Terwyl die wêreld se aandag gefokus was op die destydse Russiese inval in Oekraïne, het baie gebeur in Israel en ook in die uitgestrekte Midde-Ooste.

Die Israeliese nasie is wyd veroordeel omdat hulle nie by die meeste van die Westerse wêreld aangesluit het deur sanksies teen Rusland toe te pas as gevolg van die inval in die Oekraïne nie. Israel bevind homself egter in ’n hoek gedryf, omrede hy staatmaak op Rusland op ’n wyse wat die res van die wêreld nie doen nie. Daardie afhanklikheid is nie gebaseer op olie, gas of enige ander diens of kommoditeit nie, maar op Russiese instemming om toestemming te verleen dat die Israeliese Lugmag in die lugruim oor Sirië mag vlieg. Hierdie vlugte is ’n poging om Iranse inmenging in Sirië en Libanon te ontmoedig.

Iran, soos dit die geval is, is die betaalmeester en wapenverskaffer aan Hezbollah en ander terroriste-groepe in die gebied, wat saam met Hamas – die regerende party in Gasa – wil sien dat die nasie Israel heeltemal vernietig word. Sirië is ’n soort van halfwegstasie vir die aflewering van wapens aan Iran se kliënte; vandaar probeer die Israeliese lugmag om daardie wapentuig te vernietig nog voordat dit afgelewer kan word.

Die Russiese Lugmag en sy vlugstelsels beheer die Siriese lugruim en dit is slegs met Russiese verdraagsaamheid dat die Israeliese lugmag in so ’n omgewing kan funksioneer. Dit is waarom Israel baie versigtig te werk moes gaan terwyl Rusland oorlog voer teen Oekraïne.

 

Godsdienstige kwessies

Die Russiese veldtog in die Oekraïne is egter nie die enigste uitdaging wat Israel in die gesig staar nie. Die Russiese inval het met die Islamitiese fees van Ramadan oorvleuel (1 April – 1 Mei 2022) en dieselfde tyd plaasgevind as die vierings van Paasfees en die Pasga vroeër in 2022. Hierdie opeenvolging van godsdienstige gebeure skep onvermydelik spanning op die Tempelberg of Haram, soos dit aan die Arabiese wêreld bekend is – spanning wat selfs nou nog voortduur. Die al-Aqsa-moskee, een van Islam se heiligste plekke, is aan die suidelike punt van die Tempelberg geleë en is vir Islamitiese aanbidders ’n fokuspunt gedurende Ramadan. Namate die inval in die Oekraïne voortgegaan het, het die wêreld se aandag vanaf die Midde-Ooste na Oos-Europa verskuif en die Palestyne was gretig om enigiets te doen wat hulle kon om die fokus weer op hulle saak gevestig te kry. As gevolg hiervan het herhaaldelike botsings sedertdien op die Tempelberg plaasgevind tussen Islamitiese aanbidders by die al-Aqsa-moskee en Israeliese polisie wat probeer om orde op die berg te handhaaf.

Op die wyer internasionale toneel het die Suid-Afrikaanse minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Naledi Pandor, daarop aangedring dat Israel tot ’n apartheidstaat verklaar behoort te word. Pandor het vroeër in 2022 tydens ’n vergadering van die Palestynse sendinghoofde regoor Afrika gepraat en die Palestyne se saak gelykgestel aan dié van swart Suid-Afrikaners voor 1994. Op grond hiervan wil Pandor dus hê dat die Verenigde Nasies ’n menseregtekommissie instel om die situasie te ondersoek en Israel dan ámptelik tot ’n apartheidstaat te verklaar. Dit is ’n benadering wat die Palestyne natuurlik aktief bevorder.

In die staat Israel neem Palestyne deel aan wat algemeen erken word as die mees demokratiese stelsel van enige Midde-Oosterse nasie, met hulle eie verkose verteenwoordigers in die Knesset. Palestyne wat in die Gasastrook en Wes-oewer woon, beleef egter ’n heel ander situasie. Met die Palestynse leierskap in albei daardie gebiede wat onverbiddelik vyandiggesind is teenoor selfs die bestáán van Israel, is daar min kans op ’n vredesooreenkoms tussen die twee partye.

