar rykdom, haar mag en haar koninklike waardigheid het egter ’n gevoel van ontsag ingeboesem, selfs by Johannes! Later openbaar God: “En die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde” (vers 18).

Al hierdie beskrywings is volmaak toepaslik op die Rooms-Katolieke kerk! Hierdie is die kerk wat God se verspreide mense deur die eeue heen vervolg het. Hierdie is die kerk wie se rykdom en materiële mag geen gelyke het nie. Hierdie is die kerk wat sy eie weermag gehad het en aktief aan die oorloë en politiek van hierdie wêreld deelgeneem het!

Slegs die hoofstad van die “Christendom” in Rome kan werklik ’n “groot stad” genoem word wat oor die konings van hierdie wêreld regeer het. Daar is geen twyfel oor hierdie identifikasie nie! Alexander Hislop verklaar in sy merkwaardige boek, The Two Babylons: “Daar was nog nooit enige twyfel in die verstand van enige verligte Protestant om die vrou wat op ‘sewe berge’ sit en op wie se voorkop die naam ‘Verborgenheid, die groot Babilon,’ geskryf is, met die Roomse afvalligheid te verbind nie” (Hislop, bl. 1).

Wat lê binnekort voor?

My vriende, miljoene meer mense in hierdie verskriklike deurmekaar wêreld sal hulleself binnekort na die Rooms-Katolieke kerk wend. Onwetend sal hulle ook deel word van wat die Almagtige God noem: “Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde. En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien. Toe sê die engel vir my: Waarom het jy jou verwonder? Ek sal jou die verborgenheid van die vrou vertel en van die dier met die sewe koppe en die tien horings, wat haar dra. Die dier wat jy gesien het, was en is nie en sal uit die afgrond opkom en na die verderf vaar; en die bewoners van die aarde wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe geskryf is nie, sal hulle verwonder as hulle die dier sien wat was en nie is nie, alhoewel hy is. Hier kom die verstand wat wysheid het, te pas. Die sewe koppe is sewe berge waar die vrou op sit” (Openbaring 17:5-9). Dus is die “vrou” van Openbaring 17 die “moeder” van die hoere. Haar “dogter” kerke het in protes uit haar uitgekom. Hulle word derhalwe “Protestante” genoem!

Dus sal die Romeinse Ryk – waarop die “vrou” figuurlik sit – in Europa opgang maak en vir ’n paar jaar die heel magtigste moondheid in die hele wêreld wees! Daar was ses “herlewings” van dié ryk – met inbegrip van die Mussolini/Hitler herlewing, wat slegs vir ’n kort tydjie geduur het. Die finale herlewing sal binne die volgende paar jaar van u lewe plaasvind.

U behoort “gereed” te wees! U behoort hierdie dinge te bestudeer en te bewys, sodat u sal verstaan wat binnekort voorlê en hoe dit alles in u lewe sal raak – asook die lewens en toekoms van u kinders en geliefdes! Hierdie “Dier” sal net vir sowat drie-en-’n-half jaar bestaan en dan na die “verderf” gaan (Openbaring 17:11). Gedurende daardie tyd, beskryf God hierdie ontsaglike moondheid met hierdie woorde: “En hy het met ’n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ’n woonplek van duiwels en ’n versamelplek van allerhande onreine geeste en ’n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls, omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid. En ek het ’n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openbaring 18:2-4). Dan dui u Bybel weer duidelik die rykdom en mag aan wat hierdie godsdienstig-politieke stelsel sal hê: “En die handelaars van die aarde sal ween en rou bedrywe oor haar, omdat niemand hulle koopware meer koop nie” (vers 11). Weer: “... want jou handelaars was die grotes van die aarde; want deur jou towery is al die nasies verlei” (vers 23).

Hierdie hele stelsel het ’n magtige “vervalste Christendom” geword en sal selfs nog meer invloedryk raak! Dit “lyk goed” – op die oppervlak. Enige stelsel of godsdiens wat die Bybel verwerp, verwerp egter God se geestelike Wet – die Tien Gebooie – hulle gaan voort op hulle eie manier onder die “tradisies van mense” en sal spoedig ontaard en veroorsaak dat sy mense baie swaar sal kry onder die invloed van Satan die duiwel! Die apostel Paulus was deur God geïnspireer om hierdie selfde stelsel te beskryf asook die toekomstige “valse profeet” wat dit sal lei. In sy beskrywing van die einde van hierdie tydperk vertel Paulus aan ons: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thessalonicense 2:3-4).

Binne die volgende dekade of twee, sal ’n baie slim en charismatiese individu opgang maak en miljoene mense absoluut mislei! Hy sal aan die hoof van die “verborgenheid van die ongeregtigheid” staan (vers 7). Dit is ’n verborgenheid wat “wetteloos” is in die sin dat dit die noodsaaklikheid ontken om God se Wet te gehoorsaam! “[E]n dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie” (verse 8-10). Die valse leraars in hierdie stelsel sal selfs “wonders van die leuen” uitvoer. Die komende groot valse profeet “... doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ’n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het” (Openbaring 13:13-14).

Soos ons egter gesien het, sal sy invloed spoedig tot ’n einde kom. Selfs al is hierdie komende stelsel so magtig en invloedryk dat sy leërs sal saamtrek om letterlik teen Christus te veg (Openbaring 17:14), sal hierdie komende militêre leier – die “Dier” – en die Valse Profeet, gou vernietig word en tot ’n skandelike einde kom (Openbaring 19:19-21).

U lewe – en alles rondom u – sal binnekort verander! Daar sal geen Protestantisme meer wees nie! Selfs die magtige Rooms-Katolieke kerk en sy leiers sal binnekort tot ’n einde kom. God maak dit baie duidelik aan diegene wat gewillig is om te verstaan en die Bybel te glo en wat dit duidelik aan diegene sê wat gewillig is om te luister!

Mag God u help om aandag te skenk en daadwerklik op te tree voordat dit te laat is!

Indien u werklik die besonderhede van dit alles wil verstaan, maak seker dat u die streekkantoor die naaste aan u (gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif) kontak om u gratis eksemplare van twee van ons kragtigste en betekenisvolste boekies aan te vra. Skakel of skryf vandag nog, of gaan aanlyn by www.wvm.co.za en bestel ons insiggewende boekies naamlik Hervestig die oorspronklike Christenskap en Satan se Vervalste Christendom. Hierdie onderwerpe sal selfs nog duideliker gemaak word as wat ek dit in hierdie een artikel kan doen. Dit berus nou by u.

Elkeen van u wat hier lees het twee keuses: Óf u sal aandag daaraan skenk en daadwerklik optree en begin om na “God te soek” deur bestudering van Sy Woord en gewillig wees om te doen wat Hy uitdruklik en duidelik in die Bybel sê! U sal dan teen die toekomstige Groot Verdrukking beskerm word (Openbaring 12:12-14). Óf u kan net hoop dat alles sal “verdwyn” en dat u veilig met u lewe kan voortgaan en deel van hierdie wêreld wees – deel van “die groot Babilon” soos God dit noem.

Wat u ook al doen, onthou asseblief: God maak dit duidelik dat almal wat ingesluit is in hierdie verfoeilike stelsel wat nou besig is om te ontwikkel, na ’n paar jaar absoluut vernietig sal word. Diegene wat hulle na die Skepper-God wend sal vir ewig lewe in Christus se toekomstige Koninkryk wat binnekort op hierdie aarde gevestig sal word. Dit is u keuse!