Hierdie somer het tienduisende Britte hulle verwonder aan die Britse Museum se uitstalling, “Lewe en dood in Pompeii en Herculaneum”. Dit is ’n kragtige uitbeelding van die toestande in 79 n.C. net voor die ou Italiaanse stede deur ’n massiewe vulkaniese uitbarsting van die berg Vesuvius vernietig is.

Die uitstalling het op 29 September 2013 gesluit, maar die lesse daarvan behoort ons by te bly. Watter ooreenkomste bestaan tussen Pompeii en die hedendaagse Brittanje? Kom Brittanje se toekoms op enige manier ooreen met Pompeii se verlede?

’n Dag van terreur

Vir ’n geruime tyd voor die uitbarsting het tektoniese plate ondergronds gerammel, maar die inwoners van Pompeii en Herculaneum het hulle min gesteur aan die gevare wat binne Vesuvius, net ’n klipgooi ver, geskuil het. Uiteindelik, na ongeveer 16 jaar se gerammel, kon Vesuvius nie meer die opbouende druk, veroorsaak deur oorverhitte gasse, puimsteen en ander gesteentes, binnehou nie. Op 24 Augustus 79 n.C. het die vulkaan gedreun en uitgebars in ’n kolom brandende materiaal wat 30 kilometer hoog in die lug bly hang het – dit was van oral af vir honderde kilometer ver sigbaar.

Binne ’n dag is 2,000 lewens tot as verbrand toe die kolom ineenstort. Die eens vooruitstrewende stede, Pompeii en Herculaneum, is onder ’n berg van verbrande oorblyfsels en rotse begrawe. Miljoene ton puin het die stede in ’n tydkapsule weggesluit wat eers weer 17 eeue later ontbloot sou word.

Watter soort lewe het die inwoners van Pompeii en Herculaneum voor daardie donker uur gelei? Wat kan die vernietiging van hierdie stede ons leer van vandag se Brittanje en die res van die wêreld? Hoe het dit betrekking op vandag? Die antwoorde op hierdie vrae is lewensbelangrik.

Gevries in tyd

In 1748 het ’n landmeter-ingenieur begin opgrawings doen rondom die vernietigde stede. Wat sedert daardie tyd gevind is, het die wêreld verstom. Onder dik lae as en sediment, 4 tot 6 meter diep, het hierdie antieke stede geslaap – gevries in tyd – presies net soos hulle byna 1,700 jaar vroeër gelyk het.

Hierdie somer het die Britse Museum in Londen saam met die Argeologiese Superintendensie van Napels en Pompeii meer as 250 voorwerpe wat daar opgegrawe is uitgestal. ’n Rekord aantal mense het gekom om uit hierdie gedetailleerde onthulling van die eerste-eeuse Romeinse lewe te leer.

Die museum het kunsskatte soos kruike, bakpanne, elegante vase, meubels deur bedrewe vakmanne en ornamentele skilderye uitgestal. Die uitstalling het gefokus op die skerp kontras tussen die lewe van weelde en gemak wat party mense in hierdie stede geniet het teenoor die ander mense wat in volslae armoede en sonder waardigheid geleef het. Die stede het Romeinse baddens, kroeë en bordele gehad – waarin slawerny, seksuele losbandigheid en plesier aan die orde van die dag was. Dit is duidelik dat hierdie atmosfeer van losbandige begeertes en vervullings baie ooreenkom met ons lewe van vandag.

Dronkaards van Efraim

Is dit regverdig om ’n ooreenkoms te tref tussen ou Pompeii en moderne Brittanje? Neem in ag wat die profeet Jesaja geskryf het oor die volk van Efraim. Soos gereelde lesers van die Wêreld van Môre weet, kan moderne Brittanje sy erfenis naspeur tot by die antieke Israelitiese stam van Efraim, wat vernoem is na ’n seun van Josef (Genesis 35:22-26, 41:51-52). Jesaja skryf: “Wee die trotse kroon van die dronkaards van Efraim, en wee die blom wat verwelk, sy pronksieraad, wat daar is op die top van die vrugbare dal van hulle wat deur die wyn verslaan is” (Jesaja 28:1). Dit is ’n gepaste beskrywing van Brittanje vandag, waarvolgens die Britse Nasionale Gesondheidsdiens 24% van alle volwassenes in 2007 geklassifiseer het as swaar drinkers. Meer as een miljoen alkohol-verwante besoeke aan hospitale is in 2011 alleen aangeteken.

