Kanada roem daarop om ’n verdraagsame land met diversiteit te wees. Is die diversiteit genoeg om diegene te aanvaar wat nie in die evolusieteorie glo nie? Let op hierdie onlangse nuusberig:

Rick Nicholls, ’n lid van Ontario Provinsiale Parlement (MPP), is deur die media gekruisig vir die openbaarmaking dat hy nie in evolusie glo nie. In die nasleep van sy bespotting en veroordeling, is ’n ander politikus ook deur die media en sy politieke party tot skande gemaak. “Veteraan Konserwatiewe LP James Lunney, wat herhaaldelik twyfel oor die evolusieteorie uitgespreek het, verlaat die Tory-koukus en haal ’n doelbewuste poging aan om ‘’n Christelike wêreldbeskouing te onderdruk’ by die ‘senior vlakke’ van die politiek” (The Globe and Mail, “B.C. MP quits Conservatives to defend views on evolution”, 31 Maart 2015).

Dit blyk dat Kanada se heel konserwatiefste politieke party nie langer diegene kan duld wat fout vind met die evolusieteorie nie. Politici is sekerlik goed om die rigting te bepaal waarin die wind waai. Wat sê dit oor die waarskynlikheid dat evolusie in een van die meer liberaalgesinde partye bevraagteken word? Om evolusie te bevraagteken is eenvoudig polities net nie korrek nie. Verdraagsaamheid mag elders gevind word, maar nie wanneer dit by die evolusieteorie kom nie.

Verslae van televisie-nuus voeg ’n dimensie by wat nie in die gedrukte media gevind word nie. Dit is maklik om die nie-so-subtiele minagting te sien wat uitgebeeld word deur die televisie-nuus se verslaggewers teenoor enige “arme onkundige siele”, wat dalk nie in die spoor van die polities korrekte partylyn trap nie. Dit is te betwyfel of verslaggewers op vername televisie-programme sal kan aanbly indien hulle enige aanduiding van simpatie teenoor iemand toon wat so dom is om evolusie in 2015 te bevraagteken! Diversiteit is die naam van die spel, behalwe wanneer ’n diversiteit van mening ’n uitdaging van ’n nalatige oortuiging in ’n oorkoepelende wetenskaplike teorie is wat geen opposisie sal duld nie.

Interessant genoeg, sommige van die mees uitgesproke en kragtige stemme wat evolusie bevraagteken kom nie van die godsdienstige regses nie, maar van hoogs geleerde wetenskaplikes en filosowe. Michael Denton, wat deel van sy opleiding aan die Universiteit van Toronto ontvang het, beskou homself as ’n agnostikus, alhoewel hy oor die algemeen al krediet ontvang het dat hy die een is wat die Intelligente Ontwerp-beweging begin het. Nadat wyle Antony Flew vir 50 jaar lank ateïsme bevorder het, skryf hy There is a God: How the World’s Most Notorius Atheist Changed His Mind. Flew het tot die gevolgtrekking gekom dat nuwe bewyse in mikrobiologie tot geen ander gevolgtrekking kon lei nie. Terwyl sy wetenskaplike ontleding hom tog tot erkenning van ’n intelligensie agter lewe gelei het, het Flew daardie intelligensie nie met die God van die Bybel geïdentifiseer nie. Hy het aangeneem dat daar ’n onpersoonlike intelligensie by die kern van die ontwerp van die heelal betrokke is.

Aan die Universiteit van Guelph, net ’n paar uur padlangs vanaf Rick Nicholls se riding (“verkiesingsdistrik” sou die meer bekende term vir ons lesers wees) in Chatham/Essex/Kent, het Professor Michael Ruse al vir 35 jaar lank klas in filosofie gegee. Ruse, ’n passievolle advokaat vir evolusie, het sedertdien in Florida afgetree, maar hy sou tussen die eerstes wees om Nicholls se reg te erken om sy teenstrydige siening oor evolusie te uiter. Ruse wat homself ’n “skeptikus” eerder as ’n “agnostikus” noem, debatteer gereeld met voorstanders van Intelligente Ontwerp en mede-outeur van Debating Design met I.O., advokaat William Dembski.

