Hoekom is die lewe met tye so moeilik? Vir ’n kind wat geseën is met ’n liefdevolle en beskermende familie-omgewing is elke dag ’n nuwe avontuur en omtrent elke nuwe ondervinding veroorsaak opgewondenheid. Soos ons die kinderjare agterlaat, koester ons blink vooruitsigte en drome vir die toekoms. Namate ons egter ouer word verdonker die lewe dikwels en word dit ’n opeenvolging van probleme - hierdie probleme kom gewoonlik op die mees ongeleë tye, wanneer ons dit die minste verwag of wil hê! Ons mag selfs siniese opmerkings maak soos: “moenie sleg voel nie, dit kon erger gewees het” en nadat ons beter begin voel, word dinge regtig erger!

Hoekom ondervind ons beproewings en probleme? Bestaan daar redes waarom die lewe so moeilik word? Miljoene soek elke jaar hulp by psigiaters, sielkundiges, predikante en raadgewers in hulle pogings om hul beproewings te verwerk. Ander gaan na vriende en bure vir hulp en raad, soms is die raad van nut, maar dikwels is die een persoon se raad in konflik met die ander sin. Dit is dus nie verbasend dat baie mense alkohol en verdowingsmiddels gebruik as ’n manier om hulle probleme te hanteer of dit te ontvlug nie - wat dan slegs tot meer probleme lei. Baie besef nie dat die Bybel positiewe raad en praktiese, beproefde riglyne bevat om ons nie net te help om ons beproewings te hanteer nie, maar selfs om baie probleme te vermy.

Hoekom beproewings?

Mense beskou dikwels die lewe se beproewings as die gevolg van “teenspoed” of ongelukkige omstandighede buite hulle beheer. Mense met probleme word somtyds belaglik gemaak as oningelig, of dat hulle dom besluite gemaak het. In sommige kulture waar bygelowe ’n groot rol speel, kan beproewings gesien word as die gevolg van vloeke wat iemand se vyande op hom geplaas het. Mense met ’n “godsdienstige” uitkyk mag tot die gevolgtrekking kom dat beproewings ’n straf van God is. Hulle mag dink dat God probeer om “’n boodskap te stuur”, maar vind die rede vir die straf, of die boodskap wat God stuur, onverstaanbaar. In ons probleem-gevulde wêreld aanvaar meeste mense beproewings eenvoudig skouerophalend as een van die ongemaklike, onvermydelike en ongelukkige aspekte van die lewe.

Die algemene verduidelikings is selde van enige waarde, of verskaf selde enige vertroosting of opbeuring, vir iemand wat worstel met ’n ernstige probleem. Die meeste mense verstaan eenvoudig nie waarom beproewings in hierdie lewe gebeur, of weet nie hoe om dit effektief te hanteer wanneer dit opduik nie. Ons Skepper openbaar egter in die Skrif ’n paar belangrike perspektiewe waarom beproewings voorkom en verskaf ’n paar handige beginsels, rakende die hantering van enige ernstige menslike probleme. Dawid het dit begryp toe hy geskryf het: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad” (Ps. 119:105). Een van die voordele om God se Woord te ken, is dat dit ons vrywaar van twyfel en onkunde wat so baie in vandag se wêreld pla. (Joh. 8:32). ’n Ander voordeel is dat wanneer ons beproewings en probleme met die regte perspektief ervaar, ons groter berusting en selfs beproewings op ’n positiewe manier kan gebruik om ons te help groei (sien Jak. 1:2-4). Die Bybel openbaar ten minste vyf redes waarom beproewings plaasvind.

1. Jesus het verduidelik dat tyd en gebeurlikheid met baie mense gebeur (Luk. 13:1-5). Net omdat iets slegs met iemand gebeur beteken nie noodwendig dat daardie persoon boos is, of ’n groot sonde gepleeg het nie. Ongelukke gebeur. Brande, vloede, storms, aardbewings en ander natuurlike rampe tref gedurig groot getalle mense. Miljoene mense sterf elke jaar van siektes en alle mense sterf tog uiteindelik. Dit is ’n normale deel van die menslike bestaan in hierdie wêreld.

