Ons leef in ’n wêreld gevul met stres. Natuurrampe ontwrig miljoene lewens en vernietig miljarde Rande se eiendom. Krankhede, siektes en pyn affekteer die lewens van ontelbare lydende mense. Werkloosheid is ’n algemene bekommernis, nogtans ervaar baie mense met ’n werk stres in die werkplek as gevolg van lang ure en interpersoonlike konflik.

Dit lyk asof ons nie van stres kan ontsnap nie. Miljoene Amerikaners word selfs siek as ’n gevolg van stres. ’n Artikel in die Junie 2005 uitgawe van Archives of General Psychiatry berig dat in enige gegewe jaar, ongeveer 40 miljoen volwasse Amerikaners, 18 jaar en ouer – of ongeveer 18.1% van alle mense in daardie ouderdomsgroep – aan ’n angsverwante ongesteldheid ly. Angsverwante ongesteldhede kom dikwels voor saam met depressie of dwelmmisbruik (bll. 617-627). Die artikel gaan voort om uit te wys dat die meeste persone met een angsverwante ongesteldheid, ook nog aan ’n ander angsverwante ongesteldheid ly. Byna driekwart van diegene met ’n angsverwante ongesteldheid, het dit vir die eerste maal ervaar voor die ouderdom van 22.

Sommiges van ons ervaar daagliks spanning by die werkplek, in ons gesinne, in ons gesukkel om ons rekeninge te betaal en om ons gesondheidsprobleme te bowe te kom. Het stres u ondergekry? Kan u u stres omskep na sukses?

Daar is een bron wat wysheid, leiding en strategieë gee wat aan ons hoop vir die toekoms bied. Daardie bron – die Bybel – bevat beginsels wat ons kan help om die spanningsvolle uitdagings in ons daaglikse lewe die hoof te bied. Een van daardie beginsels is om ons voor te berei vir moontlike probleme. Die boek Spreuke herinner ons: “’n Verstandige mens sien onheil kom en sorg dat dit hom nie tref nie, onervare mense loop oop oë daarin en boet daarvoor” (Spreuke 27:12, NV).

Ja, ’n wyse mens is bedag op gevaar en tref voorsorg daarteen. Nasies en volke reg oor die wêreld sal voortgaan om natuurrampe te ervaar. Hoe behoort ons voorsorg te tref? Noodlenigingsinstansies beveel aan dat elke huishouding en werkplek oor ’n oorlewingstoerustingpakket moet beskik, wat noodhulptoerusting, voedsel, water, flitsligte en ander items wat ons in ’n noodsituasie nodig mag kry behoort te bevat. Onthou, in ’n noodtoestand mag dit nodig wees om ons huise op kort kennisgewing te ontruim, dus behoort ons noodvoorrade – en ons waardevolle persoonlike artikels en dokumente – maklik bereikbaar te wees. Toe die orkaan Katrina die stad New Orleans in 2005 vernietig het, moes honderde duisende mense hul huise ontruim en baie van hulle wat nie goed voorbereid was nie, ly tot vandag toe nog steeds aan die gevolge daarvan.

Voorbereiding vir natuurrampe en ander gevare kan ons stres verminder. Slaan ag op die voorbeeld van die deugsame vrou in Spreuke 31. Sy het haar huishouding voorberei vir moeilike tye wat voorlê: “Sy werk met die spinwiel, haar hande bly besig met die weefstoel. Sy het ’n oop hand vir die armes, sy is vrygewig teenoor die behoeftiges. Sy is gerus oor haar huisgesin as dit sneeu: hulle dra almal warm klere. Sy maak self vir haar dekens en sy dra klere van linne en wol (Spreuke 31:19-22, NV).

Die deugsame vrou voorsien die uitdaging van die koue weer wat voorlê. Sy bied die uitdaging die hoof en tref die nodige voorsorg. Sy is nie bang as dit sneeu nie. Sy sal nie stres oor die probleem nie. Ons kan die stres en trauma van natuur- en mensgemaakte rampe oorleef – indien ons voorsorg tref.

