Goeie nuus! Die Engelse Tomorrow’s World-tydskrif sal vanaf ses uitgawes per jaar, soos voorheen, na tien uitgawes per jaar vermeerder word. Die Afrikaanse Wêreld van Môre-tydskrif sal egter steeds ses keer per jaar verskyn. Gedurende ’n jaar wat almal bly was om dit te sien eindig, toe ekonomieë regoor die wêreld tot stilstand gekom het, het God vir ons hierdie groei moontlik gemaak. Slegs vir April-Mei en Oktober-November sal ons twee-maandelikse uitgawes in Engels publiseer.

Ons verminder die tydskrif se grootte van 36 bladsye na 32, maar u sal eintlik meer as 100 bykomende bladsye van die Engels tydskrif ontvang oor die loop van ’n jaar. God het ons in ’n posisie geplaas waar ons glo dat dit volhoubaar is en ons sien daarna uit om meer gereeld met u in aanraking te kom. Die vermeerderde jaarlikse inhoud sal ook ’n groter verskeidenheid van skrywers bied.

Gedurende dieselfde tydperk in 2020 was daar ’n 33% toename in Tomorrow’s World/Wêreld van Môre-intekenaars – ’n toename van oor die 100,000 intekenaars binne een jaar. Dus het die aantal intekenaars op ons Engelse tydskrif vir Januarie 2021 op meer as 420,000 te staan gekom. Alhoewel dit wonderlike nuus is, moet ons ongelukkig die getal intekenaars binne die beperking van ons begroting hou en ons doen dit met ’n aktiewe vernuwingsprogram. Wanneer ’n intekenaar ons vir ’n lang tyd nie gekontak het nie, stuur ons aan daardie persoon ’n hernuwingskennisgewing. Aangesien die tydskrif nou – asook in die toekoms – gratis gestuur sal word, wil ons weet of die mense nog steeds belangstel om dit te ontvang, nog by die adres woon waarheen ons hulle uitgawes stuur en of sommige mense dalk verkies om die tydskrif aanlyn te lees. Jammer dat dit ook nodig is – ons wil graag weet of hulle nog in die land van die lewendes is!

Indien u dus ’n kennisgewing rakende hernuwing ontvang en nog steeds hierdie tydskrif wil ontvang, stuur asseblief die kennisgewing terug, hernu u intekening aanlyn of skakel die kantoor naaste aan u en laat ons weet of u wil voortgaan om u gratis eksemplaar van die Wêreld van Môre te ontvang. Soos ek ons personeel soms daaraan herinner, is ons doel om ’n groot getal lesers te hê en nie net ’n groot aantal intekenaars nie. Ons is nietemin dankbaar om soveel nuwe intekenaars te hê en ons waardeer ons intekenaars wat al lank ons Wêreld van Môre lees en van nut vind, nét so baie.

Gereed vir ’n herstelling

Almal sien uit na ’n beter en minder traumatiese 2021, wat dalk of dalk nié sal realiseer nie. Volgens Bybelse profesieë, moet daar nog baie geopolitieke en kulturele veranderings plaasvind voor die Wederkoms van Jesus Christus. Aanduidings van dramatiese veranderings is oral om ons. Met alles wat in 2020 gebeur het, kan ’n mens vergewe word indien mens nie van die “Groot Herstelling” weet nie. Die meeste mense sal waarskynlik binnekort daarvan te wete kom, maar of dit sal realiseer, moet nog gesien word. Indien dit wel gebeur sal ons wêreld dramaties verander, soos ’n leser van The Hill tydskrif sy mening gelug het:

Op ’n virtuele vergadering wat in Junie 2020 aangebied is deur die Wêreld Ekonomiese Forum, het sommige van die planeet se invloedrykste sakeleiers, regeringsamptenare en aktiviste ’n voorstel aangekondig om die wêreld-ekonomie te “herstel”. In plaas van tradisionele kapitalisme, het die hoëprofiel-groep gesê die wêreld behoort meer sosialistiese beleide te aanvaar, dinge soos welvaartbelasting, bykomende regulasies en omvangryke regeringsprogramme soos die “Green New Deal” (“Introducing the ‘Great Reset,’ world leaders’ radical plan to transform the economy,” The Hill, 25 Junie 2020).

Klaus Schwab, stigter en uitvoerende voorsitter van die Wêreld Ekonomiese Forum, is van mening dat dit nodig is om “alle aspekte van ons samelewings en ekonomieë op te knap” (The Hill). Dit is duidelik dat die Groot Herstelling baie meer behels as die kansellasie van skuld – dit beoog ’n algehele verandering.