2. Die Bybel beklemtoon dat ons maai wat ons gesaai het (Gal. 6:7; Jer. 2:19). Een van die basiese lesse wat ons in die lewe moet leer, is dat daar gevolge is vir elke besluit wat ons neem (Hos. 4:9). Ons trek voordeel uit goeie besluite en ons betaal - soms duur - vir swak besluite. In ons misleide wêreld vandag, is daar baie beleidende Christene wat daarop aanspraak maak dat hulle “die Here lief het”, maar ongelukkig ignoreer hulle Sy wette, doen soos hulle wil en dan is hulle verbaas en moedeloos wanneer probleme opduik.

3. Een unieke Bybelse perspektief wat meeste sielkundige raadgewers ignoreer, is dat mense ’n teenstaander het - Satan die duiwel (1 Pet. 5:8). Die woord “Satan” beteken letterlik teenstaander. Hierdie magtige, bose, geestelike wese tree op soos ’n brullende leeu, soekende wie hy kan verskeur en vernietig, op welke wyse ookal. As hy beproewings kan gebruik om ons te ontmoedig en te ontnugter, sal hy dit doen! Hy sal elke beskikbare geleentheid gebruik om ons te bedrieg, te verlei, of om ons te mislei rakende leerstellings en persoonlike sendings wat ons ydelheid voed en ons uiteindelik vernietig (1 Tim. 5:15). Satan se doel is nie alleen om die waarheid van die wêreld weg te hou nie, maar ook om die wat geroep is, uit die Koninkryk van God te hou. Wanneer hy ookal kan, sal hy beproewings gebruik om daardie doel te bevorder.

4. ’n Ander Bybel perspektief is dat God toelaat dat ons getoets word, om ons te help groei (1 Pet. 4:12-13; Heb. 12:5-11). Adam en Eva, Abraham en Sarah, Job, Daniël, Jeremia, die profete, die Apostels - inderdaad elke indiwidu wie God verkies het om mee te werk - moes beproewings verduur en leer hoe om dit te hanteer. Ek en u sal nie uitsonderings op die reël wees nie. Jesus het vir Sy dissipels gesê: “In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin” (Joh. 16:33). Hy het aangedui dat, deur na Hom te kyk en Sy voorbeeld te volg, ons ook die beproewings wat ons teëkom kan oorkom.

5. ’n Bybel perspektief wat ons tot nadenke stem, is dat God ernstige beproewings en selfs rampe skep, om kragtige lesse te leer aan diegene wat doelbewus ongehoorsaam is. God het aan Jeremia gesê om die opstandige nasie Israel te waarsku wat sal gebeur as hulle hulle nie bekeer van hulle bose dade nie: “Kyk, Ek maak onheil gereed teen julle, en Ek dink ’n plan uit teen julle” (Jer. 18:6-11). God het ook opdrag aan Esegiël gegee om ’n soortgelyke boodskap aan die Israeliete wat Sy wette verwerp het, oor te dra: “En my oog sal nie verskoon nie, en Ek sal nie spaar nie; Ek sal dit op jou laat neerkom volgens jou weë, en jou gruwels ... Onheil op onheil kom ...” (Eseg. 7:9, 25-26). Hierdie profesië sal uiteindelike vervulling hê in die komende tugtiging van ons moderne afvallige, onafhanklik-denkende Israelitiese nasies, in die jare wat net voor ons lê. Selfs in die vormende dae van die vroeë Kerk, toe Ananias en sy vrou gelieg het, het hulle skielik gesterf - diegene met oë om te sien het ’n skokkende, aanskoulike les geleer (Hand. 5:1-11).