Die Bybel gee aan ons verskeie voorbeelde van hierdie soort wysheid. Onthou die storie van die antieke patriarg Josef. Sy broers het hom wederregtelik verkoop as slaaf en hy het uiteindelik in ’n Egiptiese tronk beland. God het egter aan hom die vermoë geskenk om drome uit te lê. Toe Farao van die koeie en koringare gedroom het, het Josef aan hom gesê om voorbereiding te tref vir sewe jaar van oorvloed en sewe jaar van hongersnood. Josef sê aan Farao: “Dit is die woord wat ek tot Farao gespreek het: wat God van plan is om te doen, het Hy Farao laat sien” (Genesis 41:28). Josef het die ekonomie van Egipte bestuur tydens die sewe jaar van oorvloed, en deur sy voorsorg kon Egipte floreer tydens die sewe jaar van hongersnood. Is u voorbereid? U kan die druk van natuur- en mensgemaakte rampe oorleef deur voorbereid te wees, net soos Josef was.

Stel mikpunte vir sukses

Suksesvolle mense weet dat ten einde enigiets van waarde te bereik, ons mikpunte moet stel. Indien ons nie weet waar ons wil heengaan nie, sal ons nooit daar kan kom nie! Onthou egter altyd die heel belangrikste mikpunt. Jesus sê: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheüs 6:33). Ons kan oortuig wees dat God wat voedsel voorsien aan selfs die kleinste voëltjie, nog meer gewillig sal wees om vir Sy kinders te sorg. As ons die regte doelwit het – die Koninkryk van God – weet ons dat ons nie bekommerd hoef te wees nie. Ons behoort met baie meer dringendheid te beplan vir die Koninkryk van God as wat ons beplan vir ons volgende maaltyd of stel klere.

Ja, God wil hê dat ons op die geestelike prioriteite moet fokus. Hy belowe om in al ons behoeftes te voorsien, soos aan ons gesê word in Filippense 4:19. Ons moet natuurlik die Bybel se beginsels van werk en vlytigheid toepas, maar ons behoort ons nie te kwel oor fisiese dinge nie. Eintlik verstaan Christene dat ware sukses nie gemeet word deur die wêreld se standaarde nie. Die wêreld omskryf sukses as besittings, mag en posisie. Adverteerders hou sukses voor in terme van stoflike besittings: Duur motors, mooi juwele, groot wonings, luukse bote en die nuutste elektroniese foefies. Hierdie fisiese besittings kan egter nie blywende geluk meebring nie.

Hoe diep is ons vasgevang in die vleeslike weë van die wêreld? Die apostel Johannes gee aan ons hierdie waarskuwing rakende ons materialistiese samelewing: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is – die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:15-17).

Ware vreugde, standvastigheid, tevredenheid en vervulling kom deur God se wil te doen. Van Genesis tot Openbaring word Sy wil geopenbaar in die Bybel! Indien ons die Bybel daagliks lees en die beginsels daarin toepas, kan ons vrede in ons gemoed verkry en ’n oorvloedige lewe hê. Jesus sê: “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Johannes 10:10).

Wanneer ons die ware Bybelse waardes herwin, sal ons gelukkiger wees en sal ons die oorvloedige lewe wat God vir ons verlang, geniet. Die apostel Paulus haal Jesus aan wanneer hy sê: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Die Nuwe Vertaling stel dit so: “Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang”.

Finansiële stres?

Baie van ons ervaar finansiële stres. Ons mag duisende dollars op ons kredietkaarte skuld. Terselfdertyd besef ons dat die Amerikaanse dollar se waarde teenoor die euro en ander geldeenhede afneem. Vir baie jare was die Verenigde State ’n krediteur-nasie, maar nou het dit die wêreld se grootste debiteur-nasie geword. Waarom? Omdat hul nie binne vermoë geleef het nie! God se manier van lewe leer individue om hul finansies te begroot en hul lewenstyl te monitor soos getroue rentmeesters van hul seëninge. Die gelykenis van die ponde (of talente, volgens Mattheüs 25), leer ons om verantwoordelik en aanspreeklik te wees. Jesus het die dienskneg wat sy finansies wyslik bestuur het, geprys. “En die eerste het verskyn en gesê: Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak. En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede. En die tweede kom en sê: Meneer, u pond het vyf ponde verdien. En hy sê ook vir hierdie een: En jy moet wees oor vyf stede” (Lukas 19:16-19).

