Verander u stres na nood? Wonder u hoe u sal kan voortgaan om by te hou met die druk van die daaglikse lewe en die dolle pas van die wêreld rondom u? U mag dalk sewe kragtige Bybelse strategieë vir die oorwinning van stres, oorweeg. Kan ons as individue In hierdie tyd van oorloë, gevare, krisisse en rampe, vrede vind?


Hoe opgewasse is u en u gesin teen die uitdagings en spanning van die daaglikse lewe? Volgens die Nasionale Instituut vir Geestesgesondheid, sal 28.8% van volwasse Amerikaners een of ander vorm van angsverwante ongesteldhede in hul leeftyd ervaar. Daar is ’n wye verskeidenheid angsverwante ongesteldhede, insluitende post-traumatiese angsversteuring, obsessief-kompulsiewe versteuring, en spesifieke fobies, om maar ’n paar op te noem.

“Angsverwante ongesteldhede affekteer in ’n gegewe jaar ongeveer 40 miljoen volwasse Amerikaners van 18 jaar en ouer (ongeveer 18%), wat veroorsaak dat hulle angstig en onseker is. Anders as die relatief ligte, kortstondige benoudheid wat veroorsaak word deur ’n stresvolle gebeurtenis (soos om ’n openbare toespraak te lewer of om ’n eerste afspraak na te kom), duur angsversteurings minstens 6 maande en kan vererger sonder behandeling. Angsverwante ongesteldhede kom gewoonlik voor saam met ander geestelike of fisiese siektes, insluitende alkohol of verwante misbruik, wat simptome van angs kan verbloem of wat dit kan vererger” (Anxiety Disorders, NIH Publikasie No 09 3879, bl. 1).

In ons tegnologiese 21ste eeu, lyk dit of die tempo van die lewe en intensiteit van aktiwiteite versnel het. Dit is geen wonder dat baie mense uiterste vrees en angs beleef nie. Stres van die alledaagse lewe kan ons ook doodmaak. Ons pendel in druk verkeer, ons gaan om met omgekrapte, redekawelende mense; ons staar finansiële, sosiale, persoonlike asook werkverwante probleme in die gesig. Voeg dan by hierdie spanning ook die angswekkende terreur wat ons stede en nasies bedreig!

Miljoene – selfs miljarde – mense regoor die wêreld ly aan negatiewe stres, angsverwante ongesteldhede en allerhande soorte sielkundige druk. Is u gefrustreerd, senuagtig en angstig? Is u bekommerd oor u toekoms?

Gelukkig het Jesus Christus die goeie nuus van die toekomstige Koninkryk van God verkondig. Hy sal Sy Koninkryk vestig en planeet Aarde red van totale vernietiging (Mattheüs 24:22)! Hy verseker ons: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). Dit is goeie nuus en bemoedigend en dit gee ons hoop! Christus waarsku ons ook oor gevaarlike gebeure wat sal kom. “Ons weet dat ... die hele wêreld in die mag van die Bose lê” (1 Johannes 5:19). God sal die nasies oordeel. U kan egter selfs in hierdie moeilike tye vrede hê. In hierdie artikel gaan ons kyk na sewe strategieë om stres te bowe te kom.

1. Gaan die toekoms met geloof tegemoet

Christus waarsku ons aangaande groot rampspoedige gebeure teen die einde van hierdie tydperk. Baie mense sal sterf van vrees en stres. Neem kennis: “En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word” (Lukas 21:25-26).

Sal u toelaat dat vrees u oorweldig? Ons moet die toekoms met geloof tegemoetgaan! Christus Self gee ons hierdie bemoediging: “En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ’n wolk, met groot krag en heerlikheid. En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Lukas 21:27-28).

Wanneer die eindtydse profesieë begin plaasvind, moet ons toelaat dat stres, angstigheid en fobies ons vermink of selfs doodmaak? Nee! Christus beveel ons: “... kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is”. Ja, die tyd van Sy wederkoms kom nader! Ons kan die toekoms met geloof tegemoetgaan!