Wanneer ’n beproewing opduik, staar ons twee basiese uitdagings in die gesig as ons wil groei. Eerstens moet ons ’n poging aanwend om te verstaan waarom die beproewing in ons lewens opgeduik het. Dit sal ons help om die veranderings te identifiseer wat ons in ons lewens moet maak om soortgelyke situasies in die toekoms te vermy. Tweedens moet ons leer hoe om die beproewing te hanteer wat ons in die gesig staar. Tensy ons hierdie twee uitdagings aanspreek, sal ons nie groei as gevolg van die beproewing nie. Weer eens bied die Bybel uiters handige raad aan.

Bybelse Riglyne

Wanneer beproewings opduik, is die “natuurlike” neiging om te dink “Wee my”. Ons wil somtyds huil en kla omdat ons dink dat ons dit nie verdien dat hierdie negatiewe dinge ons oorkom nie. Ons kyk na ander om met ons medelye te hê en wat ons sal help om onsself te regverdig in ons verknorsing. Dit is ook algemeen om ontmoedig te voel en om na maniere te soek om dit te ignoreer, te vermy of om van die beproewing te ontvlug, of te bid dat die probleem net moet weggaan! Ons het dikwels egter geen keuse as om maar die beproewing te verduur nie. Die vraag is dan: hoe hanteer jy ’n beproewing, nadat jy die redes begin verstaan waarom dit oor jou gekom het?

Hoe vermy of gaan jy te werk met beproewings wat ontstaan het as gevolg van ’n ongeluk of ’n toeval? Jesus het aan Sy dissipels gesê toe Hy hulle in ’n gevaarlike wêreld in gestuur het, “wees dan versigtig soos die slange” (Matt. 10:16). Spreuke vertel ons dat ’n wyse persoon gevaarlike situasies raaksien en stappe neem om dit te vermy (Spr. 22:3). Die slotsom is: wees wakker en versigtig! Bestuur versigtig, leef versigtig en wees behoedsaam in dit wat jy doen. moenie dom kanse vat nie. Moenie deelneem aan gevaarlike praktyke soos dronkenskap, rook, dobbel of vrye geslagtelike omgang nie. Gebruik tyd oordeelkundig. Moenie snags laat uitbly nie, vernaamlik nie oor vakansiedae wanneer baie ongelukke, misdaad en aanrandings voorkom nie. Hou weervoorspellings dop wanneer jy van plan is om op reis te gaan. Deur wysheid aan die dag te lê en hierdie eenvoudige, algemene, verstandige riglyne te volg, kan u baie beproewings vermy wat andersins aan “tyd en toeval” toegeskryf mag word. God se beskerming is ’n seën wat diegene wat aan Sy wette gehoorsaam is, mag verwag om te ontvang (Ps. 91). Hierdie bonatuurlike beskerming is ook beskikbaar aan ons kinders (Matt. 19:13-15; 18:10). Jesus se basiese opdrag is om verstandig op te tree, Sy opdragte te gehoorsaam en nie onnodig oor probleme te bekommer nie.

Hoe vermy of hanteer ons beproewings wat die gevolge van ons eie optredes is? Die Bybel openbaar dat seëninge kom as gevolg van gehoorsaamheid aan God se wette en vloeke kom as gevolg van ongehoorsaamheid aan daardie wette (Lev. 26; Deut. 28). Spreuke verduidelik dat “As die HERE behae het in die weë van ’n man, dan laat Hy selfs sy vyande met hom vrede hou” (Spr. 16:7). Die lewe behels dat ons elke minuut en elke uur van elke dag keuses moet maak. Hoe gouer ons leer om wyse besluite te maak - om die wette en opdragte in God se woord te gehoorsaam in plaas daarvan om dit te ignoreer, weg te probeer redeneer of om ’n kompromie aan te gaan - hoe gladder sal ons lewens verloop en hoe minder beproewings sal ons oor onsself bring. Hoe langer dit neem om hierdie basiese les te leer, hoe moeiliker sal ons lewens wees as gevolg van ons eie besluite (Deut. 30). Dit is waarom die Bybel soveel klem daarop lê dat ouers hulle kinders van kleins af God se wette moet leer (Deut. 4:1-10; Spr. 22:6). As ons God se wette leer en ons onthou en verkies om daardie wette na te kom, sal ons die voordele daarvan regdeur ons lewens geniet (Spr. 3:1-2) - asook minder beproewings vir onsself skep.