Ruse is die skrywer van ’n verhandeling getiteld, “Why I Think the New Atheists Are a Bloody Disaster”. Hy wys daarop dat daar sekere wonderbaarlike ondersteunings is wat die evolusieteorie vergesel – tot die ontsteltenis van baie prominente evolusioniste wat omgekrap is deur sy werk. Ruse skryf: “Indien die onderrig dat ‘God bestaan’ godsdiensonderrig is – en dit is – waarom is dat ‘God nie bestaan nie’ dan nie godsdiensonderrig nie? Natuurlik is dit die onderrig van godsdiens”. Alhoewel sommige mense hulle ’n soort van “teïstiese evolusie” probeer voorstel wat nie deur die werklike geskrifte van enige godsdiens ondersteun word nie, is dit ’n feit dat “makro-evolusie” – die idee dat een spesie in ’n ander een kan ontwikkel – per definisie ’n teorie is wat geen nodigheid vir God het nie.

Hoe meer ons van mikrobiologie oor die kompleksiteit van lewe leer, hoe meer geloof verg dit om in ’n willekeurige, onbeplande, toevallige sameloop van die vele komplekse gebeure te glo wat nodig is om plaas te vind om lewe “net te laat gebeur”. Dit is betekenisvol dat, ten spyte van al ons tegnologiese vooruitgang en kennis oor die boublokke van lewe, die mensdom nog nie eers een keer in staat was om hierdie proses te herhaal en lewe vanuit nie-lewe te skep nie.

Die skeptikus Denton verduidelik in sy opspraakwekkende boek, Evolution: A Theory in Crisis, waarom so baie mense gretig is om met die stroom van evolusie saam te gaan. Hy skryf: “Die feit is dat elke joernaal, akademiese debat en gewilde bespreking geneig is om die waarheid van Darwin se teorie se geloofwaardigheid geweldig te versterk. Dit is stellig so, omdat kundige sosioloë moeite doen om uit te wys dat dit deur gesprekvoerings in die ware sin van die woord is dat ons sienswyses en opvattings van die werklikheid in stand gehou word en daarom is die geloofwaardigheid van enige teorie of wêreldbeskouing grootliks afhanklik van die sosiale ondersteuning wat dit ontvang eerder as die empiriese inhoud of verstandige konsekwentheid. Derhalwe ... die geldigheid van Darwin se teorie ... kan op geen denkbare wyse verkeerd wees nie” (Denton, bll. 74-75).

Is mnre. Lunney en Nicholls dus regtig uit voeling met die werklikheid? Behoort hulle opregte bevraagtekening van ’n onbewese teorie hulle te beroof van ’n plek in die smeltkroes van uiteenlopendheid waarin Kanadese hulleself beroem? Het die media en hulle mede-parlementariërs hulle ’n billike kans gegee? Nie volgens Lunney nie:

“My opmerkings was deur die media opgeblaas, vermeng met ander onverwante maar beweerde ketterse stellings en het ’n vername storie in die nasionale media geword asook ’n vuur van kritiek en veroordeling is ontketen ... dit is duidelik dat enige politikus of kandidaat van geloof in komende verkiesings onderworpe gaan wees aan dieselfde openbare ondersoek.

In ’n samelewing wat gewoonlik trots op omarming van diversiteit is, behoort die rol van die media en partypolitiek in die aanhitsing van sosiale dwepery en onverdraagsaamheid bevraagteken te word. Sulke onkunde en dwepery, onder die dekmantel van verdediging van die wetenskap, is so afstootlik soos dwepery van enige ander oorsprong. Dit is op ’n valse maaksel uit ’n ander eeu gebaseer en is ’n blatante skending van ’n samelewing wat multi-kultureel, veelrassig en multi-gelowig is en daarna streef om verskille te aanvaar” (The Globe and Mail, 31 Maart 2015).

Wie se “werklikheid” maak in elk geval saak? Sekerlik nie die inskiklike gelatenheid wat deur politieke korrektheid vereis word nie; die Bybel waarsku dat net dwase beweer dat daar geen God is nie en dat hierdie dwase se dade korrup is (Psalm 14:1; 53:1). Sal u die argumente van diegene glo wie se anti-God, pro-evolusionêre idees se “einde ... in die verderf” is (Filippense 3:18-19)? Of sal u glo dat God die Vader en Sy Seun, Jesus Christus, werklik diegene is wat alle dinge geskape het? (Jesaja 42:5;

Johannes 1:3). Daar is bewyse! Die keuse berus by u om daarna te soek.