Is afgestorwe geliefdes nie besig om te ly terwyl hulle gemartel word omdat hulle Jesus Christus nooit aangeneem het nie? Die waarheid is nie wat die meeste mense dink nie.

Is u bekommerd dat u afgestorwe vriende en geliefdes 'n vurige marteling ondergaan omdat hulle nie getroue Christene was nie of Jesus Christus enigsins ooit aangeneem het nie? Wat van u eie toekoms? Die reine waarheid van hierdie saak is 'n ontsagwekkende openbaring van God se genade en geregtigheid en dit is nie wat die meeste mense dink hulle weet nie.

In 'n opname van November 2021 is bevind dat 73 persent van Amerikaners in die bestaan van die hemel glo, terwyl 62 persent van Amerikaners in die hel glo. Navorsers van die Pew Foundation het bevind dat 61 persent in die hemel sowel as die hel glo, terwyl 26 persent nie in die hemel óf die hel glo nie (“Few Americans Blame God or Say Faith Has Been Shaken Amid Pandemic, Other Tragedies,” PewResearch.org). Een persent Amerikaners het gesê hulle glo in 'n hel, maar nie in die hemel nie.

In Augustus 2020 het 'n soortgelyke opname wat deur navorsers aan die Arizona Christian University gedoen is, bevind dat 54 persent van volwassenes in die Verenigde State geglo het dat hulle hemel toe sal gaan nadat hulle gesterf het. Net 2 persent het gesê hulle verwag om hel toe te gaan. Vyftien persent het gesê hulle weet nie waarheen hulle ná die dood sou gaan nie. Nog 13 persent het gesê dat hulle nie in 'n hiernamaals glo nie, terwyl 8 persent gesê het dat hulle gereïnkarneer sal word en nog 8 persent het gesê hulle verwag om na 'n “plek van reiniging” te gaan voordat hulle hemel toe gaan (“AWVI 2020 Survey: 1 in 3 US Adults Embrace Salvation Through Jesus; More Believe It Can Be 'Earned',” Arizona Christian.edu).

Die idee van 'n folterende helse vuur is vanselfsprekend absoluut skrikwekkend. Kan ons ons indink hoe die 2 persent mense voel wat sê hulle verwag om hel toe te gaan ná die dood? Daar is tog baie mense wat die hele konsep van hemel en hel 'n bespotting maak. Hoeveel mense verwerp Christenskap geheel en al wanneer hulle hoor dat slegs diegene wat Jesus Christus se leerstellings hoor en dit aanvaar, hemel toe kan gaan? Watter soort God sou miljarde mense hel toe stuur bloot omdat hulle gebore is in tye en plekke waar Jesus se boodskap nie beskikbaar was nie?

Dit kom so wreed voor. Waarom glo die meerderheid belydende Christene dus dat miljarde mense wat geleef en gesterf het sonder dat hulle ooit Jesus se naam gehoor het, die ewigheid sal deurbring terwyl hulle ondenkbare pyniging verduur? Is dit werklik wat die God van die Bybel in gedagte het vir mense wat Hy geskep het?

Sou u geskok wees om te hoor dat u Bybel eintlik leer dat niemand op hierdie oomblik in die hel brand nie? Trouens, daar is geen onsterflike siele wat vir ewig in die vlamme van die hel wriemel en skree nie en dit sal nooit gebeur nie. Ja, daar sal 'n helse vuur wees, maar nie die soort wat so baie mense hulle verkeerdelik voorstel nie.

U Bybel onderrig 'n feit wat u behoort te vertroos oor u toekoms en u gerus te stel oor die goedheid, barmhartigheid en volmaakte geregtigheid van God. Indien u geliefdes het wat “in hulle sondes” gesterf het of u is bang omdat iemand u vervloek het om “hel toe te gaan”, is dit nodig dat u hierdie artikel lees.

 

Moenie vir Dante glo nie

Dit mag u dalk verbaas om te verneem dat vandag se algemeen aanvaarde idees van die hel meestal uit 'n fiktiewe gedig kom. Dit kom spesifiek uit die bekende gedig La Divina Commedia (in Engels, The Divine Comedy), wat meer as 700 jaar gelede deur die Italiaanse digter Dante Alighieri geskryf is. Dante se gedig bestaan uit drie dele: Inferno, Purgatorio en Paradiso – of hel, vagevuur en paradys. Sy aanskoulike beskrywing van siele wat in angs wriemel, vorm die fokus-punt van die oortuigings van miljoene mense, selfs tot vandag toe.

