Kan die waarheid deur die wetenskap, filosofie of materialisme gevind word? Bestaan absolute waarheid werklik? U behoort te weet!


Tydens Jesus Christus se verskyning voor die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus vir die verhoor van die vals aanklagte teen Hom oor Sy lewe sê Hy vir Pilatus: “Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem” (Johannes 18:37). Pilatus eindig dan hulle gesprek met ’n vraag wat deur die eeue heen weerklink het: “Wat is waarheid?” (vers 38).

Deur die eeue het filosowe met hierdie selfde vraag geworstel. Verskeie godsdienste het dit gekoöpteer. Sommige wetenskaplikes maak al hoe meer daarop aanspraak om die alleen-arbiter van wat waarheid is te wees. Die vraag bly egter: “Wat is waarheid?”

Baie min ander vrae het die vermoë om ons begrip van die wêreld so grondliggend te bevraagteken en min ander antwoorde hou soveel belofte in om ons lewens heeltemal te verander. Alles in ag genome, is dit die vraag der vrae!

Hoe kan ons dus weet hoe die wêreld werklik is? Wat is die waarheid? Hoe kan ons dit ontdek? Hoe kan ons weet wat fundamenteel waar is en dan ons lewens daarvolgens leef?

In vandag se wêreld van “situasionele etiek” en morele relativisme, bevraagteken sommige mense selfs die blote moontlikheid of daar wel enige absolutes in die wêreld is.Is alle waarheid relatief? Is niks fundamenteel waar of vals nie?

Wanneer iemand beweer dat alle waarhede relatief is, kan dit amusant wees om hulle ’n belangrike vraag te vra soos: “Wel, is dit dan absoluut waar dat daar geen absolute waarheid is nie?” Indien die stelling waar is, is dit natuurlik vals – as dit vals is, moet dit waar wees! Die stelling dat alle waarheid relatief is, is die grootste snert! Dit is nie net heeltemal selfweersprekend nie, maar dit is ook iets wat niemand werklik glo nie – nie eens diegene wat dit sê nie.

Trouens, die absolute waarheid is in werklikheid baie werklik. Dit is daar iewers, maar waar kan ons dit vind?

Gegewe die aard van die vraag: “Wat is waarheid?” klink dit soos iets uit die wêreld van filosofie. Kan menslike filosofie aan ons die bron van waarheid voorsien?

Ken filosowe die waarheid?

Die geskiedenis het ’n ongelooflike vertoon van wysgere en denkers opgelewer. Hulle name is aan byna almal van ons bekend. Wanneer ’n mens die woord “filosoof” sê, kom name soos Aristoteles in ons gedagte op ... Plato en Sokrates ... Dan is daar die groot Westerse denkers soos Thomas Aquinas en Rene Descartes – ook die Oosterse denkers soos Confucius. Daar is ook minder bekende name wat hulle merk op die menslike filosofiese denke gelaat het, soos die groot Persiese Avicenna en die veelvuldige Zenos van Griekeland. Van Kierkegaard en Kant tot meer moderne filosowe soos Whitehead, Fromm en Ayn Rand – baie mense het diep gedelf in vrae soos: Wie is ons, waarom is ons hier, wat is die betekenis en doel van die lewe, wat is reg en verkeerd en dan die fundamentele vraag: Wat is waarheid?

Ons sien in die stryd wat die wêreldse filosowe deur die tyd heen gehad het, ’n groot gedeelte daarvan logika en bespreking was, wat goed is, maar geen werklike antwoorde nie. Baie jong mans en vroue skryf in vir filosofie-klasse aan universiteite, in die hoop om uiteindelik die lewe se groot vrae op te los, net om te ontdek dat die besprekings en debatte tussen filosowe blykbaar net meer besprekings en debatte tot gevolg gehad het! Koning Salomo, een van die wysste manne wat nog ooit geleef het, het eenmaal geskryf: “En ek het my hart daarop gerig om met wysheid te ondersoek en na te speur alles wat onder die hemel gebeur. Dit is ’n moeilike taak wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel. Ek het al die werke gesien wat onder die son gedoen word, en kyk, dit was alles tevergeefs en ’n gejaag na wind” (Prediker 1:13-14).