Christus vermaan ons: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36). Deur die realitiet van ons tyd in die gesig te staar, sal dit ons motiveer om te bid – ter voorbereiding – vir Jesus Christus se naderende Koninkryk wat wêreldvrede sal bring! Is u bedag op profetiese tendense? Dit is nou die tyd om nader aan God te beweeg en Hy sal aan u die gawe van geloof skenk om die eindtyd met vertroue te verduur, nie met vrees nie!

2. Oefen gereeld

Indien u enige boeke of artikels aangaande gesondheidsbeginsels gelees het, weet u dat gereelde fisiese oefening ’n mens kan verlig van spanning. Ek het persoonlik daardie les jare gelede geleer. Ek het selfs in my persoonlike joernaal geskryf: “Wanneer depressief, gaan uit en draf”. Ek het gevind dat ek deur oefening ware verligting van spanning en stres ervaar!

Die apostel Paulus vergelyk fisiese oefening met geestelike lewe. “Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en toekomende lewe het” (1 Timotheüs 4:8). Paulus bedoel dat die godsaligheid en die vrugte daarvan verder sal strek as ons fisiese lewens. Fisiese of liggaamlike oefening is egter nuttig vir ons! Die Nuwe vertaling stel dit só: “Om jou liggaam te oefen, het wel ’n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde”.

God sê ook aan ons om Hom te verheerlik in ons liggaam en gees (1 Korinthiërs 6:20). Verheerlik u God in u liggaam en gees?

In About.com som skryfster Elizabeth Scott, ’n paar voordele van fisiese inspanning op: “Oefening kan ‘streshormone’ soos kortisol verminder en endorfiene vermeerder, u liggaam se ‘voel-goed’ chemikalieë, wat u gemoed ’n natuurlike hupstoot gee”. (“Exercise and Stress Relief: Using Exercise as a Stress Management Tool, Stress and Exercise: Look Better, Feel Better”).

 Ja, navorsing het die voordele van gereelde fisiese oefening bewys. In hierdie tegnologiese tyd raak sommige mense egter verslaaf aan hul tegnologie. Diegene wat by ’n lessenaar, ’n persoonlike rekenaar of in ’n sittende posisie werk, behoort volgens sommige kundiges, vir ten minste tien minute uit elke uur op te staan en ’n breek te neem om weg te kom van hul tegnologie af.

Ons weet dat tegnologie voordele kan inhou, maar kan ’n mens te veel van ’n goeie ding kry? Kan ’n oormaat u ongelukkig maak? Let op hierdie verslag deur navorsers uit Australië en China: “Te veel ure op die Internet deurgebring, kan aanleiding tot depressie gee. Navorsers het simptome van angs en depressie by al die deelnemers gemeet en, om mee te begin, bevind dat diegene wat bevestig het dat hulle aan die Internet verslaaf is, 2.5 keer meer geneig was om depressief te wees as diegene wat nie so gebonde gevoel het aan hul rekenaars nie. Dit was selfs waar van studente wat aan die begin van die studie nie tekens van depressie getoon het nie” (“Obsessive Internet Use Linked with Depression in Teens”, TIME, 2 Augustus 2010).

Ons benodig goddelike balans in ons lewens. Dit sal tot voordeel wees van ander mense, sowel as vir ons eie gesondheid en welsyn. Baie agentskappe vir gesondheid beveel stap aan as ’n uitstekende vorm van oefening, veral vir senior burgers. Die Bybel gebruik gewoonlik loop [stap of wandel] as beeldspraak vir geestelike lewe. Let daarop dat die apostel Johannes skryf: “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Johannes 2:6).

Ja, ons behoort die lewe en voorbeeld van Jesus Christus te volg, om te wandel en te leef soos Hy gewandel en geleef het! Ons is fisiese mense, ons moet God verheerlik in ons liggame deur die fisiese wette van blakende gesondheid toe te pas. Dan kan ons meer vrede van gees en liggaam ondervind.

3. Maak aanspraak op God se beloftes

Wanneer u te doen het met bekommernis, onthou dat u Bybel ’n skatkis is van God se onfeilbare en wonderlike beloftes. U behoort Bybelse strategieë aan te wend om angs en stres te bemeester.

Die apostel Petrus bemoedig ons kragtig: “Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here! Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is” (2 Petrus 1:2-4).