In The Divine Comedy lei die antieke Romeinse digter Vergilius vir Dante op 'n reis deur die hel. By die hel se ingang is 'n vreesinboesemende teken met hierdie boodskap: “LAAT VAAR ALLE HOOP, JULLE WAT HIER INKOM”. Die volgende is hoe Virgilius sy toer deur die hel aan Dante inlei:

Ek sal jou gids wees en jy sal my volg en ek sal jou deur 'n wêreld van pyn lei waar dooie siele wriemel in eindelose angs en skreeu, terwyl hulle huil, om weer te sterf (Canto I, reëls 107-110, vertaal deur Elio Zappulla, 1998).

Let op die woorde “foltering” in Dante se beskrywing. Baie mense is verbaas om te verneem dat die idee van 'n onsterflike siel nié uit die Ou Testament óf die Nuwe Testament kom nie, maar deur Rooms-Katolieke filosowe aangeneem is wat vertroud was met die filosofie van antieke Griekeland en antieke Rome. Oorweeg hierdie erkenning deur die skrywer Tertullianus (155-220 n.c.):

Want sommige dinge is van nature bekend: Die idee van die onsterflikheid van die siel, byvoorbeeld, word deur baie mense gehuldig. Ek kan dus die mening van Plato gebruik wanneer hy verklaar: “Elke siel is onsterflik” (“On the Resurrection of the Flesh,” Ante-Nicene Fathers, vol. 3).

Ons as Christene moet egter hou by die sienswyse van die Bybel, nie van Plato of die “baie ander opinies” nie. Kom ons kyk noukeurig na een van die bekendste verse in die Bybel, wat dikwels die “Goue Vers” genoem word – Johannes 3:16. Ons lees:

“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

Let op na Johannes se bewering dat Jesus gesterf het sodat ek en u nie omkom nie. Ewige lewe is 'n gawe van God – nie iets wat ons inherent as menslike siele het nie. Later in die Nuwe Testament bevestig die apostel Paulus se geskrifte hierdie belangrike waarheid, soos toe hy aan die Korinthiërs geskryf het:

“Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning. Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?” (1 Korinthiërs 15:53-55).

Kan dit eenvoudiger gestel word? Jesus het Sy lewe gegee sodat ons, Sy volgelinge, nie hoef te vergaan nie – nie vir ewig dood hoef te wees nie. Hy het gekom sodat ons nie vir ewig vernietig kan word nie – nie ons lewe vir altyd verloor nie! Baie mense is verbaas dat die Bybel leer dat mense sterflik is, nie onsterflik nie. Dit is deur Jesus se dood en opstanding dat ek en u met onsterflikheid beklee kan word by die opstanding uit die dood.

Ons weet dat die liggaam sterf, maar wat van ons “siel”? Jesus sê vir ons dat God in staat is om siel én liggaam in die Gehenna-vuur te vernietig (Matthéüs 10:28). Hoe kan dit moontlik wees as die menslike siel onsterflik is? Dit is duidelik dat die menslike liggaam by die dood vernietig word, maar wat gebeur met daardie mense wat sogenaamd hel toe sou gaan?

Dit is nodig dat ons verstaan dat ons nie met onsterflikheid gebore is nie. Dit is 'n geskenk van God! Onthou dat “die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23). Let op dat hierdie Skrif nie sê: “Die loon van sonde is onsterflike lewe in die helse vuur nie”. Die beloning van sonde is nie onsterflike lewe nie, dit is die dood – die afwesigheid van lewe. Indien u reeds 'n onsterflike siel het – indien u reeds die ewige lewe het – dan het u dit nie nodig as 'n gawe van God nie. Ja, 'n siel kan sterf! Die profeet Eségiël herinner ons: “... die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Eségiël 18:4). In daardie vers is die Hebreeuse woord vir “siel” nephesh, wat na fisiese of natuurlike lewe verwys. In Génesis 1 verwys dieselfde woord, nephesh, ook na elke lewende “ding” en “lewende wesens” – na alle dierelewe, met inbegrip van soogdiere, visse en voëls. Die Bybel leer wel dat daar 'n menslike gees is, die gees in die mens (1 Korinthiërs 2:11; Job 32:8, 18), maar dat menslike gees nie 'n onsterflike siel is nie. Wat beteken dit dus dat 'n siel hel toe kan gaan?

 

Watter hel?

Wanneer ons die Bybel in Engels lees, is dit nodig dat ons besef dat daar eintlik vier woorde in die oorspronklike geïnspireerde Hebreeus en Grieks is – een woord in Hebreeus en drie woorde in Grieks – wat deur ons as “hel” in die Engelstalige en Afrikaanse Bybels vertaal word. Daardie vier woorde het drie verskillende betekenisse. Baie mense wat die Bybel in Engels of Afrikaans lees kom tot die verkeerde gevolgtrekking dat die woord “hel” altyd 'n ewige vuur beteken. Dit is 'n feit dat dit nié so is nie!