Let wel, die een dienskneg was getrou “in die minste” – in ’n klein bietjie. Was u getrou in ’n klein bietjie? Strewe u daarna om binne u vermoë te leef? Die Bybel leer ons die beginsel van begroting deur die betaling van tiendes. ’n Tiende in Bybeltaal beteken ’n tiende van inkomste. Kyk na God se aanklag teen daardie nasies en volke wat nie God se soewereiniteit oor al wat bestaan erken nie: “Mag ’n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe. Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie!” Maleagi 3:8-9).

Ons sal God se oordeel moet trotseer, individueel en as ’n nasie, tensy ons begin ag gee aan die Tien Gebooie en streef om daarvolgens te leef. God gaan voort: “Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die Here van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie” (vers 10).

Getroue Christene wat tiendes betaal, het self hierdie ontsagwekkende seëninge ervaar. In teenstelling daarmee, lei gierigheid na ’n mens se ondergang. Antieke Koning Salomo het gewaarsku: “Moet jou nie afsloof om ryk te word nie en moenie jou sin vir waardes verloor nie. Jy het nog skaars die rykdom gesmaak of dit is weg; dit kry vlerke en vlieg die lug in soos ’n arend” (Spreuke 23:4-5, NV).

Op 10 Maart 2000, het die NASDAQ ’n hoogtepunt van alle tye van 5 049 bereik. Die Dow Jones Industriële Indeks was hoog en het ’n “bul”mark weerspieël. Tegnologiese aandele se prys het vir jare geklim en beleggers het hul “hysbakrit” na hoër waardes geniet. Hierdie “borrel” het gebars en teen 17 November 2000 het die totale papierwaarde van aandele ’n ongelooflike $2.4 biljoen verloor. Miljoene beleggers wat onwyslik verwag het dat die waarde van aandele sou bly styg, het skielik skuld of selfs bankrotskap in die gesig gestaar.

Oplossings vir stres?

Indien ons in gebreke bly om ons finansies goed te bestuur, sal ons nie slegs onsself benadeel nie, maar ook ons hele gesin in die moeilikheid dompel! Indien dit met u gebeur het, oorweeg hierdie raad: “Doen dan dít, my seun, en red jouself só as jy in ’n ander se mag beland het: gaan soebat hom, gaan pleit by hom; moenie gaan slaap nie, bly wakker, red jou uit sy mag soos ’n wildsbok uit ’n strik, soos ’n voëltjie uit die net van ’n voëlvanger” (Spreuke 6:3-5 NV).

Beywer u om oplossings te vind. Indien u reeds vir ’n geruime tyd ’n intekenaar op die Wêreld van Môre is, mag u dalk hierdie vermaning wat ons Hoofredakteur, Roderick C. Meredith, ’n paar jaar gelede gegee het, onthou: “’n Eerste prioriteit moet wees om al die kredietkaartskuld af te betaal – en al die ander skuld wat ons moontlik kan. Ons behoort ook minstens die ekwivalent van 60 dae se lewensonderhoud voor hande te hê in geval van ’n skielike ineenstorting van die bankstelsel of soortgelyke noodtoestand. Ons behoort ook mettertyd ’n gesinsbegroting uit te werk wat ons in staat sal stel om finansiële middele opsy te sit wat ons vir ’n jaar of meer sal kan dra in die geval van verlies van werk, katastrofiese gesondheidsprobleme of iets dergeliks” (“Is u gereed?” Wêreld van Môre, Jan-Feb 2006, bl. 1).

Indien u vergruis word deur die las van skuld, moet u vindingrykheid aan die dag lê. Stel vas watter hulp beskikbaar mag wees. Gaan kyk in die Telefoonboek se geelbladsye en stel vas watter regerings- of gemeenskapsinstansies hulp kan verleen in ’n noodgeval. Indien u heeltemal sonder geld is, mag instellings soms fondse voorsien vir voedsel en huishuursubsidies of maatskaplike uitbetalings maak. Die heel belangrikste, vra God om hulp. U kan die stres van finansiële probleme oorleef deur die beginsels van Bybelse ekonomie en spaarsaamheid toe te pas en deur binne u vermoë te leef. Vra God om u te help en onthou Sy belofte: “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus” (Filippense 4:19).