'n Groot gedeelte van die Skrif was geïnspireer om ons te help om die belangrikheid te verstaan dat ons moet leer om wyse besluite te neem. Regdeur die boek van Spreuke word ons aangespoor om waar te neem en te leer deur die ondervindings van ander, sodat ons soortgelyke foute kan vermy (Spr. 1:20-27). Ons word aangeraai “wyk nie regs of links af nie” (Spr. 4:26) - om te dink oor die potensiële gevolge van die besluite en optredes wat ons oorweeg. Om ontvanklik te wees vir advies en instruksies - vernaamlik van ouers - kan ons help om ernstige probleme te vermy (Spr. 6:20-23). Ons keuse van vriende het ook gevolge: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg” (Spr. 1:10-19; 13:20; 14:7). Baie beproewings wat in die lewe ontwikkel kom as gevolg van verkeerde of onwyse keuses, dikwels gemaak deur indiwidue wat beter weet (of beter moes weet).

Hoe hanteer ons beproewings wat deur ons teenstaander, Satan veroorsaak word? Om effektief te handel met hierdie listige en opponerende geestelike wese, het ons nie net wysheid nodig nie, maar ook geestelike onderskeidingsvermoë en geestelike krag. Een van die gawes van die Heilige Gees is ’n gesonde verstand wat in staat is tot geestelike oordeelkundigheid (2 Tim. 1:6-7). Ons word vertel dat God Sy Gees gee aan diegene wat Sy wette en opdragte gehoorsaam (Hand. 5:32), aan diegene wat gewillig is om deur God se Gees gelei te word (Rom. 8:14), en aan diegene wat die Gees daagliks voed (2 Kor. 4:16) deur gereelde gebed en Bybel studie. Om suksesvol te kan veg, moet ons in staat wees om Satan se pogings te kan eien wat hy gebruik om ons te verlei, te ontmoedig en te mislei deur verskillende versoekings en beproewings. Ons moet daardie pogings weerstaan deur “die volle wapenrusting van God aan te trek” (Ef. 6:10-19; Jak. 4:7). Geestelike beskermende bewapening behels: om die waarheid van God te ken en daarvolgens te leef; deur ware liefde te betoon aan God en aan ons naaste; deur God se opdragte en beloftes te glo; deur die Heilige Gees gevoed en daardeur gelei te word en om ten alle tye waaksaam te wees teen die gevaarlike aktiwiteite van ons geestelike teenstaander. Ons nooi eenvoudig geestelike beproewings uit, wanneer ons aanneem dat ons enige deel van hierdie noodsaaklike geestelike bewapening kan weglaat.

Hoe hanteer ons die beproewings wat God toelaat om oor ons te kom om ons te help groei? Ons moet leer om beproewings in ’n positiewe lig te sien. Jakobus skryf dat, in stede van te dink “wee my” en weg te hardloop, moet ons verheug wees in beproewings, omdat die poging wat benodig word om hulle te oorkom, positiewe vrugte sal voortbring (Jak. 1:2-4). Om versoekings in hierdie lig te sien, moet ons verstaan en glo dat “ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk” (Rom. 8:28), dat ons Vader ons beperkings ken en “ook die uitkoms gee” (1 Kor. 10:13) en wanneer Hy eers ’n werk in ons begin het, Hy dit ook sal klaar maak (Fil. 1:3-6). Om hierdie perspektief te handhaaf moet ons sterk, gelowig, getrou en gefokus bly op ons roeping en op God se manier van lewe. Ons moet ook “volhard tot die einde toe” sonder om toegewings te maak of om tou op te gooi (Matt. 24:13; Heb. 12:1-11). Ons moet gemotiveer wees deur te verstaan dat belonings gaan aan die wat werklik die wedloop voltooi het (1 Kor. 9:24-27) en leer om oorwinnaars te wees. In plaas daarvan om toe te laat dat ons klaers en ontsnap-artiste word, moet ons oplossers van probleme word! Soos ons leer om ons eie beproewings te hanteer en ons eie probleme op te los, berei ons onsself voor om ander met hulle sin te help.