Een betekenis van “hel” in u Bybel kom van die Hebreeuse woord sheol of die Griekse woord hades. Hierdie “hel” beteken eenvoudig “die put” of “die graf”. Dit is hierdie woord wat in Ou Engels opgeneem is as die woord wat 'n gat in die grond of die aarde beskryf. Landbouboere het hulle aartappels in helle gestoor, wat ons 'n “groentekelder” kan noem.

Baie mense verkies natuurlik vandag verassing bo begrafnis. Die antieke verband tussen hades en sheol en “die graf” is die plek waarheen ons almal gaan tot ons toekomstige opstanding duidelik is en dit word erken deur hedendaagse Bybelvertalers.

Die Hebreeuse woord sheol kom 65 keer in die Ou Testament voor en in die King James Version word dit 31 keer as “grave [graf]” vertaal, 31 keer “hel” en drie keer as “put”. Die New International Version van die Bybel vertaal egter die woord sheol as “grave [graf]” en vertaal dit nooit as “hel” nie.

Nog 'n betekenis van “hel” kom van die Griekse woord tartarus, wat dui op die opsluiting van gevalle engele - dit verwys nie na menslike sondaars nie. Let op: “Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel [tartaroo] gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word” (2 Petrus 2:4).

Die derde betekenis van “hel” word gevind in die Griekse woord Gehenna, wat letterlik na die dal Ben-Hinnom buite Jerusalem verwys [Josua 15:7-8]. Die inwoners van Jerusalem het 'n vurige put in stand gehou waar die stad se vullis tot as verbrand is. Jesus het ons gewaarsku: “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel (Gehenna-vuur)” (Matthéüs 10:28). Gehenna-vuur beeld dus die poel van vuur uit wat ook beskryf word in die boek Openbaring (Openbaring 21:8).

Besef u wat dit beteken? Indien ons die vraag vra, “Wie brand in die hel?” is die antwoord “niemand nie” wanneer ons van sheol of hades praat.

Wat dan van Gehenna-vuur? Indien u 'n jarelange leser van Die Wêreld van Môre-tydskrif is, weet u dat ons uitsien na drie opstandings wat in u Bybel beskryf word. Die eerste opstanding is vir die heiliges – die volgelinge van Jesus Christus wat as Sy getroue dissipels in hierdie huidige tyd geleef en gesterf het. Hulle sal hulle Verlosser bystaan om op die planeet Aarde te regeer gedurende die Millennium en sal daardie rol voortsit gedurende die Wit Troon Oordeel, die tyd net ná die Millennium met die tweede opstanding wanneer die meeste van die mensdom hulle eerste werklike geleentheid gegee sal word om Jesus Christus as Verlosser te hoor en Hom te aanvaar en om volgens Sy manier te leef. Ons lees:

“EN ek het 'n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke (Griekse Biblion, wat die Bybel beteken) is geopen; en 'n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke” (Openbaring 20:11-12).

Gesuiwer deur vuur

Aan die einde van daardie periode van oordeel sal diegene wat weier om God te gehoorsaam – diegene wat hulle karakter as boos verseël het – in die poel van vuur gegooi word. “En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Openbaring 20:14-15).

Dit is wanneer die “derde opstanding” sal plaasvind. Diegene wat geroep is en Jesus Christus verwerp het, sal opgewek word om hulle straf te ontvang – dieselfde straf wat uitgedeel is aan diegene wat Christus verwerp na die tweede opstanding.

Daardie straf is die “tweede dood” waarvan in Openbaring 20 gepraat word, waaruit daar geen opstanding is nie. Onthou, God kan die siel asook die liggaam in die Gehenna-vuur vernietig.

Wie sal in daardie vuur verteer word? Die goddeloses sal vernietig word – nie vir ewig gemartel word nie. Let op: “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom 'n God wees, en hy sal vir My 'n seun wees. Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood” (Openbaring 21:7-8).

Hierdie straf word 'n dood genoem, nie 'n ewigheid van marteling nie – al sal die straf ewig wees in die sin dat die goddeloses verbrand sal word tot as. Die poel van vuur sal elke mens wat daarin gewerp word, vir ewig heeltemal vernietig. Dit sal nie net een of ander rommelhoop buite Jerusalem wees nie. Dit sal uiteindelik die hele aarde insluit, terwyl God ons planeet suiwer voordat die Nuwe Jerusalem uit die hemel neerdaal. Ons lees dat “die dag van die Here sal kom soos 'n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan; en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand” (2 Petrus 3:10).

Is dit 'n ewig brandende vuur? Let op dat Judas skryf: “... soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aan geloop het, as 'n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan” (Judas: 7).