Die bestudering van filosofie kan sekerlik voordele inhou: God is logies en God se Woord moedig logiese denke aan, maar met geen eenvoudige, fundamentele voet om op te staan nie, gaan die filosofiese debatte van die mensdom oor die aard van waarheid net só ver. Op die ou einde lewer dit niks meer op as net nog meer debatte nie, waarin die argumente maar net voortgaan. Die soort fundamentele waarheid wat ons nodig het om ons lewens op te bou, ontduik ons. In ons soeke na waarheid, behoort ons elders te kyk.

Ken wetenskaplikes die waarheid?

Deesdae lyk dit vir die meeste mense of die gewildste aanspraakmaker om die titel van waarheidbringer, die natuurwetenskap is. Die beoefening van die wetenskap issekerlik kragtig. Dit het ons toegelaat om die chemiese samestelling van sterre en nebula asook die wentelperiodes van verafgeleë planete te bepaal en ons toegelaat om die dieptes van die subatomiese wêreld te ondersoek en baie van die wonderlike wette wat agter die skerms in die wêreld rondom ons aan die werk is te ïdentifiseer!

Tog aanvaar te veel wetenskaplikes deesdae dat hulle kennis oor die skepping impliseer dat daar geen Skepper is nie. Dit is asof kundiges oor die Mona Lisa sou sê dat hulle die skildery so goed verstaan dat hulle tot die gevolgtrekking kom dat die skilder daarvan, Leonardo da Vinci, nooit bestaan het nie!

Daar is verder ook baie wetenskaplikes wat nou beweer dat die wetenskap die enigste manier is waarop alle waarheid wat die moeite werd is om te ken, verstaan kan word. Ons sien skakerings van hierdie ingesteldheid in die werke van ’n paar gewilde ateïstiese wetenskaplikes, soos die bioloog, Richard Dawkins, die fisikus, Lawrence Krauss en die neurobioloog, Sam Harris. In sy boek The Moral Landscape, probeer Harris selfs om absolute moraliteit te verlaag tot suiwer wetenskaplike terme, kennis en eksperimentering.

Sulke pogings om die wetenskap die heel laaste bron en regter van waarheid te maak, is egter van die begin af gedoem – vir so baie redes. Eerstens is die wetenskap per slot van rekening ’n menslike aktiwiteit wat vatbaar is vir die gewone slaggate van trots, politiek en vooroordeel. Evolusionêre bioloog Austin Hughes skryf: “Die verhewe vertroue in befondsing en eweknie-beoordelingspanele behoort misplaas te lyk vir iemand wat op hierdie panele gedien het en getuie is van die mate waarin vooropgestelde idees, persoonlike vetes en dies meer, selfs die beste voorstelle kan kelder” (The Folly of ScientismThe New Atlantis, Fall, 2012, bl. 32).

Wetenskaplike teorieë is natuurlik nooit suiwer stellings van feite nie, dit behoort nie te wees nie. Dit is verklarings van feite en as interpretasies is dit altyd daaraan onderworpe om deur onderliggende aannames en wêreldbeskouings ingekleur te wees. Wetenskaplikes verskil dikwels hewig onder mekaar oor hulle vertolkings, hoewel ’n mens dit selde in televisieprogramme wat vir die publiek gemaak word sien.

Die beoefening van wetenskap op sigself, berus eintlik op die beginsels van logika en wiskunde en metafisiese aannames wat self nie wetenskaplik bewys kan word nie. Trouens, die stelling dat die wetenskap die uiteindelike arbiter van waarheid en betekenis behoort te wees, kan self nie wetenskaplik bewys word nie! Vir diegene wat dit glo, is dit ’n saak van metafisiese geloof en gladnie ’n “wetenskaplike waarheid” nie.

Met betrekking tot moraliteit is wetenskap nie in staat om vir ons te bepaal wat werklik goed of werklik boos is nie. Geen eksperiment kan aan ons sê of die slagting van die Jode deur die Nazi’s byvoorbeeld werklik boos was en of moord of verkragting euwels of deugde is nie.

