Hoe kan enigiemand die gewildheid van die onlangse top-verkoper boek-reeks, Fifty Shades of Grey verduidelik, asook die daaropvolgende film? Hoewel die boeke en film ’n waardestelsel uitbeeld wat vreemd is aan enige opregte belydende Christen, toon meningspeilings dat die boek deur soveel as nege persent van Amerikaanse vroue wat hulleself Christene noem gelees is. Wat is die aantrekkingskrag? Kan dit ten minste, deels die uitgangspunt van die titel wees – “skakerings van grys” – wat die wêreld se menslike begeertes boei om reg en verkeerd nie as absoluut te sien nie, maar as ’n konsep wat verband hou met die omstandighede en dus relatief is.

Trouens, selfs onder baie belydende Christene is moderne moraliteit afgewater na “skakerings van grys” terwyl lank gehandhaafde dogmas verwerp en as uitgedien beskou word. Dit geld selfs vir iets so fundamenteel soos die man-vrou verhouding.

Byvoorbeeld, is dit verkeerd vir ’n man en vrou om voor die huwelik ’n seksuele verhouding te hê – ’n “proeflopie” vir die huwelik om te sien of daar aanpasbaarheid is? Ander paartjies mag dalk nie so ver gaan nie, maar sal geen probleem hê om van tyd tot tyd voor die huwelik saam te slaap nie. Vir ander sal saamslaap verbode wees, maar voorspel is in orde aangesien hulle soen en liefkosings bloot as deel van die proses beskou om iemand, op wie hulle verlief is, te leer ken. Is dit dus ’n ander grys area? Is buite-egtelike seksuele aktiwiteit net ’n kwessie van persoonlike keuse?

Wat van pornografie? Is dit in orde om erotiese, pornografiese beelde te bekyk solank daar geen fisiese kontak is nie? Is pornografie net ’n “slagofferlose misdaad”? ’n “Grys area”? Wat van seksueel promiskue lirieke in musiek? Is dit in orde om na musiek te luister wat hoerery verheerlik? Of is dit net verkeerd as mens saam sing? Is dit net ’n grys area wat op persoonlike keuse berus, met geen werklike reg of verkeerd nie?

Wat van die rolle en verantwoordelikhede van mans en vrouens in die gesin? Is daar ’n verskil tussen hoe ’n man sy rol as vader en eggenoot, of hoe ’n vrou haar rol as vrou en moeder, behoort te vervul? Of is dit alles net ’n “grys area”?

Ander “grys areas”?

Ons hoef nie ver te kyk om ander “grys gebiede” in ons kultuur te vind nie.

In enige beskaafde nasie word moord as ’n misdaad erken. Nietemin, op 22 Januarie 1973 het die Amerikaanse Hooggeregshof verklaar dat ’n vrou ’n ander mens mag vermoor indien dit in haar moederskoot is. Oor die afgelope veertig jaar het ’n debat gewoed oor die kwessie van wanneer ’n baba nou eintlik ’n mens is. Is aborsie moord na bevrugting? Of is die fetus nie regtig ’n persoon totdat weke of selfs maande verloop het nie? Vir baie mense in ons kultuur, is dit ’n “grys” area.

Wat van gewelddadige videospeletjies? Is dit reg om voor te gee iemand word vermoor, solank dit “net ’n speletjie is”? Waar trek mens die streep tussen “onskuldige pret” en “om onsself aan geweld gewoond te maak”? Een van die uitdagings van grootword in ’n kultuur wat nie God se gesag erken nie, is die uitdaging om deur die mis van die “grys areas” te sien.

Hoe kan ons verby die grys kyk? Hoe kan ons die volle spektrum sien van dit wat God vir ons bedoel het?

Die volle spektrum

Wat is “grys” per slot van sake? Volgens Webster se New World Dictionary of the American Language, is die kleur grys “’n neutrale of kleurlose kleur wat letterlik beteken dit is ’n kleur ‘sonder kleur’”. Eties gesproke, beskryf grys situasies met geen duidelike morele waarde nie. In ’n wêreld sonder God se openbaring, is alles met ’n grys morele verfkwas geverf. Niemand kan sê of enige besluit, optrede of gedagte heeltemal goed of sleg is nie!

Dit is egter hier waar die mensdom ’n geleentheid laat verbygaan.