Weereens is die groot vraag, of iets wat elke land in die wêreld kan beïnvloed, menslik gesproke, ooit deurgevoer sal kan word. Soos dit egter verduidelik word in ‘n artikel deur Dexter Wakefield, ondersteun bekende en invloedryke mense die Groot Herstelling en wanneer dit ’n beter tyd is om die wêreld te “herstel” as juis nou, wanneer nasies steier onder die ekonomiese uitwerking wat deur COVID-19 teweeggebring is. Volke is ook erg verdeeld en sosialistiese idees vind selfs ’n vastrapplek in die Verenigde State.

Bewerings van bestaansrisiko

Klimaatsverandering is sentraal tot ’n aansienlike deel van die Groot Herstelling en die noodsaaklikheid om “die planeet te red” terwyl ons nog tyd het. Ongeag of die mensgemaakte klimaatsverandering ’n werklikheid is en of dit een van die grootste skelmstreke van alle tye is, is ietwat debatteerbaar aangesien die idee daarvan reeds aan ’n groot deel van die wêreld verkoop is. Die waarskuwingsligte neem toe en volgens diegene wat dié idee bevorder, is die tyd min, wat groter dringendheid aan die Groot Herstelling verleen. Let op hierdie onlangse berig in die Washington Post:

Die klimaatshorlosie wat deur die kunstenaars, Gan Golan en Andrew Boyd onthul is, het op Maandag om 13:30 gewaarsku dat – gebaseer op die huidige uitstralingsyfer – daar nog sewe jaar, 101 dae, 17 uur, 29 minute en 22 sekondes oor is totdat die aarde se koolstofbegroting uitgeput is. (“How long until it’s too late to save Earth from climate disaster? This clock is counting down”, The Washington Post, 21 September 2020).

Wow! Teen die tyd dat u hierdie tydskrif ontvang, sal daar volgens hierdie verslag minder as sewe jare oor wees voordat menslike bestaan, soos ons dit ken, gedoem sal wees! (Hier speel dramatiese musiek.)

Dié van ons wat egter al ’n bietjie langer leef en verder terug kan onthou – nog voor dít wat ’n Sweedse tiener by die Verenigde Nasies kwytgeraak het – kan ook die bekommernis oor “aardverkoeling” in die 1970’s onthou en dit ’n dekade of twee later op een of ander manier weer na “aardverwarming” verander het en hoe dit uiteindelik verander het in “klimaatsverandering” om alle gebeurlikhede te dek. Hou ook in gedagte dat daar telkens verkondig is dat rampspoed ons binne tien jaar sou tref tensy daar drastiese stappe geneem word.

Natuurlik verander die aarde se klimaat wel; ons het tye van ystydperke gehad toe ’n groot deel van die Noordelike Halfrond met ys bedek was. Dan was daar rondom 1,000 n.C. ’n tydperk van aardverwarming. Dit is gevolg deur die “Klein Ystydperk” – wat mislukte oeste, hongersnood, siektes, sosiale oproer, vele kulturele veranderings en selfs beduidende geopolitieke veranderings veroorsaak het. Indien die mensdom besig is om onomkeerbare skade aan die aarde se klimaat te berokken en ons nog net sewe jaar oor het om op te tree, is ons inderdaad in ernstige moeilikheid. Die punt is egter dat klimaatsverandering, ongelykhede in inkomste, die ekonomiese krisis wat verbysterende private en openbare skuld meegebring het as gevolg van COVID-19, verskriklike nasionale verdeeldheid en die verwagtings wat die samelewing koester – al hierdie dinge – oproepe vir drastiese optredes aanhits. In tye soos hierdie kan radikale beleidsveranderings plaasvind en hoewel sulke veranderings aanvanklik goed mag lyk, eindig dit nie altyd goed nie.

Die Wêreld van Môre het nog altyd ons lesers aangemoedig om op die uitkyk te wees vir wanneer Europa na vore tree as leier van die wêreld se magstrukture om sodoende die lande van die Anglosfeer se plek in te neem. Ons weet ook dat daar ’n kort tydperk van voorspoed sal wees teen die eindtyd (Openbaring 18-19). Die Groot Herstelling kan moontlik die begin van daardie transformasie wees, of dit kan nóg ’n mens-uitgedinkte poging wees wat net as aansporing sal dien tot ’n volgende meer suksesvolle een. Die tyd sal leer, maar die Groot Herstelling is iets om dop te hou. Iets dramaties gaan tien leiers bymekaarbring onder die gesag van ’n charismatiese, wêreldse leier om, wat die boek Openbaring “die dier” noem, te vorm en die leier van daardie mag sal met ’n invloedryke godsdienstige leier saamwerk (Openbaring 13; 17). Hetsy deur die Groot Herstelling of op ’n ander manier, kan u dit moontlik in u leeftyd beleef. Maak dus seker dat u die verwikkelings in Europa en die Midde-Ooste volg in die bladsye van die Wêreld van Môre.