Een van Pompeii se belangrikste gode was Bacchus (alternatiewelik ook bekend as Dionysus of Dionysos), ’n Griekse god van wyn en dronkenskap. Die historikus Mary Beard skryf dat “die god Dionysus (of Bacchus) in die antieke wêreld ’n bekende simbool van wildheid, dronkenskap en ’n gebrek aan selfbeheersing was” (Pompeii: The Life of a Roman Town, bl. 134).

Pompeii se kultuur van oormatigheid is legendaries, maar dit lyk asof die hedendaagse Efraim dieselfde paadjie volg. God het gesê Efraim was dronk van wyn en soos die laaste deel van Jesaja 28:7 verduidelik: “... hulle wankel as hulle gesigte sien, hulle waggel by die regspraak”. Brittanje het die pad byster geraak en sy doel verloor. Die eens groot en magtige koloniale ryk is verklein tot ’n blote skaduwee van sy eertydse glorie. Inderdaad, Brittanje se geboortereg-seëninge is inderdaad besig om te verminder!

Bewing onder ons voete

Die wortel van Brittanje se nasionale verval weerspieël sleutelaspekte van dit wat geheers het in die antieke stad Pompeii – ’n toestand wat selfs deur buitestaanders waargeneem word. ’n Artikel in Russia Today het onlangs beweer: “Britse mans is in die greep van ’n ‘manlikheidskrisis’, aangevuur deur ’n gesuip en verkwisting, te midde van die finansiële krisis ... Pornografie en ‘hiper-manlikheid’ propageer ’n ‘Viagra’- en ‘Jack Daniels’-kultuur” (“Economic crisis sparks ‘heartless’ culture in British males”, 15 Mei 2013). Die Britte is besig om weg te draai van die God van die Bybel en – deur agter ander gode van materialisme, wellus, gierigheid en dronkenskap aan te loop – verhaas hulle die dag van afrekening.

In Mattheüs 24 lewer Jesus Christus die profetiese rede wat bekend staan as die “Olyfbergprofesie” op die Olyfberg. Daarin beskryf Hy die tekens wat Sy wederkoms na die aarde vooraf sal gaan. Hy sê: “En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” (vers 37).

Hoe was dit dus in die dae van Noag? “Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” (verse 38-39).

Gedurende Noag se dae het die mense hulle gewone gang gegaan totdat alles uit die bloute verander het. Water het die goddelose mense verswelg. Iets soortgelyks het gebeur met die inwoners van Pompeii, toe ’n vurige vloed vanuit Vesuvius se lug neergereën en hulle beroemde stad vernietig het.

Sal u op die waarskuwing ag slaan?

Bybelse profesieë openbaar aan ons dat ’n soortgelyke vernietiging op Efraim, die hedendaagse Brittanje, wag. Tensy die moderne Efraim berou toon oor sy persoonlike en nasionale sondes – om God se wet, die Tien Gebooie te oortree – is sy vooruitsigte somber.

Duisende mense in Pompeii en Herculaneum het jare lank die trillings wat Vesuvius se uitbarsting voorafgegaan het onder hulle voete gevoel. Hulle is gewaarsku, maar het nie ag geslaan daarop nie. U, as ’n leser van hierdie tydskrif, is besig om ’n waarskuwingsboodskap te lees van ’n tyd van benoudheid, wat aan die einde van hierdie era gestalte sal aanneem. Sal u op die waarskuwing ag slaan? Sal u bekeer en verander?

Of sal u maak of u dit nie sien nie en die waarskuwing ignoreer soos diegene wat in Pompeii omgekom het? Die keuse berus by u. Mag God ons help om die vernietiging van Pompeii te onthou en daaruit te leer.