Die wetenskap het aan ons ’n ongelooflike begrip gegee op welke manier baie verskillende aspekte van ons wêreld werk – maar wanneer ons daarna begin kyk as die enigste ware “bron” van waarheid, vind ons dat dit inderdaad ’n swak bron is. Wiskundige waarhede, estetiese waarhede, waarhede oor ons doel en die betekenis van ons lewens – selfs die mees basiese sedelike waarhede en die mees basiese konsepte van reg en verkeerd – is geeneen bereikbaar deur die mikroskoop van die bioloog of die teleskoop van die sterrekundige nie.

’n Antwoord op die vraag: “Wat is waarheid?” sal elders gevind moet word.

Wiskundige waarheid?

Inden ons op soek is na die finale waarhede – fundamentele, betroubare waarhede – waarom nie wiskunde oorweeg nie? Die abstrakte wette van wiskundige wetenskappe gaan veel dieper as die wette van fisika en chemie wat ons in die res van die wetenskap sien. Die fundamentele waarheid van 1 + 1 = 2, is nie werklik oop vir “interpretasie” of vatbaar vir die grille en giere van akademici in enige gegewe dekade nie. Die stellings en bewyse van Euklidiese meetkunde of die veronderstellings en beginsels van algebra hang nie af van die heelal waarin ons leef nie en gegewe die onderliggende grondstellings en aannames sou dit in enige heelal waar wees! Die absolute onbuigbaarheid van wiskunde en sy onwrikbare siening van bewys en waarheid is deel van die aantrekkingskrag van die “koningin en dienskneg van die wetenskap” vir diegene wat dit bestudeer. Baie wiskundiges het al gewonder wat die primêre strekking van wiskunde mag wees en of dit vir altyd die sleutel kan wees tot die ontsluiting van die grondliggende vraag oor waarheid.

Sewentiende eeuse wiskundige Wilhelm Gottfried Leibniz – mede-ontdekker van die wiskunde van calculus, saam met die befaamde Isaac Newton – was ’n logikus van die hoogste orde. Hy het geglo dat alles aangaande die lewe inherent logies was en dat, as ons net al ons gedagtes op papier in wiskunde-agtige simbole kan enkodeer, ons die “wiskundige” reëls kan ontdek wat ons na die waarheid sal lei. In sy 1685-verhandeling, The Art of Discovery skryf hy: “Die enigste manier om ons redenasies te  verbeter, is om dit so tasbaar te maak soos dié van die wiskundiges, sodat ons ons fout met een oogopslag kan vind en wanneer daar geskille tussen mense is, kan ons net eenvoudig sê: ‘Kom ons bereken sonder verdere vertraging, om te sien wie reg is’”.

Leibniz was nie die enigste een om poëties te raak oor die vermeende mag van simboliese wiskundige redenasie nie. Sulke motiewe het ook die beroemde Alfred North Whitehead en Bertrand Russell aangemoedig om een van die mylpaalwerke van wiskundige logika, The Principia Mathematica, te skep. Hulle begeerte was om ’n logiese fondament te lê, wat die mensdom sou toelaat om alles aangaande wiskunde te bewys. Dit grawe diep en het probeer om ’n basis so fundamenteel te lê dat in sy eerste uitgawe, die eenvoudige stelling van “1 + 1 = 2” nie voorkom voor bladsy 379 nie!

Die idee van stelsels van simboliese denke waaruit die waarheid ontleen kan word deur slegs ’n wiskundige berekening te maak, was vir baie mense aanloklik! Dit was egter ’n fantasie. In die 1930’s het die wiskundige, Kurt Gödel die ekwivalent van ’n logiese kernbom laat val. Die besonderhede van sy werk is abstrak en moeilik om te verstaan vir diegene sonder wiskundige opleiding, maar in wese het Gödel wiskundig bewys dat nie alle waarhede wiskundig bewys kan word nie! Trouens, hy het bewys dat nie eers al die suiwer wiskundige waarhede wiskundig bewys kan word nie.

Die idee van ’n volmaakte, simboliese stel grondstellings en stellings wat alle waarhede sou ontsluit, was in wese dood.

Vir diegene wat op soek is na ’n opperste bron van waarheid, is wiskunde ’n boeiende en woelige hawe om aan te doen, maar dit is nie ’n eindpunt vir hulle reis nie.