In die Bybel het God aan ons uitermate groot en kosbare beloftes gegee! Hy het belowe om ons gebede te verhoor (Mattheüs 7:7-8); Hy het belowe om in al ons behoeftes te voorsien (Filippense 4:19); Hy het belowe om ons lewens te lei (Spreuke 3:5-6); Hy het aan ons ’n lang lewe belowe as ons ons vader en moeder eer (Efesiërs 6:2-3); Hy het belowe om aan ons die begeertes van ons hart te gee indien ons ons in Hom verlustig (Psalm 37:4-5); Hy het belowe om aan ons gemoedsrus te gee (Filippense 4:6-7); Hy het belowe om aan ons die vermoë te gee om beproewings te verdra (1 Korinthiërs 10:13); Hy het die gawe van die Heilige Gees belowe (Handelinge 2:38; Lukas 11:13); Hy het aan ons die gawe van Sy liefde belowe (Romeine 5:5); asook die ewige lewe (1 Johannes 2:25).

Bestudeer hierdie beloftes in u Bybel. Vra God, in geloof, om hierdie beloftes in u lewe na te kom, dan sal u begin om groter gemoedsrus te hê! Daar is baie meer beloftes in die Bybel vir u en u gesin – vir alle mense. Indien u hierdie beloftes in gebed opeis, kan u stres en angs bemeester.

4. Vergewe mekaar

Een van die groot oorsake van stres beïnvloed dikwels ons verhoudings met ander mense. Sommige mense word groot in disfunksionele huise. Hulle is dalk met skuldgevoelens belaai, of koester dalk ’n langtermyn wrok teenoor ander, selfs ’n man en vrou. Indien dit u beskryf, het u al oorweeg om dit te “laat los” en God toe te laat om die situasie te hanteer? Onthou: “Moenie sê: Ek wil die kwaad vergelde nie! Wag op die HERE, dat Hy jou help” (Spreuke 20:22).

Het u al oorweeg om diegene te vergewe wat u onderdruk het? Christus het ons geleer om ander mense te vergewe. Onthou die raamwerk vir gebed wat Hy ons geleer het, wat insluit: “... vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe” (Mattheüs 6:12). Het u onlangs iemand vergewe? Vergifnis kan ons selfs help om depressie te oorkom, soos Paul Meier, M.D. geskryf het in sy boek, Don’t Let Jerks Get the Best of You: “’n Pasiënt kan vir baie jare depressief wees, en dan die een vergewe wat sy onderdrukte woede veroorsaak het en daarna heeltemal herstel van die depressie, omdat sy serotonien natuurlik herstel is en die brein weer in staat is om reg te funksioneer” (bl. 170).

Om ander mense te vergewe kan gemoedsrus meebring. U kan u kommervolle lewe omkeer, en begin om vreugde en geluk te ervaar.

5. Bid oor probleme

Is u wat sommige mense ’n “kommerkous” sal noem? Laat u toe dat vrese en bekommernisse emosionele en fisiese stres in u lewe veroorsaak? Die patriarg Job het gesê: “As ek iets vreesliks vrees, kom dit oor my; en die ding waarvoor ek bang is, kom na my toe” (Job 3:25). Job het verwag sy vrese sal bewaarheid word. Hy het wat sommige mense “self-vervullende profesie” noem uitgeoefen. Hy het nie oor sy vrese gebid nie.

U behoort u vrese en bekommernisse te erken en God vir Sy hulp te vra! Oorweeg hierdie eenvoudige dog diepgaande Bybelse strategie: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God” (Filippense 4:6). Met ander woorde, deel u bekommernisse, u vrese en u sorge in gebed met God!

Konfronteer u u sorge, bekommernisse en vrese? Bid oor alles wat u bekommerd maak. Deel u intieme gedagtes met God. Hy ken hulle in elk geval! Let op Paulus se bevel dat u “met danksegging” moet bid (vers 6). Dank God vir al u seëninge. Dank God vir die blote voorreg om te vra vir Sy ingryping en vir oorwinning oor u vrese. Wanneer ons hierdie instruksies volg, wat is die resultaat? “En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (vers 7).

