Die vorige eerste minister Boris Johnson se ontslag word geblameer op misleiding. Sal eerlikheid in die regering ooit die norm wees?

Op 7 Julie 2022 is die Verenigde Koninkryk se eerste minister, Boris Johnson, gedwing om as leier van die Britse Konserwatiewe Party te bedank. Van ’n politieke oorwinning van 80 setels tydens die algemene verkiesing in 2019, het die Konserwatiewe Party se gewildheid onder Johnson se leierskap geleidelik afgeneem. Die eerste minister se reputasie was toenemend een van oneerlikheid en hy was daarvan beskuldig dat hy “integriteit, bekwaamheid en visie kortkom” (“Boris Johnson bedank: 5 dinge wat tot die premier se ondergang gelei het,” BBC, 7 Julie 2022). Sommige mense het gekla dat sy administrasie ’n gebrek aan samehorigheid, fokus en idees gehad het. Laastens, en dalk die belangrikste, het hulle belangrike tussenverkiesings verloor. Mnr. Johnson is nie meer as ’n wenner van stemme gesien nie – hy moes gaan.

 

Kom ons bespreek eerlikheid

Wat beteken die uittrede van Boris Johnson, die kampioen van Brexit, vir Brittanje? Hoe gaan Brittanje sy probleme oplos in ’n wêreld wat al hoe meer geteister word deur dreigemente van virus-inperkings, inflasie wat die hoogte inskiet, uitermatige hoë energiepryse en chroniese voedseltekorte? Watter geestelike lesse kan elkeen van ons leer met betrekking tot die algemene neiging om oneerlik te wees en die wanvoorstelling van die waarheid?

Van verskeie ineengestrengelde redes vir die Tory-ontevredenheid (Konserwatiewe Party) met Johnson se leierskap, was die laaste strooi die fokus daarop dat hy die waarheid bekend moes maak oor twee omstrede kwessies waarvoor hy verantwoordelik was. Die eerste kwessie was ’n reeks partytjies en sosiale byeenkomste, wat nou gesamentlik “Partygate” genoem word, wat in die tuine by Downingstraat 10 – die eerste minister se kantoor en woning in Londen – gehou is. Dit het plaasgevind gedurende die COVID-inperkings, terwyl al sulke byeenkomste verbied was en stewige boetes opgelê was.

Die tweede kwessie, wat op 4 Julie 2022 aan die lig gekom het, het betrekking op ’n parlementslid wat deur Johnson as een van die partyswepe aangestel is, ten spyte van die feit dat Johnson bewus was van aanklagtes van seksuele wangedrag teen die persoon. By albei geleenthede is algemeen waargeneem dat mnr. Johnson “suinig met die waarheid” was, hoewel sy verdedigers aangevoer het dat daar baie belangriker sake was om te oorweeg. Eenvoudig gestel, was Johnson deur mede-LP’s, partylede en die publiek gekritiseer omdat hy nie reguit met die waarheid vorendag gekom het nie en vir sy persoonlike skynheiligheid – hy het leuens vertel – dus moes hy uittree.

Die rubriekskrywer Rafael Behr het hierdie tekortkomings van die eerste minister se karakter ontleed in ’n kragtige artikel waarin hy gevra het wat met Brexit gaan gebeur noudat Johnson uitgetree het. Hy het daarop gewys dat Johnson “uit sy eerste pos in joernalistiek afgedank is omdat hy ’n aanhaling versin het en so ook van sy eerste werk in die voorgestoeltes by Michael Howard se skadukabinet vir valse ontkenning van huweliksontrouheid”. ’n Voormalige Tory minister het dit sterker gestel deur te sê dat mnr. Johnson “vir sy vrou, sy werkgewers, sy kollegas en vir die parlement leuens vertel … Hy weet van honderde verskillende maniere om leuens te vertel” (“Brexit After Boris,” Prospect Magazine, 15 Julie 2022). Behr voorspel dat Brexit deur die volgende administrasie afgewater sal word noudat Johnson weg is.

 

Brexit-waarhede

Johnson se karakter-gebreke is egter nie ongewoon in ’n beroep wat belaai is met kompromieë, halwe waarhede en korrupsie nie. Wat van die integriteit van Brexit self? Johnson was meer as enigiemand anders die kampioen van Brexit wat daarin geslaag het om Brittanje uit die Europese Unie te lei en daarop aangedring het dat Brittanje beter daaraan toe sou wees buite die EU, eerder as om daarin vasgevang te wees. Die werklikheid was egter baie meer ingewikkeld – deels as gevolg van COVID-19.