In al hierdie pogings sien ons dat die beste en briljantste mense sukkel om “waarheid” te omskryf en uiteindelik klaaglik misluk. Vra ’n filosoof of ’n wetenskaplike wat die doel van lewe of die waarde van bestaan is en daar sal waarskynlik ’n verskeidenheid antwoorde wees, gebaseer op ’n verskeidenheid teorieë en ’n hele klomp onsin.

Wat die betekenis, waarde en doel van die lewe en ons bestaan, asook die fundamentele beginsels van sedelikheid betref: Die filosowe is verward, die wetenskaplikes staan met leë hande en die wiskundiges swyg.

Geopenbaarde Waarheid!

Ons behoort nogtans te oorweeg: Sou ’n liefdevolle God – die persoonlike Skepper van die hele mensdom – Sy skepping los sonder enige basis van begrip, enige leiding en enige standaard van wat waarheid is? Sou Hy ons, Sy handewerk, net so aan die genade oorlaat om in die duisternis rond te tas met geen antwoord nie, sonder enige basis om te bepaal wat waar en reg is of wat goed en kwaad is? Sou Hy ons skep om ons net weer te los sonder hoop om ooit die waarheid oor waarom ons geskape is te verstaan?

Indien dit vir die mens nodig is om die waarheid te weet, maar wat hy nie ten volle op sy eie kan ontdek nie, dan sou ’n liefdevolle God tog sekerlik vir ons ’n soort rekord of verslag of ’n gids nagelaat het om wat die waarheid is te wete te kom. In die openbaring van die Almagtige en ewige God – die Bybel, Sy woord – vind ons uiteindelikwaarheid.

Dink aan die Bybel se eie aansprake aangaande die aard en inhoud daarvan. In die nag waarin Hy verraai en in hegtenis geneem sou word, voor Sy kruisiging, het Jesus Christus tot Sy Vader in die hemel gebid in die teenwoordigheid van Sy dissipels. In daardie gebed het Hy ’n eenvoudige versoek gerig en ’n pragtige stelling gemaak: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (Johannes 17:17). Hier reflekteer Jesus Christus bloot die sentiment wat in die Ou Testament weergegee word: “U, o Here, is naby, en al u gebooie is waarheid” (Psalm 119:151).

Die waarheid wat vervat is in God se Woord, die Bybel, is nie bedoel om net eenvoudig intellektueel aanvaar te word op sy eie getuienis nie, maar om beproef te word! Soos die apostel Paulus skryf: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21)!

Ten spyte van die Skrif se baie kritici en passievolle teenstanders deur die eeue heen het dit bewaar gebly as ’n stewige, betroubare, praktiese bron van wysheid en kennis – van waarheid! Dit slaag steeds die toets van historiese ontdekkings en wetenskaplike navorsing. Dit word steeds bewys in die lewens van diegene wat dit waag om deur sy woorde te leef! Hoewel dit geslag na geslag aangeval en verkleineer word, het daardie aanvallers geleef en gesterf, maar die Bybel se woorde en die krag van die waarhede bly voortbestaan – verander lewens, vestig gesinne, lei diegene wat leiding nodig het en beantwoord vrae oor die betekenis en doel, met ’n outoriteit en gesag wat geen ander bron op aarde nog ooit in staat was om te ewenaar nie!

Die rol van God se Woord as ’n bron van algehele waarheid – waarheid wat slegs kan kom van die Almagtige Skepper Self – is nie iets wat eenvoudig aanvaar moet word op grond van ’n filosoof se argument, ’n wetenskaplike se eksperiment of ’n wiskundige se bewys nie. God bekragtig Self Sy woord in die lewens van diegene wat Hom toelaat om in hulle te werk om die waarhede van Sy Woord te verstaan en wat hulle daaraan wy om die pad te bewandel wat daardeur verlig word. Diegene wat gewillig is om hulleself te wy aan die voortreflike God van die Bybel vind nie net ’n antwoord op die vraag: “Wat is waarheid?” nie – hulle vind ook ’n lewende, liefdevolle en wonderlike persoonlike Gids en Metgesel om hulle te help om daardie waarheid vir ewig uit te leef.

Dit is die grootste waarheid wat iemand ooit kan hoop om te vind.