Ons betuig ons geloof in God se gewilligheid om ons te help, deur Hom te dank wanneer ons ons bekommernisse met Hom deel. Dus, bid oor u probleme. Bid met ’n gesindheid van dankbaarheid. Dank God dat Hy bereid is om u te help om u sorge en vrese te bemeester en dat Hy gewillig is om aan u gemoedsrus te gee.

6. Bly positief

Hoeveel keer het ek al in tye van spanning aan myself gesê: “Handhaaf ’n positiewe en rustige gees”? Die apostel Paulus het ernstige probleme en groot stres ervaar. Hy skryf: “Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na. Drie 
maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ’n nag en ’n dag het ek op die diepwater deurgebring” (2 Korinthiërs 11:24-25).

Hoe het Paulus al daardie stres hanteer? Hy het gefokus op die handhawing van ’n positiewe gesindheid! Selfs terwyl hy in die tronk was, het hy bemoedigende briewe aan ander geskryf. Paulus moedig ons aan om aan hierdie onderwerpe te dink: “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit. En wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit, en die God van vrede sal met julle wees” (Filippense 4:8-9).

Dink oor daardie dinge wat waar is! Wat is waarheid? Christus het tot die Vader gebid: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid”. (Johannes 17:17). Die Bybel, God se woord, is waarheid. Dink na oor daardie skrifgedeeltes wat belangrik is vir u. Lees u Bybel. Merk, beklemtoon of onderstreep daardie verse wat spesiaal of belangrik is vir u! Ons moet die Bybel lees. Ek moedig u aan om u Bybel elke dag te lees! God se woord sal u inspireer. Dit sal help om u gedagtes en gees te reinig. Soos Jesus sê in Johannes 15:3: “Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het”.

Waaroor anders behoort u te mediteer? Oorweeg “alles wat lieflik is” (Filippense 4:8). Sommige tye, wanneer ek na ’n teenvoeter soek vir stres, fokus ek op mooi, skilderagtige tonele wat ek tydens my reise gesien het. Ek dink aan die sonsondergange wat ek gesien het, of mere en berge en mooi reënboë. Mediteer oor die positiewe en usal stres verminder!

7. Stel die regte mikpunte

Ons het ses maniere oorweeg om stres te verminder. Is alle stres dan sleg? Nie noodwendig nie. Endokrinoloog Hans Selye definieer stres as: “... die nie-spesifieke reaksie van die liggaam op enige eis wat daaraan gestel word” (Stress Without Distress, bl. 14). Hierdie definisie geld vir “goeie” tipes stres – byvoorbeeld ’n bevordering by die werk – sowel as “slegte” stres, soos om uit te vind dat u tjek geweier is. Beide “goeie” en “slegte” stres is fisiologies dieselfde – dit lei tot verhoogde bloeddruk, versnelde asemhaling, ’n toename in spysverteringsaktiwiteite, ’n toename in suiker en vetsure in die bloedstroom, versnelde metabolisme, verhoogde sout-retensie en verminderde immuunfunksies.

Ons het motivering nodig om suksesvol te wees in die lewe. Ons benodig gesonde, positiewe stresfaktore om ons lewe aangenaam en interessant te maak. Sekere stresfaktore help ons ook om meer produktief te wees. Sperdatums en belonings vir voltooide take kan ons motiveer. Die geneesheer Jerrold Greenburg verduidelik: “Die doel van stresbestuur is nie om alle stres uit te skakel nie ... Ons doel moet wees om die skadelike gevolge van stres te beperk, terwyl lewenskwaliteit en -krag in stand gehou word” (Comprehensive Stress Management, bl. 12).

Kan ons daardie doel bereik? Soos ons gesien het, onthul die Bybel die weg na gemoedsrus en sukses. Ons moet die grootste doel en prioriteit in die lewe kies. Christus sê: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheüs 6:33).

U kan die krag van Jesus Christus bekom om u doelwitte te bereik! Onthou: “Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Timotheüs 1:7). Onthou die apostel Petrus se vermaning op Pinkster: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38).

Miljoene mense reg oor die hele wêreld ly aan ernstige stres- en angsverwante ongesteldhede. U kan egter stres bemeester. Dank God vir Sy uitermate groot en kosbare beloftes – pas hierdie strategieë toe vir die bemeestering van stres!