In Gasa werk die Palestynse Islamitiese Jihad (PIJ) saam met Hamas om oorlog teen Israel te voer. Hierdie groep word deur Iran, PIJ se borg, van missiele voorsien en het na raming 1,100 vuurpyle op Israel afgevuur in ’n wreedaardige  aanval gedurende Augustus 2022. Byna ’n kwart van die vuurpyle het egter die Gasastrook getref en die mense wat PIJ wil ondersteun vernietig. Die oorsaak van die aanval was Israel se gevangeneming van PIJ se militêre hoof met inbegrip van talle ander bedrywighede in Jenin en omliggende dorpe rondom die Wesoewer, tesame met die daaropvolgende sluipmoord op PIJ se suidelike bevelvoerder. Voordat Egiptiese tussengangers ’n wapenstilstand kon bemiddel, het Israel ook die PIJ se noordelike bevelvoerder in Gasa vermoor.

Die President van die Verenigde State, Joe Biden, het daarna toegetree tot Pandor se argument en ontken dat Israel ’n apartheidstaat is. Ten spyte van Biden se steun, staar Israel egter vyandigheid in die akademiese, politieke en godsdienstige sfere van die V.S. en ander Westerse nasies in die gesig.

 

BDS-bewegings op baie kampusse

Boikot, onttrekkings van beleggings en sanksies (BDS) is ’n program wat tans teen Israel gevoer word “om internasionale steun vir Israel se onderdrukking van Palestyne te beëindig en druk op Israel uit te oefen om aan internasionale reg te voldoen”. Deur lesse wat aktiviste geleer het tydens die teenstand teen Suid-Afrikaanse apartheid in die 1980’s, het BDS steun van baie kampusse en kerke van die V.S. gekry. Dit is ook ondersteun deur baie progressiewe Joodse groepe in die V.S. en het selfs ’n stem in die V.S. Kongres. In Brittanje het die Metodistekerk gestem om ondersteuning vir BDS voort te sit. In wese en ongetwyfeld is BDS-aktiwiteite ’n onverbloemde betuiging van anti-Sionisme – teenkanting selfs teen die bestaan van die staat Israel.

Met sulke vyande, wat van u “vriende” by die huis?

Daarmee saam kom die brose aard van Israel se regering. In April 2022 het ’n koalisieregering van agt partye – wat grotendeels gevorm was om Benjamin Netanyahu uit te stem – uitmekaar begin val toe die Arabiese party, Ra’am, gedreig het om sy steun aan die koalisie te onttrek oor die botsings op die Tempelberg. Teen 20 Junie het dit in duie gestort weens hulle onvermoë om wetgewing, veral ’n begroting, deur te voer. Na die ontbinding van die Knesset ’n week later, was Israel ’n nasie sonder ’n beherende regering en begroting en met ’n rekord van vyf algemene verkiesings binne vier jaar. Met Jerusalem in sy midde, blyk dit dat hierdie klein nasie nou selfs vir homself ’n struikelblok is.

 

Ontwykende vrede

Waarom het Israel en veral Jerusalem nie vrede nie? Ten spyte van sy wyd geproklameerde nuutgevonde verhoudings met sommige van die Golfstate en ’n vriendelike verhouding met Saoedi-Arabië, is Israel se sekuriteit niks beter as wat dit ooit was nie. Waarom? Die antwoord word gevind in ’n Bron wat min mense deesdae oorweeg om in ag te neem.

Diegene wat die moderne staat Israel gestig het, het dit gedoen op grond van geskiedkundige verbintenisse met die land. Geskiedkundige verbintenisse alleen maak egter nie voorsiening vir vrede en welsyn nie. In Mei 1948, onmiddellik voor die einde van die Britse mandaat-administrasie van die land wat moderne Israel sou word, het sleutel-Israeliese leiers ’n onafhanklikheidsverklaring opgestel. Dit sou in werking tree die oomblik wanneer Britse bewind om middernag op 15 Mei 1948 beëindig is.

Soos die Israeliese geskiedskrywer Martin Kramer in ’n reeks artikels oor die Israeliese onafhanklikheidsverklaring aangeteken het, wou David Ben Gurion – die leier van die People’s Administration, wat op die punt gestaan het om die eerste minister van die nuwe staat Israel te word – hê dat die verklaring aanvaarbaar moes wees vir die gelowiges sowel as die ateïste. Geen direkte verwysing na die God van Israel het dus in die finale dokument verskyn nie. Daardie Wese was slegs een keer deur ’n versagtende uitdrukking te gebruik genoem: “Die Rots van Israel” – bewoording wat in die laaste afdeling van die dokument verskyn het, nét bokant die spasie vir handtekeninge. Die verklaring het gelui dat die nasie “gegrond sou wees op vryheid, geregtigheid en vrede soos in die vooruitsig gestel deur die profete van Israel”. Géén verwysing is egter gemaak na die Torah, wat die geskrifte van daardie profete ondersteun nie. Die dokument se enigste ander oorblyfsels van Israel se godsdienstige erfenis was die woorde wat gebruik is om Israel te beskryf en die skrif wat vir die dokument gebruik is, ’n skrif wat normaalweg alleenlik gebruik is vir godsdienstige tekste.