Natuurlik brand die vuur nie meer in die antieke stede van Sodom en Gomorra nie. Die Griekse woord vir “ewige” in hierdie vers is aionios, wat ewigdurend beteken. Dit is die manier waarop Young se letterlike vertaling dit weergee: “Soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, net soos hierdie, hulleself aan hoerery oorgegee en agter ander vlees aan gegaan het, vooraf gestel is – 'n voorbeeld, van brand-tydperk, lyding van geregtigheid”. Met ander woorde, die vuur van oordeel duur net vir die tyd waarin dit bedoel was. Die goddeloses sal verbrand word – vernietig word – tot as verbrand. Hulle sal vernietig word. Hulle straf sal ewig wees, deurdat hulle permanent vernietig sal word – om nooit weer gesien of lewend gemaak te word nie (Matthéüs 25:46).

 

Wat van u?

Petrus se ontnugterende beskrywings behoort ons te motiveer om so 'n verskriklike lot te vermy. Ons lees:

“Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en 'n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Petrus 3:11-13).

Daar sal 'n vuur op aarde brand regdeur die Millennium en dit sal uiteindelik die hele planeet verswelg. Nadat die aarde uiteindelik met vuur gesuiwer is, sal die vuur ophou brand en die nuwe hemele en nuwe aarde sal seëvier. Die marteling wat deur Satan en sy demone gely word, sal egter nooit ophou nie: “en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid” (Openbaring 20:10). Hulle sal ly “in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele” (Matthéüs 25:41). Enige mens wat egter in daardie vuur gegooi word, sal vergaan en vir ewig vernietig word – soos die “dier” wat in Openbaring beskryf word, saam met die “valse profeet” (Openbaring 19:20).

U wil nie in daardie vuur wees nie – u hoef ook nie in daardie vuur te wees nie! U kan u bekeer en gered word! Indien u voel dat God u roep, moedig ek u aan om die streekkantoor naaste aan u (lys op bladsy 2 van hierdie tydskrif) te kontak en vir raad te vra. Die Wêreld van Môre het verteenwoordigers regoor die wêreld wat u met graagte sal ontmoet wanneer en waar dit u pas.

Sal u een van daardie getroue Christene wees wat die aarde beërf en uiteindelik ook “alle dinge”, soos ons in Hebreërs 2:8 lees? Let op dat God nie net aan Christene die aarde beloof nie (Matthéüs 5:5). Hy sal ook aan ons die hele heelal gee: “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom 'n God wees, en hy sal vir My 'n seun wees” (Openbaring 21:7; Romeine 8:32). Dink aan hierdie wonderlike belofte: “Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie” (Hebreërs 2:8).

 

'n Belofte wat baie verder strek as die hemel

“Niks” nié onder hom geplaas nie? “Almal” in onderdanigheid? Ja, dit is die belofte! Die Griekse frase wat as “alle” vertaal word in Hebreërs 2:8 is ta panta – wat letterlik “die alles” beteken. Die Griekse woordeboeke [leksikons] verduidelik dat ta panta in die ware sin beteken “die heelal”. God wil vir u, saam met miljarde ander mense, heerskappy gee, nié net op die aarde nie, maar oor die heelal. Ons kan dit egter eers ontvang nadat ons die ewige lewe beërwe het – eers wanneer ons God se onsterflike kinders geword het om saam met Christus in Sy Koninkryk tot in alle ewigheid te regeer. Ons werk gedurende die Millennium, hoe belangrik dit ook al mag wees, sal slegs neerkom op 'n voorsmakie van wat daarna sal kom.

God se doel is om ons voor te berei om oor die heelal te regeer. Ons sal onmiddellik na verafgeleë sterrestelsels kan reis. Ons sal nie deur tyd en ruimte beperk word nie. God wil hê dat ons die skepping van sy verval en korrupsie bevry. Paulus het geskryf: “... die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God” (Romeine 8:21). Ons sal nie die ewigheid deurbring met niks om te doen in 'n hemel waar net harpe en wolke is nie – God berei ons voor vir 'n ontsaglike eindbestemming regoor die heelal!

Dank God vir Sy ontsagwekkende plan van verlossing deur Jesus Christus. Danksy daardie plan brand niemand nou in die helse vuur nie en niemand sal in die helse vuur verbrand word bloot omdat hy nie Jesus se Naam of Sy ware Evangelie gehoor het nie. Vandag slaap jou afgestorwe geliefdes in die graf. Die meeste mense wat in hierdie huidige tyd leef en sterf – wie nooit geroep is nie en dalk nog nooit van Jesus Christus gehoor het nie – sal in die Wit Troon Oordeel opgewek word om hulle eerste werklike geleentheid vir redding te hê. Eers daarna sal die hardnekkige goddeloses in die “Gehenna-vuur” gegooi word waar hulle verbrand en vir ewig vernietig sal word. Mag u God se lewenswyse kies en uiteindelik Sy geskenk van ewige lewe ontvang!