Dit los nog een ander beproewing - hoe hanteer u swaar beproewings wat God op u pad bring? Meeste van die swaar beproewings waarvan ons in die Skrif lees, het gekom as gevolg van doelbewuste en aanhoudende ongehoorsaamheid aan God se wette. Paulus waarsku dat God Hom nie laat bespot nie (Gal. 6:7). Hy laat ons nie alleen maai wat ons gesaai het nie, Hy orkestreer straf om onvergeetlike lesse aan die ongehoorsames te leer en ook aan die bystanders wat getuies van die ongehoorsaamheid was ( sien Eseg. 5:14-15; Hand. 5:11). Om te verhoed dat ons hierdie soort van beproewings ervaar of dit moet hanteer, sou dit opduik, moet ons gewillig wees om onsself deeglik te ondersoek - ons motiewe en ons optrede - in die helder lig van God se Woord (1 Kor. 11:27-32). Ons moet gewillig wees om ons te bekeer - om te erken waar ons verkeerd was, soos Dawid gedoen het - om ernstig te vra dat God ons moet vergewe en in die regte rigting stuur (sien Psalm 51). Daar is ’n pad selfs deur hierdie swaar beproewings, maar ons speel met vuur wanneer ons toelaat dat ons in hierdie situasie beland. Ons moet onthou dat God nie speletjies speel nie. Daar is ’n ware poel van vuur vir die mense wat nie wil verbeter nie - diegene wat nie wil hoor of leer nie - dit sal die uiteindelike bestemming wees van hierdie mense. Dit moet elkeen van ons motiveer om baie versigtig te wees aangaande “ons eie ding doen”! Ons moet eerder nederig en naarstiglik probeer om gehoorsaam te wees aan God se opdragte, ag te slaan op Sy waarskuwings en die Christelike voorbeeld en opdragte te volg van diegene wat God gekies het om Sy werk te lei. Dit is wat Christus gedoen en geleer het. Deur Sy voorbeeld te volg, kan ons verhoed dat ons ooit die swaar beproewings sal moet verduur wat God oor diegene gaan bring wat daarop aandring om dinge op hulle eie manier te doen.

Niemand hou van ’n beproewing nie. Beproewings is nie aangenaam nie, maar is egter deel van die menslike ondervinding. Baie kan vermy word as ons waaksaam bly vir potensieël gevaarlike situasies en leer om die gevolge van die besluite wat ons neem te oorweeg. Ons kan ook ernstige beproewings vermy as ons wyse raad en advies soek - en ontvanklik is daarvoor. Wanneer ons nie beproewings kan vermy nie, bied die Bybel ons die bemoedigende perspektief dat God beproewings gebruik om ons te help groei en dat Hy ons deur die beproewing sal help as ons ons deel doen. As ons leer hoe om die probleme van die lewe te hanteer en ons die vaardighede en karakter ontwikkel wat nodig is om die beproewings te oorkom wat deel is van alle mense, sal God in staat wees om ons te kan gebruik om saam met Christus te heers en die mense van hierdie wêreld weer op te voed in die komende Koninkryk van God. Die beproewings wat ons verduur en oorkom in hierdie lewe, kan trappe word tot ’n ontsagwekkende en belonende toekoms.