Die Covid-19-krisis openbaar die rol van die “mengbak” in ons wêreldsiektes

Gesondheidsbeamptes het vasgestel dat die koronavirus wat sy verskyning gemaak het en wat COVID-19 veroorsaak, afkomstig was van die Huanan-seekosmark in Wuhan, China wat die Hubei-provinsie se grootste verkoper is van wat die Chinese yě wèi noem of te wel “wildsgeure”. Dit sluit in skubberige miereters, ratels, salmanders, skerpioene, krimpvarkies, slange, vlermuise en selfs babawolfies. Alhoewel dit tegnies onwettig vir markte is om hierdie eksotiese diere as voedsel te verkoop, word die verbod op die verkoop daarvan nie streng toegepas nie en beland hierdie items dikwels in miljoene mense se borde.

Gesondheidsowerhede vermoed dat die virus vanaf vlermuise oorgedra is na ietermagôs en toe na mense. U sal moontlik onthou dat “Varkgriep” vanaf varke afkomstig was en in China opgespoor is. Ander kulture steun soortgelyke diëte, wat lei tot “soönotiese” siektes wat van diere na mense oorgedra word. In dele van Afrika eet baie mense “wildsvleis” met inbegrip van ape en vlermuise. Die Ebola-epidemie wat lyding en dood veroorsaak duur hardnekkig voort in daardie lande.

Wat meer is, die verbruik van skulpvis soos oesters, garnale, kreef, krap, mossels en gapermossels is algemeen versprei oor bykans alle kulture. Gesondheidsbeamptes waarsku dikwels teen die eet van hierdie skaaldiere gedurende sekere seisoene.

Behoort die diere wat hier beskryf word, as voedsel vir die mens beskou te word? In antieke tye het die Skepper-God reeds instruksies gegee om te onderskei tussen “rein” en “onrein” diere en in detail verduidelik watter soogdiere, visse, voëls en insekte Hy vir die mens geskape het om te eet. Dit is die moeite werd om weer in detail te kyk na wat die grootste deel van die wêreld aanhou om te ignoreer:

“Jy mag niks eet wat ’n gruwel is nie. Dit is die diere wat julle mag eet: ’n bees, ’n skaap en ’n bok; ’n takbok en ’n gemsbok en ’n gestippelde takbok en ’n steenbok en ’n ribbok en ’n eland en ’n klipspringer; en al die diere wat gesplitste kloue het, en wel heeltemal in twee gesplitste kloue, en herkou onder die diere – dié mag julle eet. Maar die volgende mag julle nie eet nie van die wat herkou en van die wat die gesplitste kloue het: die kameel en die haas en die das, want hulle herkou maar het geen gesplitste kloue nie – onrein is hulle vir julle; ook die vark, want hy het gesplitste kloue, maar is geen herkouer nie – onrein is hy vir julle. Van hulle vleis mag julle nie eet en hulle aas mag julle nie aanraak nie.

Dit mag julle eet van alles wat in die water is: alles wat vinne en skubbe het, mag julle eet. Maar alles wat geen vinne en skubbe het nie, mag julle nie eet nie – onrein is dit vir julle.

Al die rein voëls mag julle eet. Maar dít is wat julle uit hulle nie mag eet nie: die arend en die lammervanger en die aasvoël; en die kuikendief en die valk en die gier na sy soorte; en elke kraai na sy soorte; en die volstruis en die naguil en die seemeeu en die kleinvalk na sy soorte; en die steenuil en die steunuil en die silweruil; en die pelikaan en die kleinaasvoël en die visvanger; en die groot-sprinkaanvoël en die reier na sy soorte, en die hoep-hoep en die vlermuis. En al die insekte met vlerke moet vir julle onrein wees; hulle mag nie geëet word nie. Al die rein voëls mag julle eet. Julle mag geen aas eet nie” (Deuteronómium 14:3-21).

Let daarop dat vlermuise, asook varke en skulpvis, onder die verbode vleissoorte tel! Ons liefdevolle God laat Sy mense toe om ’n groot verskeidenheid kosse te eet, soos die vleis van diere wat herkou en gesplete hoewe het. Waarom nie die ander vleissoorte nie?

Die “onrein” diere vorm in wese die “skoonmakers” van die planeet se ekosisteem. Diere wat aas eet se liggame bevat baie van die skadelike stowwe wat hulle geëet het. Hulle voortbestaan is noodsaaklik om balans in die natuur te behou en die omgewing skoon te maak, maar hulle is nie geskape vir menslike verbruik nie. Om aan hierdie “wildsgeure” te smul kan ernstige gesondheidsprobleme en siektes tot gevolg hê wat die dodelike siektes insluit wat hierbo genoem word.

Lande wat deur die COVID-19-pandemie geraak word, werk nou hard daaraan om die verspreiding en gevaar daarvan tot die minimum te beperk. Dit bied stof tot nadenke om te besef dat dit alles, soos so baie ander aansteeklike siektes, voorkom kon gewees het deur eenvoudig aan die voedselwette van die Bybel gehoorsaam te wees.

Dus, wat is daar op u bord?