Met die uitbreking van die virus-pandemie in die wêreld, het pogings om dit te bekamp, die wêreld-ekonomie tot ’n skokkende stilstand gedwing. Die inperkingsbeleid het dit moeilik gemaak om te bepaal wat die ekonomiese impak sou wees om die EU te verlaat. Was Brexit in der waarheid ’n goeie skuif vir Brittanje of ’n slegte skuif? Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD) het in 2022 voorspel dat die groei in die VK gedurende 2023 feitlik sal stagneer (“Low economic growth is a slow-burning crisis for Britain,” The Economist, 9 Junie 2022). Swak uitvoere, afnames in besigheidsbeleggings wat op Brexit gevolg het en ’n steeds stygende inflasiekoers van 9,4 persent het veroorsaak dat The Economist tot die gevolgtrekking gekom het dat, “ekonomiese agteruitgang ’n chroniese Britse siekte geword het”.

Was Johnson se hoop vir Brexit eerlik en gegrond op die werklikheid of opgeblaas en oordrewe? Die Noord-Ierland-protokol is ’n voorbeeld hiervan. Johnson het die VK triomfantelik uit die EU gelei, maar het willens en wetens, Noord-Ierland steeds onderworpe aan EU-wette gelaat – goedere kon vrylik van Noord-Ierland na die vasteland van Brittanje vervoer word, maar nie andersom nie. Johnson het uitbasuin dat dit nie ’n ernstige probleem was nie en het die Brexit-ooreenkoms onderteken terwyl hy foutiewelik ontken het dat daar kontrole sou wees op goedere wat tussen Noord-Ierland en Groot-Brittanje vervoer word. Pogings om die VK te ontwrig gaan voort, maar daardie pogings behels ’n bereidwilligheid om internasionale reg te oortree, aangesien dit die versuim van ooreenkomste behels waartoe die VK hulle reeds verbind het.

Ons kan natuurlik hierdie bespreking, wat betref eerlikheid in openbare beleid in die wêreldtoneel, uitbrei. Dit is beswaarlik nie slegs ’n probleem nét vir die Britse politiek nie – alle nasies word toenemend geraak. Openbare beleid word oorheers deur organisasies en “dinkskrums” wat glo dat hulle weet hoe die wêreld bestuur behoort te word en die meeste belangrike beriggewers tree meer as propagandasmouse op. Beleid oor klimaatsverandering, pandemie-entstofmandate en inperkings, geslagsverwarring onder kinders – oor elke belangrike onderwerp – is daar meer kommer om mededingende verslae te onderdruk as om aktief agter die waarheid te kom en dít te rapporteer. Dit lyk selfs asof daar nog méér leuens voorlê,

Let mooi op en u sal opmerk dat baie beleide ondersteun word deur wat “post-normale wetenskap” genoem sou kon word, waar die wetenskap korrup gemaak is en aangepas is om die voorafbepaalde beleidsdoelwitte te ondersteun deur ’n werklike of versinde gevoel vir die behoefte aan dringende optrede. Hierdie polities gedrewe ondernemingsgees het ’n groot impak op die hedendaagse lewe en keer die bestaande wêreldorde onderstebo. Die VK-kiesers het geleidelik meer bewus geraak van hierdie realiteite en dit het bygedra tot ’n atmosfeer van vertwyfeling en ontnugtering teenoor regeringsleierskap. Dit is dus nie verbasend dat die Konserwatiewe Party se gewildheid in minder as drie jaar afgeneem het tot op die punt waar hulle hulself vandag bevind nie, groot vrees bestaan dat die Arbeidersparty met die volgende verkiesing weer aan bewind sal kom. Sal die volgende regering voortgaan deur sulke leuens en vals inligting te versprei of gaan hulle opstaan en die waarheid praat?

 

’n Wêreld van leuens?

God maak dit duidelik in die Bybel dat ons in Satan se wêreld leef (Johannes 12:31; 14:30; 16:11) en dat Satan die vader van leuens is (Johannes 8:44). Ons behoort dus nie verbaas te wees dat sy wêreld in byna elke aspek van die lewe deur leuens oorheers word nie. Ware Christene streef egter daarna om nooit leuens te vertel nie. Om die waarheid te praat is die vernaamste aspek van God se karakter wat Hy van sy volgelinge verwag om dit deel van húlle karakter te maak.

Wat van u? Ondersoek u, u oortuigings en vra u vir God om u na die waarheid te lei – “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21)? God sê vir ons dat Sy geïnspireerde Woord die waarheid is (Johannes 17:17). ’n Christen staan op vir die waarheid ter ere van God en behoort nie te lieg nie, met die begrip in gedagte dat daar geen leuenaars in die Koninkryk van God sal wees nie (Openbaring 21:7-8). In plaas daarvan soek God na diegene wat Hom in gees en waarheid sal aanbid (Johannes 4:24) en wat eendag waarlik hierdie wêreld sal lei onder die gesag van Jesus Christus en Sy belangrikste voorbeeld van volmaakte eerlikheid sal stel. Vir besonderhede oor daardie vinnig naderende wêreldorde, kan u op versoek ’n gratis eksemplaar van Die toekomstige wêreld: Hoe sal dit wees? bestel of u kan dit aanlyn lees by www.wvm.co.za.