Ons ondervind moontlik aanhoudende bekommernisse en besorgdhede. Die patriarg Job het vrese beleef, maar hy het geweier om daardie vrese te trotseer. Dít is wat hy gesê het: “Wat ek gevrees het, het oor my gekom; waarvoor ek bang was, het my getref” (Job 3:25, NV). Job het wat ons vandag “selfvervullende profesie” mag noem, ondervind. Het dit al ooit met u gebeur? Indien ons ons bekommernisse en vrese in oënskou neem, sal ons hulle kan erken en die Almagtige God om hulp vra!

Die apostel Paulus gee ’n regstreekse oplossing vir die probleem van bekommernis, stres en angstigheid. Lees net hierdie verstommende Bybelse strategie: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God” (Filippense 4:6). Met ander woorde, deel u bekommernisse, u vrese en u besorgdhede in gebed met God!

Goeie stres?

Gebed en danksegging kan ons help om stres na sukses te omskep. Is stres net sleg? Endokrinoloog Hans Selye omskryf stres as “die liggaam se onwillekeurige reaksie op enige eis wat daaraan gestel word” (Stress without Distress, bl. 14). Selye se definisie erken dat daar goeie stres is, (soos byvoorbeeld, bevordering by die werk), net soosslegte stres (soos byvoorbeeld, wanneer jou tjek geweier is deur die bank). Psigologies is albei tipes stres dieselfde – die resultaat is verhoogde bloeddruk, versnelde asemhaling, toenemende spysverteringsaktiwiteite, verhoogde suiker en vetsure in die bloedsomloopstelsel, verhoogde metabolisme, verhoogde soutretensie en verminderde immuunfunksie.

Hoe sou ons lewens gewees het sonder goeie stres? Soos navorser Jerrold Greenburg opgemerk het: “Die doelwit van stresbeheer is nie om alle stres uit te skakel nie” (Comprehensive Stress Management, bl. 12). Ons benodig sekere spanning om die lewe aangenaam en interessant te maak. Sekere spanningsfaktore help ons ook om meer produktief te wees. Neem as voorbeeld die spertye en belonings wat ons kan motiveer om take betyds te voltooi. Greenburg beklemtoon: “Ons doel moet wees om dienadelige uitwerking van stres te beperk terwyl ons die lewe se kwaliteit en vitaliteit behou” (ibid.).

Kan ons daardie doel bereik? Jesus Christus het besef dat baie van ons gebuk gaan onder emosionele laste asook dat ons deel met negatiewe stresfaktore. Hy het aan ons hierdie wonderlike belofte gegee: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig” (Mattheüs 11:28-30). Vertrou Christus om u laste te deel, want Hy weet wat dit beteken om pyn en druk te verduur. Gee u lewe aan Hom en u sal “rus vind vir u gemoed”. Laat Hy u laste dra. Petrus skryf immers: “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Petrus 5:7).

Sommige van ons mag spanningsvolle verhoudings met vriende of gesinslede ondervind. Het ons dit egter al oorweeg om diegene wat ons onderdruk te vergewe? Jesus het ons geleer om andere te vergewe. Onthou wat Hy ingesluit het in Sy modelgebed vir Christene: “En vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe” (Mattheüs 6:12), of soos die Nuwe Vertaling dit stel: “... en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree”. Het u enigiemand in die nabye verlede vergewe? Vergifnis kan ons selfs help om depressie te oorwin. Dr. Paul Meier skryf in sy boek Don’t Let Jerks Get the Best of You: “’n Pasiënt kan vir baie jare depressief wees en dan die persoon wat sy onderdrukte woede veroorsaak het, vergewe. Daarna herstel hy heeltemal van sy depressie, want sy serotonin is op ’n natuurlike wyse herstel en die brein is dan in staat om korrek te funksioneer” (bl. 170).

Om ander mense te vergewe, kan vrede in die gemoed bring. Ons kan ons lewens heeltemal omkeer en begin om blydskap en vreugde te ervaar. God het aan ons die beginsels van sukses, vreugde en vrede gegee. Ons kán stres baasraak. Ons kan stres oorleef.

Pas u gesondheid op. Handhaaf ’n positiewe gesindheid. Vergewe andere. Spandeer elke dag tyd aan gebed, Bybelstudie en oordenking van God se waarheid. Werk ywerig, oefen gereeld en streef daarna om voldoende slaap en rus in te kry. Bid oor elke ding wat u pla, en bid met danksegging. Leef volgens hierdie beginsels en u kan u stres omskep in sukses!