Ten spyte van hierdie skriftuurlike sinspelings, het ’n noodsaaklike element ontbreek. Die verklaring het gefokus op die herinsameling van die Joodse volk uit die ballingskap wat hulle verduur het, maar tog is hulle geskiedkundige verbintenis met die land in werklikheid gebaseer op ’n ander element: ’n Verbond wat gevestig is deur die God van Israel met Sy volk. Die bepalings van daardie Verbond is deur God uiteengesit en die Israeliete moes dit in geheel aanvaar – géén onderhandeling was toegelaat nie. Daar is glad nie na hierdie Verbond verwys in die Israeliese onafhanklikheidsverklaring nie, maar sedert ballingskap van die land altyd plaasgevind het omrede die bepalings van daardie Verbond verbreek is, sou ’n mens verwag dat die mense wat na die land terugkeer juis hulle vorige mislukkings sou erken en hulself daartoe sou verbind om dit reg te stel.

Tog ontbreek die bedoeling van die verklaring wat gebaseer was op die oorspronklike Verbond waaronder die land aan hedendaagse Israel se voorvaders gegee is. Dit was dus eintlik ’n sekulêre dokument met slegs ’n geringe erkenning aan die Ortodokse gemeenskap.

 

Profesie oorskadu politiek

Die stigters van die staat Israel, het hulle nasie in wêreldlike terme gesien. Dit moes ’n staat wees wat gegrond was op Europese politieke en filosofiese ideale – nie op ’n Verbond met die Een wat in die eerste plek aan hulle die land gegee het nie. Dit is dus ’n groot probleem waarmee Israel vandag te kampe het. Die Verbond wat by die berg Sinai aangegaan is, het voorsiening gemaak vir vrede met hulle bure as dit nagekom word (Deuteronómium 28:7, 10), maar dit het voortdurende probleme en oorloë beloof indien dit geïgnoreer word (Deuteronómium 28:15-20).

Vergelyk die hedendaagse situasie met wat meer as 2,000 jaar gelede gebeur het, toe die stam van Juda in die dae van die Persiese Ryk na Judea teruggekeer het. Esra en Nehemía het as leiers van die Joodse volk, die sentrale rol van die Verbond erken aan die suksesvolle terugkeer uit Babiloniese ballingskap. Hulle het hulle nasie se aanvaarding van God se Verbond herbevestig (Nehemía 1:5; 9:32-38).

Soos die volk van Israel deesdae, het daardie jong staat in die sesde eeu v.C. vyandigheid van naburige volke ondervind, maar nakoming van die Verbondsverhouding het hulle veiligheid verseker ten spyte van die vyandige omgewing wat hulle in die gesig gestaar het. Verder het die profete wat in hedendaagse Israel erken word, hulle eie onafhanklikheidsverklaring geskryf van ’n toekomstige terugkeer wat gebaseer sal wees op ’n Verbondsverhouding met God. Jeremia het geskryf dat God se Verbond eendag deur die mense in hulle hart en verstand geskrywe word (Hebreërs 10:16), nie net erken word deur ’n paar letterlike verwysings na ’n dokument wat niemand volg nie (Jeremia 31:31-34). Vir die profeet Miga was die God van Israel sentraal tot ’n vreedsame bestaan in die land (Miga 4:6-13).

Versuim om volgens die voorwaardes van die Verbond te leef het egter nog ’n ballingskap uit die land tot gevolg gehad. Dit is interessant dat die Israeliese koerant Haaretz in April 2022 ’n Hamas-prediker se bewering gepubliseer het, wat deur ’n geraamde 73 persent van die Palestyne geglo word naamlik dat die Koran ’n numerologiese voorspelling bevat dat ’n groot gebeurtenis in 2022 tot Israel se ineenstorting sal lei. Alhoewel ons weet dat hierdie voorspelling sal misluk – Bybelse profesieë toon dat baie belangrike gebeurtenisse moet plaasvind voordat heidense onderdrukkers die nasie aan die einde van hierdie tydperk in besit neem – kan ons verstaan dat, solank as wat Israeliete ’n Verbondsverhouding met God versaak, ondergang onvermydelik sal volg.

Israel staar voortdurende druk van sy vyande in die gesig, veral dié wat deur Iran gefinansier word. Sy vyande wil sien dat Israel vernietig word. Daardie stryd sal voortduur totdat Israel sy behoefte aan ’n Verbondsverhouding met God erken.