Vir die meeste jongmense deesdae is kerk en godsdiens in die daaglikse lewe van min belang. In vergelyking met skool, die sosiale media, populêre vermaak, sport en ander afleidings, is kerk nie aanloklik nie en ook nie ter sake nie.

’n Studie van die Pew Navorsingsentrum, Religion Among the Millennials, het die volgende bevind oor jong volwassenes (onder die ouderdom van 30):

•    Een uit elke vier beskryf hulle godsdiens as “ateïsties”, “agnosties” of “niks in die besonder” nie.
•    Een uit elke vyf sê hulle is in ’n godsdiens opgevoed, maar is nou onbetrokke in enige spesifieke geloof.
•    Net 64 persent sê hulle is seker van God se bestaan.
•    Minder as die helfte, 45 persent, sê godsdiens is baie belangrik in hulle lewens.
•    Minder as die helfte, 48 persent, sê hulle bid elke dag.
•    Van diegene wat by ’n kerk betrokke is, sê byna drie uit vier, 74 persent, dat daar meer as een manier is om die ware leerstellings van hulle geloof weer te gee.
•    Minder as een uit elke vyf, 18 persent, sê hulle woon weeklikse eredienste by.

Baie mense aanvaar dat dit ’n nuwe verskynsel is, uniek aan Generasie X, Generasie Y en die Millennialiste. Hierdie neiging word egter al vir dekades lank in die een of ander vorm waargeneem en pogings om die stroom jong mense wat die kerke verlaat te verminder, dateer reeds meer as 70 jaar terug, sedert organisasies soos “Young Life” en “Youth for Christ” probeer het om tieners te bereik (en om hulle ouers tevrede te stel) met aktiwiteit-georiënteerde programme, dikwels met eetgoed en lewendige musiek. Deesdae behels hierdie neiging visuele media, klank en beligting wat ontwerp is om met die stimulasie-vlakke van die pop-kultuur mee te ding en dit word gebruik om die aandag van selfs ouer volwassenes aan te gryp!

Wat nou gemaak?

Jongmense verlaat egter nog steeds die kerk. Waarom? Kan dit wees dat hulle na die verkeerde dinge op soek is? Is daar ’n ander manier om die probleem te benader wat jong mense kan help om sin en betekenis te vind, sonder die slimpraatjies wat uitgedink is om hulle te mislei om te dink dat hulle kerk ’n video-speletjie of ’n konsert is?

Een groot verskil tussen die Bybelse aanbidding en die moderne tendense sluit die rol van die huisgesin in. Vir geslagte lank is kinders na “Sabbatskool” of “Sondagskool” gestuur, terwyl hulle ouers na die “regte” erediens gegaan het. U Bybel beskryf God se mense wat saam aanbid tog as gesinne. In 2 Kronieke 20:13 lees ons: “En die hele Juda het voor die Here gestaan, ook hulle kinders, hulle vroue en hulle seuns”. In Joël 2:16 lees ons: “Versamel die volk, heilig die gemeente, vergader die oudstes, versamel die kinders en die suiglinge!” God het die Israeliete in Deuteronomium 12:18 beveel om as huisgesinne byeen te kom om Sy Feesdae te geniet. In Exodus 12:26-27 beveel God die ouers om die betekenis van die Pasga aan die jonger geslag te verduidelik. In die volgende hoofstuk lees ons dat kinders veronderstel is om van hulle ouers te leer wat die betekenis van die Dae van Ongesuurde Brode is en om tyd saam met ander gesinne op hierdie Groot Heilige Dae te spandeer.

Wat ’n wonderlike boodskap vir ’n jong persoon! Die kerk het nie nodig om u te paai, of om uit die hoogte met u te praat nie. U is op hierdie oomblik waardevol as ’n lid van u huisgesin! U is ’n integrale deel van God se plan, met ’n rol om te vervul. Onthou: “Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep” (Handelinge 2:39).

Wees bereid om te leer

By die kerk is dit die verantwoordelikheid van die spreker om u aandag te hou, maar dit is ook u verantwoordelikheid om aandag te skenk. Indien u na wysheid en insig soek, behoort u gretig te wees om te leer wat u kan, selfs al is die spreker nie die heel opwindendste nie. In Spreuke 2:1-4 dring God by ’n jong persoon aan om na wysheid en insig te soek. “My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar” sê God.

Boodskappe wat in die kerk gegee word is nie net bedoel vir die “ouer garde” nie. Indien u oud genoeg is om te lees en hierdie artikel te verstaan, is u oud genoeg om te verstaan wat by die kerk geleer word. Luister en dink na oor wat gesê word. Dit is belangrik om met medegelowiges gemeensaam te verkeer, maar indien u besig is om SMS-boodskappe te stuur en u iPhone vir Snapchat-aktiwiteite na te gaan, sê dit eerder iets van u kort aandagspan as oor die vaardigheid van die spreker. Die Skrif sê nie aan ons dat die ouderlinge in die tempel super-opwindend was toe Jesus gekom het om van hulle te leer nie, maar Hy het hulle verbaas deur Sy nuuskierigheid en intense begeerte om te leer (Lukas 2:46,47). Wees dus slim. Gee aandag. Luister, leer en wees nuuskierig. Vra vrae. Om kerk toe te gaan gee aan u ’n unieke geleentheid om te leer en te groei.

Die waarde van kerk-aktiwiteite

Kerk-aktiwiteite dien ’n doel, maar dit is dalk nie wat u dink nie. Onthou Jesus se voorbeeld as ’n dienaar. Geen aktiwiteit is so “vervelig” dat u dit nie as ’n geleentheid kan gebruik om ander mense te leer ken en om te help om in hulle behoeftes te voorsien nie. Moontlik kan u in die kombuis help, of met opruimingswerk. Indien ’n aktiwiteit nie “goed genoeg” is vir u nie, praat met die organiseerders en vind uit hoe u kan help om dit beter te maak, vir u en vir ander jongmense in die groep!

Hierdie benadering sal u ook help om sterk bande van vriendskap en kameraadskap met andere, wat u Christelike waardes deel, te smee. Dit is ’n belangrike faktor wanneer u die uitdagings van die wêreld rondom u moet trotseer. Namate u meer by andere betrokke raak, beteken u vir hulle iets en hulle beteken vir u iets. U mis mekaar wanneer iemand nie daar is nie.

Kry die boodskap

Dit is baie maklik om te sien dat kerk deesdae vir baie jong mense nie aanloklik is nie. Veral die gemiddelde kerk in u omgewing verskaf nie die korrekte antwoorde op die moeilikste vrae nie: Waarom is u gebore? Wat is u eindbestemming? Is dit iets vaag en vervelig, of is dit met besondere vreugde en betekenis gevul? Die meeste kerke van vandag gee net vlak, oppervlakkige antwoorde, wat nie eers uit die Skrif kom nie. Vir ’n jong persoon wat toegang tot die Internet het, kan selfs die eenvoudigste soektog bewys dat so baie van die tradisies van die moderne Christendom – Kersfees, Paasfees, Sondagdienste en meer – absoluut net tradisies van mense is.

U het egter toegang tot iets meer. U is in kontak met die ware Kerk van God – ’n liggaam van gelowiges met ’n mandaat om Christus se opdrag uit te voer, met die ware antwoorde wat u toekoms sal verduidelik en betekenis aan u huidige bestaan sal gee. Gewapen met hierdie waarheid en deur gebruik te maak van die beginsels wat hierbo uiteengesit is, kan die Kerk vir u (die jeug) meer beteken as ooit tevore.