Wat het Jesus Christus oor Sy kruisiging en opstanding gesê?

VRAAG: My kerk het sekere spesiale voorskrifte vir die onderhouding van “Goeie Vrydag” – die Vrydag voor Paassondag. Ek het in my Bybel gesoek na bewyse van Goeie Vrydag, maar kan dit nie kry nie. Het ek iets misgekyk? 

ANTWOORD: U behoort geprys te word dat u die Skrif so noukeurig lees! Die Bybel onthul wel wat op die Vrydag voor Jesus Christus se opstanding gebeur het – maar die waarheid is nie wat die meeste belydende Christene vandag glo nie!

Ons weet uit die Skrif dat Christus drie volle dae en nagte – 72 uur – in die graf deurgebring het. Hy moes dit doen ten einde die Bybelse “teken van Jona” te vervul, soos Hy bekend gemaak het. “Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Mattheüs 12:39-40).

Hierdie feit weerlê die algemene chronologie wat van Goeie Vrydag tot Paassondag duur. Indien Christus op Paassondag opgestaan het, moes Hy teen nie later as die einde van die dag op Donderdag in die graf gewees het nie – nie Vrydag nie.

Wat weet ons van die tydsberekening van Christus se opstanding? Let op hierdie weergawe: “En op die eerste dag van die week kom Maria Magdaléna vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was. Sy hardloop toe en kom by Simon Petrus en by die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het, en sê vir hulle: Hulle het die Here uit die graf weggeneem, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie” (Johannes 20:1-2).

Dit beteken dat Maria in die nagtelike ure ná die Sabbat (na sononder op Saterdag en voor sonop op Sondag) na Christus se graf gegaan en toe gevind het dat Jesus nie in die graf was nie. Dit laat ons die tyd van Christus se dood verder terug neem tot nie later as net voor sonsopkoms op Donderdagoggend nie.

Die Skrif maak dit egter duidelik dat Jesus laat in die dag begrawe is, kort voor die begin van ’n jaarlikse Sabbatdag. Ons lees: “En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee. En dat die liggame nie op die sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit die voorbereiding was – want die dag van daardie sabbat was groot – het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word” (Johannes 19:30-31).

Die “dag van voorbereiding” is die dag voor die Sabbat, wanneer take afgehandel word in afwagting op die komende Sabbat wanneer daar gerus word van werksdag aktiwiteite. Ons het egter reeds gesien dat Vrydag nie die dag van Christus se dood kon wees nie, aangesien hy reeds vir 72 uur dood moes gewees het voor die einde van die laaste dag van die week! Is dit ’n oënskynlike teenstrydigheid in die Skrif? Nee! Wat baie lesers vergeet, is dat ’n dag van voorbereiding ook ’n jaarlikse Sabbat, een van die heilige dae wat in Levitikus 23 deur God opsy gesit is vir jaarlikse onderhouding, kan voorafgaan.

Indien Christus op die Woensdag voor sononder in die graf geplaas was, sou Hy teen die einde van Saterdagmiddag vir 72 uur in die graf gewees en opgestaan het net voor die eerste dag van die week begin het.

Om op te som weet ons dus uit die Skrif dat Jesus Christus op die Vrydag voor Sy opstanding alreeds dood en in die graf was om die profesie te vervul. Tradisies wat daarop aandring dat Hy gelewe en voorberei het vir ’n Sondag-opstanding, ontken nie net die duidelike woorde van die Skrif nie, maar ook die teken wat Jesus van Sy Messiasskap gegee het. Indien u ’n Messias aanbid wat op die Sondag na 36 uur in die graf opgestaan het, dan aanbid u nie die ware Jesus Christus nie, maar eerder ’n valse Jesus wat deur mense uitgedink is, wie die aandag wil weglei van God en Sy Waarheid. Om meer te leer oor baie valse leerstellings wat bevorder word in die naam van “Christelikheid”, kan u gerus u gratis kopie van ons boekie, Satan se Vervalste Christendom aanvra.