In die Bybel lees ons dat God ’n tuin vol bome geplant het. Ons word vertel hierdie bome was “begeerlik om te sien en goed om van te eet” (Genesis 2:9). Watter soort bome dink u was daar? Dink aan die kleurvolle verskeidenheid van bome in ons pragtige wêreld. Appelbome, peerbome, perskebome, appelkoosbome, pruimbome, piesangs, veselperskes ... Die lys gaan net aan!

God het gesê dat Adam (en Eva) van alles kan eet! God het gesê: “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet” (vers 16). Met ander woorde, Hy het Adam en Eva ’n kleurvolle, pragtige, heerlike wêreld van wonderlike bome gegee om te geniet. Hulle kon daaraan raak, dit bestudeer, meer daarvan plant en van hulle heerlike vrugte eet.

In ’n sin het hulle die “volle spektrum” van bome gehad, net soos ons visueel ’n volle spektrum van pragtige kleure kan sien. Waarom sien ons kleur en nie net grys nie? Die rede het te doen met hoe ons oë gemaak is. Die “stafies” in ons oë stel ons in staat om skakerings van grys te onderskei – al die pad van wit na swart. Met die byvoeging van “kegeltjies” word ons visie egter lewendig met kleur. Hulle maak dit vir ons brein moontlik om blou en groen, rooi en geel, oranje en indigo uit te ken. Trouens, sommige wetenskaplikes sê dat ons as mense, tien miljoen verskillende kleure kan onderskei! (Wyszecki, Color, bl. 824).

Daar was moontlik nie tien miljoen bome nie, maar ’n groot verskeidenheid bome was tot Adam en Eva se beskikking. Daar was net een uitsondering – een boom was “verbode” (vers 17). Daardie boom het rebelsheid teenoor God verteenwoordig en die reg om vir hulleself te besluit wat goed en wat kwaad was. Hulle het nogtans al die bome van die tuin prysgegee – met inbegrip van die heel kosbaarste, die boom van die lewe – vir die een boom wat hulle nie kon kry nie.

Leef in tien miljoen kleure

Die idee van “skakerings van grys” bring ’n gevoel van ’n mengsel van goed en sleg na vore. ’n “Grys area” is ’n area wat reg of verkeerd mag wees. Ons as mense het ’n neiging om ons in die morele middeweg rond te bevind. God het egter nie lewe geskep om ’n eindelose reeks kompromieë tussen reg en verkeerd te wees nie. God gee aan ons ’n kleurvolle spektrum van miljoene regte, positiewe, produktiewe, energieke, sukses-skeppende dinge om te doen, te dink en te sê. Hierdie is almal fasette van liefde tot God en ons medemens en ons raak in die moeilikheid wanneer ons ons daarvan distansieer.

In Genesis 2:24 sê God aan Adam dat ’n man sy vader en moeder sal verlaat en sy vrou sal aankleef. Met ander woorde, dit is reg en goed om die huis van ons geboorte te verlaat en met ’n nuwe gesin te begin, om seksueel en emosioneel met ’n lewensmaat te verbind. Ons kan ons lewensmaat kies, trou en ’n lewe skep met ’n eindelose aantal Bybel-toepaslike keuses oor hoe ons ’n gelukkige en produktiewe lewe saam kan leef (Spreuke 5:18). God gee aan ons skakerings van mooi lewende kleure wanneer Hy ons in die rolle inlei wat Hy bedoel het vir die man en vrou (Efesiërs 5:22-33). Hierdie pragtige “kleure” van die Bybelse huwelik is soveel beter as die “grys areas” van man- en vroulike fisiese aantrekkingskrag gemeng met wellus, ontug en owerspel.

Wat nou van die tweede voorbeeld wat hierbo genoem is? Waarom sal ons ploeter in die somber “grysheid” van virtuele moord in ’n video speletjie? Waarom die moord op ’n baba in die baarmoeder rasionaliseer deur die aantal dae sedert bevrugting te tel?

Ons God en Skepper van die heelal verklaar dat Hy na die aarde gekom het sodat ons lewe en oorvloed kan hê! (Johannes 10:10). Ons hoef nie in die “grysheid” van die mens se morele verwarring te leef nie. In plaas daarvan kan ons leer om die helder kleure van regverdige, opbouende dade te sien en geseën te word!